Liefde in fokus. Zoë Gouws
die vader weet, vanaand wil hy nou ook nie eintlik alleen wees nie. Miskien …
Skielik sit hy regop. Natuurlik! Wie anders sal enigsins so opgewonde kan wees? Wie anders ken hom so goed dat hulle presies sal weet wat vanmiddag se nuus vir hom beteken!
Hy skakel sy ouers se huisnommer. Dis ’n nuwe nommer en hy ken dit sowaar nog nie uit sy kop nie … Moet hy skuldig voel daaroor? Hy skud sy kop verwoed. Hy luister hoe die foon lui.
Dis nie sy ma of pa wat antwoord nie, maar Katrien. Oupa is nog nie terug van die kwekery af nie en Ouma is in die tuin, sê sy. “Maar Ouma sê ek moet net deur die venster vir haar skree, dan praat sy so met jou.”
Hy kan sy ma net sien. Seker tot by haar elmboë vol grond en nou’s sy nie lus om eers te gaan hande was en dan weer vuil te word nie. Nou ja, dan nooi hy maar via Katrien. Alleen wil hy vanaand waaragtig nie wees nie!
“Sê vir Ouma-hulle julle eet vanaand saam met my uit – by Jakes.”
Hy hou die foon ’n entjie van sy oor af toe sy uitbundig gil.
“Ja, Jakes – ek het mos belowe eendag kan ons gaan, en dis nou eendag!”
Hy luister weer na die kind se gebabbel. “Nee, sê vir Ouma sy moet wag. Ek sal by die restaurant vertel.”
Toe die dogtertjie se aandag weer by hom is, sê hy: “Ons maak dit vroeg – sesuur. Sê vir Ouma ek kry julle by die restaurant.”
5
“Aangenaam om met u kennis te maak.” Mevrou Hugo steek ’n skraal hand na Xante uit.
“Ook aangenaam,” prewel Xante, en hoop die ou dame kom nie agter hoe erg haar hand bewe nie.
“My seun, wat tans die agentskap se kantoorbestuurder is,” knik die dame in die rigting van die man wat langs haar sit, en vervolg dan onmiddellik met ’n uitnodiging: “Sit gerus.”
“Gay,” gebied sy haar seun die oomblik dat Xante sit, “bestel asseblief die gewone.”
Xante kyk verbaas na die man wat hopelik ná hierdie onderhoud haar baas gaan word. Gay?
“Gabriel,” spreek hy sy naam op Engels uit. “My ma is die enigste mens wat my ooit so noem. Ek was glo so ’n vrolike ou knapie toe ek jonk was …” Hy haal sy skouers op. “Maar ek verkies deesdae Riël – om hopelik verstaanbare redes!”
Xante hou haar gesig sedig. “Natuurlik. Dis heeltemal … wel, natuurlik. Reg so.”
Riël Hugo is nie onaardig om na te kyk nie. Van ’n sekere hoek af sou jy hom selfs as aantreklik kon beskryf – as jy van ’n asketiese man met ’n porseleinwit vel en ’n pikswart toupee hou. Dis net … hierdie Kaapse mense is so ánders as wat sy gewoond is.
“Toe nou, Gay, bestel vir ons. Ek moet halfagt in Kampsbaai wees.” Mevrou Hugo draai na Xante. “Ek het jou CV gelees en jou fotoportefeulje bekyk. Jy besef natuurlik die pos is vir ’n administratiewe assistent. Jy is oorgekwalifiseer.”
“Ek het verstaan dis net ’n jaarkontrak vir ’n halfdagpos. Ek het ’n langtermynooreenkoms as vryskutfotograaf met Tripod, maar dis seisoenale werk en ek sou graag …”
“ ’n Vaste inkomste wou hê. Ja, ek weet. Is dit nie waarna almal verlang nie?”
Mevrou Hugo is nie onvriendelik nie, maar Xante weet nie mooi hoe om haar stemtoon te interpreteer nie. Is sy sarkasties of wat?
“Mevrou, ek –”
“Ek bedoel dit as ’n kompliment, juffrou …” Sy kyk af na Xante se CV wat voor haar op die tafel lê: “… Knobel.” Sy kyk op en glimlag. “Ons stel jou graag aan. Ek is net verbaas dat iemand met jou kwalifikasies en ervaring so ’n pos wil hê. Maar as dit is om ’n voet in die deur te kry in die Kaapse modewêreld, dan verstaan ek dit. Ek het ook heel onder begin. Geluk.”
Xante voel lus om haar kop ’n paar maal te skud. Die ou dame het haar nou heeltemal ontkant gevang. Hulle het nog nie eens geëet nie, en die saak is sommer kant en klaar afgehandel!
“Ek … Dankie, ek waardeer die … kompliment. Ek sal u nie teleurstel nie.”
“A! Hier is die sjampanje – kom ons klink ’n glasie,” sê Riël joviaal. “Welkom in ons span, Xante.”
Xante verkyk haar aan die verskeidenheid soesji, maki en reënboogrolletjies wat die kelner voor hulle neersit. Dit lyk sowaar te mooi om te eet, maar sy het vroegoggend laas ’n stukkie beskuit saam met koffie gehad en is nou rasend honger.
Terwyl Xante wasabi in die sojasous inroer, voel sy mevrou Hugo se blik op haar.
“Vergewe my dat ek so reguit is, maar ek werk my lewe lank met modelle – jy is lank, jy is skraal en jy het ’n interessante gesig, so hoekom wil jy – met jou voorkoms – ágter die kamera wees en nie daarvoor nie?”
Xante se eerste reaksie is eerlikheid: Omdat ek dit nie kan vat dat mense – enigiemand – na my kyk nie! Maar sy weet dit sal belaglik klink. Sy kyk immers die hele dag lank na mense deur haar kamera se lens.
Sy lag gemaak lighartig. “Ek voor ’n kamera? Nee, goeiste, mevrou! Dis net nie ek nie. Ek neem al foto’s vandat ek kan onthou en dis my enigste groot passie. Vóór ’n kamera kry jy my nooit. Ek bedoel,” probeer sy verskoning maak, “nie ‘jy’ soos mevrou self nie, maar ‘ ’n mens’ – enigeen …”
Mevrou Hugo waai haar met ’n hand stil. “Ek het dit reg verstaan. Toe dan, eet gerus.”
Xante kyk na die silwerskinkbord en kan haar oë skaars glo. Riël het in stilte feitlik die helfte van die soesji verorber!
“Skuus,” maak hy halfhartig verskoning, “ek was honger.”
“Umfaan, wat kyk jy so na daardie mense?”
“Hoe nou?” vra Faan verward en kyk na Katrien.
“Die kind probeer seker nou al goed drie minute om jou aandag te kry.” Meneer Viljoen senior se stem is rustig, geamuseerd. “Dis ’n mooi meisiekind daai, maar darem nie mooier as onse klein Katrien nie!”
Faan bring sy aandag terug na sy eie tafel. Hy glimlag sameswerend met sy pa en draai dan na Katrien. “Ek ken die ou tannie van iewers af, maar ek kan haar net nie geplaas kry nie. Wil jy sorbet vir nagereg hê?”
“Mag ek?”
“Vanaand mag jy.”
“Terloops, Faan,” sê sy ma en leun oor na hom, “dis een van die dae Katrien se verjaarsdag. Het jy lus om dit saam met ons te vier?”
Faan weet hy bly net te lank stil, maar hy weet nie hoe om te reageer nie. Katrien word tien. Hy weet dit. Dis ’n belangrike verjaarsdag … hoewel, elke verjaarsdag is sekerlik belangrik.
“Ma … Wat beplan julle?”
“Katrien wil graag ‘iets avontuurliks’ doen.” Sy ma kyk met soveel liefde na Katrien dat hy skielik verskriklik skuldig voel.
“Wat skinder julle?” vis Katrien onbeskaamd.
“Ons praat oor jou verjaarsdag, liefie. Ek vertel vir Umfaan dat jy lus het vir avontuur.”
“O, ja! Umfaan, al die ander meisies wat ek wil nooi, is soos ek. Hulle hou nog van klim en hardloop en speel en als. Niemand anders hou sulke soort partytjies nie, en ek wil!”
“Het julle idees?” vra Faan geamuseerd.
“Ouma sê met dié dat mens nie in die Kaap weet of dit mooiweer gaan wees in Augustus nie, moet ons kyk na ’n binnenshuise plek.”
“Ek het so ’n bietjie rondgevra,” voeg meneer Viljoen by, “en daar’s ’n binnenshuise rotsklimplek.”
“Die een in Obs?” vra Faan. Sy blik dwaal weer na die vrou met die rooiblonde hare. Iets aan haar fassineer hom,