Rykdom in eenvoud. Willem Nicol
Titelblad
WILLEM NICOL
Rykdom in eenvoud
LUX VERBI
Hoofstuk 1
1
Waarom dié boek?
Ons samelewing wil ons graag wysmaak dat ’n mens jou lewe moet verryk deur dit al voller te maak met besittings, aktiwiteite, status en mag. Maar in werklikheid lei dit na ’n gejaag wat jou lewe verarm en innerlik laat leegloop. Daar lê groter rykdom in die teenoorgestelde rigting, naamlik in eenvoud.
Die doel van hierdie boek is om lesers te help wat moeg geword het vir die gejaag en verwikkeldheid van hul bestaan, wat hul lewe wil vereenvoudig.
Eenvoud het nie net met besittings en aktiwiteite te make nie, maar ook met ideale, met lewensrigting, met hoe ’n mens jou uitdruk, jou verhouding met die estetiese, jou interne funksionering, en baie meer.
Die bron van dié eenvoud lê in die hart en die onderliggende lewens-houding.
Die Christelike geloof roep ons op om ons uiterlike lewe te vereenvoudig, sodat ons meer tyd en kragte kan oorhê om te fokus op die dinge wat ons as prioriteite kies.
Deur die eeue was Christene vindingryk in die beoefening van eenvoud. Maar die moderne samelewing en ekonomie probeer ons op ’n duisend maniere verlei om in die teenoorgestelde rigting te beweeg.
In die afgelope tyd is daar wêreldwyd baie belangstelling in eenvoud. Daarvan getuig trefferboeke met titels soos die volgende:1
Enough is Enough;
99 Ways to a Simpler Lifestyle;
No Bigger than Necessary;
Small Is Beautiful;
The Freedom of Simplicity;
The Simple Life: Plain Living and High Thinking;
Following Christ in a Consumer Society;
Beyond the Rat Race;
Purity of Heart Is to Will One Thing;
Nurturing Silence in a Noisy Heart;
Rich Christians in an Age of Hunger.
Die strewe na eenvoud is goed, maar dit moet nie ingewikkeld gemaak word deur dit te oordryf nie. Die rustigheid van eenvoud word gevind in ’n balans tussen te min en te veel. In ’n gebalanseerde alternatiewe leefstyl.
Kristalle
Aan die einde van elke hoofstuk formuleer ek ’n aantal praktiese wenke wat uit die inhoud “kristalliseer”. Ter wille van bondigheid hou ek hulle in die imperatief of bevelsvorm, maar bedoel dit nie voorskriftelik nie.
1 Shi 1985:269.
Hoofstuk 2
2
Die rotteresies
Wees wakker vir wat met jou aan die gebeur is
In ons moderne industriële samelewing heers daar ’n atmosfeer waarvan die invloed op ons so subtiel is dat ons dit meestal nie agterkom nie. Die doel van hierdie hoofstuk is om ons bewus te maak van wat met ons aan die gebeur is. Dalk bring dit ons weer onder die indruk van die waarde van eenvoud.
Kom ons luister na ’n klompie los uitsprake wat die heersende geestesklimaat in ons samelewing tipeer.
Die predikant van ’n taamlik gegoede woonbuurt sê: “In my gemeente is daar net drie vrae waardeur ’n mens se waarde bepaal word: Wat kry jy? Waar bly jy? Wat ry jy?”
’n Plakker op ’n motor lui: “Happiness is a cash flow”.
Iemand het opgemerk: “Die moderne stad het mos nie meer tempels en katedrale nie. Maar hy het sy winkelsentrums waar die mense offer, en sy sportstadions waar hulle juigend hulde bring.”
In Afrikaans praat ons van “lewenstandaard” as ons materiële standaard bedoel!
Iemand sê die moderne Amerikaanse feeverhaal gaan só: “More possessions means more happiness; anyone who does or produces more, is more important.”1
Tradisioneel het die Rooms-Katolieke Kerk geleer dat daar sewe doodsondes is: hoogmoed, jaloesie, hebsug, vraatsug, seksuele begeerte, woede en traagheid. Die industriële samelewing sê: ses van die sewe sondes word heilig verklaar, behalwe die laaste een, waarvoor al die straf uitgemeet word.
Geld sit agter alles
Dié van ons wat nie baie met die ekonomie te make het nie, besef nie altyd in watter mate ons almal afhanklik is van die vryemarkstelsel nie. In Zimbabwe het ons dit gesien: As ’n land se ekonomie in duie stort, gaan jonk en oud groot swaarkry binne. Die mark het mag, baie mag en het ’n groot invloed op ons lewenstyl.
Vir die suksesvolle funksionering van die vryemarkstelsel moet daar steeds ekonomiese groei wees. ’n Land se ekonomie moet groei, anders neem werkloosheid en armoede toe. Sakeondernemings moet ook groei, anders word hulle deur hul opponente verdring. Daarom kompeteer hulle so straf. Daar kan net groei wees as daar steeds meer geproduseer en gekoop en dienste gebruik word. Om dit te bereik, moet mense beweeg word om geld uit te gee. Daarom gebruik ondernemings ’n aansienlike deel van hul winste vir reklame. En moenie dink die moderne advertensiewese wil mense net inlig oor wat hulle gaan kry as hulle ’n spesifieke produk koop nie. Dit is ook nie net ’n poging om mense op redelike gronde te oorreed nie. Moderne bemarking berus op noukeurige navorsing oor die diep, onbewuste kragte wat mense beweeg, en gebruik ’n duisend metodes om dié kragte in te span. Mense word berekend gemanipuleer om al hoe meer te bestee. In hoofstuk 11 sal ons meer indringend hierna kyk om ons weerbaar te maak teen dié verkoopstegnieke.
As ’n mens graag meer wil bestee, moet jy meer verdien, en om meer te verdien, moet jy gewoonlik meer doen. So kry die ekonomie ’n greep op jou: jy moet soveel moontlik werk, om soveel moontlik te produseer, om ander soveel moontlik geld te laat uitgee, om self soveel moontlik te verdien, om alles te kan koop waarvoor reklame ’n behoefte by jou geskep het ... So word jy gedruk om eintlik aan jou werk te “behoort” en die grootste deel van jou lewensenergie daaraan te wy.
Maar mense het ook ander behoeftes, want die lewe bestaan nie net uit werk nie. Gevolglik moet hulle gemanipuleer word om soveel moontlik van hulself vir hul werk te gee. Mense vir wie ander waardes – soos ryk vriendskappe, sinvolle gesinsverhoudings, egte kultuurbelewing, natuurgenot, egte godsdiens – belangrik is, is “bad news for business”. Daarom moet mense afgeleer word om waarde aan dié dinge te heg. Een bestuurder se uitgangspunt is prontuit: “Die energie wat ons werknemers aan stokperdjies en gemeenskapsdiens bestee, wil ons liewer vir ons onderneming hê.” In baie lande dwing die ekonomie al hoe meer mense om onmenslike lang ure te werk. Hier in Gauteng is dit nie vreemd om te hoor van mense wat half ses soggens ry en eers om sewe saans tuis kom nie.
As die geestesklimaat wat hierbo beskryf is, sterk genoeg is, laat baie mense hulle omkoop. Omdat hulle so graag meer geld wil hê om te bestee, is hulle weerloos teen die suigkrag van hul werk wat hulle meer geld, status en mag aanbied in ruil vir al hoe meer van hul tyd en krag. Hulle offer hulle op in dié proses.
Maar wat help dit om bevorder te word as die wêreld dit nie weet nie? Wat doen jy dus? Jy gebruik jou ekstra geld om duurder besittings te koop. So wys jy jou waarde. ’n Reeks selfone word geadverteer met die vraag: “Wie is jy werklik?” So kry besittings ’n nuwe betekenis. Jy koop nie meer ’n artikel bloot ter wille van die nuttigheid daarvan nie, maar oor wat dit kommunikeer oor die waarde van die eienaar. Besittings word statussimbole; maniere waardeur mense hul waarde wys – en so kry hulle meer mag.
Oorspandering en die ophoping van skuld kom aan die orde van die dag. In die een land na die ander ontstaan daar ’n skuldkrisis omdat mense hul skuld nie meer kan betaal nie, met die gevolg dat daar ekonomiese krisisse ontstaan. Ook regerings kom in die moeilikheid omdat hulle stemme koop deur