Go'el Yisra'el. Marzanne Leroux-Van der Boon
dit het haar erger laat huil. Toe ek opkyk, staan Natan in die kamerdeur. Hy was ook in trane. Die kleinstetjie van my is só sensitief – soos ek, Abba. Hoe kon ek aan hom verduidelik waarom sy imma wat so lank weg was nou by my huil. Ek het hom in my arms aan die slaap gemaak. Toe ek terugkom, het my vrou geslaap en toe ek haar teen my aantrek, het sy in haar slaap gesnik.
Abba, met wie sal ek praat as ek nie met U kan praat nie. Gee my asseblief die wysheid waaroor ek nog nooit beskik het nie en maak my hart sterk. Ek het haar lief, Adonai, U alleen weet hoe lief ek haar het.
Hoofstuk 2
Jerusalem
3 Februarie 2010
Vyf dae na Marc en Henok weer terug is in Israel trou Binyamin, Marc se neef. Hy is Ofer en Shoshana se enigste oorblywende kind na sy ouer broer, David, in 2006 se Libanon-oorlog gesterf het toe sy helikopter afgeskiet is. Bibi se troue is dus vir die Doron-, Cohen- en Krige-families ’n groot en emosionele gebeurtenis.
Uiteraard is Henok, wat pas ’n verblyfpermit in Israel gekry het en wonderbaarlik ’n administratiewe betrekking aan die universiteit in Jerusalem kon bekom, ook ’n genooide. Dat sy vrou, Sarah, in Suid-Afrika agtergebly het en die verhouding tussen hulle redelik wankelend is, maak hom waarskynlik nie die gelukkigste gas by die geleentheid nie. Tog maak sy intense belangstelling in alles wat deel van sy nog betreklik nuwe Joodsheid is grootliks daarvoor op.
Ook vir Marc hou die dag gemengde vreugde in. In die dae vandat hy terug is uit Pole, het Rivkah se optrede vir hom net meer raaiselagtig en ontstellend geword. Ter wille van Yhoshi en Natan wat bepaald die spanning in hul verhouding aanvoel, tree hy so kalm as moontlik op. Maak hy voorlopig voor hulle of alles normaal is. In watter mate hy hulle bluf, is nie heeltemal duidelik nie. Hy merk dat Yhoshi weer onafskeidbaar is van sy verweerde beertjie uit sy babadae, dat Natan sy duim met mening suig en huilerig raak as hy een van sy ouers uit die oog verloor.
Oor ontbyt merk Marc die donker skadu’s onder Rivkah se oë. Hy lê sy hand oor hare langs haar bord op die tafel en voel haar vingers dadelik verstyf. Maar hy bly kalm.
“Ek het gedink om maar met Henok agter op die galery te sit, want ek kan my voorstel hoeveel vrae ek sal moet beantwoord. As jy met die kleintjies voor by Ruwth wil sit, sal hulle mooi kan sien.”
Haar oë ontwyk syne vinnig. “Dis reg,” is al wat sy sê.
Maar toe hy nie sy hand weghaal nie, kyk sy weer na hom en glimlag stram. “Dis goed, ons kan so maak.”
Sy oë hou hare vas. “Ek het jou lief,” sê hy sag.
Sy kyk so vinnig weg dat haar los donker hare oor haar gesig waaier.
“Rivki …”
Maar sy skud net haar kop effens en leun oor Natan om sy pitabroodjie vir hom deur te sny.
Marc merk dat sy self nie geëet het nie, maar hy sê niks verder nie.
Dis sy wat na ’n rukkie praat: “Avital het gevra ek moet saam met haar en Shoshana na die chuppah stap.”
“O ja, natuurlik, haar ma is mos verlede jaar oorlede.”
“Sy het ook nie susters nie.”
“En julle families ken mekaar mos baie jare, of hoe?”
Rivkah knik. “Haar pa en Abba het saam in die Sesdaagse en Yom Kippur geveg. Hulle ken mekaar van daardie tyd al.”
“Wonderlik dat sy en Bibi mekaar by ons in die huis ontmoet het.”
Sy byt op haar onderlip en na ’n rukkie vra sy: “Sal jy dan die seuns neem na waar Ruwth sit, dan sal ek daarnatoe kom.”
“Ek sal.”
Hulle kyk mekaar ’n oomblik woordeloos aan.
Na weke se reën en sneeu is die lug oor Jerusalem vanoggend helder en skyn die son, al stapel die wolke ver na die noorde toe met ’n spierwit voorbode van verdere sneeu. Dis bitter koud en almal is dankbaar dat die troue binnenshuis voltrek word.
Marc het Yhoshi en Natan na hul oorgrootmoeder gebring en staan nou saam met Henok agter in die saal wat stadig aan die vol loop is. Sy keel trek toe, want die herinnering aan sy eie troue in 2003 is so helder in sy gedagtes dat hy moeite het om rustig met Henok te praat. Voor in die pragtig versierde saal wat skitter van ’n massa vars blomme en kerse is die chuppah – vier pale wat ’n tallit van kosbare roomkleurige sy omhoog hou.
“Dis die chuppah, nè?” wil Henok dadelik weet.
“Dis reg, ja.”
“Wat is dit, die woorde daar in blou op geborduur?
“Ani l’dodi v dodi li uit Shir HaShirim.”
Henok frons. “Hoe?”
Marc grinnik. “Hooglied. ‘Ek behoort aan die man wat ek liefhet en hy behoort aan my.’”
“Sorry, natuurlik!”
“Wat is die doel van die chuppah eintlik?”
“Ag, daar is verskillende betekenisse wat daaraan geheg word. In Hebreeus beteken chuppah eenvoudig ‘kamer’ of ‘bedekking’. Dit stel allereers die dak voor van die nuwe huis waar die bruid en bruidegom gaan woon en ’n huisgesin vorm. Maar dis ook simbool van ’n koninklike baldakyn, jy weet, oor die troon, so iets. Want volgens Joodse tradisie is die bruidegom en die bruid op hul troudag ’n koning en koningin. Dit verteenwoordig ook die seksuele daad wat die huwelik sal konsumeer.”
“Sjoe, dis wonderlike betekenisse, nè. Rivkah het my vanmôre gesê ek moet elfuur by die Kotel gaan kyk, die bruid sal daar wees. Ag, dit was pragtig. So baie mense het na haar toe gekom.”
“Ja, dis ook ’n baie ou tradisie wat sê die bruid kan op haar troudag mense seën. So, allerhande mense sak op haar toe, siek mense, oumense, vrouens wat graag ’n kind wil hê … Bietjie bygeloof wat ons tradisie noem.”
Henok grinnik. “Miskien, maar tog wonderlik. Ek verstaan die bruid en bruidegom vas op hulle troudag.”
“Dis reg.”
“Hoekom, dis tog vreemd.”
“Nie vir Jode nie, Henok. Veral Tora-getroue pare sien mekaar die hele week voor die troue nie om die afwagting nog groter te maak. Die feit dat hulle op die dag vas, maak hulle daarop attent dat hul troudag in werklikheid hulle eie private Yom Kippur is – ’n dag waarop hulle van al hul vorige sondes gereinig word. Hulle kan dus saam ’n skoon begin maak. Die bruid en bruidegom siteer ook die mincha, die middaggebed, van Yom Kippur, waar hulle al hul oortredings bely. Die bruidegom dra ook ’n kittel – ’n wit kleed wat getroude mans met Yom Kippur aantrek. Jy sal netnou sien hoe dit aan Bibi lyk.”
“Weer fantastiese simboliek. Die bruidegom sien dus wel sy bruid vandag voor sy hier na die chuppah toe kom?”
Marc knik. “Ja. Voor die chuppah-gedeelte van die huwelik begin – dit word Kiddushin genoem van die Hebreeuse woord kadosh, wat heilig of afgesonder beteken. ‘Set apart’, jy weet? Wel, voor dít begin, word die ketubah, die huweliksooreenkoms, onderteken. Om die waarheid te sê, hierdie twee is nou daarmee besig. By Avital se pa se huis hier in die Ou Stad. Dis waar Ofer en Shoshana nou is. Rivkah ook, omdat Avital se ma verlede jaar oorlede is. Dis interessant, weet jy, die ketubah is in Aramees geskrywe. Dit sit die man se verantwoordelikhede teenoor sy vrou uiteen – voedsel, kleding, huisvesting en plesier. Dis ’n ware kunswerk om te sien en dit word gewoonlik geraam en in die nuwe huis gehang.”
“So, dit beteken Bibi sien sy bruid al daar?”
Marc sluk swaar, hy sien sý bruid van daardie dag so duidelik, só helder voor sy geestesoog, die weerloosheid om haar mond. Wat vanmôre weer daar was. Dis of hy koud word van binne.
“Marc …?” Henok lyk bekommerd.
“Nee,