Marico se mambas. Piet Swanepoel
die dam gaan stap. Antonio het met sy mooi wit tande geglimlag: ‘En wat sal ons gaan doen – ook stap of met die bote roei? In Venesië, op ’n gondola, kon ek jou toegesing het.’
“Sy kyk skalks oor haar skouer en glimlag vir hom. Hy staan op, neem haar hand en trek haar op. Toe begin stap hy, sonder om haar hand te los, met die voetpaadjie op die oewer langs aan, terwyl hy een of ander Italiaanse liefdesliedjie saggies neurie. ’n Entjie verder is daar ’n groot rots aan die kant van die water onder ’n ou wilgerboom. Sy gaan sit op die rots. Antonio hou op neurie en kyk aandagtig na haar. Toe begin hy die Lorelei fluit.
“Die koeël was deur die kerk. Groot Koos het gou besef dat hy sy meisie kwyt was. Oom Ben en tant Lenie het net niks gehou van die wending wat sake geneem het nie. Die Italianer was ’n uitlander en van die tyd van die Driejarige Oorlog af was uitlanders nie baie gewild nie en ook nie te vertrou nie. Hy was heeltemal te glad en sy fyn maniertjies het hulle nog meer wantrouig gemaak. Maar nou ja, Stienie het van kleins af ’n wil van haar eie gehad en het gewoonlik haar sin gekry. Die verliefde paartjie was onafskeidbaar.
“Die oumense het mos altyd gesê: ‘As jy die pap te dik aanmaak, brand dit aan.’ Nou ja, so was dit dan ook. Toe die Italianer een Saterdag voor die deur stilhou, stap oom Ben hom tegemoet. Hy draai ook nie doekies om nie: ‘Taljaner, ek het geweet van hierdie saamboerdery vroeg en laat gaan niks goeds kom nie. Jy’t my dogter nou in die moeilikheid gebring. Nou wil ek weet, wat gaan jy daaromtrent doen?’
“Antonio se breë glimlag is skielik weg. Hy kyk oomblikke lank vas in oom Ben se koue oë. Hy hou nie van wat hy daar sien nie. Hy kyk oor die werf. ’n Groot rooi hoenderhaan stap pronkstert voor hom verby. Oom Ben wag.
“Dan sug die Italianer: ‘Oom Ben, dit moes nou nie gebeur het nie, dié ding. Nee, oom. Ek weet ook nou nie wat sal ons maak nie. Ek is, hoe sê julle, beloof aan ’n Italiaanse meisie van Kroonstad. Ek is Katoliek. Ek moet met haar trou. Ek weet nie, oom Ben, wat jy sal maak nie. Ek weet nie. Maar ek is jammer, hartlik jammer.’
“‘Taljaner, luister, en luister mooi! Met jou geloof en jou gewoontes het ek niks te make nie. As jy in hierdie land ’n meisie in die moeilikheid bring, dan trou jy met haar. Fienies en klaar. Jy ry nou Kroonstad toe en jy stel dit so aan jou verloofde. Hoe jy uit daardie penarie kom, is jou saak. Met my dogter sál jy trou!’
“Antonio skud net sy kop. Hy mik na die huis. Oom Ben stap voor hom in. Hy skud weer sy kop: ‘Die tante. Stienie. Kan ek …’
“Oom Ben knip hom kort: ‘Ek het klaar gepraat. As ek jou weer sien, dan sê jy vir my wanneer loop die gebooie. Jy weet waar die dominee woon.’
“Met dié draai oom Ben om en stap huis toe. Hy kyk nie weer om nie. Die Italianer skud sy kop. Dan draai hy om, klim in sy kar en ry stadig weg dorp toe. Hy ry reg deur die dorp en draai weg op die Kroonstadpad.
“Twee dae later is hy terug in die dorp. Hy hou voor die kafee stil, maar klim nie uit nie. Twee meisies wat verbystap, herken hom. Hulle stop nie by hom nie, maar stap vinnig verby en by die kafee in. Ná ’n ruk ry hy hotel toe en bespreek ’n kamer vir die nag. Hy stap deur die sitkamer kroeg toe en gaan sit by die punt van die toonbank. Hy bestel ’n drankie by Chrisjan Muller, die kroegman. Daar is ’n paar ander kêrels ook in die kroeg, maar hy neem nie deel aan die geselskap nie. Skielik sak ’n doodse stilte in die kroeg neer. Hy kyk op. Almal kyk na die deur. Hy kyk om. Groot Koos Dempers staan die kroegdeur vol. Die Italianer sluk.
“Koos wink vir hom met sy dik wysvinger, draai om en stap uit. Hy sluk weer en stap agterna. Sy mond voel skielik droog. Die manne in die kroeg bondel in die deur. Koos stap aan tot by die Italianer se kar en klim by die passasierskant in. Antonio klim agter die stuurwiel in. Soos oom Ben, draai Groot Koos ook nie doekies om nie: ‘Jy het my meisie afgerokkel met jou uitlandse maniertjies en nou is jy in ’n hoek. Ek is nog lief vir haar en ek glo sy vir my ook. Sy het maar net ’n bietjie die spoor byster geraak, maar nou sien sy duidelik wat jy is, dat jy haar maar net as afleiding gebruik het. Ja, ek en sy het gepraat. Ek gaan jou ’n voorstel maak. Gee vir my vyf honderd pond, dan trou ek met haar, en jy is los.’
“Koos bly stil en kyk die Italianer ’n paar oomblikke vas in die oë. Dan klim hy uit, loop om die kar en buk af by die venster: ‘Ek sien jou môreoggend hier, tienuur. Bring die geld saam. Kontant. Vyf honderd pond.’
“Die volgende môre was die Italianer daar, met die vyf honderd pond. ’n Week later is Groot Koos en Stienie in die konsistorie in die eg verbind. Met die vyf honderd pond het Groot Koos toe daardie sandkliphuis daar op die hoek gebou. Sewe maande later is ’n fris seuntjie gebore. Daarna is daar nog twee dogters gebore. Die seuntjie is gedoop en die gemeente het regop gesit toe sy name uitgelees word: Jakobus Petrus – Groot Koos se name!
“Ja, en Klein Koos, soos almal hom toe noem, het groot geword, soos in GROOT – ’n blonde jong reus van byna twee meter, wat, soos jy weet, jare lank vir die dorpspan slot gespeel het, dieselfde posisie waarin Groot Koos ’n klompie jare tevore vir die Vrystaat gespeel het.”
Ek het oopmond na tant Eysie gekyk: “Ja, ek moet sê, hy lyk nie soos ’n Ita … tant Eysie, jy bedoel …”
Met ’n vonkel in daardie twee blou oë het sy haar ou grys kop stadig op en af geskud en toe opgestaan en met so ’n lekkerkry-laggie kombuis toe verdwyn om te gaan koffie maak.
MAAR NET ’n OU SKOENMAKER
Vroeg in die vorige eeu, in die tydperk tussen die Driejarige Oorlog en die Depressie, het Joodse smouse die Suid-Afrikaanse platteland deurkruis met allerlei handelsware. Aan die begin was hulle meestal te voet met ’n sak of bondel oor die skouers, waarin die smousgoed gepak was. Daarom was hulle bekend as “bondeldraers”. Mettertyd het sommige van hulle ’n donkiekarretjie of treppie wat deur een perd getrek is, bekom. Later het hulle as gevolg van hul goeie sakevernuf en spaarsamigheid in een of ander ou plattelandse dorpie ’n besigheid begin.
Hier in die koers van 1930 het so ’n ou bondeldraer te voet in Bothaville aangeland. Hy was skraal en vooroor geboë met ’n lang grys baard en sagte bruin oë. Van die kinders het gesê hy lyk soos Liewe Jesus. Die klein Joodse gemeenskappie het hom dadelik opgeneem en hy het sy intrek in ’n pakkamertjie agter een van die Jodewinkeltjies geneem. Hy het ’n paar dae so tussen die winkels rondgekuier en die dorpie verken.
Toe het iemand vertel dat hy hom by meneer O.T. Carey, ’n prokureur, se kantoor sien ingaan het. Die naweek het hy sy intrek geneem in ’n tweevertrek-sinkgeboutjie onder ’n ou groot peperboom langs die hoofstraat. Die voorste vertrek het ’n deur en ’n groterige venster gehad wat op die straat uitgekyk het. Aan die agterkant was ’n kleiner vertrekkie met een venstertjie en ’n bo- en onderdeur.
Die Maandagoggend het daar ’n breë plank bokant sy voordeur teen die sinkmuur gehang, waarop in dik swart letters geverf was: SKOENMAKER. ’n Paar vroegopstaners het dit so in die verbyloop raakgesien en omdat Bothaville in daardie jare nog nie ’n plek was waar veel gebeur het nie, was die dorp se eerste amptelike skoenmaker dié Maandag die hoofonderwerp van bespreking. Die skoenmaker se naam was Abe Steinberg. Hy het nie vrou of kind of kraai gehad nie en het soos sy vinger alleen in die ou klein kamertjie agter sy werksplek gebly.
Hy het uit die aard van die saak geen meubels besit nie en het met planke wat hy iewers bekom het en ou stene ’n paar rakke geprakseer. Meneer Carey het ’n ou stoel en tafeltjie aan hom geskenk en hy het ’n ou ysterkateltjie by iemand anders gekry. Sy ysterlees, hamer, els, tang, spykertjies en naairiempies het hy uit sy bondel gehaal, asook ’n vioolkis. O ja, en hy het ook ’n ou bruin leervoorskoot gedra.
Hy was beleefd en vriendelik met almal en sy Afrikaanse woordeskat voldoende om met die Boere te kommunikeer. Hy het egter nie vriende gemaak nie, hoewel van sy volksgenote soms rukkies by hom ingeloer het. Hy was ’n alleenmens wat sy aande tuis deurgebring het. Soms, as hy so op sy eie daar onder die ou peperboom agter sy huisie gesit het, het hy viool gespeel. En dan het die dorpenaars met verwondering geluister na die vreemde, hartseer klanke wat op die aandluggie na hulle aangesweef het. Sondae het hy soms lang ente langs die rivier gaan stap en dan ure lank op ’n rots of boomstomp net gesit en luister na die water.