Sonnet sonder woorde. Ettie Bierman
kry.
“Bietjie van albei.”
Valdi het nie die moed om te vra wat hy bedoel nie, maak net haar rug regop en loop vooruit deur die swaaideur wat hy vir haar oophou.
Net voor hulle op die terras by die swembad uitstap, hou Duard haar teë met ’n hand op haar elmboog. Hy buig sy kop en fluister teen haar oor.
“Jy was nooit ‘inskiklik’ nie, bokka, maak nie saak wat ook al jou ma of ander mense jou wysgemaak het. Wat gebeur het, was geheel en al my skuld.”
Bokka … Die troetelnaam wat hy altyd vir haar gehad het, vang Valdi op die verkeerde voet. Vreemd dat hy dit onthou …
Sy draai haar kop om sy gesig te sien. Maar hy het weer die donkerbril op en die res van sy gesig is uitdrukkingloos.
“O, hier’s julle uiteindelik!” roep Fiela uit en kyk om die beurt na Valdi en Duard. “Julle was so lank weg, ons het julle amper al gaan soek.”
“Hoe lyk dit, sal Vivaldi darem oorleef?” skerts Luca.
Duard knik. “Die wond was nie diep nie, eintlik meer ’n kneusplek.“
“As jy reken steke is nodig, sal ek haar na ’n dokter neem.”
“Ek sê mos, dis nie nodig nie. Dit was vlak, ’n pleister is genoeg,” antwoord Duard ergerlik.
Luca rol sy oë boontoe. Hy draai weg en wend hom tot Valdi. “Suurlemoensap met soda en ’n tikkie Campari?” bied hy aan en trek vir haar ’n stoel nader.
Die Campari verleen ’n vrank smaak aan die drankie, maar Valdi neem ’n diep sluk, in die hoop dat dit meer medisinale waarde as ’n snesie het. Ná die kombuis het sy ’n sterk dop nodig.
“Die arm man se sjampanje,” spot Luca toe hy merk hoe sy haar glas om en om in die rondte draai terwyl sy die bruisende pienk borreltjies bestudeer.
“Lekkerder as sjampanje,” vlei Fiela hom en vra meer uit oor ouma Sophia Bellini.
Wat was dit netnou daar in die kombuis – daardie plotselinge intense bewuswording van Duard se gesig hier naby hare, wonder Valdi. Daardie drang om aan hom te raak en sy wang te streel? Dis mos gekkigheid! Dis nie hoe ’n mens oor jou eks moet voel nie. ’n Ou wat in die middel van die nag opdaag, vuurwarm by jou aanlê en dan as hy betrap word, hom geriefshalwe uit die voete maak, nooit weer van hom laat hoor nie en dit aan jou oorlaat om die situasie aan jou ontstoke ouers te verduidelik. Alleen die gevolge te dra en die bom te probeer ontlont …
Die minste wat hy kon doen, was om uit ordentlikheid die volgende oggend terug te kom, sy man te staan en te erken dat hy oortree het – nie weg te kruip en nooit weer sy gesig by haar ouerhuis te wys nie. Dis maklik om nou kamma dapper te wees, te erken dat alles sy skuld was. Maar dis te laat. Nege jaar te laat. Sy gaan nie toelaat dat hy haar lewe van voor af omkeer nie.
Dis regtig jammer dat sy en Fiela nie eerder Margate of Mauritius toe gegaan het nie, jammer dat hulle op Capri beland het by die taxidrywer en sy ewe gierige familielid. Veral jammer dat Duard juis daardie simpel sipresboom reg langs die hotel gekies het om onder te sit en teken … Alles net so ’n ongelukkige sameloop van omstandighede soos daardie nag in Bloemfontein. Daar’s niks wat sy daaraan kan doen nie. Sy kan Duard nie belet om op die eiland te woon nie. Maar sy gaan hom nie toelaat om haar te ontstig nie. Duard Hofmeyr is oor en verby. Geskiedenis.
Met die besluit geneem, kry Valdi gemoedsrus. Sy neem nog ’n sluk van die pienk borreltjies.
“Die arm man se sjampanje smaak heerlik!” Sy glimlag vir Luca.
Nie so “arm” as ’n mens na hierdie juweel van ’n gastehuis kyk nie, dink Fiela. Die Campari smaak vrank, maar sy sluk haar glas leeg. Dalk sal hul baster Italiaanse gasheer netnou ’n lekker bottel rooiwyn uithaal. Italianers is mos wyndrinkers, volgens wat sy al gehoor het. Luca de Lange is ryk en cute daarby, maar hy stel ooglopend meer in blondines belang as in rooikoppe. Sy gee nie om nie. Die volbloedboer is meer haar styl, al dra hy ’n verfbesmeerde kakiebroek en ry hy met ’n geroeste skeepswrak pleks van ’n Alfa of ’n Ferrari.
“Hoe groot is die pensione?” vra Fiela.
“ ’n Tweeverdieping, soos jy kan sien. Sewe dubbelkamers met en suite-badkamers,” antwoord Luca. “Ons kan veertien gaste huisves, met ’n eetkamer, sitkamer en televisiekamer, en ’n balsaal wat ons vir troues gebruik.”
“Sjoe, troues?” Fiela is beïndruk.
“Troues en onthale, maar dan kry ek ’n span spyseniers, kelners en skoonmakers. Op die oomblik is ons in laerat. Die kok het ’n virus opgedoen en die plek is leeg. Slegs drie kamers is in gebruik, behalwe jou en Valdi s’n. Maar julle is nie gaste nie, julle bly gratis.”
“Dis darem vreeslik gaaf van jou, Luca. Duisend dankies.”
“Wag eers ’n wyle met die bedankings. Môreoggend voel julle dalk dis ’n slegte ruil, julle trek aan die kortste ent.”
Fiela se wenkbroue vorm twee vraagtekens. “Hoe dan? Hierdie is vyfsterweelde. Hoekom sal ons voel ons trek aan die kortste ent?”
Luca lyk ongemaklik. Sy ekspressiewe oë skimp na sy vriend se kant toe en hy kug verskonend.
“E … Duard, het jy die transaksie aan die dames verduidelik?”
Duard lyk ook nie heeltemal op sy gemak nie. “E … ek reken so.”
“Watse transaksie?” konfronteer Fiela die twee vriende.
Luca lyk bekommerd en dis Duard wat antwoord. “Dat julle sal moet kos maak.”
“Ons eie ontbyt kry en so?”
“Nie net dit nie, nie net vir julself nie. Bietjie meer …”
Valdi onthou hy het so iets genoem, netnou voor hulle gery het, maar dit was baie vaag en als was so deurmekaar. Hy het wel van omelette en terte en sulke goed gepraat, maar hulle het gedink dis sommer gesels. Gaan hulle nou vir al die gaste moet kook?
Ongeveer dieselfde tyd wat Valdi se brein inskop, kliek Fiela ook wat die ruiltransaksie behels.
“Jy bedoel ons moet wérk vir ons kamer? Sing for our supper?”
Luca lyk apologeties. “Hier is wel ’n kamermeisie wat skoonmaak, maar ek sit in ’n penarie met ses gaste – vier volwassenes plus twee kinders – sonder ’n kok en sonder ’n kelner om hulle te bedien. Duard het gesê een van julle is ’n dieetkundige, en ek het gehoop dis ’n aanvaarbare reëling. Dit spyt my …”
Fiela is bang hy skop hulle uit. Waar kry hulle weer sulke weelderige losies? Als is so peperduur, hulle sal selfs ’n jeugherberg maar net-net kan bekostig, indien Capri ooit so iets het, en dís in elk geval erger as ’n skoolkoshuis sonder ’n subsidie. Die enigste ander opsie is slaapsakke op die strand.
Haar ondervinding as sepiester kom nou nuttig te pas. Onder in Fiela se glas is nog ’n laaste paar borrels wat sy nonchalant wegsluk. Sy speel tans in ’n TV-reeks waarin sy die rol van ’n verleidelike leerlingverpleegster vertolk op wie die helfte van die manspasiënte verlief raak. Sy toor nou die glimlag op wat sy gebruik het om ’n rugbyheld met twee gebreekte bene sy krukke te laat neergooi en swymelend in haar arms te laat val.
“Daar was ’n klein misverstandjie, maar dis als reg. Jou aanbod bly ’n wonderlike bargain, Luca, en pas ons perfek. Valdi is die sjef, ek’s die kelner, en saam vorm ons ’n mean team!”
Valdi stuur verwoed noodseine uit, maar Fiela maak nie oogkontak nie. Sy lag tintelend. “Vivaldi en Filandia to the rescue!”
Luca hou van die musikale klank daarvan. “Tiepolo!” roep hy. “Per favore, bring vir ons ’n lekker bottel rooiwyn. Orvieto.”
“En ek sal die skottelgoed was,” bied Duard aan.
“Akkoord!” stem Fiela dadelik in en verseël dit met ’n handdruk, voor hy van plan verander.
“Tiepolo!”