Katvoet. Riana Scheepers
die vuur hang. En kaas. En ’n sny brood met botter.
Hy vertel haar van ’n lang reis, van sy verlange na die Weskus, die vreugde om weer terug te wees.
Toe die Suiderkruis en die Skerpioen skeef teen die horison van water hang, groet hy haar en stap die nag in.
Die vrou klim tussen die koel linnelakens van haar houtbed in. Sy luister na die nag. Sy luister of sy die man se voetstappe oor die klipbank kan hoor, maar sy hoor niks, net die branders wat in die nag se laaggety sy asem intrek en ophou.
Die hele lente en somer is hy by haar. As die water met die draai van die gety stil word, swem hulle uit tussen die rotse, duik af in die skoon, ysblou water. Bamboes wieg in skaduwees om hulle, hulle sien die glip van visse, soms die skugter spriet van ’n kreef wat wegtrek as hy van hulle bewus word.
Toe hulle liggame bruin is van die somer en die nagte snags ligblou is in die gloed van die melkweg, bly hy by haar sonder om weg te gaan.
Hulle leef stil, sonder baie woorde.
Snags eet hulle vis en drink wyn.
Hulle sit om die kerse op die tafel totdat die was oor die blakers drup en flakkerend doodsmoor.
Hy vat met sy vingerpunte aan haar mond.
Dit is met die koms van die herfs dat die vrou in die oggendlig iets vreemds opmerk. Sy trek haar hand, wat deur die nag op die man se skouer gelê het, saggies weg.
Onder die ronding van haar hand kry sy dit. Die ragfyn web-patroon van ’n veer. En toe hy slaapwarm omrol en met sy rug en heupe teen haar maag nestel, sien sy. Dat sy skouers lieflik en bruin is.
En vlerk word.
En toe sy ’n paar dae later teen daglig wakker word met vlerkgeruis om haar heen, weet sy dat sy weer alleen sal wees in haar klein vissershuis.
Tot die eerste dag van die lente.
Volgende jaar.
Wonderwerk
Hieroor sal ek met niemand kan praat nie, selfs al het my tong reggelê vir woorde. Wie sal my in elk geval glo as ek hul vertel?
Die wonderwerk, dít is wat met my gebeur. Dit waarvoor ek al jare wag, dit waarvoor ek nagte lank op my knieë gestaan en gesmeek en geglo het, met ’n brandende hart geglo het, dit gebeur nóú.
Ek het eers laat in my lewe die woord leer ken wat my toestand beskryf: doofstom. Vir my was dit nooit ’n probleem nie. Hoekom sou dit, ek het niks anders geken nie.
My pa en my ma, hulle het swaargekry. Veral my ma, sy wat soveel ure gesukkel het om my te leer praat. Ek het haar mond sien beweeg, ek kon die ligstraaltjies in dartelende patroontjies uit haar geronde, getuite, vertrekte mond sien kom, dit het geluide gemaak wat ek nie kon hoor nie, maar ek kon dit sién. Ek het probeer, regtig, ek het my mond gerond en getuit en vertrek en my asem deur my keel gestoot, maar dit wat ek kon uitkry, het my ma se gesig laat verstar.
Sy het moedeloos geword, ná ’n ruk het sy opgehou om my gesig in haar hande te neem om my te leer geluide maak.
Waarom moes ek praat? Van kleintyd het ek geweet wat om my aangaan. Ek kon nog altyd vir mense laat weet wat ek wil hê, wat ek dink. Praat is nie die enigste manier om iets te sê nie.
Mens leer ook hoe om te luister. Jy kyk na die ligstrale wat uit mense se monde kom. Soms is daar sagte golwe, soms dans en dartel die vlokkies lig, soms is daar harde ontploffings wat uit ’n gapende mond sketter. Ek weet wat mense sê.
Ook wanneer hulle lieg. Onfeilbaar sien ek dit, daar kom ’n troebel, spoegende stroom woorde uit hul monde. Die monde lag, die oë gryns.
My wonderwerk het begin toe die mense van die tent op ons dorp aangekom het. Dit is my bejaarde ma wat my saamgesleep het. Kerkdienste, musiek, mense wat hul hande opsteek na God en verlossing.
Sy het gesmeek dat God my sal red uit die hel van stilte. ’n Man met ’n skraal gesig het sy bewende hande om my gesig gevou en sy oë opgehef.
“Here,” het hy gebid, “skenk in u genade aan hierdie man die wonderwerk van gehoor.”
Die helder stroom lig uit sy mond het reguit na bowe gestyg, wierook en mirre, ’n lieflike offergawe was sy versoek. En ek het skielik die brandende begeerte gehad: Here, open my ore.
Hy het afgekyk na my en gevra: “Glo jy?”
Ja, ek het geglo.
En lank nadat die tent afgeslaan is, en die mense verdwyn het, het ek steeds geglo. Dat God my ore sal oopmaak sodat ek kan hoor hoe dit klink as mense lag en praat. En skel en vloek en sing en neurie en troetel en bid. Op my knieë het ek gestaan en gebid en geglo.
En niks gehoor nie.
Totdat ek op ’n dag geweet het dat ek ’n teken moet gee, dat ek vir God moet wys dat ek glo. En daarom het ek my geld gespaar, elke sent wat ek kon, sodat ek by ’n winkel kon instap en ’n radio koop.
Die radio was stom. Vir jare lank, niks. Net die donkerte van eeue as ek die knoppies gedraai het.
Tot skielik, vanaand.
Ek het die radio aangeskakel. En daar was klank.
Effata, het die stem gesê, soet soos heuning, voordat ek verblindend opgeneem is in sagte arms.
Markus 7:34
Martiens Langasem
As dit nie was dat die windpomp gebreek het nie, sou ons nooit vir Martiens leer ken het nie. As die windpomp aangehou het met goed wees en water gooi, sou die stomme mens reddeloos verlate en vergete in sy graf bly lê en heeltemal grond geword het. Nou is die man waarvan ek praat weer ’n mens, hy loop hiller oordag hier tussen ons rond op die plaas en ons roep hom op sy naam. Martiens.
Al kan ons hom nie sien nie.
Ons koop ’n stuk Karoogrond op die grens van die Ceres-Karoo en die Tankwa. Dit is die mooiste, beneukste stuk klipgrond op die aardbol. Want daar waar jy dorings en klip verwag, daar sien jy op ’n dag varings en ’n plaat veldorgideë wat jou in jou spore stuit. Daar waar jy ’n sagte skaaplam verwag, daar spring ’n rooikat jou om en kronkel koperkapel om jou voorarm. Daar waar jy dink jy sien droogte en niks, daar staan die balderja in ’n groen geurigheid en roep kelkiewyn jou vir ’n kelkie wyn.
Soos dit woort, breek die windpomp kort nadat ons die plaas oorvat. Die wind waai dat dit bars, die windpomp se vlerke waai dat dit ’n vaste sirkel maak, maar die water bly onder die aarde en roggel weg in die dieptes. Ons, wat niks van windpomp weet nie, nie tóé nie, soek hot en haar na iemand wat die regte goed het om ons te kom help met die windpomp wat roggel. Maar in die Tankwa is die plase wyd en ver. Die meeste is onbewoon. Wintertyd, ja, dan ja die boere die skaaptroppe af van die eskarp sodat die diere ’n genadiger winter op die vlak kan deurbring. Wintertyd is daar op elke plaas lewe en doenigheid, die mense kuier oor en weer en dra nuus heen en weer, maar kom die eerste lentegroen, dan gaan die skaap weer vort die berg op, én die mense wat saam met die skaap loop.
In dié tyd van ’n windpomp sonder pomp kom Frikjan Losper met sy ou bakkie by ons aan, hy soek weiding vir sy paar skaap vir die somer.
Ons sê nee, hierie stuk klipplaas is darem te verwaarloos en sleg bewei deur die vorige mensdom, ons wil drie jaar laat rus. Maar intussen is die windpomp stukkend, en weet Frikjan Losper nie dalk van ’n mens wat windpomp kan werk nie?
Ja, sê hy, meneer sal dit nou nie glo nie, maar hy is daardie mens, ja, hy sal die werk doen, maar dan in ruil vir sy paar skaap se weiding vir die somer.
So erg verwaarloos is die veld nou ook nie.
Frikjan kom naweke en werk aan die windpomp.
Dit is ’n moerse gedoente, dit is nie net vir een twee drie pype uittrek en suiers regmaak nie. Die werk begin die een naweek, gaan oor na die volgende naweek. En nog naweke daarna. Elke keer bring ons nuwe pyp en suiers en wassers vir wat stukkend en weg en heeltemal vrot verroes in dieptes