Ettie Bierman Keur 7. Ettie Bierman
Ettie Bierman
Keur 7
Koue water en kaviaar • Marietjie, Maraia, Maryne • Onrus op Rustfontein
Jasmyn
1
Carina pak die ertjies terug in die koelkas. Maalvleis en ertappels is genoeg en as Tinus honger is, sal sy brood sny. Dan dink sy: Hoekom nie die rieme effens dikker sny nie? Spaar is nie meer so belangrik nie, want van môre af het sy ook ’n inkomste. Carina voel skielik vrolik, optimisties en lus om haar man te bederf. Hy werk hard; hy verdien meer as ekonomiese brousels en ’n vrou wat rondloop in verlede jaar se verslete modes.
Tinus sit aan handelsreg en werk: bankwissels, verhandelbare dokumente, maatskappyreg en aksepkoerse. Hy is bly toe Carina hom vir ete roep en verras om by ’n gedekte tafel met kerse aan te sit, pleks van sommer met ’n skinkbord op sy skoot voor die televisiestel plaas te moet neem.
“Het die kos verbrand?” terg hy. “Kamoefleer jy, of vier ons iets?”
Carina soen die moeë lyne langs sy mond en vee die donker hare weg wat soos ’n skoolseun s’n teen sy voorkop krul. “Ons vier dat ek jou liefhet en dat jy in die toekoms nie meer alleen met die woonstelhuur en rekeninge hoef te sukkel nie.”
Tinus vergeet van kos wat koud word en kerse wat uitbrand. Hy neem Carina in sy arms.
“Ek het jou ook lief, Carrie, liewer as enigiets anders op aarde. Ek wil vir jou ’n dubbelverdieping-grasdakhuis koop met ’n swembad waar jy heeldag in ’n bikini in die son kan lê en braai. Ek wil nie hê jy moet gaan werk nie; dit voel asof ek nie vir my vrou kan sorg nie.”
“Jy sorg uitstekend vir my, beter as wat ek verdien. Beter as wat ander mans wat ons ken vir hul vrouens sorg,” troos Carina. “Maar jy is outyds. Wie ken ons waar die vrou nie werk nie? Wie kan paleise op net een salaris bekostig?”
“Ses maande, liefste,” belowe hy. “Dan het ek my graad en is ek nie meer net ’n ingeskrewe klerk nie, maar ’n volwaardige prokureur en junior vennoot. Dan kan ons ’n huis koop en met ’n gesin begin.”
“Ons is albei nog jonk, Tinus, daar’s nog baie tyd. Ek kla nie oor kantoorwerk nie. Selfs nie vir ’n jaar of drie nie. Dis opbouend en sal verhoed dat ek ’n koolkop word.”
“Koolkop? Nie jy nie. Jy moes ook na matriek verder gestudeer het. Jy is slimmer as ek.”
“Wie sê so?”
“Ek was nie hoofprefek met vier onderskeidings nie.”
“Blote geluk. Jammer een was nie in huishoudkunde nie,” spot Carina. “Dan het ek geweet hoe om beskuit te bak, huis te hou en kos warm te hou terwyl my man amoreus is en strykwerk wag …”
Dis laat voor hulle eindelik eet. Daarna ruim Carina in die kombuis op en pars haar baadjiepak.
“Iets met moue en ’n romp wat onder die knie hang,” het haar ma raad gegee. “Nie ’n sonrok nie, dan sal jou baas deur sy nuwe tikster beïndruk word.”
Die volgende oggend tooi Carina haar lang, blonde hare op haar kop en gebruik meer grimeersel as gewoonlik om sodoende ouer en meer professioneel te lyk. Om die hol gevoel op haar maag te besweer, eet sy graanvlokkies saam met Tinus.
“Hoe lyk ek?” wil sy senuweeagtig weet.
Tinus soen die kuiltjies weerskante op haar wange en dan die een onder haar keel.
“Te formeel … asof jy die baas is, pleks van Du Toit.”
“Meneer Du Toit,” korrigeer sy. “Hy is hoofbestuurder. Dis ’n hoë pos.”
“As jy kans het, bel my kantoor toe, sodat ek weet hoe dit gaan en of jy regkom,” sê Tinus.
“Ek sal probeer. ’n Mens wil nie die eerste dag al die telefoon met private oproepe beset nie. Ek sal om vyfuur by die huis wees, dan kan ons gesels.”
“Ek gaan nie vanaand studeer nie,” belowe Tinus. “Môre en Vrydag ook nie. Die naweek is joune, as jy wil uitpak en kla of bedank.”
“Ek sal nie kla nie.”
Hy laai haar by die bushalte af, wuif oplaas en hou sy gebalde vuis met die duim na bo as ’n laat-dit-goed-gaan-teken toe hy wegtrek.
Dis wonderlik dat Tinus Rheede in haar lewe gekom het, dink Carina weer eens. Hy is ’n man so na ’n vrou se hart: maat, minnaar, broodwinner. Hy is ambisieus en verantwoordelik – soms miskien moeilik en kortgebonde, stroomop en besitlik, maar dis mos nes mans is. Hy is manlik en pragtig met sy breë skouers en die liggaamsbou van ’n rugbyspeler, dink Carina. Soms wens sy net hy was minder konserwatief. In die twintigste eeu sê almal basta met chauvinisme!
Albei geslagte, mans en vroue, is deesdae beroepsmense. Die tydperk van die swakker geslag, wat sonder stemreg en met besems en vadoeke tevrede moes wees, is saam met ossewaens en blouseep agter die rug.
Hy behoort dankbaar te wees dat sy bereid is om te gaan werk; bly te wees oor die ekstra inkomste terwyl hy nog met sy klerkskap sukkel. Hoekom neem hy haar kwalik? Sy wil nie onafhanklik wees nie, sy wil ook net geld bydra en help om hul begroting te laat klop.
Die gebou wat aan Fokus Uitgewers behoort, is groter as wat Carina dit onthou. Dit lyk selfs nog indrukwekkender as tydens die onderhoud vir die pos aan die begin van die maand.
By die ingang deursoek ’n veiligheidsbeampte haar handsak. Carina voel skaam oor die penne en potlode, die kam en gehawende borsel, sneesdoekies, lipstiffies en kleingeld wat sommer los lê.
“Ek begin by Fokus op die derde verdieping werk,” verduidelik sy.
Die man stel nie belang nie. Hy beduie na die hyser.
Soos Carina verstaan het, bestaan die algemene uitgewery uit drie onderafdelings: vrouepublikasies, jeugliteratuur en letterkunde. Dit word deur Tertia Smuts, Liaan Botha en Henk Rautenbach behartig, saam met ’n aantal persklaarmakers, proeflesers en vertalers. En ’n tikster-sekretaresse …
Liaan Botha kyk haar vyandig aan, terwyl die ander twee uitgewers nie eers opkyk toe sy huiwerig binnestap nie.
“Goeiemôre,” groet Carina. “Ek is mevrou Rheede.”
Sy ontvang ’n knopknik as groet. Verder word sy geïgnoreer en alleen gelaat om haar lessenaar te vind en tuis te raak.
“Die vorige meisies het net aan kêrels en trou gedink,” merk Tertia op. “Die liassering is chaoties … ’n gemors.”
Twee pluspunte, dink Carina. Sy was voor haar troue liasseerklerk by ’n bank.
Liaan Botha kyk op van die manuskrip wat sy besig is om te keur. “Kan u tik, mevrou?”
Carina wens sy het gesê sy is Carina Rheede.
“Dis waarvoor ek aangestel is, juffrou.”
“Is dit? Reken jy so?” Liaan klink skepties. Sy kyk Carina ’n slag op en af, maar verduidelik nie wat sy bedoel nie.
Carina vra ook nie. Daar is nie tyd nie. Sy word toegegooi met stapels agterstallige briewe wat met die hand in onduidelike skrif afgerammel is. Al een waarvan die skrif leesbaar is, is dié van Tertia.
By die bank het Carina met ’n woordverwerker geskryf; hier moet sy ’n tikmasjien gebruik. Gelukkig is dit ’n elektriese, luukse model. Aangesien dit ’n uitgewery is, let Carina veral op taal, spelling, sinskonstruksie en punktuasie. Sy glo nie ’n skrywer sal sy volgende manuskrip aan dieselfde uitgewers stuur wat ontvangs vir sy manuskrip in swak taal erken nie. En manuskripte is Fokus se brood en botter.
Niemand bedank haar vir haar moeite met die briewe nie; niemand rep ’n woord oor die liassering waarmee sy tussen die berge lêers orde uit die chaos probeer skep nie. Meneer Du Toit was tydens haar onderhoud baie tegemoetkomend en vriendelik. Carina wonder waar hul hoofbestuurder is.
“Ek verkies agtelosig, nie agterlosig nie,” merk Tertia op.
“Dis ’n wisselvorm,”