Marico se mambas. Piet Swanepoel
MARICO SE MAMBAS
Jagstories, liegstories, spookstories
Piet Swanepoel
Opgedra aan Pa Pietjie en Oupa Attie
MARICO SE MAMBAS
Bettie Prins was een van die mooiste meisies wat nog uit die Marico gekom het. Toe sy, nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, by Pukke gaan inskryf as onderwysstudent, het die jongman wat haar vorms voltooi het, haar so agternagekyk toe sy uitstap en gesê: “Daar stap ’n toekomstige joolkoningin,” en hy dag: As ek maar so ’n meisie kon hê!
En daar, in Potchefstroom, ontmoet Bettie van Marico toe vir Cornelis van die verre Wes-Transvaal. Nie lank nie, toe is die twee gekys, en die jongman wat haar met die vorms gehelp het, se droom lê aan skerwe. Cornelis het op ’n Hoëveldse mielieplaas grootgeword terwyl Bettie se pa, oom Basjan Prins, ’n Bosveldse beesboer was wie se trots sy stoet-Afrikaners was – en natuurlik ook sy mooi dogter.
Behalwe oor ditjies en datjies, het die twee verliefdes ook dikwels oor hulle mense gesels. Cornelis hoor toe onder meer dat oom Basjan se agter-oorgrootjie wat eerste die land ingekom het, die kaptein van ’n seerowerskip was wat naby die Kaap op die rotse geloop het. Omdat hy geweet het dat die Kaapse regering (die Engelse was destyds aan bewind) hom definitief nie goedgesind sou wees nie, om dit nou maar sagkens te stel, het William “Blackbeard” Prince die binneland in verdwyn.
Daar het hy aangesluit by ’n jaggeselskap op pad om te gaan olifante skiet, en homself voorgestel as “Sebastiaan Prins”. Met sy vergoeding ná die jagtog het hy vir hom twee goeie ryperde en ’n paar jaggewere gekoop en die volgende paar jaar grootliks in die jagveld deurgebring. Naby die plek waar die skip gestrand het, het nog ’n trommel goue munte begrawe gelê. Maar dit kon wag vir die toekoms.
Ná verloop van die paar jaar in die binneland was hy redelik seker dat die Britse regering nie meer in “Blackbeard” belang stel nie, en het hy die Kaap besoek en ook die plek waar die skip gestrand het. Daarna het hy ’n kamer in ’n losieshuis gekry, gesorg dat hy uit die openbare oog bly en die Kaap rustig op sy eie verken. In die losieshuis was nog ’n stuk of twaalf ander loseerders, onder andere ’n blonde Nederlandse meisie en haar broer. Hulle drie het toevallig die eerste aand aan dieselfde tafel geëet, begin gesels, en vriende gemaak. Haar naam was Adriana en haar broer het Joop geheet.
Ná ’n maand of wat het Sebastiaan moeg geraak vir die doellose lewe aan die Kaap en al hoe meer begin verlang na die oop ruimtes en stilte van die binneland. Van die ou jagters en trekboere het hulle toe alreeds anderkant die Grootrivier gevestig. Die deel om die Marico-rivier het veral op Sebastiaan indruk gemaak. Hy het aan Joop en Adriana begin vertel van die pragtige Bosveld met sy baie wild en rante en klowe met volop fonteine en stroompies. Joop se belangstelling is dadelik geprikkel en hy het die wens uitgespreek om saam te gaan, sou Sebastiaan weer gaan jag.
Ná nog ’n week of wat hoor Sebastiaan, waar hy een aand op die kaai staan, twee Britse matrose gesels. Die twee praat oor “Blackbeard” en bespreek gerugte dat hy deur ’n ou seeman in die Kaap opgemerk is – en die gerugte het ook die Goewerneur bereik. Uit die twee se gesprek was dit verder baie duidelik dat die Britse regering ’n lang geheue gehad het wat seerowers aan betref en, sou hy gevang word, was die galg by Tyburn sy voorland.
Die volgende dag koop Sebastiaan ’n wa en ’n span osse by ’n trekboer wat hy op die Parade raakloop. Hy koop ook ’n ryperd en proviand. Daardie aand toe hulle aan tafel sit, sê hy aan Joop dat hy na die Marico toe gaan om hom permanent daar te vestig. En net daar, aan tafel, vra hy Adriana om met hom te trou.
“Ja, en dit was jou voorouers,” sê Cornelis. “Wat ’n storie!”
Sy het van hul plaas vertel, van die koedoes wat by ’n gronddam naby die huis kom water drink, die luiperd wat haar pa onlangs in die kloof gesien het, die bobbejane wat die lemoene kom steel en van die mambas. Sewe van haar pa se beeste is eenkeer deur ’n mamba doodgepik. Daar is veral een rant met kranse en ’n waterval waar dit vervuil is van dié slange, want daar is baie dassies.
“Is ’n mamba regtig so gevaarlik as wat die mense sê?” vra Cornelis.
“Ja, maar eintlik moet jy met my pa daaroor gesels. Hy weet alles van mambas en hy ken baie stories.”
Die volgende universiteitsvakansie word Cornelis saamgenooi Marico toe. Hy het intussen elke boek wat hy kon opspoor oor slange gelees omdat hy, as hy dalk op die plaas sou gaan rondstap, genoeg wou weet van ’n mamba af. Hy wou nie sommer so goedsmoeds en sonder die nodige kennis in die gevaar inloop nie.
Hoe meer hy van die mamba lees, hoe meer besef hy waarom dit die mees gevreesde slang in Afrika is. Twee druppels mambagif is alreeds fataal en die mamba kan twintig keer soveel in jou liggaam inspuit. Sy byt is dodelik, tensy groot volumes teengif onmiddellik toegedien kan word. Die senuweegif word so vinnig deur jou bloedstroom versprei dat jou senustelsel binne minute verlam word, gepaardgaande met ontsettende pyn.
Die mamba is aggressief, en met paartyd, of as hy voel hy word bedreig en ook wanneer mens of dier tussen hom en sy blyplek kom, sal hy aanval. ’n Woedende vier en ’n half meter lange swart mamba is ’n vreesaanjaende gesig, met ’n derde van sy voorlyf in die lug, die doodkisvormige kop so hoog soos ’n man se skouer, die voorlyf wat heen en weer wieg en die houtskoolswart bek wyd oop terwyl hy heeltyd blaas en sy swart tong voortdurend in en uit flits. As hy toeslaan, skiet hy soos ’n staalveer vorentoe met soveel geweld dat sy slagoffer dikwels teen die grond geslaan word. Die slagoffer se nek of keel is meestal die teiken.
Toe die vakansie aanbreek, ry hulle met die trein tot op Zeerust waar haar broer hulle met die motor kom haal. Bettie stel hom voor as Hasie en verduidelik: Eintlik is sy voorletters H.C., maar op skool het dit sommer gou Hasie geword en dié naam het hy gehou. Uit Zeerust ry hulle in ’n noordelike rigting. Die omgewing is heeltemal anders as die wye vlaktes waar Cornelis aan gewoond is. Dit is rantewêreld, wat deur die Maricojaners berge genoem word, begroei met pragtige groot bome en struikgewas, alles onbekend aan Cornelis. ’n Groot grys voël met ’n lang stert vlieg-sweef voor hulle oor die pad. “Kwêvoël,” sê Bettie, “en vir my die simbool van die Bosveld.”
Hulle hou op die werf stil en klim uit. Die huis is oud en groot en indrukwekkend met ’n breë stoep voor. Verder op is daar ’n hoë rooibaksteengebou met ’n buiteskoorsteen, waarin tabak gedroog en versorg word. Daar is ook ’n ou waenhuis en daarvandaan kom ’n man oor die werf gestap. Hy is lank, met breë skouers, ’n swart volbaard en ruie swart wenkbroue. “My pa,” sê Bettie – en “Blackbeard!” dink Cornelis.
Die aand sit hulle buite om ’n sekelbosvuur en kuier terwyl Hasie vleis braai. Hy kyk na Cornelis en sê met ’n vonkel in die oog: “Ek hoor Bettie sê jy stel nogal in mambas belang. Weet jy wat is die beste manier om ’n mamba dood te maak?”
Cornelis skud sy kop: “Nee, nog nie gehoor nie.”
“As jy weet waar hy boer, dan hou jy hom dop, en as hy slaap, bekruip jy hom, gryp hom agter die kop en druk sy stert in sy bek. Dan sluk hy homself in.”
Oom Basjan lag die lekkerste. Cornelis geniet ook die grap en vertel wat hy alles gelees het. En hy vra vrae. Oom Basjan sê: “Jong, ja, dit kan so wees, maar daardie is maar die siening van mense met ’n graad of wat agter die naam wat in slangparke en dieretuine navorsing en proewe doen. Van ’n mamba in sy natuurlike staat weet hulle bokkerol. Dis ’n wit perd van ’n ander kleur. Een man wat met gesag oor mambas geskryf het, was Eugène Marais, want gedurende sy verblyf in die Waterberg het hy ’n hele paar ondervindings met mambas gehad. Die kêrel van Port Elizabeth, Fitzsimmons, het juis destyds van Marais se bevindings as sy eie opgedis in sy slangboek. Marais sê iewers in een van sy boeke dat hy nie omgee dat die heer Fitzsimmons dit gedoen het nie, maar hy gee wel om dat die heer Fitzsimmons dinge bygelas het wat hy uit sy duim gesuig het.”
“Ja, oom Basjan, ek het ook die stukkie van Eugène Marais gelees. Is die mamba werklik so vinnig as wat daar beweer word?” vra Cornelis.
“Man, kom ek vertel jou wat ’n rukkie gelede gebeur het. Sien jy die vrugteboord daar? Nou ja, ons het net hier gesit. Hier was ’n vriend van Hasie uit die stad – ook ’n kêreltjie wat bietjie opgelees het oor