Marico se mambas. Piet Swanepoel

Marico se mambas - Piet Swanepoel


Скачать книгу
stadskêreltjie kyk my toe so en hy sê: ‘Oom, moet hy nie die haelgeweer bring nie? Soos wat ek lees, is ’n mamba baie vinnig. Met ’n .22 kan oom maar vergeet.’

      “Ek sê: ‘Kom, dan gaan wys ek jou.’ Hy stap toe saam, maar hy bly so drie tree agter my. So tien tree van die boom af gaan staan ek en speur so tussen die takke en blare. Skielik is dit asof ’n stormwind deur die boom gaan. Ek sien net so hier en daar ’n flits tussen die takke waar die son sy lyf vang. Ná so ’n rukkie werk ek sy bewegingspatroon uit en toe hy deur ’n taamlike opening blits, toe skiet ek en hy val voor my voete. Die kêreltjie kom nader, bekyk die slang en sê: ‘Deur die kop. ’n Vloekskoot.’

      “Ek sê niks, maar twee dae later toe is dit weer so: Die honde blaf by dieselfde appelkoosboom. Dié keer het die kêreltjie meer moed en bly net so twee tree agter my. Toe die skoot klap, toe val die mamba byna op dieselfde plek as die vorige een. Kopskoot. Die kêreltjie skud sy kop en vra: ‘Oom, hoe kry oom dit reg? Geen mens kan so goed skiet nie.’

      “Toe vertel ek maar vir hom die geheim. Almal weet ’n mamba is vinnig, maar niemand het ’n idéé van hoe vinnig hy werklik is nie. ’n Weerligstraal is ’n mooi bog. ‘Wel,’ sê ek, ‘ek het dit besef en al wat ek nou doen, is ek skiet net in die rigting van sy kop. Hy sien daardie koeëltjie kom en dan pik hy daarna. Maar die koeëltjie is net so ’n fraksie vinniger as hy. Kopskoot.”

      Almal lag. Cornelis skud net sy kop en gee ook so ’n agterna-laggie.

      “Maar daardie is nog niks. Laat ek jou nou vertel wanneer beweeg ’n mamba op sy vinnigste. Ek ry eendag met my perd daar bo onder die berg. Daar loop ’n kampdraad reguit al aan die voet van die berg. Toe ons die draad gespan het, het ons ’n rypad al teen die draad langs oopgekap, seker so ’n myl ver. Nou, in dié paadjie ry ek toe nou.

      “Skielik hoor ek ’n geblêr iewers agter my. Toe ek omkyk, sien ek dit is twee mambas wat bo in die toppie van ’n wildesering met hul paringsdans besig is. Omdat ek so iets nog nooit gesien het nie, trek ek die perd om en ry nader. Dit was ’n fout, want darie twee slange verdwyn net daar, en toe ek weer sien, toe is hulle in die pad en hulle kom. As ’n mamba op spoed is, is sy spoor reguit soos dié van ’n fiets. Ek sien hier kom moeilikheid en ek pluk my perd om en gee hom spore.

      “Ná ’n rukkie kyk ek om en dit lyk my of ek veld wen. Die een slang blêr aanhoudend en skielik klink dit vir my of die geblêr nader kom. Ek kyk vinnig oor my skouer. Man, en ek sien die twee het hul sterte in hul bekke vasgebyt en hulle rol soos wiele dat die stoffies so agter hulle opslaan.

      “Toe kom ek by die dwarsdraad van die volgende kamp en die pad swaai daar negentig grade links. Ek sê: ‘Welmoed, ou perd, vandag vat jy daardie draai volstoom,’ en hy vat die draai volstoom. Amper gaan ék reguit! ’n Paar oomblikke hang ek langs die saal, maar ek hou, en ons is om. Agter my hoor ek pieng-pieng soos kitaarsnare. Toe is daardie twee mambas reguit deur die drade en hulle lê in ses stukke.”

      Cornelis kan maar weer net sy kop skud en lag. Bettie kyk so skeef na Hasie en vra ewe ongeërg: “Nou, Ouboet, toe hulle hul sterte so vasbyt om soos wiele te hardloop, hoekom het hulle hulself nie ingesluk nie?”

      Die volgende oggend sit hulle aan die ontbyttafel toe die ou melkman dringend aan die onderdeur klop: “Oubaas! Oubaas! Daar is ’n makoppa in die rondawel. Hy lê bo-op die muur binnekant die deur!”

      Hy het ’n emmer uit die rondawel gaan haal en toe hy omdraai deur toe, het hy net toevallig opgekyk en in die halfskemer gewaar hy die kronkels op die muur bokant die deur. So vinnig en so gebukkend is hy nog nooit uit die rondawel uit nie.

      Almal spring van die tafel af op en oom Basjan gaan haal ’n geweer. Hy kom terug met ’n dubbelloop-haelgeweer en ’n hand vol patrone. By die rondawel word vinnig strategie bespreek. Hy besluit om vinnig by die rondawel in te spring tot teen die agterste muur waarvandaan hy dan die mamba sal skiet.

      “En as hy nie dood is nie, is Pa vasgekeer!” kom dit van Bettie.

      “Dalk moet oom die .22 vat,” sê Cornelis en sy oë trek op plooitjies, maar niemand dink dis snaaks nie. Oom Basjan gee hom net so ’n vinnige kyk, maar hy kry darem so ’n skewe glimlaggie.

      Oom Basjan laai al twee lope en stap tot voor die deur. Ná ’n effense weifeling gee hy twee spronge oor die drumpel en tot teen die agterste muur waar hy soos blits omswaai met die kolf aan sy skouer. Hy sien die kronkels dofweg blink. As hy net kan sien waar die kop is. ’n Glinstering vang sy oog. Sy vinger krul om die sneller. Toe die skoot slaan, spring hy vir die deur, maar toe hy spring, weet hy hy gaan dit nie maak nie, want hy sien hoe die kronkels oor die muur se rand afgly en ondertoe val. Hy voel hoe dit oor sy kop en skouers krul. Oom Basjan gee ’n brul en gooi die geweer weg. Met al twee hande probeer hy die satanskind van hom afkry. Hy trap hier en hy trap daar en dans behoorlik ’n riel oor die werf.

      Hy wonder hoekom help niemand hom nie en skielik dring dit tot hom deur dat hulle lag – hulle skater. Met ’n laaste ruk en pluk is hy los en hy smyt die gedierte daar eenkant. Hy gaan staan hygend gebukkend met sy hande op sy knieë en kyk ’n lang ruk na die bos osrieme wat daar in die stof lê.

      JY VERTEL DIE STORIE VERKEERD

      Die Marico-bosveld het oor die jare karakters opgelewer soos seker min ander streke in Suid-Afrika, manne wat geglo het: ’n man met ’n plan is ’n man wat kan. Een so ’n planmaker was Daantjie Nel, befaamde beessmokkelaar, wildskieter ( let wel – nie wilddief nie!) op kroongronde, kompanjiegronde en onbewoonde plase.

      In daardie jare het die polisie nie veel gehad om hulle mee besig te hou nie. Misdaad was minimaal in die Marico-streek en hulle moes hul tyd maar omkry met die versorging van hul perde en patrollieritte. En dan natuurlik was daar die kat-en-muis-speletjie met die onwettige jagters en uitgeslape mampoerstokers. Almal het so nou en dan iets vir die pot geskiet, sonder ’n permit natuurlik! En baie het gestook – sonder liksens natuurlik.

      Daar word toe daardie tyd ’n nuwe sersant by die polisiekantoor op Derdepoort aangestel, sersant Piet Rich, ’n ambisieuse, flukse geregsdienaar. Ná ’n paar maande het hy sy streek en die inwoners redelik goed geken. Een naam wat telkens opgeduik het, was dié van Daantjie Nel, soveel so dat sersant Rich ’n meer as normale belangstelling in die man begin toon het. Volgens die stories en staaltjies was genoemde Daantjie die mees uitgeslape, jy kan maar sê, wetsoortreder in die ganse Marico-streek. Sy eskapades en planne was legendaries. Sersant Piet Rich het vir Daantjie as ’n uitdaging begin sien. Dit was gou algemeen bekend. Van die ou polisiemanne in die Marico-streek het net vir mekaar gekyk en ’n glimlag van die mond afgevee. Op veevendusies het die boere daaroor gepraat, hul koppe geskud, en gelag. Net Daantjie het niks gesê nie, maar sy ore was oop.

      Op ’n dag het Daantjie besluit dat dit tyd is om biltong te maak. Die eerste ryp het al plek-plek geval. Sy geliefkoosde jagplek was ’n onbewoonde plaas nie baie ver van sy eie woonplaas af nie. Hy het sy getroue Tswana-handlanger geroep en aangesê om die donkiekar in te span. Toe is hy die huis in om ná ’n rukkie te voorskyn te kom met ’n Leemetford en ’n ou Martini-Henry-geweer. Die twee wapens is op die donkiekar gelaai en hulle is vort na die jagplek toe.

      Die Leemetford was die standaard Britse weermaggeweer, wat met ’n skerppunt-kopermantelkoeël van .303-kaliber geskiet het. Die polisie was in die dae van hierdie verhaal daarmee uitgereik. Die Martini-Henry was ’n ou staatmaker uit die jare voor die Driejarige Oorlog en het met ’n soliede loodkoeël van .45-kaliber geskiet. Voor die oorlog was daar ongeveer 30 000 van hulle in die Z.A.R., maar hulle het in onbruik geraak toe ammunisie skaars geword het.

      So twee kilometer van sy bestemming af het Daantjie die kar en donkies onder ’n groot koelteboom vasgemaak en hy en sy handlanger het al teen die voet van die berg langs verder gestap. Ná ’n ruk het hulle skuins teen die berg begin uitklim tot by ’n lekker uitkykpunt. Daantjie het op ’n plat rots gaan sit en sy pyp tydsaam gestop. Intussen het sy skerp oë die bos onderkant hom gefynkam. Hulle het nie baie lank gesit nie toe hy ’n ligte beweging in die bos langs ’n sandsloot gewaar.

      ’n Pragtige koedoebul kom uit die ruigte gestap en gaan staan


Скачать книгу