Staan in die algemeen nader aan vensters. Loftus Marais

Staan in die algemeen nader aan vensters - Loftus Marais


Скачать книгу

      laat my die nag beplak met rhinestones

      en alles sal ek taai maak met country songs

      en hoere op straathoeke met enorme wolke blonde hare

      só moet die aand lyk waarop jy vertrek

      goedkoop en shiny

      sodat niemand daaroor kan tjank nie

      jou vliegtuig rol oor die aanloopbaan soos ’n glitterball

      en ek sug en suig die siel uit ’n sigaret uit

      en skop die leë coke-blikkie wat voor my lê

      ek sweer my sweet is soet en my bloed dik

      soos ek hier staan

      radarskottels wuif soos die krom handjies van koninginne

      in die terminal drom die hallo-en-koebaai-junkies saam

      ek vuis my hande langs my sye

      my hart, skatlam, is lipstickrooi, vol helium

      en hang in ’n giftshop duskant gate 12

      ek lag vir die jagse moffies wat jou gaan bedien

      gedagtes aan

      voëls ingesuig in enjins

      aan terroriste en hijackers en human error

      en sommer net in die algemeen: boeings wat nuuswaardig

      neerstort

      sus my effens soos jou vliegtuig wegsuis

      en net nog ’n rhinestone word daar bo

      Biologieles

      dus die volgende aangaande die liefde:

      eerstens, dit is ingelê in vloeistowwe wat bietjies-bietjies borrel

      gal, maagsap, alle soorte ensieme

      dit ken geensins die cheapness van bloed

      en, godbehoed, trane nie

      tweedens, dit sit in die murg

      of ten minste in die rou aansteeklike dinge van die longe

      wat swel en teen ribbekaste druk

      onthou, derdens, het dit min te make

      met die hardkoppige hart wat aanhou ruk.

      egter ’n laaste beeld as waarskuwing:

      die skerwe van gebroke harte

      is nes dié van porseleinkitsch en light bulbs:

      hulle kerf fyn en diep die voetsole in

      Die anatomie van M

      jou lyf onthou ek stuk-stuk, nie as geheel

      polaroid close-ups kan ek onthou

      dis moeilik om jou lyf lewend te verbeel

      grofheid van ’n elmboog, skag van jou keel

      weer probeer ek als soos ’n winkelpop herbou

      jou lyf onthou ek stuk-stuk, nie as geheel

      alles afsonderlik in lede verdeel

      droë tong, polsriffels, heup waaraan ek klou

      dis moeilik om jou lyf lewend te verbeel

      drie simmetriese moesies met ’n vinger gestreel

      my oor wat jou hartklop tussen borshare hoor

      jou lyf onthou ek stuk-stuk, nie as geheel

      blink litteken, grys oë effens skeel

      ek het jou heel gehou, maar nou verloor

      dis moeilik om jou lyf lewend te verbeel

      en die dele wat ek nie met die leser kan deel

      word bloot as pornography gesigloos gestoor

      jou lyf onthou ek stuk-stuk, nie as geheel

      dis moeilik om jou lyf lewend te verbeel

      Ode aan Sarah se voete

      o, sarah se voete dirigeer op die maat van mozart

      soos sy sit op die muur van die opelugteater

      hierdie voete, effe stink, dui alles in kaalte aan

      die tone krul en strek, die brug lig en sak

      en die pianis moet volg, dan sag, dan hard

      selfs, o sarah, gee jy ritme aan die somer se krieke

      ook die aandverkeer en die vliegtuie oorhoofs

      kyk, dit maak sin, beslis, dat daar op die maan

      voetspore is, en dat komponiste heroïese musieke

      oor achilles en oedipus tot jou eer sal komponeer

      my sarah, gaan toer die sale van europa met jou voete

      die duurste pedikure vir jou, asook refleksioloë

      in manelpakke, in die agtergrondskemer

      sonates oor die naelmaantjies van jou tone

      en ’n virtuoos bloos by ’n rokflits van jou enkels

      nee, sarah, nee wag, dit alles is te ver, te vol fantasie

      jou voete hier voor my weet van vratte en skimmel

      en die geklop van stap, tog steeds dui hulle aan

      hoe die note die aandlug moet tint, jou voete gebied:

      daar is iets stewiger en meer ritmies as musiek

      Die vroegsomerson as skilder

      mevrou die kurator, u is verkeerd – die son dra wel ’n baret

      hy haal dit vroegoggend onder die einder af

      ek weet u dink ek is laf, maar aanskou nou sy werk, mevrou:

      die enkoustiek van rivierkartels, die kubisme van wolkekrabbers

      akwarelle op die bodems van fonteine, die sabelpelskwas

      se fyn rand van die duin

      soos ’n vrou se dy, ’n naakstudie van die seisoen, mevrou

      (ek bly eerder stil oor die versteekte nat klowe se ruigtes)

      en jammer, maar as kurator het u geen monopolie, sien:

      die lewe raam homself, hy is een groot galery:

      kyk na hom deur deure, ruite, die panoramiese vlakke

      van telefoonpale en hulle drade, mevrou

      en die son, o, die son ken kleur, kyk:

      die melancholie van roes en eikehout, die ouderdom van groenspaan

      die presiese ligpers van seringe se bloeisels, die taai amber

      van sekere skemers

      en mevrou, die son is veelsydig:

      die abstrakte ekspressionisme van groot swart voëls deur die lug

      die subtiele minimalisme van daardie einste lug sekondes later

      mevrou die kurator, u vind my argumente sonder krag

      maar ek sê weer, die son is ’n skilder, u kan maar lag

      kyk tog vanaand – sy palet gaan saam met hom onder

      en hy los ons kleurloos in die donker van die nag

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте


Скачать книгу