Die kinders eet viennas, maar 'n man kan nie relax nie. Nico Nel
met ’n bietjie verstand kon sien dat die Volla nie kan ry soos hy was nie.
Hulle het dit gedoen en ons het dankbaar vir hulle gewuif ná ’n belofte om hom weer op die volgende hoek te rol. Met die wegry het iemand geskree: “Onthou, van die olie het uitgeloop!” Ons het olie ingegooi en is huis toe sonder om ’n braaidingetjie te soek.
Die volgende oggend het ons gesien ons Samaritane moes definitief deur die slaap of baie moeg geswot gewees het, want hulle het die kar na die gesonde kant toe op sy wiele gerol. SW het gesê dis OK, want ten minste is die kar nou weer simmetries.
Jag in Klapmuts
Ons het ’n vriend Deon wat baie lief is vir jag. Hy is goed daarmee en kán ’n bok bekruip. Hulle sê dit het menige keer al gebeur dat hy ’n entjie agteruit moes kruip om die geweer tussen hom en die bok in te kry. Hy kon ook vreeslike lang en ver skote skiet op plekke waar ’n mens nie ’n bok kan bekruip nie, maar het later opgehou daarmee toe sy voet beseer is en hy effens mank begin loop het. Hy kon nou nie meer so vinnig stap soos vroeër nie, met die gevolg dat die bok al vrot was as hy daarby aankom.
Ons vriend Deon se Jennie neem nie meer boodskappe vir hom as hy op jag was nie, want nadat hy sy stowwerige jagbagasie in die portaal neer laat plof het en hy bel vir Sakkie terug, sal Deon eenvoudig sy bagasie weer optel, Jennie ’n totsienssoentjie en ’n drukkie gee en vertel hoe lief hy vir haar is en op sy volgende jagtog vertrek. Dan het hy nog nie eers die honde en die kinders hallo of totsiens gesê nie. Jennie voel voortdurend sy kom tweede, maar Deon ontken dit heftig. Jennie het altyd, voor hierdie dag waarvan ons julle wil vertel, dit baie duidelik gemaak dat wat haar betref en in teenstelling met Deon se ongebalanseerde prioriteite, Deon heel eerste in háár lewe is.
’n Jagtery is mos ’n heuglike gebeurtenis waartydens ou vriendskapsbande weer gesmee word, waar lang stories vertel word en waar lekker saam gekuier word – net die mans. Ons wil julle nie nou vertel van so ’n gewone jagtery en alles wat daarop gebeur nie, want dit is stories op hulle eie waarvan duisende jagters julle kan vertel. Al wat nou belangrik is om van so ’n jagtery te weet, is dat dit baie lekker is en dat aan die einde van die somer ’n mens ’n ongekende hunkering na so ’n lekker jag kry. Jy kan nie meer wag vir die veld, die skote, die gelag en die sorgvryheid nie. Jy wens die winter wil kom sodat jy jou tasse kan pak. Jou geweer is al drie keer skoongemaak. Dieselfde lus het eenkeer ons vriend Deon oorval, net in heeltemal die oortreffende trap. Sy hele wese het aan die einde van die somer begin smag na ’n jag, maar dit was nog te warm.
Deon, wat in Somerset-Wes woon, bel toe vir Gert wat êrens in die Agter-Paarl boer en verneem van hom of daar dan nie dalk tog ietsie op sy plaas is wat hy en sy pel Koos kan kom jag nie. Gert, wat nog nooit sy plaas as ’n jagplaas gesien het nie omdat hy met druiwe en beeste boer, is oorbluf, maar met ’n vernuftige stukkie dinkwerk in ’n ietwat muwwe brein val dit hom by van ’n klompie tarentale wat eintlik op sy buurman se koringplaas loop maar wat tog van tyd tot tyd deur die draad kom en geweldige skade aanrig aan sy weiding. (Presies hóé kon Gert nooit sê nie.) Hy en Deon besluit daar en dan dat hulle eintlik geen keuse het as om die tarentale uit selfverdediging te skiet nie. Die goed is ’n absolute pes en dit is onverklaarbaar dat sulke skademakers toegelaat word om te bly leef. Gert sal vreeslik dankbaar wees as Deon en sy pel hulle sal kom skiet. Ná ’n bietjie oorweging dui Deon aan dat hulle tog bereid is om vir Gert die guns te doen.
Om by Gert se plaas uit te kom, moet Deon en Koos deur Klapmuts ry. Dit is ’n heerlike someroggend op hierdie pragtige kraakvars Saterdag. Deon het vir Jennie verduidelik dat hy nie kan gras sny of die honde was nie, want hy moet vir Gert op die plaas gaan help met die uitroei van ongediertes en dat sy jagvernuf die oorweging is waarom Gert nou juis vir hom genader het. Koos gaan saam om met die beplanning te help en veral om Gert se honde in toom te hou, sy weet mos Koos het so ’n slag met honde, want kyk hoe mooi sit hy en Sarie se Maltese op hulle agterbene soos Koos vir hulle geleer het. Jennie onthou dat hulle boerboel eenkeer sy been teen Koos se kuit gelig het, maar sê niks nie.
Die opgewondenheid en die afwagting is groot. Dit was ’n lang jaglose somer en Deon en Koos is vroeg op. Omdat hulle eintlik nie voëljagters is nie, het hulle maar hulle trippel-twee en dertig-nul-ses ingepak en gedink Jennie gaan in elk geval die tarentale fyn kook. Daar is nie tyd vir kos inpak of ontbyt eet nie, so haastig is ons vriende om by die jagveld uit te kom. Hulle vat sommer heelwat geld saam en dan koop hulle vir hulle iets langs die pad.
Toe hulle deur Klapmuts ry, begin die honger aan hulle knaag. Hulle weet van die Klapmuts Hotel vanuit ’n ander hoek, maar lei af dat daar sekerlik ook ontbyt bedien sal word. Elkeen bestel ’n volle Klapmuts-ontbyt. Daar is nie tyd vir vrugtesappies, joghurt-muesli en ander lakseermiddels nie, hulle gaan straight vir die wors, vleis en eiers. Deon wonder hardop of ’n witwyntjie nie goed sal smaak saam met die varkworsies nie. Koos bewonder Deon se genialiteit en merk self slim op dat ’n rooietjie ook sal werk. Saam met die eerste eier en varkworsie is dit ’n vars, koue wittetjie en saam met die tweede eier drink hulle toe op Koos se voorstel ’n rooi Bon Esperance. Saam met ontbyt gaan koffie en dit was nie vir Deon en Koos ’n te groot sprong om die koffie ’n Ierse klappie te gee nie. Toe die tweede eiertjie sak, toe is dit tienuur en Klapmuts se kroeg maak oop. Die suur wyn en die stroopsoet koffie skree vir ’n lekker whiskytjie met soda net om die palette skoon te maak.
Baie goeie mense met heelwat kennis van diamante het daardie tyd mekaar op Klapmuts ontmoet. Die manne van die Suid-Kaap en die Karoo het nie lus gehad om die stad in te ry nie, en al het hulle, sou hulle definitief nie die manne van die Weskus daar gekry het nie, want dié was nogal meer skugter vir baie mense, verkeer en hysers. Die plattelanders het besef Klapmuts is die plek om mekaar te kry. Saterdae was die dae wat niemand gewerk het nie en dan het almal Klapmuts toe gery om te gesels oor nuwe motors, nuwe woonwaens en sommer baie ander nuwe dinge. Tienuur kry hulle mekaar daar, dan bewonder hulle die pragtige knipmesse en pype, gesels ’n bietjie saggies oor ’n onbekende onderwerp en dan weer hard oor die lekker weer en die mooi blomme hierdie jaar in Namakwaland.
Toe hulle dié Saterdag daar kom, toe wag Deon en Koos vir hulle. Deon is ’n prokureur en hy herken dadelik van sy ou kliënte (hoewel hulle gewoonlik agter sy rug in die beskuldigdebank staan) en hulle vir hom. Dit is ’n blye weersiens. Almal het hoeka nou die dag aan die ander gedink en ag, mens moet darem meer moeite doen om mekaar meer te sien. Die Weskusmanne sê as hulle min van Deon sien, gaan dit goed met hulle.
Dit is ’n geselsery wat afgewissel word met pyltjies en pool, want van die Karoo en Suid-Kaap se manne het toevallig baie kontant by hulle wat later in die Weskusmanne se sakke beland. Suid-Kaap en die Karoo probeer nou om die geld terug te wen en Deon en Koos sit hand by aan weerskante van die draad. Deon wen toe ook goed en druk sommer die bolling vyftigrandnote in sy hemp se bosak. Dit skyn mooi rooi deur die dun kakiehempie.
Skielik raak dit sommer middagete en daar word oor en weer genooi. Klapmuts se steak en tjips is altyd lekker. So skuif ons twee vriende weer terug eetkamer toe, maar tóé kuier hulle sommer lekker, want daar is niks verkeerd met ’n wyntjie saam met jou middagete nie, inteendeel, dit word in die Boland deur slim professore en dokters aangemoedig.
Toe dit vieruur raak, besef ons vriende hulle sal nou moet opskud, anders kry hulle nie ’n jag in nie. Gelukkig is dit somer en die dae lank. Gert se buurman se tarentale is seker besig om hom te vernietig, en ’n intense, deernisvolle verlange na Gert wel in hulle op. Hulle besluit om dadelik te ry.
’n Entjie van die hotel af is ’n netjiese huisie met ’n rooi dakkie en ’n goed versorgde tuintjie. In die tuintjie stap die mooiste rooi hoenderhenne met ’n trotse, groot rooi haan tussen hulle. Hy blink rooibruin in die middagson en sy houding is trots en regop, amper uitdagend. Mens kan die besitlikheid oor die henne in sy oë sien. Sy kam en lelle is dieprooi en wapper in die middagluggie. Hy skrop vir iets in die harde grond en kyk dan met een oog wat hy dalk losgeskrop het en met die ander of die henne gesien het hoe diep hy in die kleikors ingeskrop het met sy kragtige naels en sterk bobene, ingeval een van hulle dalk ’n bietjie wil afsak grond toe en hurk in sensuele, verleidelike oorgawe. Deon sê hy dink dit was die half hardegat houding van die haan wat Koos se aandag moes getrek het, want toe hy nog nader kom aan die bakkie, sien hy Koos se trippel-twee se loop kom oor die bakkie se kap en die skoot klap. Dit is ’n netjiese skoot,