In God se teenwoordigheid. Johan Smit
Here, dat ek vir U so spesiaal is. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep! Amen.
15 Januarie
God se doenwoorde
Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame. Die hele aarde moet die Here vrees, al die bewoners van die wêreld moet vir Hom ontsag hê, want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar. Psalm 33:6, 8–9
Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie. Hebreërs 11:3
Wanneer God praat, gebeur daar dinge, groot dinge! As ’n mens deur die Bybel blaai, kom jy telkens die gedagte teë dat God se spreke kreatief is. Die Hebreeuse term vir “woord” kan ewe-eens as “daad” vertaal word. God se woorde is terselftertyd dade. Doenwoorde. God praat nie doelloos nie. Sy woorde is nie oppervlakkig en niksseggend nie. Daarom dat Jesaja sê dat God se woorde nie leeg na Hom sal terugkeer nie. Op God se woord gebeur dinge. In vandag se teksvers word God geloof omdat Hy die wonderlike skepping deur sy woord tot stand gebring het. Dit is nie net die hemelligame en die groot oseane wat deur sy woord tot stand gebring is nie; ook ek en jy is die produk van God se skeppingswoord.
Ja, ons moet saam met die hele aarde in ontsag buig voor die sprekende God. Ons is bevoorreg om vir God op ’n baie konkrete manier te hoor praat. Ons beskik oor die Woord van God waarin Hy ons regstreeks aanspreek. Ons moet sy Woord met ontsag lees, met aandag na sy stem luister.
God se woord kan wonders verrig. Vandag nog. Ook in en deur jou lewe. Luister fyn na wat Hy vandag vir jou wil sê en gehoorsaam sy woord.
O Heer, maak oop my hart se poort; maak my ontvanklik vir u Woord. Amen.
16 Januarie
Hou God se Naam hoog
So sê God, die Here, Hy wat die hemelkoepel geskep en dit oopgespan het, Hy wat die aarde gevorm het en alles wat dit oplewer, Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg: Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee
Ek nie aan gesnede beelde nie. Jesaja 42:5, 8
As ’n mens na die skeppingswonders kyk, daardeur aangegryp word, en jy besef dit is die werk van ons enige en almagtige God, kan jy tog nie anders as om in bewondering en ontsag voor Hom te buig nie. Aan Hom kom die lof en eer en aanbidding toe. En tog gebeur die byna ondenkbare: Mense wat bely dat die Here hulle God is, draai van Hom weg en aanbid dooie afgode. Dit is in dié klimaat wat ons teksvers gemunt is. Israel het hulle tot nuttelose, dooie afgodsbeelde gewend en sodoende die Here se Naam ontheilig. Waarom? Skynbaar omdat hulle na vaste sekuriteit gesoek het, na aardse goed waaraan hulle kon vashou en dit vertroetel.
Ongelukkig is dit nie ’n sonde waaraan net die Israeliete hulle skuldig gemaak het nie. Is dit nie so dat ook ons so baiekeer by die skeppingswonders verby kyk en ons aandag vestig op so baie nuttelose goed nie? Ons gee nie vir God die eer wat Hom toekom nie. Ons vergeet van die grootsheid van sy skepping. Ons raak nie meer oor God se wondermag opgewonde nie. Ander goed maak ons opgewonde. Mense en materiële goed word deur ons verafgod. En God se plek word ál kleiner in ons elke dag se bestaanswyse.
Here, maak my los van alles wat kan maak dat ek U Naam oneer aandoen. Amen.
17 Januarie
’n Sugtende skepping
Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. Romeine 8: 20–22
As ons aan die sondeval dink, haak ons gedagtes gewoonlik vas by die uitwerking wat dit op die menslike geslag het. Dit gaan mos oor die mens wat die harmonie met God verbreek het. En gevolglik is dit die mens wat daaronder ly. Voorts is dit die mens wat smag na verlossing. Wanneer ons oor Jesus se soenverdienste jubel, gaan dit weer oor die mens: … sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal verkry (Joh 3:16). Maar dit gaan nie net oor die mens nie! Die sondeval het die harmonie in God se goeie skepping versteur. Hemel en aarde, natuur en kultuur, mens en dier is deur die sondeval geskud.
Paulus het iets van die omvangryke gevolge van die sondeval verstaan. Ja, dit is die mens wat na Jesus se wederkoms verlang wanneer alles nuut sal wees en Christus alles in almal sal wees. Maar, sê Paulus, ook die natuur smag na dié dag wanneer allles nuut sal wees. Want dan sal al die slegte goed waarmee die natuur getref is uit die weg geruim word. Dan sal dit weer baie goed wees soos wat God dit aanvanklik bedoel het om te wees.
Here help my om ’n bydrae te lewer tot die bewaring van die natuur as ’n erkenning van u heerskappy oor u hele skepping. Amen.
18 Januarie
Versoeking
Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.” Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.” Genesis 3:2–5
In die baie kort verhaaltjie in Genesis 3 kry ons tog die presiese rede vir die geweldige breuk in God se goeie skepping. Kortliks: ongehoorsaamheid aan God se wil. En die rede vir die ongehoorsaamheid? Niks anders as selfsugtige eiesinnigheid nie. Die Goddelike skepsel ontluik in ’n ek-mens.
Dit begin met ’n versoeking. Die versoeker wat hier as ’n slang voorgestel word, is die verpersoonliking van God se teenstander. Reeds voor die sondeval is daar al ’n onheilige opstand teen God. Satan was gereed om alles in sy vermoë te doen om God se goeie werk ongedaan te maak. Sy tegniek is uitstekend. Hy saai die saad van wantroue. Hy plaas God se motiewe onder verdenking. Hy stel die mens bloot aan versoeking, die versoeking om vir God “nee” te sê en homself te bewys.
Die oeroue patroon vind nog dag vir dag neerslag in mense se lewens. Nee, in die lewens van God se kinders! Sonde bly steeds niks anders as ’n “nee” vir God en ’n manier om my eie sin te kry nie. En sonde is nie Satan se skuld nie; hy help maar net dat ek self besluit om skuld te maak.
Ons Vader wat in die hemel is, . . . laat kom ons nie in die versoeking nie. Amen.
19 Januarie
Sonde
Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet … en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Genesis 3:6, 8
Die mens wat net minder as ’n Goddelike wese geskep is, wat as heerser oor God se skepping aangestel is, is nie tevrede om ’n onderkoning te wees nie. Hy wil soos God wees. Self god wees. Sonde is meer as net ’n koppige “nee” vir God, dit is ’n uitdagende “ja” vir jouself.
Ons het hier met ’n stuk Goddelike misterie te make. Hoeveel kere het mense nie al probeer om dié misterie met velerlei slimmighede op te los nie. Waarom het God die sondeval toegelaat? Waarom het God dit vir die mens moontlik gemaak om teen Hom te kies? Waarom het die almagtige God toegelaat dat daar ’n slinkse versoeker op die toneel verskyn? En al die antwoorde op die “waarom”-vrae is nuttelose bespiegeling. Die misterie is dat God self gekies het om nie ’n meganiese, robotagtige mens te skep nie. Die mens wat Hy na sy beeld geskep het, is ’n selfstandige wese met die reg om self te kies. God se grootste vreugde vind Hy juis daarin dat die mens uit eie vrye wil vir Hom kies, kies om met Hom in ’n persoonlike