Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux

Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux


Скачать книгу
ek meteens.”

      Sy gee ’n borrellaggie.

      “Jy is ongelooflik … uitgesproke, juf- … Olivia,” sê hy. “Ek wil amper sê vermetel. Ja, dis tog die regte woord. Vermetel.”

      “Voorbarig,” help sy hom.

      Hy gee haar ’n giftige blik en draai na die deur toe. “Dit wys net weer hoe ondeurgrondelik kinders is. myne hou van jou.” Hy hoor haar lag toe hy in die gang aanstryk na sy kamer in die regtervleuel en hy druk sy gebalde vuiste hardhandig in sy sakke.

      Hoofstuk vyf

      Die winter gaan verby en in die tuin bot die bome, blom die jasmyn en was ’n onverwagte vroeë reënbui die winterstof van alles af. Olivia en die kinders is nou meer dikwels buite en sy trek vir hulle praktiese kortbroeke en T-hempies aan – haar eie geliefkoosde drag vir die somer. Wanneer Nicolas in die middae by die huis kom, moet hy mooi kyk wie die donker poniestert het en wie die blonde een, want omdat Emma lank is vir haar ouderdom, is Olivia nie soveel groter as sy nie.

      “Luister,” sê Olivia een middag vir hom. “Moet ek my elke naweek uit die voete maak of kan ek hier bly en my vriende nooi om hier te kom kuier? Ons sal uit jou pad uit bly.”

      “Natuurlik hoef jy nie te voel jy moet weggaan nie,” sê hy verbaas. “Wat het jou so laat dink? En natuurlik mag jy jou vriende hierheen nooi.”

      “Dankie,” sê sy en die volgende Sondag kuier Mart by haar.

      Mart is verskriklik beïndruk met die huis en die hele opset en toe hulle in die middag deur die tuin loop, ontmoet sy vir Nicolas wat Franse krieket met die kinders speel.

      “Julle is te min,” sê Olivia dadelik en minute later is sy en Mart deel van die spel.

      Na die tyd sit hulle almal om die tuintafel en drink koeldrank en Nicolas is baie vriendelik en gasvry.

      “Nou toe, wat dink jy van hom?” vra Olivia toe sy Mart by haar motor afsien. “Hou jy van hom?”

      “Hy’s pragtig,” stem Mart in. “Maar nie my soort nie. Ek sal heeltyd bang wees ek sê die verkeerde ding of eet met die verkeerde lepel.”

      Daardie aand loer Nicolas in om vir die kinders nag te sê toe hulle nog almal op Olivia se bed lê en stories lees. Sy beduie vir hom hy moet stilbly en hy gaan gedwee op ’n stoel sit tot sy klaar is. Daarna dra hy Nicky na sy bed toe, druk die komberse om Emma in en sluit weer by Olivia aan.

      “Was dit die eerste kandidaat?” vra hy belangstellend.

      Sy kyk hom uit die hoogte aan. “Mart is my beste vriendin.”

      “Ek sien,” sê hy. “Dis ’n verligting.”

      “Maar sy ís nog ongetroud,” sê sy vinnig. “’n Onderwyseres. Goeie mens.”

      Hy lag net en loop. Die volgende Sondag nooi sy vir Joan, ’n ander vriendin, om by haar te kom tee drink. Die keer is Nicolas nie in die tuin nie; hy het die kinders uitgeneem en ontmoet Joan eers toe sy op vertrek staan. Joan is veel mooier as Mart, ’n natuurlike blondine met ’n sensuele figuur en toe sy Nicolas se hand skud, fladder sy haar ooglede en knoop ’n gesprek aan in haar heserige, dralende stem. Olivia sê niks nie en toe Nicky na haar roep, maak sy haar uit die voete om die twee ’n kans te gee.

      “Dit het gelyk of jy en Joan goed klaarkom,” sê sy later vir hom toe hulle saam met die kinders op die stoep eet. Noudat dit warmer word en sy meer op haar gemak is by hom, eet hulle dikwels oor naweke saam.

      “Sy is baie aantreklik,” sê hy.

      Haar oë blink gretig. “Ja, is sy nie? Sy is assistent by ’n tandarts, ’n baie praktiese beroep. Dink net hoe kan sy raad gee met die kinders se tande en mondhigiëne en so.”

      “Dis waar,” stem hy saam. “En as ek die dag vals tande het, kan sy dit vir my borsel en saans in ’n glas water laat lê. Langs my bed.”

      “Jy spot.”

      Hy lag weer. “Jy het dit begin, Olivia. Onthou.”

      Sy kyk hom net uit die hoogte aan. “Jy is gans te kieskeurig. En jy kan nie verwag om iemand te leer ken deur net tien minute met hulle te praat nie. Hoekom het jy haar nie gevra om een aand saam met jou te gaan eet nie?”

      “Ek hou meer van die kos by die huis.”

      “Jy kon haar teater toe geneem het. Wel, nee,” begin sy. “Joan hou nie van hoge kultuur nie. Jy kan haar bioskoop toe neem. Sy hou nogal van aksieprente.”

      “Ek haat aksieprente.”

      “Ja, ek ook,” moet sy saamstem. “Maar toe maar, ek het nog baie vriendinne.”

      “Lyk my so,” sê hy en kyk haar dan skerper aan. “Maar wat van jou? Is dit ’n wederkerige ding dié? Verwag jy van my om al my ongetroude mansvriende ook oor te nooi vir jou?”

      “Nee, natuurlik nie.” Sy sug. “Ek het jou mos gesê ek gaan nie trou voor ek dertig is nie. As ek dan nie iemand kry nie, sal ek jou laat weet.”

      Sy besluit om vir eers die meisies te los. Joan bel haar en skimp hard dat Olivia haar weer moet oornooi of iets moet organiseer saam met Nicolas en die kinders, en sy kom inderdaad ’n keer of wat onverwags na werk daar aan, maar alhoewel Nicolas altyd baie hoflik is, voer hy dit nie verder nie.

      Buitendien is Olivia se aandag nou by ander dinge. Soos die groot akkerboom se blare voller word, bekyk sy die boom. “In die Bosveld,” vertel sy vir die kinders, “het ons ’n boomhuis gehad – ’n regte stewige een in net so ’n groot boom langs die rivier. Die mense kon daar gaan sit om te kyk na die diere as hulle kom drink. Dan skrik die diere nie, sien. Hulle weet nie van die mense nie.”

      “Hier’s mos nie diere nie,” sê Emma, maar kyk tog verlangend na die breë takke bokant haar kop.

      “Hier’s baie voëls,” sê Olivia beslis. Toe sy agterkom die kinders ken nie die verskil tussen ’n mossie en ’n rooiborshoutkapper nie, het sy ’n boek oor voëls gekoop en die kinders begin name leer.

      “En ons kan daarin speel,” sê Emma met blink oë. “My poppe sal nie so vuil word nie.”

      Dis nog ’n ding van Emma-hulle buite laat speel, dink Olivia. As die poppe nie meer op die rak sit nie, word hulle orals in die tuin saamgesleep. Toe die volgende biblioteekboek wat Olivia vir hulle lees, handel oor kinders se avonture in hulle boomhuis, is die saak beklink. Miskien sou Olivia nog gekeer het as dit nie was dat sy een middag met Josef gestaan en gesels het in die ver punt van die tuin langs die skuurtjie en ’n enorme stapel planke en balke daar sien lê het nie.

      “Waarvoor is dit?” vra sy.

      “Dit was die ou agterstoep se prieel,” sê hy. “Daa’s mos nou die nuwe dak.”

      Sy loop nader en tel ’n paar planke op. Hulle is nog in ’n baie goeie toestand en haar oë blink opgewonde. “Kan ons ’n boomhuis hiermee bou?” vra sy.

      “Boomhuis?”

      Sy verduidelik vir hom wat sy wil hê en alhoewel hy ’n bietjie skepties lyk, soos sy gewoonte maar is, stap hy saam en bekyk die boom van onder af.

      “Wag,” sê sy. “Ek sal gaan kyk.” Sy skop haar sandale uit en stap nader. Daar is nie eintlik ’n tak laag genoeg nie, maar sy is lig en rats. Deur vas te trap en haar aan ’n hoër tak op te trek, is sy gou in die breë vurk van die boom. “Ideaal,” roep sy af na hom toe.

      Hy skud net sy kop.

      “Toe maar, gaan maar aan met jou werk,” roep sy ondertoe. “Ek wil bietjie rondkyk. Ons sal later praat.” Dis vir haar lekker so verskuil tussen die digte blare, dit laat haar dink aan haar kleintyd toe sy en haar broers altyd in bome geboer het.

      Sy laat rus haar rug teen ’n tak en bekyk die mik krities. Sy kan drie breë takke sien waarop die vloer van ’n boomhuis kan


Скачать книгу