'n Sluier vir Shahira. Annelize Morgan

'n Sluier vir Shahira - Annelize Morgan


Скачать книгу
skud sy kop. “Jarad is nie ’n man wat gou kwaad word nie, maar jy tart hom uit. Dit gaan nog op ’n konfrontasie uitloop. Is jy reg vir ’n oorlog met hom?”

      Salem Khidr sê niks. Hy staar net na die mab-khara voor hom waarin wierook brand wat ’n soet, swaar geur deur die vertrek stuur. Yl rook borrel deur die fyn gaatjies in die filigraan waarmee die geelkoperinstrument versier is. Dit het gewoonlik ’n kalmerende uitwerking op die ou man, maar vandag kan niks blykbaar sy wraaklus demp nie.

      “Ek het gesweer dat ek Xavier Jarad sal vernietig. Leila was die dogter van die sultan, ’n prinses, en sy was myne! Hy het haar afgerokkel … en toe het sy op pad na sy huis gesterf. Jarad mag nie bly leef nie. Hy moet sterf omdat Leila gesterf het.” Sy dik kenne dril van woede en verontwaardiging.

      “Die sultan –”

      “Jy weet niks!” brul Khidr. “Sy het aan my behoort en nou is sy dood!”

      Ibrahim waag dit nie om iets verder te sê nie. Sy maat is ook doodstil. Spoedig neem hulle afskeid van Khidr, asof hulle haastig is om van die huis af weg te kom. Hulle laat egter nie na om ’n tiental male voor Khidr te buig toe hulle hom groet nie.

      ’n Week lank bly Khidr in afsondering. Gedurende daardie week hoor Isabelle-hulle elke dag beangste gille vanuit die selle onder die huis kom. Al haar vrae oor wat aan die gang is, val op dowe ore. Niemand wil daaroor praat nie.

      Teen die derde dag kan Isabelle dit nie meer hou nie.

      “Wat gaan daar onder aan?” vra sy een van die slavinne wat sy kon vaskeer.

      Die meisie se blik flits heen en weer asof sy bang is dat iemand haar sal hoor as sy praat.

      “Dis mense wat deur die sjeik gemartel word,” fluister sy haastig en probeer wegkom, maar Isabelle se greep op haar arm verstewig.

      “Hoekom?”

      Die slavin sluk swaar. “Achmed het … het gesê dat sjeik Jarad ’n beter meester is as sjeik Khidr.”

      Isabelle laat haar los en sy hardloop in die gang af en verdwyn om ’n hoek.

      Toe Isabelle dit vir Jeanne vertel, is dié se antwoord genoeg om haar nog verder die skrik op die lyf te jaag.

      “Jy mag die sjeik niks weier nie, Isabelle. Dis nie Frankryk hierdie waar jy met ’n man se gevoelens kan speel nie. As jy hom kwaad maak, kan hy jou dalk vermink of vir die aasvoëls gooi. Ons hoor elke dag hoe iemand in die selle gemartel word, en wie weet of hy enigiets verkeerd gedoen het.”

      “Hy is ’n monster!” Isabelle spits haar ore, maar sy hoor nie meer die man in die selle skreeu nie.

      “Jy moet versigtig wees, my vriendin. Al is dit hoe walglik, laat hom begaan en wag jou kans af.”

      “Watter kans, Jeanne?” vra Isabelle mismoedig. “Kyk om jou! Daar is nie ’n manier dat ons hiervandaan kan wegvlug nie. Ons sal in die woestyn doodgaan sonder water. Hier het ons ten minste kos.”

      Jeanne haal haar skouers op. “Ek maak my nie daarvoor klaar dat ek hier gaan bly nie. Jy kan hier sit en vergaan, maar nie ek nie. Hierdie sjeik is ’n vark.”

      “Daar stem ek met jou saam.”

      Uiteindelik het die angsgille onder in die selle stil geraak, maar hulle is te bang om te probeer uitvind of die stomme man nog leef. As hulle lank genoeg wag, sal hulle sien wanneer die rasjids hom uitsleep en dan sal hulle vir seker weet …

      Maar dis beter om nie te weet nie en jou oog op jou eie lewe te hou.

      “Kyk daar!” roep Jeanne skielik uit en Isabelle draai om om te kyk.

      ’n Groep ruiters kom oor die songebakte ghor aangery. Die vlaktes tussen die kranse is gewoonlik bedags stil, met geen beweging daarop nie. ’n Ligte wind dwarrel die stoffies onder die perde se hoewe uit en laat die ruiters se spierwit galabiyehs om hulle in die lug uitbol. Hulle nader die huis vinnig en spoedig kan Isabelle die geklap van perdehoewe op die harde grond hoor.

      Sy en Jeanne hardloop kaalvoet met die lang stoep af en gaan staan verskuil om ’n hoek om te sien wie dit is. Hulle mag kyk solank hulle nie gesien word nie.

      Die ruiters kom die binnehof ingery met ’n geklingel van stiebeuels. Isabelle herken die leier van die groep met ’n skok.

      “Dis sjeik Xavier Jarad!” sê sy op ’n fluistertoon aan Jeanne, wat haar nuuskierig aankyk.

      “Van waar ken jy hom?”

      “Hy het ingekom en op my gebie – hy wou Salem Khidr net tart. Die twee haat mekaar. Ek wonder waarom hy hierheen gekom het.”

      Hulle staar na die groepie ruiters. Verderaan sien hulle hoe die dooie man uit die selle weggesleep word.

      “Hy het dit nie gemaak nie, stomme man,” fluister Isabelle hees.

      “Ons moet bid dat ons nie ook in die selle beland nie,” fluister Jeanne terug. “Min kom lewend daar uit.”

      Hulle kyk terug na die toneel voor die huis. Jarad staan by sy perd en wag dat sy manne moet afklim, voordat hy na die versierde ingang loop. Om sy hoofbedekking is ’n dubbele koord van goud en om sy hals is ’n goue ketting waaraan ’n ronde skyf hang. Isabelle kan ook goue bande om sy gewrigte sien blink.

      Toe Jarad die huis binnegaan, glip Jeanne en Isabelle weg na hul kwartiere. Salem Khidr sal Isabelle dalk laat roep en sy mag nie gesoek word nie.

      Hulle is skaars terug in die slawekwartiere toe Isabelle ontbied word. Haar hart klop in haar keel toe sy die rasjid na Khidr se kamers volg.

      Sy loop geruisloos op kaal voete oor die dik Arabiese tapyte en steek vas in die deur van die vertrek waar die vyf mans en Khidr sit. ’n Silwerhouer met wierook word aan haar oorhandig en Khidr beduie dat sy dit in die mabkhara moet aansteek.

      Sy huiwer, maar gaan dan nader en hurk by die wierookbrander. Sy maak dit oop en plaas die wierook in die holte, steek dit brand en wag tot die rook deur die openinge sypel voordat sy terugstaan.

      Toe sy opkyk, kyk sy vas in die oë van Jarad. Sy skrik en haar hand gaan intuïtief na haar jasmag wat haar gesig bedek. Sy kyk weg en hoop dat Khidr nie die wisseling van blikke gesien het nie.

      Khidr is gelukkig salig onbewus daarvan, want hy is besig om sy wynbeker vol te skink uit ’n goudbeslaande kruik.

      “Wat kom maak jy hier, Jarad?” wil hy eindelik weet, sy swart ogies net splete in sy vet gesig.

      “Jou manne is die hele week al by my waterputte en hulle verdryf my kamele.”

      “Ek weet niks daarvan af nie,” hou Khidr hom onskuldig.

      “Ek ken jou manne op hulle name, Khidr.” Jarad se oë is koud soos stukkies glas. “Ek ken elkeen van hulle asof hulle vir my gewerk het. Vat hulle weg by my waterputte as jy nie oorlog wil hê nie.”

      Daar is ’n gelaaide stilte tussen die twee. Isabelle hou haar blik neergeslaan, maar sy luister na elke woord wat hulle praat. Soos wat sy vir Khidr leer ken het, is hy nie iemand wat sal terugstaan nie.

      “As jy hulle nie daar wil hê nie, kan jy hulle self verwyder.” Khidr frons ontevrede. “Die putte behoort nie aan jou nie! Dis die eiendom van die woestyn.”

      Jarad leun oor na hom. “Miskien moet jy dit ook onthou.”

      Hulle gluur mekaar aan en die ou sjeik is die eerste om bes te gee.

      “Jy is nie een van ons nie, Jarad! Hier is niks in hierdie land wat aan jou behoort nie.”

      Jarad antwoord nie en die koue wyk nie uit sy oë nie.

      “Gaan na waar die nasrani’s is,” sis Khidr. “Dis waar jy hoort.”

      “Ek is hier gebore en hier sal ek bly.” Jarad kyk stip na sy teenstander. “Wat het van my twee manne geword wat ’n maand gelede hierheen gekom het? Hulle het ’n boodskap vir jou gebring.”

      “Ek


Скачать книгу