Ware verhale van geloof. Helana Olivier
anders beheer word nie. Nee, God het vir ons die wonderlike vermoë gegee om self besluite te kan neem. Soveel dinge kan van ons weggeneem word, maar niemand kan die besluit hoe ons op ons omstandighede gaan reageer van ons wegneem nie. Dit bly ons keuse. Ons kan kies of ons geleenthede wat oor ons lewenspad kom, gaan aangryp en of ons dit bloot deur ons vingers gaan laat glip.
Wat ons kies om te doen of te sê, lei tot spesifieke uitkomste in ons lewe. As kinders van die Here kan ons nie anders as om God te ken in ons besluite nie. Hy gee immers vir ons die insig om te kan kies. Sy Woord sê dit is Hy wat ons bekwaam maak, en dat ware kennis begin met die dien van die Here. Wanneer ons dus kies om God volkome te vertrou en ons lewe in sy hande oor te gee, kies ons ’n opwindende lewensreis vol verrassings saam met die Reisiger wat altyd daar is vir ons en ons deur elke krisis dra.
Die Bybel is vol riglyne hoe om reg te kan kies. Natuurlik is dit nie ’n towerhandboek wat klinkklare antwoorde gee op vrae soos met wie ons moet trou nie. Tog gee die Bybel vir ons algemene riglyne en beginsels en norme waarvolgens ons ons besluite kan neem en waarvolgens ons moet optree. Verder gee God se Gees vir ons ’n diep gevoel van tevredenheid wanneer ons volgens sy wil kies en leef.
Baie keuses wat ek gemaak het, het my lewe in ’n bepaalde rigting gestuur, maar die een keuse wat my lewe onherroeplik verander het, was die besluit wat ek as sestienjarige meisie in ’n hospitaalbed geneem het. Ek het gekies om teologie te gaan studeer. En tog wonder ek steeds: Was dit my keuse? Of was dit God se genade wat my gedryf het om op te staan ná die gru-ongeluk wat my drie maande lank aan ’n hospitaalbed vasgekluister het. Ja, ek dink beslis ons het vir God nodig om reg te kan kies, om te kan kies om binne sy wil te bly.
’n Motorongeluk verander die koers van my lewe
Ek was sestien jaar oud. Ek en my vriendin, Liesl, het met die jeep ’n draai anderkant ons plaas gaan ry. As plaasmeisie het ek al bestuur vandat ek op laerskool was. Ek het al die grondpaaie rondom ons kleinhoewe soos die palm van my hand geken. Maar daardie Saterdagoggend het ek my misgis met ’n pad wat daardie oggend geskraap is. Om ’n skerp draai het ek die jeep gerol. Van die ongeluk onthou ek nie veel nie, want ek was lank bewusteloos. Ek onthou net ’n girts-geluid het my wakker gemaak. ’n Dokter was besig om ’n gapende wond aan my voorkop toe te werk. Toe ek my volle bewussyn herwin het, moes ek hoor dat my bekkenbeen op twee plekke gebreek was. Ek het ook ’n ernstige kniebesering opgedoen en wonde aan my kop en gesig gehad. As gevolg van al die beserings sou ek drie maande bedlêend wees.
My jongmeisie-liggaam was gebreek. Hulle het my hare afgeskeer as gevolg van die wonde aan my kop. Omdat ek so lank bedlêend was, het my spiere agteruit begin gaan, ek het bedsere ontwikkel, en my vel het begin uitslaan as gevolg van swak bloedsomloop en al die medisyne. Daar was selfs sprake dat ek mank sou wees. As jong meisie het ek vir myself so lelik gelyk.
Drie maande op die naat van jou rug is ’n baie lang tyd. Jy worstel gedurig met jou gedagtes. Jy dink na oor die sin van jou lewe. Soos almal in ’n krisis, het ek deur die verskillende fases gegaan om dit te verwerk. Eers was daar die ontkenning, toe die woede. Ek het selfs vir God kwalik geneem dat Hy toegelaat het dat so ’n groot ongeluk my tref. Ná die woede het ek uitgekom by die fase wat die sielkundiges die onderhandelingsfase noem. Ek het vir God gevra, nee, ek het Hom gesmeek dat ek asseblief net weer normaal sou kon loop. As Hy dit vir my sou doen, het ek vir Hom belowe, sou ek teologie gaan studeer. Ja, dit was ’n naïewe en menslike belofte en keuse wat ek daar in die hospitaalbed gemaak het. En dit het my lewe in ’n totaal nuwe rigting gestuur.
Ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, is ek uit die hospitaal ontslaan. Ek het maande lank met ’n beenstut geloop, maar ek kon uiteindelik weer normaal loop.
Het ek die regte keuse gemaak?
Ek was vas van plan om my besluit en belofte aan God om teologie te gaan studeer na te kom. Ek het my vakkeuses op skool verander. Ek het kuns gelos en Bybelkunde geneem. In die tyd voordat ek universiteit toe sou gaan, het ek egter stil-stil besluit teologie is nie die regte studierigting vir my, of vir enige vrou, nie. Ek wou eerder iets anders gaan studeer. Ek het die twyfel ’n paar weke lank in my hart bewaar. Minute nadat ek dit vir die eerste keer aan ’n vriendin genoem het, was ek weer in ’n motorongeluk.
Vir die tweede keer in minder as twee jaar is ek bebloed in die ongevalle-afdeling opgeneem. ’n Dokter het die skokkende nuus aan my oorgedra dat ek moontlik my nek gebreek het. Hierdie tweede motorongeluk het my herinner aan die keuse en die belofte wat ek ná my eerste ongeluk gemaak het. In daardie benoude oomblikke in die ongevalle-afdeling ná die tweede ongeluk, het ek besef ek moet getrou bly aan my belofte. Prediker 5 beklemtoon dat God nie van ons beloftes vra nie, maar wanneer ons wel vir Hom iets belowe, moet ons ons belofte nakom.
Dae later is ek uit die hospitaal ontslaan, met ’n paar gebreekte ribbes, ’n gebreekte neus en ’n gebreekte sternum. My nek was toe nie gebreek soos die dokters aanvanklik vermoed het nie. Ek moes slegs ’n nekstut dra. Ek loof die Here vandag nog daarvoor.
Toe ek ’n paar weke later by die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria instap, het dit vir my soos my eie huis gevoel. ’n Diep gevoel van vrede oor die keuse van my studierigting het oor my gespoel. Ek het net geweet: Hier moet ek wees! My medestudente en dosente het my geïnspireer, en ek het die kursus vreeslik baie geniet.
Natuurlik was daar uitdagings tydens my studiejare. Buiten die feit dat ek ses jaar lank moes studeer en dat Grieks en Hebreeus ’n marteling is, was daar ook tye dat kerkgeskiedenis, dogmatiek en die dieper delf in teologie my van my geestelike spontaneïteit beroof het.
Ek moes myself kort-kort herinner dat teologie nie ’n leer is nie, maar ’n leefwyse. Wanneer ’n mens byvoorbeeld leer hoeveel skade dit kan doen om Bybelverse buite konteks aan te haal, dat dit in werklikheid iemand se lewe kan verwoes, maak dit jou baie versigtig om enigsins iets te sê. As teologiestudent het ek elke dag al hoe meer besef hoe min ek eintlik van God weet. Ek het besef Hy is baie meer as wat ek my lewe lank vir my voorgestel het. Hy is nie ’n beheerbare huisgodjie nie. My beperkte verstand kan nie die omvang van sy grootsheid definieer nie. En dit het my soms laat wonder hoekom ons nog enigsins probeer.
Daar is ’n pragtige verhaal wat my wanhoop pragtig illustreer. Augustinus het skynbaar eenkeer langs die strand geloop en peins oor die geloofsleer van die Drie-eenheid toe hy afkom op ’n seuntjie wat besig was om met ’n skulp water uit die see te skep en in ’n gat te gooi. “Wat maak jy?” wou Augustinus by die seuntjie weet.
“Ek gaan die see in hierdie gat gooi,” het die seuntjie geantwoord.
Augustinus het verder gestap en gewonder: Doen ek nie dalk dieselfde as daardie seuntjie nie? Kan ek werklik met my beperkte verstand die diepte en omvang en oneindigheid van God se wese in ’n definisie omvat?
Tydens my studies het ek ’n punt in my reis saam met God bereik waar ek besef het ek sal nooit elke teologiese kwelvraag kan verstaan of beantwoord nie. Ná vele worstelings met God en myself het ek besef dit is oukei so. Ons sal nooit alles van God kan verstaan nie; Hy is immers God. Ek het opgehou wroeg oor vrae oor lyding en so meer, en eerder in verwondering oor God begin leef. Jesus se woorde dat ons soos ’n kind moet glo, het vir my ’n werklikheid geword.
Confusius het gesê: “Ware kennis is om te besef hoe min jy weet.” En Benjamin Disraeli het hierdie stelling beaam toe hy gesê het: “Om jou onkunde te besef is ’n groot stap na kennis.”
Nog ’n uitdaging in my groei en ontwikkeling as teoloog het gekom kort nadat ek klaar gestudeer het. Ek het my roepingsverhaal met ’n bekende TV-aanbieder gedeel, en sy het kortaf daarop gereageer met hierdie woorde: “O, dan breek jou God jou bene wanneer jy nie jou beloftes aan Hom nakom nie!”
Nee, het my hele wese uitgeroep. Jy het my verkeerd gehoor! Ek moes leer dat niegelowiges ons kerktaal maklik as goedkoop antwoorde beskou, en dat ons in die eerste plek God se liefde teenoor hulle moet uitleef.
Wanneer ons wel iets moet sê, mag ons nooit ligsinnig met God en sy Woord omgaan nie. Ons moet ook nie vanuit die hoogte met niegelowiges praat nie, maar eerder met deernis. Dit is immers ’n geval van een sondaar wat vir ’n ander sondaar van God se groot genade vertel.
Die