Narkose vir die hart. Helena Hugo
besoekers en pasiënte. Kinders stoei en speel op die vloer, lag en huil. Die ontvangsafdeling is ’n miernes. Mense hoes, proes en spoeg. Deur die glasdeur sien sy groepies op die stoep. Van hulle rook dat die blou dampe staan. Rook en hoes, lag sonder tande.
Dis reeds laatmiddag en hulle drom steeds saam. Dis nooit vir haar maklik om hier deur te loop nie, sy het ’n oordosis gehad in haar huisdokterjare.
By die toonbank staan mense tou en vul vorms in. Sy verbeel haar sy hoor die elf landstale plus Grieks en Portugees. Iemand trek aan haar mou en vra hulp met die invul van ’n vorm. Sy is haastig, maar help soveel soos sy kan. Dan draai sy vinnig om en vlug voor nog een haar kan voorkeer.
Dis toe dat sy in hom vasloop.
Hy het ’n wit T-hemp en blou jeans aan, ’n oopgeknoopte hospitaaljas bo-oor. Hy is blykbaar ook haastig, want hulle bots ongenadig hard. Toe hulle mekaar tref, vou sy jaspante saam met sy arms om haar. Hoe sy dit in die bedompige hospitaalgang regkry, weet sy nie, maar sy ruik hom. Die koue antiseptiese reuk van ’n pasgeskropte teater, maar ook ’n naskeerroom wat haar herinner aan dennenaalde op sneeu, sy eie persoonlike reuk, nie onaangenaam nie. Die T-hemp is sag teen haar wang, sy rugspiere hard en bultend onder haar hande soos sy vasklou om nie te val nie. Sy een hand is stewig op haar heup, die vingers van die ander een styf om haar boarm geklamp.
Vir ’n breukdeel van ’n sekonde verbeel sy haar hulle wals … en wals …
Maar die toevallige omhelsing duur net ’n sekonde, want hy los haar so vinnig soos hy haar vasgevat het en stoot haar eenkant toe, ’n lastige dogtertjie wat onverwags onder haar pa se voete beland het.
“Dokter Du Plessis, versigtig,” hoor sy hom ongeduldig sê. Gewoonlik noem hy haar Saranie.
“Dokter Strauss!” snak sy na asem.
“Waarheen is jy so haastig op pad?”
“Ortopedies.”
“Jy moet kyk waar jy loop voor jy ook daar beland.”
Terg hy haar of raas hy met haar?
Deksels! Dis die eerste keer in haar lewe dat sy in hom vasloop en dalk is dit nie eens haar skuld nie, dit kon net sowel hy gewees het wat nie kyk waar hy loop nie. Seker oorhaastig om by Glenda Olckers uit te kom voor sy huis toe gaan. Sy loop dikwels vroeg.
“Jy kan ook maar kyk,” brom Saranie en stof haar af asof hy vuil is.
“Maar jy’s kwaai!”
“ ’n Mens beskuldig nie sommer iemand anders nie.”
“Wat van jou? Dis wat jy nou doen.”
“Jy het eerste begin.”
“Dan hou ek eerste op. Ons kan nie hier staan en redeneer nie.”
Hy sê dit, maar beweeg nie ’n tree nie. Sy prop haar hande in haar sakke. In die een sak is ’n bol snesies, in die ander ’n bondel sakkies met ampules. Die morfien! Dis goed sy onthou dit.
Sy lig haar ken en kyk hom in die oë. Uitdagend. Syne is die wonderlikste blou, ’n uitdrukking daarin wat sy nie kan peil nie.
“Ek sou sê ekskuus, ek is jammer. Dis maklik genoeg,” hoor sy haarself sê.
Sy kan nie glo sy waag dit nie, maar sy is te vies om aan die gevolge te dink, nog minder om in ag te neem wie voor haar staan – een van die mense wat haar loopbaan kan kelder as hy sou besluit om haar gedrag onder die professor se aandag te bring. Ook die man op wie sy so passievol verlief is. As hy langer so teen haar staan, vou haar bene onder haar in.
“Jy verwag ’n verskoning?”
Sy knik en hy lag droog. “Ek sal beter doen, ek sal jou uitneem vir ete. Hoe lyk dit? Vanaand, môreaand?”
Hy kon haar met ’n bedpan oor die kop geslaan het en sy sou minder verbaas gewees het. As dit sy manier van ’n grap is, gaan sy nie daarvoor val nie. Hy weet natuurlik hoe sy oor hom voel en hy terg haar en verneder haar nog ’n keer, die vervlakste mansmens.
“Nee, dankie, dokter Strauss, sê net jy is jammer, dit was ’n ongeluk, dis al.”
Vir ’n oomblik lyk hy geamuseer en dan frons hy. ’n Spiertjie spring in sy wang, sy mond trek styf. Sy durf nie in sy oë kyk nie, maar dis moeilik, want hy sit sy regterhand palm na onder teen haar boarm. Dit voel of daar gate in haar jassie brand, deur haar langmouhemp tot op haar vel.
“Dit was ’n ongeluk. Jammer, ek het nie gekyk waar ek loop nie,” rammel hy die woorde af.
Nie eens drie sekondes nie en sy hand gly van haar arm af.
Sonder om weer na haar te kyk stap hy tussen die pasiënte deur na sy spreekkamer.
Saranie staan nog. Sy vou haar arms voor haar bors en wonder of sy nie weer gedroom het nie.
Franz Strauss het haar vir ete uitgenooi en sy het nee gesê!
Toe sy opkyk, staan Glenda Olckers en gluur na haar asof sy op privaat gebied oortree het. Saranie wil eers maak of sy haar nie sien nie, maar dan knik sy hoflik en glimlag selfs.
Natuurlik kry sy geen reaksie nie, net nog meer van die koue staar. Die oog van die basilisk, noem sy en Anna daardie kyk as hulle die slag regtig wil gal afgaan. Dié keer is dit soveel intenser as gewoonlik. Saranie ril, druk die hysbak se knoppie en wag, haar gemoed ’n kraaines van deurmekaargewoelde gedagtes en gevoelens.
Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Glenda neus in die lug na Franz se spreekkamer stap. Die hysbak hou stil. Glenda klop nie aan Franz se deur nie, sy vat eenvoudig die deurknop vas, stoot dit oop en stap in asof die plek aan haar behoort.
Wat gaan soek sy daar? wonder Saranie. ’n Kans om weer gesoen te word?
En sy? Het sy haar beurt verbeur, of het sy so pas as die oorwinnaar uit ’n geveg getree?
Die hysbakdeure gaan oop. ’n Verpleegster stoot ’n vrou in ’n rystoel uit. Nog twee verpleegsters volg haar. Saranie ken hulle, hulle werk in ortopedies en is altyd in die moeilikheid.
“Dokter Du Plessis! Suster Hochbach soek dokter die hele hospitaal vol,” kondig die een aan, asof suster Hochbach ’n kwaai onderwyseres is wat met die strafboek regstaan om detensie uit te deel. Probleem is: dis presies soos Hilda Hochbach is. Sy haat dokters, veral vroulike beginnerdokters. En sy regeer haar afdeling met ’n ysterhand so reg uit die jongste reëlboek – een wat sy self opgestel het.
“Ek’s op pad, Cathy, voor jy iets oorkom.”
“Is nie ek wat iets oorkom nie, dokter, dis suster.”
Saranie byt op haar tande om te keer dat sy Cathy op haar plek sit.
“Dokter is in die moeilikheid,” piep Cathy waaghalsig.
Haar spanmaat, Letti, se gesig is vol vlekke en haar oë is rooi gehuil. Sy is die sagte een en Saranie kan nie help om haar jammer te kry nie. Maar sy het nie tyd om die storie te hoor nie. Daar is buitendien net drie – met ’n paar variasies – en gelukkig kan die hysbak nie wag nie.
“Toe maar, ek’s op pad,” troos sy en stap by die hysbak in.
As sy in die moeilikheid is, is sy definitief nie die enigste een nie. Ou Hochbach het hulle natuurlik weer lelik uitgevreet, nou soek hulle nog iemand wat saam met hulle aan die pen kan ry.
Die deure klap toe. Sy is alleen in die hysbak.
Sy kyk in die spieël en is verbaas om te sien dat sy nog dieselfde lyk. Groot donker oë, wye rooi mond, blekerige vel wat nou gloei met ’n aantreklike blos, hoë voorkop en wangbene, ligbruin songestreepte hare wat sy in ’n vlegsel werk toe dra.
Franz Strauss het haar vasgehou; sy kan sy arms nog om haar voel. Maar dit was seker bloot om te keer dat hulle val en ’n spektakel van hulle maak. Dis goed sy het geweier om saam met hom te gaan eet, wie dink hy is hy? Glo hy sy is dom genoeg om hom ernstig op te neem?
Sy wens sy kon, maar sy weet sy kan nie. Hy was duidelik