Talia vat grond. Melissa Scharneck
my ma eenmaal vir my gesê. Dalk het die alleswetende Dalena Vorster-Swart geweet so ’n dag sal kom waarvoor ek hoegenaamd nie gereed is nie.
Ek wil nie in hierdie posisie wees nie. Ek wil in my eie kokon van mismoedigheid bly sit. Ek wil nie weet dat ’n pragtige kind, dalk die ouderdom van my eie dogtertjie, onder my neus verkrag is nie. Ek wil nie voel ek moet ander mense se kinders red nie. Ek wil nié!
Ek verwens Piet Buys in die hel in terwyl ek my sweterige handpalms aan die groen tafeldoek afvee. Die bloed wil uit my are bars en dit voel asof die woede deur my vel gaan peul.
Ek kom agter dat ek nie na Celia kyk nie, ek kyk na niks. As ek tog net iets kan sê wat haar sal verseker dat dit oukei is dat sy my vertel het, dat alles oukei gaan wees … Maar daar is niks. Ek kry niks gesê nie.
My hart breek vir Celia. Vir die manier waarop sy skaam is hieroor, asof dit háár skuld is. Ek is ook skaam. Omdat James my gemoer het tot my lyf dit nie meer kon vat nie. Omdat hy my belieg en verneuk het.
In stilte rou ek vir alle vroue wat deur hulle borste en baarmoeders tot die dood gevonnis is. Vroue wie se genitalieë afgebrand word, wat vrot van binne omdat hulle siele so vermink is dat hulle lýwe dit nie meer kan vat nie.
Ek rou vir Eva en Rooikappie en elke donnerse vrou wat dit durf waag het om nie instruksies te volg nie. Ek rou vir myself, vir my dogter, vir Celia. Vir die toekoms wat hierdie wêreld, hierdie lewe ons bied.
Vir die eerste keer in ’n lang tyd – so lank dat ek nie kan onthou hoe lank nie – is ek kwaad. Daar is ’n woede in my wat soos ’n ketel wil-wil kook en ek wens dit kóók. Ek wens dit wil kook en oorkook. Ek wens dit verbrand elke Piet Buys, elke James Prinsloo, elke wolf of slang wat al ooit ’n vrou se lewe hel gemaak het. Hulle moet brand tot mens die duiwels kan sien wat onder hulle vel skuil!
Toe ek uiteindelik opkyk, sien ek dat Celia ’n koekie eet.
“Skielik starve ek,” sê sy met ’n moeë glimlag.
“Het jy jou ma vertel?” is al waarmee ek vorendag kan kom.
“Ek het nie regtig die punt gesien nie. Berta is nie stupid nie, sy het geweet wat gaan saans in my kamer aan. Nadat dit die eerste maal gebeur het … Sy het niks gesê nie, net aangegaan asof dit nie gebeur het nie. Sy kon dit hoor, rúik. Ek het geskree vir haar om my te help daai aand. Dit sal niks verander om met haar te praat nie. Ek het nog net vir juffrou vertel. Dis niemand se besigheid nie.”
Terwyl ek vir ons nog koeldrank aanmaak, oordink ek die moontlikhede.
Celia is reg – ons kan nie kliniek toe gaan nie. Van Vuurkloof se grootste skinderbekke werk daar. My jare lange huisdokter is ook vervang met ’n nuwe mannetjie van Pretoria. Al tel die nuutheid in sy guns, wil ek nie vir Celia na iemand toe vat wat sy weer in die dorp kan raakloop nie. Vuurkloof is te klein vir geheime.
“Kom ons ry môre ná skool deur Leliefontein toe. Daar is ’n goeie kliniek, en die mense sal ons nie ken nie. Dan gaan eet ons sommer daar êrens middagete,” stel ek voor.
Sy kyk verbaas van haar koeldrankglas op.
“Dis baie moeite. Ek wil nie hê juffrou moet te veel moeite doen vir my nie. Ek hou nie van lastig wees nie.”
“Jy was nog nooit lastig nie. Pak vanaand vir jou klere in wat jy môre ná skool kan aantrek.”
Celia, wat ek vyf jaar gelede leer ken het toe sy seker alreeds verkrag was, begin huil. My bors kriewel, my keel trek toe en my neus brand. Ek moet net keer of ek huil saam.
Toe staan ek maar op en gaan sit my arms om haar.
Kort ná Celia weg is, kom haal Rudi se pa die kinders vir hulle laatmiddagkuier langsaan.
Mark Greene is in sy vroeë veertigs. Rudi se ma is dood met sy geboorte en Mark het nie weer getrou nie. Hy is ’n ordentlike pa vir die kind en vandat ek en James uitmekaar is, het ons huisvriende geword. Oppervlakkige huisvriende – nie een van ons stel belang in ’n verhouding nie. Ons speel partykeer skaak, of kyk ’n fliek saam met die kinders, en ons braai soms op ’n Saterdagmiddag.
Die huis is stil en ek besluit om nie vandag te gaan stap nie, ek tap eerder ’n bad water. Ek doen dit nooit nie, en ek het nodig om dit vandag te doen. Ek het nodig om iets te doen waarvan ek hou.
Terwyl ek in die stomende bad lê, dwaal my gedagtes. Ek ken soveel mense wat sukkel met die lewe dat ek begin vermoed ons trek mekaar aan.
Maggie wat nie kan praat oor haar dooie man nie.
Mark wat sy kind alleen grootmaak omdat hy sy vrou ná nege jaar nog so baie mis dat hy nie na ander vrouens kyk nie.
Celia wat herhaaldelik verkrag is deur haar stiefpa. Wat ’n agterstraataborsie moes deurmaak.
My ma wie se man destyds spoorloos verdwyn het en haar met drie klein kinders gelos het.
My dogter wat nie kan verstaan hoekom haar pa haar nie wil sien nie.
En ek wat nie weet hoekom ek ’n man gekry het wat my vergruis het nie.
Is ons die vergete mense? Is dit ons karma? Het ons vreeslike slegte dinge gedoen in ander lewens? Of gebeur alles regtig met ’n doel?
Wat kan moontlik regverdig dat daar van ’n mens verwag word om sulke dinge te oorleef?
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.