Vlinder teen die ruit. Ettie Bierman
Hy het ten minste gelyk of hy begin belangstel. Darem ’n mate van vordering, dink Suri hoopvol. “Het jy toe die kwitansies en bankstate vir die eksekuteurs gekry?” wil sy weet.
“Nog nie.” Toe sy ondersoekend na hom kyk, voeg Hendro by: “Ook nie die gras gesny of die geute skoongemaak nie.”
“Wil jy hê ek moet die dokumente help uitsoek?”
“Ek sal regkom, dankie.”
“Wat het jy heeldag gedoen?”
“ ’n Ver pad gery …” bieg hy. “Die vensters oopgedraai en gehoop die wind waai die watte in my kop weg. Al langs die Wildekus af, tot anderkant die Transkei-grens. Ek sal vir jou petrol ingooi.”
“Toe maar, die helfte van daardie sjokoladekoek in die yskas sal genoeg betaling wees.”
’n Glimlag pluk aan sy mondhoek, maar sy grys oë bly somber.
Sy is te haastig, besluit Suri. Hendro lyk beter, maar sy weet nie hoe hy binnekant voel nie. Verlede nag het hy nie veel geslaap nie. Sy het hom rusteloos op die bank hoor rondrol, en hy het lank buite op die patio gesit. Seker weer ’n pak dertigs opgerook …
Sy sit vir Maja ’n droë doek aan en lê haar in die wiegie neer. Dan gaan help sy in die badkamer. “Jammer ek was laat, Nessa. Hoe het julle met die fyngemaakte piesang gevaar?”
“Sy het die lepel afgelek. ’n Regte Natallertjie. En jy, Soetjie? Kan ek vir jou en Hendro ’n koppievol maak?”
“Niks vir my nie,” keer Hendro. “Ek moet gaan.”
“Is jy regtig haastig?” vra Suri.
“Ek verwag iemand.”
“Ek dag jy praat sommer … Jammer dat ek so drentel. Ons kan dadelik ry as Nessa reg is.”
Suri blaas verlig haar asem uit toe hulle veilig onder die koraalboom stilhou. Henro rook minder, maar hy ry asof hy op ’n renbaan is. Het hy altyd so bestuur, of is dit iets wat hom jaag? ’n Mens sou juis die teenoorgestelde verwag – dat hy na dese ’n weersin teen spoed sou hê. Sy merk die viertrek in die oprit voor die garage-ateljee. Die persoon wat hy verwag het? Seker van die Kronen-kunsgalery in Pietermaritzburg, waar hy en Irene in Oktober sou uitstal.
Sy loop met die drabedjie kombuis toe om te kyk watse kos sy vir Hendro kan uitskep wat hy net kan warm maak. Gelukkig weet hy hoe die mikrogolf werk.
Sy is besig om met die laaste stukkie Sunlight-seep vanoggend se skottelgoed te was toe sy voetstappe buite op die trap hoor.
“Middag,” groet ’n diep fluweelstem.
Suri se seephand gly en sy laat amper die bord val. “Ekskuus?”
Verbrands! Moet sy elke keer ’n gek van haarself maak? Hy is Hendro se baas, nie hare nie. Hoekom kan sy haar nie soos ’n normale mens gedra nie?
Douw is net so ongemaklik soos sy. “Ek het maar net gegroet …”
“O … Middag.”
“Hoe gaan dit?”
“Goed dankie, en met jou?”
“Goed dankie.”
Iets in sy stem laat haar omdraai. Sonder dat sy gesig ’n spier verroer, sien sy die lag in sy oë. Sy voel self ook om te giggel, maar van blote senuwees.
Hulle staan soos twee winkelpoppe woordeloos en stokstyf vir mekaar en kyk. Suri probeer desperaat aan iets neutraals dink om te sê. Iets oor die weer? “Lekker dag, is dit nie?” Of: “Dit lyk na reën.” Nee, dan liewer stilbly.
Hendro, wat instap met ’n groot houtbeeld oor sy skouer, verbreek die spanning.
“Hier’s hy, Douw – hom onder ’n seil en ’n stapel rame uitgegrawe … Die tambotie-renoster wat jy gesoek het. Ek het geweet hy is nie verkoop nie en moet êrens wees. Die ateljee is chaoties, soos my laaie en geute. Een of ander tyd sal ek inklim en orde skep.”
Douw help hom om die renoster op die tafel neer te sit en staan ’n entjie terug om die werk te beskou. Hy loop om die tafel, blaas die stof af en volg met sy vingers die skubberige grein van die hout – oor die rug, die bonkige skof en die dubbele neushoring.
“Diceros bicornis, net soos ek hom onthou. Dié ou knewel práát met ’n man …”
Hendro is verbaas. “Wil jy die renoster vir jouself hê? Ek dag jy koop hom namens iemand anders.”
“Ek soek al lank na ’n maat vir die buffel wat ek in Zimbabwe raakgeloop het. Dié kêrel sal goeie geselskap vir hom wees.”
“As jy seker is …?”
“So seker soos tien.”
Hulle dra die beeld na die agterstoep. “Ek wil nie geld hê nie, Douw. Vat Neusman en wees goed vir hom – dis al wat ek vra.”
Douw skud sy kop. “Jy is ’n swak sakeman, my vriend.”
“Ek is ’n kunstenaar, nie ’n handelaar nie.”
“Kunstenaars moet ook eet.”
“Brood is genoeg, ons soek nie kaviaar nie.”
“Maar darem margarien op die brood.”
“Anderdag … Jy rol talle klippe uit my pad, en ek waardeer dit.”
“Ons praat weer … Ek werk eerskomende naweek, maar kom eet volgende Saterdagaand by my en kom kyk hoe Neusman in sy nuwe weiveld aanpas.”
“Dankie.”
Douw speel ’n wyle met die guitige Maja, wat flikflooi om opgetel te word. Hy maak so, dan kyk hy gemaak ongeërg na Suri. “Jy is natuurlik welkom om saam te kom, as jy niks beters te doen het nie.”
Asof dit ’n amper-vergete nagedagte is, ’n plig om hom oor die arme oujongnooi-suster te ontferm, dink Suri. En dan los hy boonop ’n agterdeur oop, hopend sy het reeds ’n ander afspraak, sodat hy ’n skoon gewete kan hê.
“Jammer, ek’s besig,” antwoord sy kortaf.
Sy een wenkbrou lig en hy klink skepties. “Waarmee?”
Dink hy sy het nie ’n eie lewe nie? Die feit dat dit ’n Saterdagaand is en dat sy niks beters as ’n rekenaar en ’n TV as geselskap het nie, vryf sout in haar wonde. Wat traak dit hom as sy haar toonnaels wil groen verf of kaal op die koffietafel dans? Sy skuld hom geen verduidelikings nie en het nie sy ontferming nodig nie.
“Met die baba?” vra hy toe Suri nie antwoord nie.
Sy kan nie aan ’n aanvaarbare verskoning dink nie. “En met nasienwerk. Ses klasse se vraestelle. Dan moet ek voorberei op die internet, nalees en media-beplanning doen, wasgoed was, matte suig, kos maak en als.”
“Moenie die stryk en vloere skrop vergeet nie.” Lagliggies vonkel in sy oë, en hy neem ’n vadoek om die glase wat sy gewas het blink te vryf.
“Ek het vergeet om skottelgoedseep te koop,” verdedig sy haar halwe werk. “Gewone seep was nie so skoon nie.”
Douw het nie voorsien dat sy dit as kritiek sal beskou nie. Dit was sommer iets om te doen om hom besig te hou, sodat hy nie die ene elmboë en tien duime is nie. Hierdie meisiekind is sensitief en liggeraak, besef hy opnuut. As hy vriende wil maak, sal hy moet fyn trap. Hy sit die vadoek neer en bly weg van die baba, sodat daar nie weer ’n vermiste fopspeen, sleutels of bottel kan opduik wat haar in die harnas jaag nie.
“Ek is nie ’n wafferse kok nie. Ek waarborg nie dat die vleis gaar gaan wees en dat ek onthou het om sout in te gooi nie. Maar ek wil graag hê jy moet saam met Hendro kom, Suri. Bring Maja saam,” bied hy aan, “en die nasienwerk en die gordyne en matte en die internet – alles wat jy nodig het.”
“Plus die strykplank en die vloere?”
“Ek sal ’n lorrie huur en jou kom haal.”