Droomdokter. Amelia Strydom
>
Droomdokter
Amelia Strydom
Hartklop
1
Mila Mouton stroop die steriele handskoene af en gooi hulle sekuur in die asblik. Met ’n gerusstellende glimlag vir die drie vroue in die kamer stap sy uit na haar spreekkamer. Sy beter hierdie SMS blitsig stuur. Dis Carlien se derde baba; die drukfase gaan nie lank duur nie. Gelukkig bly Lise-Marie, Mila se regterhand, skaars twee kilometer van die hospitaal af. Hierdie tyd van die nag kan sy binne vyf minute hier wees. Mila het haar vroeër gevra om vannag op roep te wees.
Sy klap haar silwer foontjie so haastig oop dat dit uit haar hand glip. Haar hart mis ’n slag, maar sy vang dit wraggies voordat dit op die teëlvloer aan skerwe spat. Dit sal nie die eerste selfoon wees wat sy uit pure gejaagdheid só afskryf nie! Dan is daar nog die peperduur ene wat tydens ’n watergeboorte uit haar broeksak geval en in die bad geplons het. Die tegnikus by die selfoonwinkel het net gelag toe sy vra of dit reggemaak sal kan word. Ergerlik skud Mila haar kop vir haar onhandigheid. Gelukkig het sy darem nog nooit ’n baba laat val nie!
Sy tik vinnig: 9 cm ontsluit. Kom asb. Op pad terug na Carlien, voor die deur van die Aktiewe Geboorte-eenheid, staan sy vlugtig stil om die ligte te demp. Pasgebore babas maak soveel meer oogkontak met hul mammas as die kraamkamer donker is. Met hul pappas ook, natuurlik. As ervare vroedvrou verstom dit Mila steeds hoe babas binne minute ná geboorte hul koppies kan draai om hul pa’s herkennend te betrag.
’n Ongenooide vlaag weemoed spoel oor Mila. Haar pasiënt se babadogtertjie sal nie vannag só na haar pa kan soek nie. Die dingetjie ken die pa se stem nie eens nie, want hy het haar ma en twee boeties verlaat kort nadat die nuwe baba verwek is. Die arme Carlien het lankal vermoed dat daar iemand anders is, maar toe haar lewensmaat van sewe jaar ’n egskeiding vra, was dit nogtans ’n geweldige skok. En dít tydens swangerskap!
Dat Carlien juis by Mila uitgekom het vir haar bevalling was ’n bestiering. Mila moet eenvoudig glo dat hul paaie met ’n doel gekruis het. Al het hierdie pasiënt se situasie ook ou wonde oopgekrap … Tydens Carlien se voorgeboorte-ondersoeke het hulle diep gesprekke gevoer, met ’n boks snesies tussen hulle op die spreekkamerrusbank. Mila kon met Carlien se pyn identifiseer, want sy’s self agtergelaat met ’n babatjie. Ook sy moes tydens haar swangerskap, toe sy broser as ooit gevoel het, uitvind dat haar man haar verkul. Stefan het haar nou wel tydens die geboorte bygestaan, maar sy voorneme om hul huwelik nog ’n kans te gee, was van korte duur. Melissa was skaars ’n maand oud – nog in die greep van aandkoliek – toe Stefan se kar finaal by die hek uitgery het. Mila wil nie eens dink aan daardie maande van hel nie. Sy ril by die herinnering aan soveel slapelose nagte waarin die pyn van verwerping haar verteer het, nagte waarin sy die pajamadril soos ’n eensame zombie gedoen het … Tog het sy kop bo water gehou ter wille van haar kind. Sy het sterker anderkant uitgekom, nes Carlien ook sal. ’n Vroedvrou kom daagliks die stille krag van vroue teë, en hierdie innerlike staal sal Carlien deur haar krisis dra.
Mila gaan sit op die rand van die geboortebad. Amper negentig persent van die babas in haar privaat praktyk word in hierdie ovaalvormige bad gebore. Die water kalmeer ma’s én babas en bied sulke effektiewe pynverligting dat Mila dit soms skalks “die vroedvrou se epiduraal” noem. In hierdie stadium is Carlien se kontraksies egter só intens en opmekaar dat nie eens die water regtig meer hond haaraf kan maak nie. Met hortende asemstote klou Carlien aan die badrand vas, haar blonde hare in natgeswete toutjies oor haar voorkop. Mila vee haar gesig met ’n koel waslap af, sekondes voordat nog ’n kontraksie soos ’n golf oor Carlien breek. Paniekerig gryp Carlien haar ma en suster se hande vas en kerm: “Ek kán nie meer nie!”
“O ja, jy kán,” praat Mila haar rustig moed in. “Kom, haal saam met my asem. In … en uit … Nou weer in … trek jou asem in tot waar dit seer is … en blaas weg die pyn. Daar’s hy, Carlien, als gaan net reg! Jou dogtertjie gaan nou-nou in jou arms wees.”
Maar Carlien is moeg geveg. “Jy móét my iets spuit! Asseblief, Mila! Ek is nou óp met hierdie pyn!”
Mila se hart krimp ineen van simpatie. Die arme vrou, moet sy haar nie maar iets gee nie? Dis erg genoeg dat sy sonder haar lewensmaat se ondersteuning ’n baba moet kry, dis seker nie nodig dat sy so moet ly ook nie? Die ma en suster lyk ook albei heeltemal paniekerig. Tog besef Mila dadelik dat dit die verwerpte vrou in haar eie hart is wat praat, nie die bekwame vroedvrou nie. Liggies vies vir haarself gooi sy haar donker kop agteroor, asof sy die gedagte só fisies wil afskud. Sy mag nie toelaat dat haar verlede haar professionele oordeel benewel nie, sy moet objektief bly!
“Ek weet jy het ontsettend seer, skat,” paai Mila, “maar ek kan nie nou vir jou iets gee nie. Die pethidine word in die kraamsaal toegesluit, daar’s nie tyd om dit te gaan haal nie. As ek nou loop, vang jou ma-hulle hierdie baba! Jy moet net ’n klein bietjie langer uithou. Lise-Marie is op pad om te kom help, en sodra sy hier is, kan jy begin druk nes jy die gevoel kry.”
Midde-in Carlien se volgende kontraksie swaai die deur oop. ’n Lang brunet in haar middeldertigs loer in. Sy’s gemaklik aangetrek in ’n sweetpakbroek en T-hemp. Woordeloos neem sy die toneel in die kraamkamer in en gaan sit dan op die rand van die bad. Haar simpatieke blik rus op die vrou in die water. Dan kyk sy op om Mila se oog te vang. Dié snap dadelik wat sy dink. Hulle het al saam soveel geboortes hanteer dat hulle mekaar se gedagtes gemaklik kan lees. Intuïtief gly beide pare hande oor Carlien se rug om ferm drukking op haar heupe te plaas. Lise-Marie verdiep haar eie asemhaling om die toon vir Carlien aan te gee, en Mila merk dadelik hoe ’n verskil hierdie eenvoudige tegnieke maak. Soos altyd dra Lise-Marie kalmte en nuwe hoop saam met haar by die kraamkamer in.
Vir die soveelste keer dink Mila dat haar kollega ’n puik vroedvrou sou gemaak het. Lise-Marie is egter ’n doula, nie ’n opgeleide verpleegkundige nie. ’n Doula bied emosionele ondersteuning tydens die kraamproses, maar verlos nie self babas nie. Gewoonlik leer sy die ma en pa reeds in swangerskap goed ken en staan hulle dan van vroeg in die bevalling af by. Vanaand is sy hier as backup: Mila het haar net op nommer nege-en-negentig ontbied as ’n tweede paar hande. Dis onprakties en onverantwoordelik vir ’n vroedvrou om ’n baba op haar eie te probeer vang, en Mila waag nie kanse as dit by ma’s en hul kosbare babas kom nie.
Toe die kontraksie skiet gee, stel Mila haar pasiënt aan die doula voor. “En Lise-Marie, dis Carlien, soos jy weet. Sy hanteer als goed, maar wil nou iets vir die pyn hê.”
“Ag ja, assebliéf!” smeek Carlien. “Ek kan regtig nie meer nie. Ek’s te moeg.”
“Ag Mila, sy’s so op!” tree Carlien se ma ook tussenbeide. Die suster, ’n jong meisie, kou haar naels. Wat bring hulle ook nou eintlik ’n blote tiener saam?
Mila en Lise-Marie glo albei dat daar ’n plek vir pynmedikasie is tydens bevallings. Maar hulle deel ’n passie om natuurlike geboorte moontlik te maak vir die hand vol vroue wat dit nog wil hê. Carlien hét dit met haar hele hart begeer – dít het sy Mila herhaaldelik op die hart gedruk. Dis net die oorweldigende pyn wat haar voornemens nou laat wankel.
“Dit ís vrek seer, Carlien,” simpatiseer Lise-Marie. “Maar dis nou amper verby! Mila sê jy is vol ontsluit – jy moet nou net druk!”
“Ek kan nie,” snik Carlien. “Dis te seer! Ek wil ’n epiduraal hê. Of ’n keiser!”
Mila en Lise-Marie glimlag onderlangs vir mekaar. Hulle spot dikwels dat hulle albei aansienlik ryker sou wees as hulle ’n rand kon kry vir elke pasiënt wat hulle nét voor die geboorte só smeek vir ’n makliker uitweg.
Lise-Marie leun oor die badrand en slaan haar arms om Carlien. “Hierdie is die moeilikste deel, ek weet, so net voor die einde. Dis die Poly Shorts van kraam, jong, die finale opdraande voor die eindstreep. Onthou net, jy het al voorheen hierdie marathon voltooi, Carlien. Jy gaan dit nou wéér doen – een treetjie op ’n slag.”
Carlien ontspan merkbaar in die doula se arms, maar haar verskrikte oë soek haar vroedvrou se bevestiging. “Ek sal nie doodgaan nie?”
Mila glimlag vertroostend. “Jy sal nié doodgaan nie. Almal word bang so net voor die einde, Carlien. Dis heeltemal normaal. Nou moet jy net mooi vir my luister, dan is jou baba nou-nou hier.”
Tien