Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
>
ANNELIZE
MORGAN
OMNIBUS 3
Masker van die verlede • Kring van wraak
Swerwers op die goudpad
JASMYN
Masker van die verlede
1
Angélique de Busset bly ’n oomblik stil staan en staar met half teësinnige bewondering na die vrolike groepie Spanjaarde op die oop markplein. Die uitbundige ritme van hulle handegeklap en voetegestamp terwyl hulle die Flamenco met groot vertoon dans, is aansteeklik – die hele dans is aansteeklik. Dis of die helder oggend wil saamdans op die meesleurende ritme van die lied wat die kitaarspeler met vaardige vingers op sy instrument tokkel.
Daar is net een meisie tussen die klomp matrose – ’n donker skoonheid met flitsende, swart oë en ’n wit lag. In haar glansende gitswart hare gloei ’n bloedrooi blom. Elke af en toe roep sy iets op Spaans uit in ’n lae, heserige stem en dan lag die matrose met openlike bewondering vir haar slangagtige grasie. Sy stamp met haar netjiese gestewelde voete op die klam grond van die markplein en is vol onvermoeide energie. Haar vlamrooi rok warrel op maat van die musiek, haar kastanjette skril, ritmies, uitdagend.
Angélique betrap haarself dat sy met haar een voet die ritme op die grond uittik en ruk haarself reg. Madame Colbert wag seker reeds op haar. En die ou dame hou nie daarvan dat sy op iemand moet wag nie.
Net toe sy egter verder wil stap, sien sy hom raak waar hy eenkant teen die waterput leun, sy hand in sy sy en ’n vreemde, half afgetrokke glimlag om sy mondhoeke terwyl hy die uitgelate dansers dophou. Sy kleredrag, die swart kaplaarse en spierwit syhemp verraai sy Spaanse afkoms. Miskien die kaptein van die Sylvanna, dink Angélique. Sy forse, trotse houding is gewis nie dié van ’n gewone matroos nie. Sy probeer die flikkering van opgewonde nuuskierigheid in haar binneste onderdruk.
Hy kyk skielik op in haar rigting en hou haar oë gevange.
Die Spaanse meisie kom heupswaaiend tussen die dansers deurgestap in die rigting van die man wat teen die waterput leun. Sy skud haar waaier met ’n nonchalante vaardigheid oop. Sy sê iets op Spaans en hy skud sy kop. Met ’n ergerlike ruk van haar kaal skouers swaai sy om en stap terug na waar die ander ’n oomblik asem geskep het.
Eers toe die man in haar rigting begin stap, besef Angélique verleë dat sy hom die hele tyd nog skaamteloos aangestaar het. Voordat sy omdraai om haarself haastig uit die voete te maak, sien sy net die lang, blink litteken bokant sy linkeroog. Dan lig sy haar tabberd se soom en stap haastig weg. Dis of sy sy oë in haar rug voel brand en sy kyk so ongemerk moontlik om.
Hy kyk nog na haar. Daar is spot in sy oë en ’n vae, geamuseerde glimlaggie om sy mond. Dan keer hy kortom terug na die dansers, asof Angélique nie die moeite werd is om te veel aandag aan te gee nie.
Die meisie haas haar na waar die koets reeds geruime tyd op haar wag. Sy wonder wie die man kan wees. Dis reeds winter en sy skip sal sekerlik nie voor die lente uit die baai kan vertrek nie. Vandag is een van die min mooi, sonnige dae. Gister het die suidooster nog troosteloos gewaai en het ’n sagte motreën nog aanhoudend geval. Sy betrap haarself dat sy wonder of sy hom weer sal sien. As die markies van Touraine dít moet weet . . .!
Miskien is hy tóg van die Sylvanna . . . Dit het eergister in die Kaap aangekom terwyl die suidooster soos ’n besetene deur die baai geswiep het . . . Hy moet voorwaar ’n besonder begaafde seeman wees dat hy die skip onder dáárdie omstandighede veilig die baai kon binnebring.
Madame Colbert se gesig voorspel niks goeds nie. “Jy is laat, Angélique,” betig sy die meisie.
Angélique buig haar hoof selfbewus. “Je suis fâché, madame.”
“Mais oui!” kap die ou dame ontevrede terug. “Dis die minste wat ek van jou verwag!” Sy gee die koetsier die teken dat hy maar kan vertrek en hervat dan: “Om net altyd te sê jy is jammer, Angélique, is nie goed genoeg nie.”
“Je sais, madame.”
“As jy dit weet, waarom laat jy dan toe dat jy laat kom?”
Die meisie kyk af na haar hande. “Daar is tog niks anders wat ek kon sê nie, madame. Ek is werklik jammer.”
Madame Colbert sug diep. “Jy het natuurlik ook vergeet dat jy vanmiddag na die Marais’s toe moet gaan?”
Angélique se hand gaan verskrik na haar mond. “Nee! Ek het vergeet!”
Die ou dame laat haar blik een lang oomblik swyend op die meisie voor haar rus. Sy is ’n weeskind en woon al jare saam met haar, maar somtyds voel sy dat sy Angélique baie eerder as ’n dogter beskou. Sy kan nooit lank kwaad bly vir die lieflike, vriendelike meisie nie. Op vier-en-twintig is Angélique pragtig. Sy is klein en fyn gebou en het groot, helder groen oë. Haar koringblonde hare versorg sy altyd baie goed en sy is daarop gesteld om altyd op haar beste te lyk. Dis ’n baie goeie eienskap wat die madame doelbewus aangemoedig het. Sy het haar lank gelede reeds voorgeneem dat sy net die beste man vir Angélique sou uitsoek.
Sy skuif ongemaklik op die koetsbank rond.
“Die markies van Touraine is seker ook al daar.”
Angélique keer die misnoegde uitroep wat byna haar lippe ontsnap. Sy kan maar net nie van die ysige, hooghartige markies van Touraine hou nie. Hy laat haar altyd voel asof hy van haar verwag om haar soos ’n slaaf teenoor hom te gedra.
Die madame lig haar wenkbroue. “En nou, Angélique? Waarom lyk jy so vreemd?”
Die meisie kyk verskrik op. “Dis niks, madame . . . regtig . . .”
“Is dit oor . . . die markies?”
“Nee!” roep Angélique uit en skud haar kop heftig.
Haar reaksie laat die ou dame agterdogtig raak. “Kindjie, jy weet dat die markies reeds twee maande gelede om jou hand gevra het en jy dit aanvaar het.”
Die meisie moenie kop uittrek nie, dink die madame angstig. As dit gebeur, sal dit die einde vir haar beteken. Angélique sal niemand kry wat haar weer om haar hand sal vra nie . . . al is sy ook hóé mooi en begeerlik.
“Ek het sy aanbod aanvaar omdat . . . omdat u dit so wou gehad het, madame.” Haar ongelukkigheid is duidelik op haar gesig te lees.
Die ouer dame se hart krimp ineen.
“Maar jou belofte is onherroeplik!” Sy sluk droog. “Jy moes toe al geweier het, Angélique. Nou is dit te laat. Ek het nie geweet hoe jy werklik daaroor voel nie.”
“Ek weet, madame, maar hy . . . hy maak my bang.”
“So? En waarom dan?”
Angélique haal haar skouers op. “Hy is so koud en afsydig. Hy is so . . . hooghartig.”
Madame Colbert lyk eindeloos verlig. “Dit is tog nie iets om jou oor te bekommer nie, kind. Jy is maar net nog jonk en wil die vurigheid van die liefde hê. Moet jou tog nie so daaroor ontstel nie, jy kan nog altyd ’n minnaar aanhou, dan nie?”
Die ondeunde vonkeling in die ou dame se oë stil die ontstelde uitroep van Angélique.
“Ek sal dit nooit kan doen nie, madame!”
“Sal jy die markies ooit kan liefkry?”
“Nee!”
“Dan gaan jy ’n baie eensame bestaan hê, chérie.”
Hulle ry in stilte voort, elkeen besig met haar eie gedagtes.
Vier jaar gelede het Angélique as jong, twintigjarige meisie saam met die weduwee Thérèse Colbert na die Kaap gekom. Monsieur Jean Colbert is in die skermutselinge wat op die herroeping van die Edik van Nantes deur Lodewyk die Veertiende gevolg het, swaar gewond en het later in ’n Katolieke klooster gesterf. Dit het die ou dame se hart gebreek. Hulle was Protestante en die feit dat haar man in ’n Katolieke klooster dood is, het haar hewig ontstel. Angélique was toe ’n jong dogter in die eenvoudige huisie in die skilderagtige