In jou hande. Malene Breytenbach
Haar stiefsuster, ryk Basie de Villiers se mooi en bedorwe dogter, is twee jaar jonger as sy. Nicci het drama gestudeer en doen nou vryskut model- en filmwerk. Hoewel hulle twee oppervlakkig oor die weg kom, is daar onderliggende spanning sedert hul ouers drie jaar gelede getrou het.
“Jak het ook groot geskrik,” sê haar ma. “Hy wou van Gauteng afvlieg om jou te kom sien, maar ons het gesê hy moet eerder ’n bietjie later kom, want jy kan nie praat nie en jy is meesal onder verdowing. Hoe julle nou tot trou sal kom, weet ek nie. Dit sal lank neem voordat jy gesond is.”
Michelle sug uit haar hart. Trou is die laaste ding waaraan sy nou wil dink. Haar vriend het onlangs ’n praktyk in Pretoria geopen, maar sy wil nie graag uit die Kaap weggaan nie. Afgesien daarvan is daar die moontlikheid dat sy geskend is of gestremdhede van die ongeluk kan oorhou. Sal Jak haar nog wil hê?
Michelle word wakker van stemme en die eerste mens wat sy sien, is dokter Douw Hefer. Hy lyk nie vandag so moeg soos die vorige keer nie, dink sy deur die slaap.
“Hallo, ounooi,” groet hy. “Ek hoop jy voel darem elke dag ’n bietjie beter.”
Michelle knip haar oë om ja te kenne te gee.
“As ek jou vrae vra, moenie jou kop skud nie. Knip een keer vir ja en twee keer vir nee.”
Michelle knip een keer.
“Ons verstaan mekaar.” ’n Effense glimlaggie speel om sy mond.
Vandag is hy skoongeskeer en daar wys nie stoppelbaard onder die soel vel nie, merk sy op. Hy is kraakvars netjies in sy wit jas en ligblou hemp, met ’n wynrooi das. Die hemp laat sy oë nóg blouer vertoon. Sy bekyk elke detail terwyl hy haar ondersoek.
“Ons het jou lank aan die slaap gehou en het jou getoets met ’n elektro-enkefalograaf – ’n EEG – om breinskade en harsingskudding te bepaal. Ek wil jou verseker dat die skade beperk is, ten spyte van jou harde kopstamp en whiplash. Ons moes jou neurologiese toestand ook bepaal. Jy verstaan al die mediese verwysings, want jy is ’n arbeidsterapeut, nè?”
Michelle knip een keer.
“Jy weet dat jy veelvuldige beenfrakture het en dat jy taamlik lank in die hospitaal sal moet bly?”
Sy knip weer.
Hy streel liggies oor die verband om haar kop. “Jy het ’n geweldige stamp teen die kop gehad, jou voorkop teen die stuurwiel. Vandaar die besering. Gelukkig het jou skedel nie gekraak nie.” Hy glimlag vir haar. “Harde kop, nè? Dié slag was hardkoppigheid ’n voordeel.”
Sy smag daarna om op sy geskerts te reageer, maar sy kan nie.
Iemand kom meteens die kamer binne en steek dan vas. Nicci, sien Michelle, pragtig uitgevat in ’n linnesomerrokkie, haar bruingebrande skouers kaal en haar lang blonde hare los. Gesig perfek gegrimeer, soos altyd.
“Haai, ekskuus! Ek weet dis buite besoekure, maar ek moet oor ’n uur vir ’n shoot in die Waterfront wees, toe kom ek maar liewer vandag vroeg.” Sy kom buk oor Michelle, wat duur parfuum ruik.
“Haai, ou ding, kyk hoe lyk jy! Jou kakebeen is vasgemaak en jy is oral in verbande en gips. Jy moet blerrie seergekry het. Kyk net hoe vreeslik lyk jou gesig!”
Sy draai na die dokter, wat haar met ’n frons aanstaar, en glimlag guitig. “Ekskuus, dokter, ek onderbreek jou. Gaan eers aan, ek sal soet hier op die stoel sit en wag.”
Sy wip weg en gaan sit, een lang bruin been oor die ander gekruis, en kyk glimlaggend na hulle.
“Ek kom weer laat vanmiddag,” sê hy. Dit klink asof hy die onderbreking afkeur.
Nicci wip op. “Ag, ek is ook so ontydig. Ek wil gou na Sandra ook gaan kyk, maar shame, sy is mos nog in ’n koma.”
Michelle verbeel haar sy sien hom baie subtiel sy kop skud, en ’n verskriklike agterdog vul haar. Daar is iets wat hy nie wil hê sy moet weet nie.
Toe hy uitloop, kom Nicci weer nader.
“Hoe op aarde het jy dit reggekry om daar by Bainskloofpas af te ry? Jou motor het gerol tot onder. Gelukkig het ’n motor verbygekom, anders het julle heelnag, of dalk vir ewig, daar gelê. Waarom het jy in elk geval in die nag gery? ’n Mens ry mos nie in die donker oor ’n bergpas nie. Jy sal mý nie betrap dat ek so iets doen nie.”
Verwyte? dink Michelle wrokkig. En sy kan nie verduidelik dat dit Sandra was wat vroegoggend terug moes wees en dat hulle op haar aandrang vieruur opgestaan het om betyds in Kaapstad te wees nie.
“Sjoe, dis darem vir jou ’n dishy dokter daardie,” grinnik Nicci. “Ek wens amper ék het ’n ongeluk gemaak, net om onder sy hande te beland. Daardie oë! Jy kan daarin verdrink. So blou soos die somerhemel.” Sy rol haar oë. “Die klomp verpleegsters vrek seker oor hom. Hy is glo een van die bestes, het hulle Paps verseker. Ek sal moet sorg dat ek die man weer sien.”
Michelle voel te verpletter om haar werklik te vervies, maar sy is nogtans geïrriteerd met haar stiefsuster, wat mans najaag en deur hulle nagejaag word. Nicci flankeer selfs met Jak net wanneer sy kan. Dokter Hefer het natuurlik gesien hoe sexy sy is. Michelle wonder of hy in die soort strik sal trap wat Nicci vir mans stel. Selfs getroude mans is nie veilig by haar nie.
“Jy gaan vir ewig hier lê,” sê Nicci. “Eers oor ’n maand sal jy weer kan praat. Wanneer jy weer gaan loop, weet nugter. Jy sal lank nie kan gaan draf nie. Ek hoor jou hand is vergruis, maar blykbaar kan Dokter Dishy enigiets regmaak. Wel, een voordeel van die hele affêre is dat jy nie kan eet nie. Jy kry net vloeistof en aarvoeding. Jy kan lag-lag so tien kilo’s afskud, dan lyk jy weer soos in matriek.” Sy giggel. “Of soos ek, wat gedurig op dieet is.”
Michelle wens net Nicci wil gaan en haar alleen laat, maar al wat sy kan doen, is om na haar stiefsuster te staar.
Die mooi en simpatieke suster kom in en kyk Nicci met geligte wenkbroue aan. “O, môre. Is u familie van juffrou Judson?”
“O ja. Sy is my stiefsuster. Toemaar, ek is weer op pad. Ek moes darem kom gesig wys en kyk hoe dit met arme ou Michelle gaan. Sê my, waar is daardie dokter Hefer nou? Ek wil met hom praat.”
Die suster se wenkbroue lig hoër. “Hy is teen dié tyd seker terug by sy spreekkamer. Hy opereer nie vandag nie.”
“O, dis jammer. Ag nou ja, anderdag sien ek hom weer.”
Sy wuif vir Michelle. “Tatta, word gou gesond hoor. Ek moet vlieg.”
Sy gryp haar sak en verdwyn.
“O, so dis jou stiefsuster?” sê-vra die suster. “Sy is werklik ’n besonder mooi meisie. Terloops, ek is Erna Etsebeth en ek weet jy is Michelle Judson. Jy lê hier so hulpeloos, maar ek het ’n plan gekry. Jou linkerhand is darem nie gebreek nie. Sal ek vir jou ’n notaboekie en pen bring? Dan kan jy met ons kommunikeer, al is dit skeef en krom?”
Michelle knip vinnig haar oë, diep dankbaar vir die suster se vindingrykheid.
“Goed dan. As ek weer kom, bring ek dit.”
Sy ondersoek Michelle. “Jy is gelukkig jonk en gesond. Jy sal regkom, wees net geduldig. Hier het nog ruikers aangekom; ek stuur hulle in. Blomme beur mens mos op.”
Michelle brand om te weet wat met Sandra aangaan, en of Sandra se ma van Stellenbosch af gekom het om by haar te wees. Indien wel, waarom het sy nog nie by haar, Michelle, ’n draai gemaak nie? Sou sy haar verwyt oor sy die bestuurder van die motor was? Of is Sandra só erg beseer dat sy net heeltyd by haar waak?
Dit voel vir Michelle asof haar geestelike kwellinge veel erger as die fisieke beserings is. Sy sien en hoor drogbeelde en skrikwekkende klanke sodra sy aan die slaap raak. Die ongeluk speel oor en oor in haar gedagtes af, soos ’n fliek wat vasgehaak het.
Sy herleef ook haar pa se ongeluk, en die hartseer daarvan kom terug en wil haar by tye oorweldig.
2
Jak, wil sy sê,