Van altyd af. Elsa Winckler
korter as wat ek gedink het, ek is glad nie beïndruk met die man nie,” sê haar ma gemaak kwaai, “maar ons sien jou darem seker volgende naweek? Imke, jy weet jy is ook altyd welkom.”
Cilla buk af en gee haar ma ’n drukkie. “Natuurlik. Ná ’n week van my en Imke se kookpogings kan ek nooit wag om ordentlike kos te eet nie.”
“Dankie, tannie,” sê Imke, “maar ek gaan waarskynlik volgende naweek Hermanus toe saam met die klomp jong onderwysers. Cilla, gaan jy dan nie saam nie?”
“Ek het al vergeet van die plan. ’n Naweek op Hermanus klink lekker, maar ek wil maar graag Saterdag hier wees vir die kinders. Ek weet die studente kom help, maar daar is van die outjies wat nog nie op hulle gemak is nie. En ek wil nie dat Ma nog naweke ook werk nie. Ma is besig genoeg in die week.”
“Ek is nog nie oor die muur nie, my kind. Ek kan maar af en toe uithelp oor ’n naweek.”
Cilla druk haar ma se hand. “Dankie, Mamma, maar dis regtig nie nodig nie. Ek kan miskien daarna deurry Hermanus toe.”
“Waar gaan julle bly? Julle is mos welkom om ons strandhuis te gebruik,” sê haar pa van die braai af.
“Dankie, Pa, maar ek dink hulle het verblyf gereël. Maar ek sal by die huis gaan inloer en kyk of als reg is, ek het mos ’n sleutel.” Dan draai sy na Imke. “Kom jy nou môre saam as ek na die perd gaan kyk? Ek sal verstaan –”
“Ek gaan beslis saam! Hierdie oulike, sexy, aantreklike man wat jou so laat frons móét ek ontmoet,” terg sy. “Kan nie onthou dat jy al ooit so baie oor een man gepraat het nie, dink tannie nie ook so nie?”
Cilla se ma glimlag. “Ek wil alles hoor, Imke. Jy maak seker jy mis niks wat gebeur nie. Dis tyd dat iemand die kind van my bietjie hinder.”
“Julle hou vir julle snaaks, nè? Maar kyk hom môre deur, dan praat ons weer, Imke. Hy’s ’n regte chauvinis. Van die soort wat nie kan glo dat ’n vrou enigiets kan doen nie. Ek sal darem graag wil hoor wat jy vir so ’n man te sê het.”
2
“Waar is die huis?” vra Imke en leun vorentoe tot byna teen die voorruit om beter te kan sien. Dis skuins voor elf die Sondagoggend.
“Daar by die bloekomlaning,” beduie Cilla. “Jy behoort dit nou te sien … daar, sien jy?”
“Sjoe, dis pragtig. En kyk, mens kan sowaar die see sien. Dis amazing. Jy’t niks gesê nie!”
Cilla klik met haar tong. “Ek was so vies vir die man, ek het skoon vergeet van die mooi uitsig. Ek sal baie graag wil weet wat hom nou van plan laat verander het. Gister was hy bang ek toor sy perd en vandag moet ek kom help. Moet omtrent desperaat wees.”
Cilla draai af in die paadjie wat na die opstal lei. Sy het ’n dowwe hoofpyn en is sommer vies vir haarself. Sy het omtrent nie geslaap nie. Sy het gehoop dat sy ná gister se perdryery so moeg sou wees dat sy net sou omval en slaap. Maar moenie glo nie. Die oomblik toe sy haar oë toemaak, het honderde pare donkerblou oë uit alle rigtings na haar gekyk. Party het gesmeul, ander gepleit, sommige het gegloei, een paar wou verlei … Álmal het haar verdomp uit die slaap gehou. Sy hoop sy hoef ná vandag die man nooit weer te sien nie.
Hulle hou voor die huis stil en nog voordat hulle uitklim, gaan die voordeur oop en twee mans stap uit op die stoep.
Imke trek haar asem in. “Oelala! Wat het ons hier, Cillatjie? Wat het ons hiér? Wie’s die sexy manne? En hoekom het jy nie gesê daar’s twee van hulle nie? En dat al twee mens kortasem maak,” prewel Imke.
“Ag toe nou, mens sal sweer jy sien nooit mans nie. Die een met die blou hemp is Reynecke. Ek weet nie wie die ander ou is nie. Lyk na mekaar, seker sy broer? Ma het mos gisteraand gesê sy dink daar is twee seuns.”
“En gelukkig vir ons is hulle nie meer seuns nie,” giggel Imke.
Cilla klim stadig uit. Reynecke knik in Imke se rigting en stap om die motor na Cilla toe. Hy steek sy hand na haar uit en sy wag ’n oomblik voordat sy hare uitsteek. Gaan sy weer so ’n ek-weet-hoe-jou-vingers-om-myne-voel-gevoel kry, of het sy haar gister net verbeel? Sy vingers sluit om hare en sy kyk verbouereerd op na hom. Sy voel sowaar weer dat sy die hande ken, presies weet hoe hulle om hare moet voel, dat sy al die hitte ervaar het wat teen haar arm op beweeg. Sy pluk haar hand vinnig uit syne en beduie in Imke se rigting.
“Dis … dis Imke.”
Cilla kyk na Imke en knip verbaas haar oë. Wat gaan nou hier aan? Die man by Imke het albei haar hande in syne geneem en sy vingers speel met hare.
“Uhm … Imke?”
Imke lag verleë en trek haar hande uit die vreemde man s’n. Haar oë blink. “Jy … e … het nie vir my gesê die mans hier rond is so glad met hulle monde nie,” sê Imke verleë en kyk op na die groot man voor haar.
Reynecke beduie na die man. “Cilla, dis Philip, my broer.”
Terwyl Philip vir Cilla groet, stap Reynecke oor na Imke en skud hand. “Welkom.” Dan kyk hy na Cilla. “As jy nie omgee nie, sal ek bly wees as jy eers met Bravo … as jy eers na Bravo kyk. Ons kan daarna kom eet.” Hy kyk na Philip en Imke. “Gaan julle saamkom, of …”
“Ek kom saam. Ek wil graag jou perde sien en hoor wat Cilla sê. Jy kan maar luister na haar, sy weet waarvan sy praat,” sê Imke.
Reynecke kyk skepties na Cilla. “Ek het BSc Landbou geswot. Ek weet alles van plaasdiere af, ken hulle siektes, hulle kwale. Ek het perde geken toe ek kleiner was, maar ek onthou wragtag nie dat een ooit so moeilik was nie. Ek hou al weer twee jaar lank perde aan, maar hierdie een se nukke … ek … ons het nie meer raad nie.” Hy skud sy kop en begin aanstap na die stalle.
Cilla val langs hom in. “Wat het jou van plan laat verander? Gister wou jy niks weet van wat ek doen nie, en toe bel jy my?”
“Krisjan is ook in die hospitaal. Toe stel Koen voor ons bel weer vir jou.”
“O,” is al wat Cilla uitkry. Sy byt haar lip vas om nie te lag nie. Die man erken maar moeilik as hy ’n fout gemaak het.
Hy kyk stip voor hom en stap vinniger.
Toe hulle nader aan die stalle kom, kom Koen daar uitgestap. “Môre, juffrou, ek is bly party van ons het van plan verander en jou weer hier gekry. Bravo is vanoggend heeltemal onhanteerbaar. Ek weet nie of jy alleen daar moet ingaan nie.”
Cilla sit haar hand op sy voorarm. “Ons twee verstaan mekaar, dankie. Ek weet eintlik wat die probleem is, maar laat ek kyk of daar nog iets is.”
Imke val langs haar in. “Ek kom saam, ek gaan solank na die ander perde kyk.”
Cilla en Imke verdwyn in die stalle en Reynecke steek sy hande diep in sy broeksakke. Hy moet hulle miskien maar daar hou voordat hy iets sinneloos aanvang soos haar hand in syne neem. Hy verstaan nie wat met hom aangaan nie. Hy het hierdie allesoorheersende drang om aan die meisiekind te vat! Toe sy netnou langs hom stap, wou hy haar hand opsluit in syne neem. So asof dit so hoort, so asof hy dit gereeld doen. Hy bal sy vuiste. So asof hy nog altyd gewag het om dit te doen.
En haar parfuum. Sy ruik na … na rose. Na akkers en akkers vol bloedrooi rose. Haar geur het gister deur sy kop gesypel en toe hy vanoggend wakker skrik ná ’n rustelose nag vol drome van ’n langbeen donkerkop, kon hy sweer die reuk van rose hang in sy kamer.
Hy los onderlangs ’n vloekwoord. Hierdie vroumens moet klaarkry en loop, sy’s nét moeilikheid. En hy moet regtig volgende naweek bietjie wegkom, tussen ander mense kom, soos Philip hom gereeld aanmoedig.
Cilla en Bravo kom by die stalle uitgestap, die perd hondmak. Bravo draai sy kop ewe vermakerig in Reynecke se rigting. Imke kom ook buitentoe en sluit haar by die twee mans aan.
“Kan jy glo? Vir my wil hy nie naby hom toelaat nie, maar sy kan hom soos ’n lammetjie uitlei. Ek sal nie verbaas wees as hy vir ons tong uitsteek nie,” kla Koen.
Nes die