'n Klein lewe. Wilna Adriaanse
Wilna Adriaanse
’n klein
lewe
TAFELBERG
Vir al die mense in hierdie land wie se stories nooit gehoor sal word nie.
1
The day we die, a soft breeze will wipe out our footprints in the sand. When the wind dies down, who will tell the timelessness that once we walked this way in the dawn of time? (San-lied)
Selfs die vinke en die versamelvoëls knoop tog êrens daardie eerste halm vas. Hoe anders gaan hulle die res van die vlegwerk gedoen kry? Sy was deur die jare dikwels die stil toeskouer in haar tuin wanneer die bouproses begin. Maar dis nie so maklik nie, kom sy agter, terwyl haar gedagtes heen en weer fladder. Daar is soveel gevare om in te reken. Die slinkse boomslang wat graag sy lê in die holte van die nes kom kry en die eiers opvreet as sy nie oppas nie. Of die koekoek wat haar eiers in die nes sal kom lê en daar los om uitgebroei te word. Om nie te praat van die wind en die weer se aanslag nie.
Die slimmes kies stewige takke, het sy al agtergekom.
Volgens oorlewering kies ’n kind sy of haar ouers. Sy hou nogal van daardie gedagte, maar seker ook net omdat sy reg gekies het. Praat van stewige takke. Haar mense was nie tolbosse nie.
Jy is nie objektief nie, hoor sy al die beskuldigings.
Ek is met donkermaan gebore, sal sy antwoord. En donkermaan is simbolies van subjektiwiteit.
Sy beny soms dié wat met die volmaan gekom het, maar dit sal sy nie sê nie.
Daar sal gevra word of sy die nodige insig het. Of ’n skrywer noodwendig haar eie storie beter verstaan. Sy wonder of hulle begrip sal hê as sy sê op haar ouderdom is jy hoogstens ’n karakter in jou eie storie. Een met geen voorafkennis en weinig insig. Soms huppelend agter die storie aan, ander kere sleepvoet agterna. Die storie altyd ’n kortkop voor.
“Dis soos Totius se gedig, Pa. Waar hy vertel van die wag-’n-bietjie langs die pad, daar tussen die skaarsbeblaarde soetdorings. Lowergroen en blink van blad.”
En wil ek in die blare gryp
of aan die takke breek,
dan tas ek in ’n doringnes
wat vreeslik haak en steek.
Haar pa knik. “En tog sal jy die begin maar so saam met die donkermaan aan Vytjie se kopdoek moet vasknoop.”
“Sal julle my vertel?”
Haar ma se blou oë met die kunslense blink in die sonlig.
“Waarom wil jy dit doen?” Haar pa se blik rus op die hoë muur met die lemmetjiesdraad wat al om die aftreeoord strek.
“Die kinders wil landuit, Pa. Sommer so met ’n rugsak en ’n vliegkaartjie sonder terugkeerdatum. En oor die stemme wat dreig om my te vervreem. Wat vra hoe leef ek met my wit vel in hierdie vreemde plek.”
Sy hande met die krom vingers raak-raak aan haar ma s’n en dis asof die oumensvlekke ligter word.
“Net tot daar waar jou onthou ’n eie knoop kan maak.”
Die oomblik toe die kar op die werf stop, maak sy die deur oop en voor hy hom kom kry, is sy reeds halfpad teen die naaste rooiduin op. Hy kyk na die werf. Here, kan daar nie maar vandag ’n stukkie kleur gewees het nie? Daar is nie eers een groen grasspriet waarmee hy haar kan teruglok nie. Vandag van alle dae het die kalkrand geen genade nie. Dis asof die aarde sout sweet. Hy sien hoe van die werksmense haar agterna kyk en hy klim uit en stap teen die duin op. Sy is reeds oor die eerste kam en hy vang haar net voor sy die tweede een vat. Haar gesig is nat en teen haar wang kleef ’n sandstreep. Hy dink nie dis goed om in haar toestand so te hardloop nie.
“Waarheen gaan jy?”
“Ek kan nie hier bly nie.” Sy rem in sy arms.
“Dan kan ons teruggaan, maar kom net eers huis toe sodat ons kan praat.”
Sy is jonk, Koos, het sy pa gewaarsku, en nie gewoond aan so ’n harde wêreld nie.
Sy sal aanpas, Pa.
Maar nou weet hy nie.
“Middag, baas; middag, kleinnôi.” Die werksmense begin stadig nader staan.
“Middag,” groet hy terug. “Hoe gaan dit hier?”
“Nee, baas, dit gaan goed. Maar ons is bly baas-hulle is hier. Het baas-hulle darem mooi gekom?”
Terwyl die bruin man praat, dwaal sy blik kort-kort na haar gesig.
“Ons het voorspoedig gery, dankie. Kan julle ons dalk help om net ’n paar goed af te laai?”
Nog ’n paar staan nader en begin die bagasie aanvat.
“Sit maar sommer net eers in die voorkamer neer,” roep hy agter hulle aan.
“Dis te laat om nou terug te draai.” Hy neem haar hand. “Laat ons nou maar vanaand slaap en dan kyk ons hoe dinge môre lyk.” Hy kan sien hoe sy oor die werf kyk en hy is jammer hy het dit gesê.
Terwyl hy help dat hulle bagasie afgelaai word, bly sy op die stoeptrap sit. So met haar hande op haar knieë. Die huis op die dorp het nog na baksteen en verf geruik toe hulle na die troue daar ingetrek het. Elke vertrek beplan soos sy dit graag wou hê. Die swarthout-Van Riebeeckstel die trots van die sitkamer. En die bypassende sideboard en tafel langsaan in die eetkamer. Sy weet hulle meubels is reeds hier, maar sy is traag om te gaan kyk.
“Ek het aandkos gemaak, kleinnôi.” Die bruin vrou het op die stoep uitgekom en staan met haar hande voor haar en vroetel.
Sy staan stadig op en stap agter Sanna aan eetkamer toe waar ’n spierwit tafeldoek oor die tafel hang en twee plekke gedek is. Eenkant in die hoek staan ’n paar kartonne waarop geskryf staan: Sideboard. Sy kan die kos ruik terwyl hy bid, maar toe sy begin eet, smaak alles dieselfde en sy is bly toe hulle klaar is.
Hy het reeds vir haar ’n lamp in die badkamer aangesteek toe sy daar kom en sy is bly oor die warm water. Sy het gehoor hoe hy vir Sanna aansê om te sorg dat die donkie goed gestook word. Toe hy later in die kamer die lamp doodblaas, is die nag stikdonker. Donkerder as wat sy gedink het ’n nag kan wees. Sy lê lank langs hom wakker en luister na die stilte. Haar hande oor haar plat buik gevou, daar waar die belofte van lewe nog baie nuut lê.
Tyd het ’n vreemde manier om sy eie gang te gaan en onder jou uit te loop, dink sy. Soos die eerste maand aanstap, kom sy agter sy kyk minder pad se kant toe. Daar is te veel om te doen. Sy kan nie glo dat ’n werf met soveel niks op, soveel werk kan hê nie.
“Die baas het gesê ek moet kleinnôi leer kos kook,” sê Sanna een oggend toe sy in die kombuis kom. “Die vleis is volop, kleinnôi, maar die bykossies is skaars. ’n Mens moet maar soms iets uitdink. En ek moet kleinnôi leer om die slagding reg te maak. En die afval. Die baas sê hy is lief vir die afval. Ek sal vir kleinnôi wys hoe om daai pensvel spierwit te krap en die skaapkop tussen die assies in die bakoond te sit sodat die wangvleisies sag kan stowe.”
“Ek sal later die vleis leer, Sanna. Ons begin maar met die brood. Wys my maar eers hoe jy die deeg maak.”
Toe hy die aand by die huis kom, wys sy trots na die groot boerbrood met die donker korsie. Sy is bly toe hy twee snye eet. Daar spat waterdruppeltjies uit die botter toe hy met die mes daaroor skraap en ’n dik laag op elke sny smeer. En toe pak hy dungesnyde skyfies biltong op die een en op die ander kom ’n lepelvol glansende appelkooskonfyt.
Daardie nag slaap sy in die holte van sy lyf.
Hy kom agter hy hou haar elke dag dop en kan later die tekens goed lees. As sy van vroegoggend af deur die vensters kyk en kort-kort op die stoep uitloop, weet hy dis die werf, maar dis ’n werf wat is soos dit is. Toe hy haar een laatmiddag weer op die stoep sien, nooi hy haar om saam met hom te ry.
“Waarheen wil jy ry?”
Hy trek sy skouers op. “Daar is nie rêrig