Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua
sy die vorige aand laat aan die slaap geraak het, is Natasha die volgende oggend vroeg wakker en uit die bed. Toe sy kwart voor nege gereed is om na die prokureur se kantoor te vertrek, deel een van die huishulpe haar mee dat Hermien nog slaap. Sy wag tot nege-uur, maar toe Hermien nog geen teken toon dat sy enigsins van plan is om op te staan nie, klim Natasha in haar motor en vertrek stad toe.
Die skone Hermien gaan natuurlik woedend wees wanneer sy wakker word en hoor dat ek reeds vertrek het, dink Natasha met ’n ingenome glimlaggie toe sy langs ’n parkeermeter stilhou en uitklim. In elk geval, sy moet maar ontplof as sy wil. Sy sal baie gou haar fout agterkom as sy dink sy kan my hiet en gebied asof ek haar persoonlike diensmeisie is!
’n Rukkie later stap sy Henk de Swart se ontvangsvertrek binne, groet die sekretaresse vriendelik en sê verontskuldigend: “Ek weet nie of ek te vroeg of te laat is nie, maar meneer De Swart verwag my vanoggend.”
“Gaan gerus binne, juffrou Zeltmann,” sê die meisie net so vriendelik. “Jy is eintlik net mooi betyds, want meneer De Swart het ook maar pas hier aangekom.”
Natasha bedank haar en stap die prokureur se kantoor binne. Sy groet hom beleef en gaan op sy uitnodiging sit.
“Het u alleen gekom, juffrou Zeltmann?” vra hy taktvol en versigtig.
Sy knik, ’n geamuseerde glimlaggie om haar mondhoeke. “Hermien … e … mevrou Zeltmann was gisteraand vas van plan om my vanoggend hierheen te vergesel, maar sy het nog vas geslaap toe ek vroeër van die huis af weg is.”
“Pragtig,” sê die man tevrede. “Ek is bevrees mevrou Zeltmann is ’n … e … moeilike mens om mee sake te doen. Ek is seker u wil graag u pa se brief in privaatheid lees.” Hy tel ’n brief van sy lessenaar af op en hou dit na haar uit. “Daar is ’n paar sakies wat ek met my sekretaresse wil bespreek. Lees gerus u pa se brief hier in my kantoor. Moontlik is daar iets waarmee ek kan help.”
Natasha bedank hom. Hierna skeur sy die koevert oop, neem die enkele vel uit en vou dit versigtig oop. Die volgende oomblik val ’n papierstrokie uit die brief. Dit lyk soos ’n kwitansie. Sy bekyk dit van nader, merk dan dat dit ’n kwitansie is van ’n bank wat ’n pakkie vir haar in bewaring hou.
My liefste Natashatjie, begin sy lees. Hoe verduidelik ’n ouer aan sy enigste kind waarom hy niks in sy testament aan haar nalaat nie? Ek besit nie meer veel nie, daarom laat ek alles aan Hermien na. Ek voel dit kom haar toe, omdat sy die beste jare van haar jong lewe aan my afgestaan het. Ek is net bitter jammer dat ek nie meer vir haar kan nalaat nie, aangesien sy gewillig is om vir jou ook te sorg. Jy het seker al dikwels gewonder wat van jou oorlede ma se juwele geword het? Om die een of ander rede kon ek dit nie oor my hart kry om al jou ma se juwele vir Hermien te gee nie. Haar diamanthalssnoer en bypassende oorkrabbertjies word vir jou by die bank in bewaring gehou …
Natasha lees die brief klaar, dan staar sy met nikssiende oë deur die kantoor se venster wat ’n mooi uitsig oor die stadsplein bied. Haar groot, hartseer oë rus stil op die kunstige spuitfontein wat sy in werklikheid nie eens waarneem nie. Deur haar gemoed maal baie uiteenlopende gedagtes. Sy besef egter met ’n gevoel van verligting en blydskap dat haar pa haar darem nie heeltemal vergeet het nie. Sy ken haar oorlede ma se juwele en weet dat daardie besondere stel ’n fortuin werd is. Haar pa het haar dus tog iets waardevols nagelaat.
Sy vou die brief sorgvuldig op en plaas dit terug in die koevert. ’n Sweem van ’n glimlaggie verskyn meteens om haar mooi, sagte mond toe sy aan Hermien dink.
Sy gaan sonder twyfel ’n aanval van beroerte kry wanneer sy van die juwele hoor, flits dit deur haar gedagtes. Sy sal haar maar liewer nie van die brief en die juwele vertel nie, en sy sal meneer De Swart vra om ook hieroor stil te bly.
Toe Natasha later met die prokureur oor haar erfenis gesels, wil hy dadelik weet of hy vir haar ’n koper vir die juwele moet vind.
Natasha skud egter haar kop. “Ek verkies om die juwele te hou as ’n aandenking aan my ma. Dis trouens al wat ek van haar het en … e … sy was baie lief vir daardie halssnoer en oorkrabbertjies.”
“As u die juwele wil hou, is dit in orde. Maar as u eendag geld dringend nodig kry –”
“Ek hoop om gou werk te kry, meneer De Swart,” val sy die prokureur vinnig in die rede. “Ek sal vanmiddag weet of ek geskik sal wees vir die betrekking wat ek in die oog het. Maar baie dankie vir die vriendelike aanbod. Ek sal dit in gedagte hou wanneer die lewe my eendag volkome stief behandel en ek dalk verplig voel om my erfenis van die hand te sit.”
Natasha voel asof sy op die wolke sweef toe sy later voor die deur van haar ouerhuis stilhou. Haar verligting is nie te wyte aan die klein fortuin wat die bank vir haar in bewaring hou nie, maar omdat haar pa haar tog nie vergeet het nie.
Terwyl sy nog besig is om hierdie heerlike gevoel in haar te vertroetel, loop sy Hermien in die eetkamer raak waar sy besig is om ontbyt te eet. Haar groet is ietwat afgetrokke. Daaraan steur Natasha haar min. Sy besef dat haar pa se dood ook vir Hermien probleme geskep het.
“Ons kan oor ’n halfuur na die prokureur toe ry,” sê Hermien, nog steeds afgetrokke, sonder om haar blik van haar bord af weg te neem.
“Ek was reeds by die prokureur. Trouens, ek kom nou net van meneer De Swart af,” laat Natasha kalm hoor.
“Wat sê jy? Jy was al daar!” roep Hermien woedend uit – ’n uitbarsting waaraan Natasha haar nie in die minste steur nie. Sy besef dat hul paaie die een of ander tyd moet skei.
“Jy het reg gehoor, Hermien, dit is presies wat ek gesê het,” sê Natasha nog steeds doodbedaard.
“Maar ek het dan gister nog vir jou gesê ek wil saamgaan –” begin Hermien en sy stoot haar bord spek en eiers woedend opsy. Natasha gee haar egter nie kans om meer te sê nie.
“Ek onthou baie goed wat jy gister gesê het, Hermien,” val sy die ouer vrou sag in die rede, “maar jy het nog geslaap toe ek wou ry. En die saak wat die prokureur met my wou bespreek … wel, dit gaan jou hoegenaamd nie aan nie.”
Hermien vlieg van die tafel af op en gaan dreigend voor Natasha staan. Op die oog af lyk dit werklik of sy die jonger meisie te lyf wil gaan.
“Hiervoor sal jy boet!” roep sy ontstoke uit. Haar stem bewe van woede. “Gaan pak nou dadelik jou klere in en trap uit my huis uit! Jy en daardie agterbakse prokureurtjie is natuurlik kop in een mus om my van my erfenis te beroof! Maar julle sal dit nie regkry nie. Ek sal julle voor die hof daag …”
“Dis nie nodig om op my te skreeu nie, Hermien,” probeer Natasha haar stilmaak. Maar Hermien is nou behoorlik doof van woede.
“Wat sê jy? Ek moenie op jou skreeu nie!” vaar Hermien weer onbeheers uit. “Ek voel baie lus en doen jou iets meer aan …”
“In daardie geval sal ek dan maar my persoonlike besittings gaan inpak,” stuit Natasha die ouer vrou se vloed van woorde.
Sy draai om en terwyl sy wegstap, hoor sy Hermien nog eens agter haar aangil: “Ja, loop en gaan pak jou klere in sodat jy kan trap!”
Dit was vir Natasha nie moeilik om verblyfplek te kry nie. Sy het besluit om voorlopig in ’n hotel te bly totdat sy weet of sy in Pretoria of Johannesburg gaan werk.
Daardie aand na ete besluit sy om eers weer te gaan hoor wat Rita vir haar kon vasstel oor die betrekking waarvan sy die vorige dag gepraat het. Sy hoop van harte dat dit haar geval en dat haar kwalifikasies aan die werkgewer se vereistes voldoen.
Rita sit reeds in haar privaat sitkamer op Natasha en wag toe sy voor die Grové’s se huis stilhou.
“Ek het jou al vroeër verwag, jong,” groet Rita haar vriendelik. “Ek het goeie nuus vir jou. Kom sit hier langs my, dan vertel ek jou,” en sy beduie na die sitplek langs haar op die rusbank.
“Ek het ook baie om jou te vertel,” sê Natasha toe sy langs haar vriendin plaasneem.
“Ek kan raai wat dit is,” glimlag Rita ondeund. “Jy en daardie Hermien-vroumens het vasgesit en nou