Hertog van die Pampas. Malene Breytenbach
n>
Hertog van die Pampas
Malene Breytenbach
Melodie
1
“Ons het ’n uitnodiging gekry na ’n bal by die estancia San Felipe de Oragon,” kondig Don Ramon aan toe die Almas de la Montara-familie voor aandete in die groot voorkamer van hulle herehuis bymekaarkom.
Al Miranda se sintuie is onmiddellik opgeskerp, want nie net is ’n uitnodiging na die huis van Don Alejandro, die skatryk jong patrón van een van die grootste estancias in Argentinië, baie gesog nie, maar sy het ’n persoonlike belang daar. Die blote aanhoor van sy naam laat haar hart bons, en die moontlikheid om hom te sien, laat haar altyd tintel van opwinding.
“Kan ek asseblief die uitnodiging sien, Vader?” vra sy, want die kaartjie of brief wat gestuur is, het deur sý, Alejandro, se hande gegaan.
Don Ramon oorhandig ’n kaartjie met die Spaanse heraldiese wapen van die hertog, die Conde Alejandro Semillano de Oragon, daarop. Miranda kyk ekstaties daarna. Dit kom weliswaar nie net van hom af nie, maar van die hele familie: Alejandro, sy moeder die Condesa, Doña Natalia, en sy sestienjarige suster, Dolores. Sy vader, Conde Orlando, is twee jaar gelede oorlede en Alejandro het die titel geërf. Daarmee saam is hy nou die patrón – die heer en meester oor hulle uitgestrekte veeplaas van duisende hektaar waarop groot troppe beeste, skape en perde wei. Sover sy weet, is dit die grootste estancia in Argentinië en meer gaucho’s of veedrywers, peones en campesino’s werk vir hom as op enige ander estancia. Hy is soos die heerser van ’n klein koninkrykie.
Hy is vir haar die toonbeeld van ’n cavallero, ’n Spaanse ridder. Ongelukkig is dit nie net sy wat deur hom betower word nie. Alejandro is die mees gesogte vrygesel in die land: fors, lank en onbetwisbaar manlik, met die breedste skouers wat sy nog gesien het, effens krullerige swart hare en donker oë wat ’n bars kan kyk … of diep in jou siel kan indring om jou diepste geheime te ontsluit. Sy gesig is sterk; sy kakebeen toon ’n onversetlike wil en karakter. Sy weet hy is trots en dominerend, maar sy wil hom juis troef. Hy is vir haar die grootste uitdaging in haar lewe.
Die kere dat sy hom gesien het sedert haar sosiale debuut het sy die indruk gekry dat hy haar dophou, graag met haar dans, haar selfs bewonder. Dit het haar dag- én nagdrome begin beïnvloed.
Soos die gaucho’s is Alejandro ’n briljante ruiter. Hy kan vee net so goed as die gaucho’s aankeer met behulp van die boleadoras, die drie klippe in leer toegedraai aan drie voet lange leerbande. Sy het hom al in aksie gesien – hy is ’n uitstekende perderuiter wat wilde perde kan tem. Soos vir haar broer, Raúl, het die gaucho’s hom al dié vaardighede van jongs af geleer.
Sy het hom al aangetrek soos ’n gaucho gesien, met ’n poncho oor sy skouers, ’n mes in sy gordel en ’n leersweep wat hy goed kan gebruik. Sy het hom al in deftige aandklere gesien met kant om sy hals en polse, en in ryklere met blink stewels. Nooit was hy anders as manlik en indrukwekkend nie. Op sy blinkswart volbloedhings is hy ’n asemrowende gesig. Hy dans soos ’n droom. Wat kan hy nié doen nie? Vir haar is hy bykans perfek.
Dis natuurlik ’n probleem dat al wat ’n vroumens is hom begeer. Ouers probeer verbete om hulle dogters aan hom voor te stel, maar Alejandro het nog nie vrou gesoek onder die plaaslike Argentyne nie, en hy is al diep in die twintig. Hy is soos die rypste vrug heel bo aan ’n boom – aanloklik, begeerlik, maar moeilik om in die hande te kry.
Miranda het nog altyd gehoop dat sy ’n voordeel bo die ander meisies het omdat hulle estancia aan sy familie s’n grens en hulle mekaar van kleins af ken. Hy en Raúl is boonop goeie vriende. Goeie buurskap het ook gemaak dat hulle, die Almas de la Montara-familie, altyd genooi word na die swierige geleenthede by die Semillano de Oragon-familie se kasteelagtige woning.
Deesdae probeer ander vryers naarstig om haar die hof te maak, maar sy gooi wal vir ’n vale. Haar vader raak nou al kwaad oor haar steeksheid. Alejandro is die enigste man wat sy wil hê. Hy is nie slegs ’n groot landheer nie, maar dapper, intelligent en ’n leiersfiguur – ’n man wat Spanje toe gestuur is om onder meer die swaardkuns by ’n meester in Madrid te leer. Vir haar is daar eenvoudig geen ander man wat by Alejandro kan kers vashou nie.
Sy sug toe sy na sy familiewapen kyk. Hier lê die groot probleem by sy keuse van ’n lewensmaat: hy is ’n afstammeling van die hoogste Spaanse adel, ’n grande. Sy vader, Don Orlando, was ’n Spaanse edelman wat nog in die tyd van Koningin Isabella II, oftewel Doña Isabel II por la Gracia de Dios, Reina de las Españas, in opstand gekom het teen die korrupte regime en na Argentinië uitgewyk het. Die meeste mense het ’n heilige ontsag vir Don Orlando gehad, maar hy het ongetwyfeld ’n sagte plekkie vir Miranda gehad, wie se afkoms ongelukkig uit die laer adel is. Dit het haar laat hoop dat hy haar nie sou afkeur as potensiële bruid vir Alejandro nie, maar nou is hy dood.
Die Condesa, Doña Natalia, is ’n perd van ’n ander kleur.
“Daardie vrou, wat steeds vasklou aan die waardes en klassestelsel van die ou Spanje onder ’n monarg, is verbete dat haar kinders met die hoogste Spaanse aristokrasie sal trou,” het Miranda se moeder, Doña Maria Luísa, al dikwels gesê. “Al is ons familie soos Alejandro s’n Limpieza de sangre, oftewel ou Christene van suiwer Spaanse bloed, is jou vader en ek plaaslik gebore crillo’s wie se ouers in Spanje gebore is, terwyl sy ouers Peninsulares is, gebore in Spanje. Dít, en hulle rykdom, plaas die Semillano de Oragon-familie heel bo aan die rangleer van Spaans-Argentynse families.”
Tevergeefs het Miranda haar moeder daarop gewys dat Alejandro ook ’n crillo is. Haar moeder het volgehou dat sy ouers volgens hulle tradisie vir hom ’n vrou sal soek – dis nie genoeg om ryk en hardwerkend te wees en ook ’n groot estancia te besit nie. Vir Alejandro-hulle is adellike bloed en die familie se eer die belangrikste oorwegings as dit by ’n huwelik kom.
Haar vader, Don Ramon, het onomwonde gesê: “Miranda, ek weet almal wil daardie jong man as bruidegom kry en ek weet jy het van jongs af ’n spesiale gevoel vir hom, maar jou trots moet jou daarvan weerhou om dit vir hom te wys. Hy is jou nie beskore nie.”
Ten spyte van al dié waarskuwings, of dalk juis as gevolg daarvan, is sy egter vasbeslote om hom te kry. Sy hoor altyd dat sy ’n wil van haar eie het, dat sy koppig en passievol is as sy in iets glo, en sy weet dis waar.
Deesdae hoor sy ook dat sy mooi geword het. Op die ouderdom van sewentien is dit lekker en streel dit die ego, maar ydelheid is iets waarteen Carmen Gonzalez, haar duenna of “tweede moeder”, haar altyd waarsku.
“Trots moet jy wees, en waardig, maar nie arrogant nie. Loop regop, kop omhoog, maar besef dat voorkoms nie al is wat tel nie. Inbors, karakter en medemenslikheid is veel belangriker.”
Miranda moet dikwels die kritiek aanhoor dat sy te wild is, dat dit nie vroulik is om perd te ry soos sy nie, dikwels met mansklere aan. Dis verkieslik dat ’n jong vrou wat ’n goeie huwelik wil doen, sysaal of in ’n koets moet ry, nie met lang hare wat loskom en in die wind stroom nie. Sy steur haar nie daaraan nie, want tuisbly en borduur is nie vir haar nie. Sy wil die wind in haar gesig en hare voel, die stuwing van haar bloed as ’n volbloedperd onder haar galop. Sy wil met perde werk – sy stel intens belang in die telery en bloedlyne, en haar vader het van die beste perde in Argentinië. Sy diere word slegs deur die stoet van die estancia San Felipe de Oragon geëwenaar of oortref.
Haar sogenaamde wildheid is natuurlik nog iets wat die Condesa, Alejandro se moeder, nie goedkeur nie.
“Wat is die geleentheid by Alejandro-hulle?”
Raúl se vraag laat Miranda uit haar mymering opskrik. Hy sit met ’n sjerrieglas in die hand in een van die groot leerstoele langs die vuurherd.
“Dis nie ’n verjaardag nie, so waarom die bal? Wil hulle iets anders vier?”
Miranda, wat by die familiewapen vasgehaak het, lees die kaartjie verder. Nee, dis nie waar nie! Dit kan eenvoudig nie wees nie!
Dit voel asof iemand haar wind uitgeslaan het. Sy snak na asem en voel hoe haar lyf lam word. “Dit … hulle … Alejandro raak verloof,” kry sy dit uit deur lippe wat dood voel.
Die kaartjie val uit haar willose vingers en Raúl kom tel dit op. Vaagweg