Rykdom in eenvoud. Willem Nicol
kringloop
Hoe meer werknemers ’n onderneming het wat volgens materialistiese waardes leef, hoe meer produseer hulle natuurlik, en hoe meer moet hulle dit adverteer. So is ons terug waar ons begin het. ’n Bose kringloop. Die ekonomie moet groei, en daarom beweeg dit mense om meer te koop; hoe meer hulle koop, hoe meer moet hulle verdien; hoe meer hulle verdien, hoe meer moet hulle koop ... So rol dit aan soos ’n groot wiel wat die sagte, menslike vlees vertrap.
Daar lê twee skadelike uitgangspunte agter die hele kringloop. Die eerste is dat mense nie waarde hét omdat hulle mense is nie. Die tweede: hulle verwerf hul waarde hoofsaaklik deur prestasie en besit en nie deur al die ander ryk moontlikhede wat die lewe bied nie, nie deur menslikheid, kulturele ontwikkeling en sulke sagter dinge nie.
Baie ouers en skole kondisioneer kinders van kleins af om te aanvaar dat hulle dit nie in hulself werd is om geag en bemin te word nie, maar eers moet presteer om agting en liefde te verdien. So skep ons ’n prestasie- en verbruikersamelewing waarin menslikheid al hoe meer verdring word.
Die rotteresies
Een van die kenmerke van so ’n samelewing is dat baie mense se lewe ’n dolle gejaag is. Dit is verstaanbaar. Die geld, mag en status waarna die mense moet streef om te kan voel hulle is iets werd, is beperk. Nie almal kan baie daarvan kry nie. Daarom moet jy kompeteer. Om so gou moontlik soveel moontlik daarvan te bekom. So word die hele lewe een groot kompetisie.
Jy moet meer produseer as die ander, meer verdien, meer koop, mooier besittings hê en hulle beter in stand hou, jou tuin mooier maak, jou kinders beter laat presteer, van meer vakansieavonture op meer eksotiese plekke kan vertel ... meer, meer, meer. Selfs dié wat aanvanklik nie wil nie, word meegesleur om aan dié groot kompetisie deel te neem.
Die gevolg is dat jou lewe heeltemal vol loop. Altyd is daar ’n klomp dinge wat lê en wag om gedoen te word. Jy kan hulle laat lê, maar hulle knaag aan jou, sodat jy skuldig voel om te ontspan. Jy bly aan die jaag van die een ding na die ander. Wanneer jy met iets besig is, kan jy jouself nie ten volle daaraan gee nie, want dit pla jou dat jy ander dinge laat lê. Daarom handel jy dinge te gou af, sonder dat dit jou veel plesier of bevrediging gee.
So ontwikkel die lewe in ’n “rat race”. Die “rotteresies” het inderdaad ’n gepaste simbool vir ons tyd geword: ’n mal gejaag ... waarheen? Waar het die rotte (en die kinders) beland wat betower is deur die musiek van die fluitspeler van Hameln? Waarheen skarrel die rotte oor die dek van ’n sinkende skip? Ook die moderne mens weet nie aldag waar ons ewige gejaag ons gaan bring nie.
Veral die moderne metropool het ’n haastige gees ontwikkel. Haas het kom nes maak in die hart van ons stede en van daar versprei na die harte van die inwoners. Mense jaag nie net wanneer dit nodig is nie; haas het ’n gewoonte geword, ’n chroniese siekte. Dié wat daaraan ly, voel altyd gedrewe. Ek het iemand geken wat gewoonlik laat gekom het, omdat hy telkens nog net gou dit wou doen. As sulke mense nie vinnig genoeg kan beweeg nie, bou die spanning op ... So jaag ons uiteindelik by onsself verby. Ons is meer gerig op doen as op wees. Ons verloor voeling met onsself. Geen wonder nie dat die psigiater Carl Jung gesê het: “Haas is nie van die duiwel nie; dit is die duiwel.”2
Ons verloor onsself
Die plakker sê: “A rat race can only be won by rats”. Dit laat ’n mens dink, nè? Die skrywer Walker Percy sluit sy boek Lost in the Cosmos af met die volgende fantasie. Die stem van ’n buite-aardse wese maak die volgende oproep: “Repeat. Do you read? Do you read? Are you in trouble? If you are in trouble, have you sought help? If you did, did help come? If it did, did you accept it? Are you out of trouble? What is the character of your consciousness? Are you conscious? Do you have a self? Do you know who you are? Do you know what you are doing? Do you love? Do you know how to love? Are you loved? Do you hate? Do you read me? Come back. Repeat. Come back. Come back. Come back.”3
“Do you love?” Inderdaad: die rotteresies maak dat ons mekaar verloor. Tyd en rustigheid is nodig om naby aan ander mense te leer leef, en dit is wat ons nie het nie. Prestasies en dinge word vir ons belangriker as mense.
My vrou is ’n huweliksterapeut en sê soms vir my oor ’n paartjie waarmee sy gewerk het: “Daar is amper niks in hul verhouding nie.” Dikwels het hulle nimmereindigende aktiwiteite veroorsaak dat hulle elkeen in ’n eie wêreldjie leef.
’n Student met wie ek onlangs gesels het, het my nóg ’n helder illustrasie gegee van hoe siek dié lewenswyse is. Hy het genoem dat hy min geld het omdat sy pa bankrot verklaar is. Toe ek sê ek is jam-mer om dit te hoor, sê hy ek hoef nie te simpatiseer nie, want dit het meer voor- as nadele gehad. Hoe so? vra ek. Sy pa en ma het ’n paar sakeondernemings gehad, vertel hy toe. Hulle was byna nooit by die huis nie en die kinders het afgeskeep en ongelukkig gevoel. Toe sy pa bankrot verklaar is, moes die gesin saamstaan, het hulle meer van mekaar gesien, en het die kinders beter begin vaar. Die voordeel daarvan om tydelik ’n bankrot rot te wees! Bankrotskap is ’n nare ding, maar as dit meer voordele bring as die normale lewe van ’n egpaar in die sakewêreld – hoe sleg moet ons normale lewe dan nie wees nie!
Ons verloor nie net kontak met ander nie, maar ook met onsself. “Do you know who you are?” het die stem in die fantasie gevra. Baie mense weet nie. Hulle voel nie dat hulle waarde het deur wat hulle self is nie, maar dat hulle eers waarde het wanneer hulle dit in die oë van ander verdien. So laat ’n mens jou lewenskwaliteit bepaal deur ander. Jy ontwikkel ’n “other directed personality”. Ter wille van sukses in die rotteresies word ons almal “tidy packaged men”, soos W.A. de Klerk dit stel in sy boek The Puritans in Africa. A story of Afrikanerdom.4 Mense wat altyd die goedkeuring van ander soek, is in alles wat hulle doen, gerig op ander mense se menings en gevoelens, en in die proses verloor hulle kontak met hul eie opinies en emosies. Hulle leef nie meer volgens hul eie denke en aanvoelings nie, maar hou altyd hul antennas gespits vir wat ander (van hul) dink. Antennas wat brein en hart vervang! Hulle leef nie, maar word geleef.
Leë mense
Die geweldige kompetisie in die samelewing plaas die klem op kwantiteit in plaas van kwaliteit. Vir sigbare, uiterlike rykdom is daar groot waardering, maar nie vir innerlike rykdom van gees nie. Gevolglik veruiterlik en vervlak die lewe. Ons word leë mense. Al weet ons dat blywende dinge die belangrikste is, kom ons nouliks daarby uit, want in die jaagtog kry die dringendste telkens voorrang bo die belangrikste. Gordon MacDonald gebruik in sy baie praktiese boek oor hierdie onderwerp, ’n Tyd vir orde, die volgende slagspreuk: “Pasop vir die leegheid van ’n besige lewe.”5
Goeie kultuur kry al minder aftrek. Die sensasieversadigde moderne mens vind dit vervelig. As ons nie werk nie, wil ons net “pret” hê; “we amuse ourselves to death”.6 Ons verkies om “onsself te geniet” met TV, internet, kos, drank, films, sportopwinding, “sights” en aankope. ’n Suidelike Amerikaner het van sy noordelike landgenote gesê: “They are in the gobble gobble school.” “Verbruikersdruk” is ’ngepaste term vir die heersende lewenshouding waarin verbruik skynbaar die hoogste goed is. Ons verbruik nie net koopware nie; die populêre kultuur verbruik óns, sodat daar niks in en van ons oorbly nie. Dit verryk ons nie; dit hou ons net besig. Met die hoop tydskrifte, koerante en televisieprogramme tot ons beskikking, kom ’n mens byna nie meer by boeke uit nie. (Die feit dat die leser hier aan die lees is, getuig ten minste van ’n mate van weerbaarheid!)
Die waardes wat ons najaag, is in so mate op onsself gerig dat ons afgestomp raak vir die beter waardes, dié wat ’n mens laat wegdraai van jouself.
Havel, eertydse president van Tsjeggo-Slowakye, het hom soos volg oor die welgestelde Weste uitgelaat: “There is a deep moral crisis in society. A person who has been seduced by the consumer value system, whose identity is dissolved in an amalgam of the accoutrements of mass civilization, and who has no roots in the order of being, no sense of