Droomdokter. Amelia Strydom
vier daardie middag gaan staan Derek Reynders voor sy studeerkamervenster. Behaaglik strek hy sy stram spiere. Hy is al heelmiddag doenig in sy nuwe studeerkamer, besig om bokse boeke uit te pak. Van kleins af al is hy versot op lees. Selfs toe hy ’n oorwerkte, altyd-moeë mediese student was, het hy tyd ingeruim vir sy stokperdjie. Hy is heimlik trots daarop dat hy so wyd lees. Omtrent die helfte van sy boeke is peperduur mediese handboeke, die res ’n mengelmoes romans, speurverhale, wetenskapsfiksie, biografieë, populêre sielkunde en ’n paar kookboeke.
Met ’n sug beskou hy die stapel onoopgemaakte bokse in die hoek. ’n Minder perfeksionistiese ou sou lankal klaar gewees het, dink hy toe hy kombuis toe stap om lafenis in ’n koppie koffie te soek. Maar hy is nou eenmaal ’n pyn wanneer dit by die rangskikking van sy leesstof kom. Hy hou daarvan om sy boeke van elke genre bymekaar te hou, en orden die afdelings ook min of meer alfabeties.
Terwyl hy wag vir die ketel om te kook, kyk Derek by die kombuisvenster uit. Hoewel elke tuintjie in die kompleks kwalik groter as ’n vuurhoutjieboksie is, was ’n lappie grond van sy eie tog vir hom ’n voorvereiste toe hy blyplek gesoek het. Natuurlik sou hy meer ruimte verwelkom het, maar toe die hospitaalbestuurder hom vertel hoe naby hierdie kompleks aan sy nuwe werk is, het hy summier daarop besluit. Blykbaar is goeie, veilige behuising in die omgewing skaars en kan ’n mens nie te kieskeurig wees nie. Gelukkig het die feit dat dit ’n ouerige kompleks is, hom nie gepla nie. Die plek se houtvloere gee karakter, en Derek sien uit daarna om in die winter met ’n glas rooiwyn en ’n goeie boek voor die kaggel te ontspan. Natuurlik sal hy die Kaapse winterreën op sy ou huis se sinkdak mis, maar hopelik word dit darem in Wilgekloof ook koud genoeg vir ’n gesellige vuurtjie.
Vandat hy kan onthou, het Derek gesmag na persoonlike ruimte. Hy het grootgeword in ’n tweeslaapkamerwoonstel en moes ’n kamer met sy jonger boetie deel. Aangesien hul woonstel op die tweede verdieping was, het ’n balkonnetjie met ’n paar potplante noodgedwonge gedien as tuin. Hy onthou maar te goed die gevoel dat die mure hom vasdruk: dat die plekkie te klein is om ooit weg te kom van sy ouers se aanhoudende argumente, van hul harde stemme en wrede verwyte. In sy standerdsesjaar is sy pa weg. Tog het die woonstelletjie nie rustiger geraak nie, want sy ma se ellende was ’n gedrog wat die hele plek mistroostig vol gelê het.
Toe hy Kaapstad toe is om met ’n beurs medies te gaan swot, het Derek homself belowe dat hy nooit weer in ’n koshuiskamer of woonstel bo grondvlak ingehok sou word nie. Hy het ’n tuinwoonstel ’n entjie van die hospitaal af by ’n ou dame gehuur, en het ruiterlik aan haar erken dat haar pragtuin die transaksie beklink het. Hy glimlag nou oor sy koffiebeker toe hy terugdink aan hoe hy op die houtbankie onder die groot eikebome gesit en studeer het, aan hoe die gryskoptannie vir hom soetkoekies en gemmerbier aangedra het voor menige rillervraestel …
Is dit dalk hierdie verwronge behoefte aan persoonlike spasie wat hom ’n swak kandidaat vir verhoudings maak, wonder Derek. Of is hy maar die handboekresultaat van ’n gebroke huis: ’n siniese workaholic wat te bang is om van homself te gee? Hy het nou nie juis rolmodelle gehad wanneer dit by die huwelik kom nie, dis gewis! Tog het hy nog altyd gevoel dat hy ’n toegewyde ouer sou wees, ten spyte – of dalk juis as gevolg van – sy pa se onbetrokkenheid. Hy’s gemaklik met kinders, kan nie genoeg kry van die lewe wat by hulle uitborrel nie. Dis sy een groot berou: sy kinderloosheid. Natuurlik help sy werk om die leemte te vul, maar dit sal nooit die verlange heeltemal wegneem nie. Ag, miskien is hy onnodig swartgallig, berispe hy hom terwyl hy sy beker koffie leegdrink. Veertig is darem nog nie só oud nie!
’n Pienk skopfietsie in die tuintjie langsaan vang sy oog. Melissa s’n, dink hy wrang, die herinnering aan vanoggend se konfrontasie met Mila nog onaangenaam vars in sy geheue. Hy weet nie hoekom die hele besigheid hom so ontstel het nie; sy nuwe buurvrou het duidelik met die verkeerde voet uit die bed opgestaan. Hy glimlag toe hy onthou dat sy eintlik glad nie die oggend opgestaan het nie, maar heelnag by die hospitaal was. Heleen, Melissa se ouma, het hom trots vertel dat haar dogter ’n vroedvrou in privaat praktyk is. Sy’t hom ook vertel dat Mila ’n toegewyde enkelma is, maar dat die onvoorspelbaarheid van haar werk die lewe vir haar en haar dogtertjie nogal moeilik maak.
“Kan sy nie maar eerder vaste ure in ’n kraamsaal werk nie?” het Derek hardop gewonder. “Of sal haar inkomste te veel daal?”
Die ouer vrou het haar kop geskud en vertroulik vooroor geleun.
“Wat jy moet verstaan van Mila,” het sy verduidelik, “is dat haar werk nie vir haar bloot ’n bron van inkomste is nie. Nou goed, sy verdien amper dubbel die salaris van ’n gewone saalsuster, maar dis glad nie haar oorweging nie. Sy is versot op wat sy doen. Haar werk is vir haar ’n roeping. Daardie Aktiewe Geboorte-eenheid is soos nog ’n kind van haar, dis haar trots. Sy’t elke kussingsloop en elke kershouertjie met oneindige liefde en sorg uitgesoek. Alles moet bydra tot ’n warm en huislike atmosfeer vir mammas.”
Toe Derek begrypend knik, het Heleen voortgegaan.
“Ek glo nie sy sal ooit teruggaan na ’n gewone kraamsaal nie. Sy’s te onafhanklik. Van kleins af wou sy haar eie kop volg. En om in ’n kraamsaal net die dokters se bevele tot in die fynste besonderhede uit te voer … nee wat, dit sal glad nie deug nie. Hoeveel keer het sy nie al vir my gesê dat sy die saalsusters jammer kry nie. Al is hulle professionele kundiges, mag hulle mos geen onafhanklike besluite neem nie. Elke keer as ’n pasiënt sooibrand het, moet hulle eers die ginekoloog bel en toestemming vra om ’n lekseltjie Gaviscon te gee!”
Derek moes lag vir die ouer vrou se komieklike gesigsuitdrukking. Sy’t hartlik saamgelag, toe ernstiger voortgegaan.
“Ek wens Mila wou die regte man ontmoet. Iemand wat vir Melissa ’n pa kan wees. Die kind is nog klein en sal vir ’n nuwe pappa kan lief word, maar oor ’n paar jaar gaan dit nie so maklik wees nie. Ag, ek bekommer my oor die tweetjies. Ek is seker Mila moet ook hunker na iemand spesiaals – sy het soveel liefde om te gee. Maar sy het nou eenmaal besluit dat sy nie weer ’n kans op geluk sal kry nie.”
“Hoe dan so?” het Derek onwillekeurig gevra.
“Stefan se ontrouheid het haar verpletter. Om die een of ander onverstaanbare rede voel sy dat sy daarvoor verantwoordelik was. Dat die skurk nie groener weivelde sou gaan soek het as sy vir hom ’n beter vrou was nie, as sy meer dikwels tuis was en huisvrou gespeel het. Sy’t seergekry en nou glo sy dat geen regdenkende man ’n vrou met ’n veeleisende praktyk – en ’n ander man se kind op die koop toe – sal wil hê nie.”
“Hmmm,” het Derek gepeins. “Meeste vroue vandag het tog hul eie beroepe? Waarom glo sy dan dat hare nie versoenbaar is met ’n gesinslewe nie?”
“Soos Mila dit stel,” het Heleen gelag, “babas word gebore wanneer hulle gemaak is: snags, oor naweke en op vakansiedae! Mila kan nooit regtig iets beplan nie. Haar hele lewe moet op ys gesit word die oomblik dat ’n pasiënt in kraam gaan.”
Derek het simpatiek geglimlag.
“Jou dogter is heeltemal reg, Heleen. Babas kom nie in kantoorure nie! Ek’t voorwaar begrip vir die chaos wat so ’n onvoorspelbare bestaan in verhoudings kan saai. Dis met my werk ook so en mens raak dit nooit heeltemal gewoond nie. Dit bly ’n bron van frustrasie.”
Derek word uit sy koffiedrink-mymering geruk toe die wind ’n sitkamervenster toeklap. Lyk of hier ’n storm aankom, dink hy toe hy die kombuisvenster ook op knip trek. Swaar wolke kom uit die suidweste aangerol. Sy aandag word getrek deur die wapperende wasgoed in sy buurvrou se tuintjie. Hy weet sy is nie daar nie, hy het haar en Melissa vroeër hoor ry. Gretig om die vrede met sy vurige buurvrou te herstel stap Derek met sy wasgoedmandjie buitentoe voordat die eerste vet druppels aarde toe plof.
Mila moet teenoor haarself erken dat die voorgeboorteklas nou ’n hoogtepunt in haar week is. Die eerste paar kere dat sy moes klas gee, was haar senuwees aan flarde. Dit was ’n marteling om voor ’n klomp wildvreemdes te praat – en dan nog oor sensitiewe onderwerpe soos seks, swangerskap en geboorte! Tot haar verbasing het sy nie net spoedig gewoond geraak aan hierdie deel van haar werk nie, maar geniet sy dit nou terdeë. Dis uiters vervullend om ’n gehoor vol verwagtende paartjies te hê wat aan haar lippe hang en elke brokkie inligting wat sy opdis, toegewyd in hul notaboekies neerskryf.