Die Skyn van tuiskoms. Lina Spies
na die verbode pêrel soek
maar die see en naakte son
sal jy nooit weer volledig ken nie
voordat ’n ander vlam jou tot die laaste
wit pit teen die blaker brand.
Belydenis
Hoe sal ek sê dat ek jou liefhet
sonder beeldspraak of retorika?
Die woorde tussen mense kom en gaan
met so min erns in die spel.
Ek kan dit met my hande sê,
maar sal die bloute van jou oë nooit raak,
jou intonasie en die gebaar
wat aan ’n mens behoort
soos die uniekheid van ’n glimlag.
Ek kan dit met my lewe probeer doen;
die blaar-filtreerde sonskyn wees,
maar weet vooraf die lig
in my sal met die duisternis
weer sy gemeenskap hou.
Duits en Engels het drie woorde vir die ding
wat geen wetenskaplike formule kan vervat,
geen logiese verband ooit kan verklaar.
In Afrikaans sit ons nog opgeskeep
ook met die hulpwerkwoord.
Wat sal my moeite dus uiteindelik baat?
Ook ek sal my op die vier woorde moet verlaat.
Slotsom
Om jou lief te hê, is meer
as om ’n versreël te skandeer:
die ritme van jou neus en ken
sal hom nooit aan ’n metrum wen.
Jy is dieper, verder as die sin
wat agter woorde lê
en jou geslote hande stiller
as die stiltes tussenin.
Jy is geen poësie en geen musiek,
dus moet ek jou vry van ontleding laat.
Goddank, geen bundel kan ’n aanspraak maak,
geen resensie of vertolking jou besit.
Om jou lief te hê, is anderkant waardering en kritiek.
Meermin
Ontydige loseerder, wat soek jy hier by my?
Weg, jy met jou strandhuisslordigheid!
Jy dra sand oor my drumpel in
en kyk vir my uit ’n gebarste spieël.
Jy wil my dwing om die liefde rond te dra
soos die onnosel meermin van Hans Andersen –
ewige pyn in haar mensebene
waar ’n visstert en reënboogvinne was.
Verspot dié parodie
soos die golwe se dreuning in ’n skulp.
Wat knars jy soos ’n meeu by my
om ’n verlore liefde?
Gaan eet vrot visse op die strand.
Kyk, ek gee jou vir die see present.
Finis
Nou maak ek self nie meer so baie saak nie
want jy’t Bobbejaan na my gestuur met ’n briefie in sy bek
dit was geskryf op varkensblaar
dit was ’n bietjie dof
dit was om my en jou te nooi
na die Apies se bruilof
Jy het al die liedjies van my kindertyd weer in my laat sing
en in my hart die Jakkalse elke dag laat trou
Maar wat sal jy van my kan saamneem?
Miskien wanneer die lewe met jou kotiljons
en lekker wals op die Apies se bruilof
sal jy onthou dat jy vir my Aprilmaand was
– die wolke altyd bietjie voor die son –
en ek ten spyte van die reën kon lag
En jy sal lag
Kuur vir die kuisheid
Ons kan alleen swaar dra:
tasse, boeke, leggers
en agter ’n lessenaar voer ons vlot gesprekke;
ons kan ook werklik praat, byna in enige geselskap tuis,
en boonop van mens tot mens,
veral met mans wat minder seks-begaan
graag diskusseer oor Beethoven, Picasso, Baudelaire.
Maar snags hou die matras
– ons kan die beste tog bekostig –
sy vere volgens waarborg stewig
teen die smeking van ons lyf
en begin ons middeleeus-verspot te droom
dat iemand môre dalk ’n meiboom voor ons venster plant
Hemel
My kat is geel soos ’n papawer
met oë nes botterblommetjies
en ’n voetstap ligter
as ’n sonstreep oor die water
Die mossies in my tuin
het koppies rond soos okkerneute
en ligte lyfies soos gepunte blare
Maar op ’n dag
skerp naels tussen fyn veertjies
en meteens die angs
gestem op die kwint van ’n klein stemmetjie
Dis dan dat ek my voete botter smeer
om langer hier te bly
en nie by voorbaat weg te loop na daardie land
waar die wolf by die lam gaan wei
en die mossie haar eiertjies
tussen die pootjies van die kat sal lê.
Hooglied vir die oorlewende
Hul het die blou parkiet laat swyg,
’n grys doek oor die kou gehang.
’n Kelkiewyn is in Fiskaal se spens gebreek
En op ’n vuurpyl voor die ruit
was Jangroentjie sy hele wysie kwyt.
In die neutetuin blom die granaat,
die suurlemoene in die groen word lig,
dan skielik langs Kanariestraat
piet-tjou-tjou opnuut die pyn.
Vir Anne Frank van Het Achterhuis
Hulle onthou die gaskamers, Auschwitz,
as van lyke, onsigbaar vervoer deur eensame riviere,
die meisie in haar sabbatrok
wat