Ettie Bierman Keur 7. Ettie Bierman
Op in die gang is regs, af is links, probeer Carina onthou. Sy let op hoeveel melk en suiker haar hoof in sy koffie drink en probeer dié ook vir die toekoms in haar geheue bêre. Sy maak ’n aantekening van ‘agtelosig’, ‘releveer’ en ‘remitteer’, van ‘weer eens’ wat twee en ‘nogmaals’ wat een woord is. ‘Kopie’ is die manuskrip en die ‘intro’ is die eerste paragraaf, net na die skutbladsye en titelblad, wat deur die tipograaf ontwerp word. Skrywers kry 15% tantième en PG Botes is professor Cloete se skuilnaam. Hy woon in Kaapstad, skakelkode 021 en poskode 8000. Sal sy ooit alles onthou?
Vroeër was sy moeg en tot eenuur het die tyd verbygesleep, maar na wat soos ’n uur voel, is Carina verbaas om skielik te merk dat dit vyf en twintig voor vyf is – nie in syfers geskryf nie; in woorde, sonder koppeltekens. Haar eerste dag is verby. Vyf minute gelede al.
Almal pak op. Huistoegaantyd, besef sy. Sy sluit haar tikmasjien en liasseerkabinette, maak vensters toe en skakel die lugversorger af. Om netnou vir Tinus mooi te lyk, kam sy haar hare, poeier haar stowwerige neus en wend lipstiffie aan.
Rasmus werk gewoonlik laat en sien haar toe sy in die gang verbystap hyser toe.
“Mevrou Rheede!” roep hy.
Nog tikwerk? wonder Carina. Nog briewe? Sy voel suf. Haar oë brand van konsentrasie en haar vingers gaan môre styf wees. Maar hy is haar baas en hy is gaaf … Sy draai om na sy kantoordeur.
“Ja, meneer?”
“Sunnyside?” vra hy. “Wesstraat? Dis waar julle woon, nie waar nie?”
“Ja, meneer.”
“Jy klink soos ’n standerdses-meisietjie die eerste dag op hoërskool. Ek ry deur Sunnyside; dis op my pad huis toe. Ek voltooi net gou ’n bemarkingsverslag. As jy vyf minute wag en nie ander afsprake het nie, kan jy saamry.”
Haar adres staan op haar aansoekvorm, maar Carina wonder hoe hy weet sy het die bus gehaal.
“Dit sal gaaf wees. Dankie, meneer.”
“Moeg?” vra hy simpatiek.
Sê sy ja, klink dit of sy kla oor te veel werk en sê sy nee, laai hy haar dalk nie op nie en word sy weer in die stamperige bus rondgeskud. Vyf blokke is ver om te loop en dan kom sy boonop later by die huis. “ ’n Bietjie,” erken sy.
Rasmus se vyf minute is drie, daarna tel hy ’n kontrak op wat Carina getik het. “Jou werk is puik. Ek waardeer die moeite wat jy met die tabellering gedoen het.”
“Dankie, meneer.”
“Los die ‘meneer’.” Hy staan op, trek sy baadjie aan en neem sy motorsleutels. By die hyser draai hy met ’n glimlag na haar. “Ek sou oor jou spelling en taalaanvoeling ook wou uitwei en dankie sê, maar die gedagte is om jou vroeër tuis en by jou man te kry, nie láter as met die bus nie.”
Sy Mercedes-Benz is ook blou. Metaalkleurig, eintlik silwerblou, met outomatiese ratwisseling en brandstofinspuiting. Carina probeer om nie aan hul Noagse bruin Volksie met knersende ratte te dink nie.
Asof hy haar gedagtes kan lees, vra Rasmus: “Watse werk doen jou man?”
“Hy is ’n klerk.” Carina was dislojaal teenoor hul getroue ou kewertjie, sy wil dit nie teenoor Tinus ook wees nie. “Ingeskrewe prokureursklerk,” voeg sy by.
Sy het verwag haar skatryk baas sal nie in arm Klase belangstel nie, maar hy lyk beïndruk. “Besig om te article en binnekort volwaardige prokureur? Fokus sal hom dan dubbel moet betaal vir die dienste van sy bekwame vrou.”
Carina lag. Haar baas is gaaf en onweerstaanbaar aantreklik, maar sy is lankal nie meer ’n tiener nie. Hy vlei haar maar net omdat hy kan sien sy voel nog vreemd en ongemaklik en wil haar op haar gemak stel.
Sy probeer ontspan. “Tinus druip dalk sy laaste hoofvak, dan moet ek nog ’n jaar lank help om die pot aan die kook te hou.”
“Fokus sal daarby baat vind. Ek ook.”
Carina kyk anderpad, skielik weer gespanne en ontuis in Rasmus du Toit se geselskap. “Volgende straat regs,” beduie sy.
Die Vollie sou op sulke kort kennisgewing op sy dak beland het, maar die Mercedes het ’n kragstuur. Al wat gebeur, is dat die bestuurder van die motor agter hulle toeter blaas.
“Jammer, ek moes eerder gepraat het. Jammer, meneer,” maak Carina verleë verskoning.
Rasmus hou voor Parkhof stil. “Jou ge-meneer laat my soos ’n argaïese laerskoolhoof voel.”
“Jammer, menee … e …?” Sy lag effens senuagtig. Hou skielik op. Dit het dalk voorbarig geklink. Sy byt haar onderlip vas. “Ek is jammer, maar ek weet nie wat om u te noem nie.”
Sy het verwag hy sou “meneer Du Toit” voorstel, maar hy is opeens nie die grootbaas van Fokus se personeel van oor die tagtig werknemers nie.
“Erasmus is ’n té groot mondvol en ek vertrou in elk geval nie mense wat ’n van as ’n naam het nie. Tweede beste is Rasmus. Ook heel formidabel. Wat van doodgewoon net Ras? Ek sal dit verkies.”
Ras? Sy glo nie in honderd jaar sal sy hom so kan noem nie. Carina knik. “Goed. Dankie, m … e … Dankie.”
Hy help haar toe sy halsoorkop na die deurhandvatsel soek en sukkel om dit oop te kry. “Regs … druk hom af. Of moet ek sê op? Is jy een van daardie agterstevoor mense wat sê: ‘Ek gaan op Kaap toe met vakansie’? Of ‘af Windhoek toe’?”
Hy is te na aan die kol. Carina hoop nie hy weet dat sy rigtingloos is en na twee en twintig jaar in Pretoria nog steeds in haar geboortestad verdwaal nie. “Ek hét uiteindelik die kombuis pleks van die kluis opgespoor,” verweer sy haar.
“Met my hulp,” terg Rasmus. “Anders was jy nou nog daar tussen die spinnekoppe en brommers begrawe.”
Carina onderdruk haar lag, want sy weet dit sal weer soos ’n standerdsessie s’n klink. Sy klim uit. “Dankie dat u my opgelaai het. Ek waardeer dit.”
“U is welkom,” antwoord Rasmus net so plegtig en formeel. Hy wuif oplaas. Die volgende oomblik verdwyn die agterliggies van die silwerblou Mercedes om die hoek.
Carina haas haar na die woonstelgebou se trap. Dit voel of sy haar dag in gange deurgebring het. Op met die gang, af om die draai, sesde deur regs …
By die afgeskilferde sesde deur is alles donker. Die vensters is dig toe en nêrens is ’n teken van lewe nie. Niemand maak oop toe sy klop nie.
Carina klop weer, twee keer, harder.
“Tinus! Is jy hier?”
Sy draai die handvatsel, voel aan die vensters en hamer met haar vuiste teen die deur. “Tinus? Waar’s jy? Maak oop!”
Hul buurvrou skree bo die lawaai van die TV en haar tiener se popmusiek uit: “Hy’s nie hier nie!”
Carina klop langsaan. “Tant Susie, dis ek, Carina. Ek kan nie inkom nie. Waar’s Tinus?”
Tant Susie lyk soos ’n ystervark met al die krulpenne in haar hare. “Nee, hoe sal ek nou weet, hartjie? Het jy nie gefoun om te sê jy sal laat wees nie?”
“Ek is vroeg. Ek het gesê ek sal om vyfuur by die huis wees en dis nou ’n minuut voor. Het tant Susie hom nie gewaar nie?”
“Nee, hartjie. Hy was nie naby die flêt nie, die hele middag nie. Anderster sal ek hom gehoor het.”
Carina se bekommernis slaan oor na onrus, dan na ontsteltenis. Sy hardloop na die parkeerterrein, maar die Volksie is nêrens in sig nie. ’n Motorongeluk, dink sy. ’n Hartaanval of slegte nuus op kantoor van sy ouers … Hy is altyd baie stiptelik. Vandat sy hom ken, was Tinus nog nooit laat sonder dat hy laat weet het nie. Iets moes gebeur het.
Maar Fokus se telefoon was byna heeldag lank beset – hy sou nie maklik kon deurkom nie, besef sy. As hy siek geword het of slegte tyding gekry