Abel se lot. Chris Karsten
>
Abel se lot
Chris Karsten
Human & Rousseau
Vir Mentz en Hanlie
The direction, though not the nature, of his destiny was clear before him, and there was no need to trace the devious path by which he had come. The ancient mechanisms of the Star Gate had served him well, but he would not need them again.
– Arthur C. Clarke, 2001: A Space Odyssey
Vooraf
Van die hoek van die park af, uit ’n ruigte van lang gras onder wag-’n-bietjies en frangipani’s, dra ’n klam, warm bries die reuke windaf. Die bye kry die geurige aromas van blomme, die brommers die stank van vleis, vaag, maar onmiskenbaar bedorwe.
Die subtropiese lug is bedompig, selfs so vroeg in die oggend al. Gedurende die nag het die cumuluswolke oor die groot meer opgesteek, en stortreën het die eerste vroegopstaners na onderdak laat terugskarrel.
Nou is die bui oor. Die lae, donker stapels het oorgeskuif berge toe, bedek die pieke en kruine. Agter hulle net die hoër, dunner vliese wat die skerpte van die oggendson mistig en broeiend demp. Die reën het die lug skoon gewas, die vloedwater het die stad se straatvullis opgeruim in opdrifsels teen randstene, die slaggate in die teer gevul met bruin poele.
In die smorende hitte hang ’n dynsige stoomnewel oor die nat gras van die park. Die Sarcophagidae en Calliphora vomitoria kon skaars vir beter toestande gevra het.
Die groot mark is twee strate van die park af. Die kolossale sinkstruktuur beslaan byna ’n hele straatblok, herinner besoekers aan ’n reusevliegtuigloods. In doolhowe van stalletjies pak die handelaars en smouse hulle negosie uit. ’n Kakofonie van stemme, die muwwe reuk van tekstiel en klam liggame, skerper die reuk van vars vis uit die meer, van rou vleis, groente, brood, die soet walms van wierook.
Van vroeg af al ’n samedromming van mense en vlieë. ’n Babelse harlaboerla van boorlinge wat kos en klere kom soek, toeriste soeweniers om huis toe te vat, handgemaakte artikels van leer en seepsteen en hout. Veral die etniese houtmaskers is gewild. Buite warrel rook die lug in van vure wat aangesteek word in konfore en konkas vir die koskraampies.
Dit is hier, van die markplein af, waar die brommers en vlieë die onweerstaanbare snuf van vars aas kry, van vlees wat in ’n hoek van die park in die vogtige hitte ontbind. Die sterkste vlieërs – die grys, vet vleisvlieë en die blou brommers – draai windop, vat koers teen die lugstroom in wat die reuk bring. Langsamer volg die huisvlieë.
Hulle kry die liggaam onder die stoomwasem in die lang gras, sak toe op die natuurlike klam liggaamsholtes van oë, neus en mond. Selfs ’n oksel of lies wat maklik bereikbaar is, bied baie om te vreet en die perfekte beskermde omgewing om te broei en voort te plant.
Vanoggend wag goeie geluk. Aan hierdie liggaam is trauma. Die insekte verkies oop wonde wat proteïenryke vloeistowwe verskaf voor die Sarcophaga-wyfies hulle larwes deponeer en die Calliphora-wyfies hulle eiers. En dié wonde is vars.
Maar het hulle voor die nag se reën al die reuke gekry, sou hulle nie gekom het nie. Hulle is dagvlieërs. Snags deponeer hulle nie larwes nie, lê nie eiers nie, hoe aanloklik die reuk van bedorwe vleis ook al.
Kort ná die Sarcophaga en Calliphora kom die Muscidae, gewone huisvlieë. Die ander aasvreters, die kaasvlieë (Piophilidae), het nie erg aan ’n vars kadawer nie en kom eers wanneer die proteïen begin gis. Die kewers verkies verdroogde dekhuid, nie sagte weefsel nie, dus gaan die eerste koloniseerders ongesteurd voort.
Twee dae later beweeg hul maaiers in só ’n digte, dolle gekrioel oor die liggaam dat dit lyk asof die kadawer tog weer lewe gekry het. Die hitte van die maaiermassa verhaas die proses van ontbinding. Hulle versprei bakterieë en produseer verteringsappe wat hulle help om die sagte weefsel van die liggaam te verorber. Maar voor die maaiers, vet en wit, uiteindelik ophou vreet en ’n droër plek soek om as papies in verharde velle toe te vou, word hulle lewensiklus onderbreek.
Laatmiddag op die vierde dag draai die wind. ’n Portier stel ondersoek in na die erge stank wat nie uit die rigting van die mark kom nie. Hy kry die liggaam onder die wag-’n-bietjies in die hoek van die parkgronde van die Prince Louis Rwagasore-kliniek. ’n Gekoek van wit maaiers waar eens ’n gesig was.
Deel 1
Murder for gain, people can understand that. Or murder in war, something depersonalised, they even invest that with a kind of heroism. You die for your country, you kill for your country. That’s very acceptable indeed, you get medals for it and handclapping and cheers. – Tom Parker, Life after Life
1. Johannesburg, Suid-Afrika, Hede
Langs ’n hoop kleigrond leun vier munisipale werkers op hulle pikke en skopgrawe, stewels aangepak van rooi modder. In geel plastiekreënjasse, kappies oor die kop, op die rûe geëmbosseer PARKS & RECREATION. Hulle werk is eers klaar, nou rus hulle en rook bakhand, nat en bedremmeld, maar tog nuuskierig.
Die twee pikslaners het die aanvoorwerk vir die gat gedoen. Ondanks die reënbui is die grond dig en hard gekompakteer van jare se onversteurd lê. Die twee met die grawe het die los grond met swierige, gemaklike hale buitentoe geskiet, uitgeklim, opsy gestaan, weer die pikslaners laat inklim. Al hoe dieper terwyl die hoop grond langsaan groei.
Met die eerste druppels uit die loodgrys lug is die grawery gestop, ’n afdak van seil laat kom, op aluminiumpale oor die gat opgeslaan om die reën weg te keer. Die vier manne met hulle pikke en grawe het beurtelings in die gat teruggeklim en hulle werk hervat, dankbaar vir die skuiling.
Hulle toesighouer het onder beskerming van die seil aan sy koffie geslurp en sy gewig kort-kort van een been na die ander verplaas. Op die gestipuleerde twee meter het die groepie onder die seilafdak gehoor hoe ’n graaf ’n harde voorwerp tref. Die opsigter het die termosfles se plastiekbeker effe laat sak, vooroor geleun vir ’n kykie in die gat af, die twee grawers kortaf vermaan: “Pas op.”
Nou is die graf oopgegrou, die kis ontbloot.
In ’n groot vierkant om grafte in hierdie ou deel van die begraafplaas het die polisie ’n plastiekbanier gespan met die waarskuwing: NO ENTRY – CRIME SCENE. Die opsigter meen die banier met die herhalende bewoording is erg oordrewe. Dit is sý begraafplaas, en in sý heilige domein is g’n misdaad gepleeg nie. Hierdie is g’n misdaadtoneel nie, net ’n sensitiewe, selfs roerende, operasie om ’n kis te herwin. Sonder die teenwoordigheid van enige naasbestaandes op hierdie triestige laatmiddag.
Sy blik dwaal oor die grafte heining toe. Die kolonel was baie beslis: niemand word binne toegelaat terwyl die grouery aan die gang is nie. Daarom staan hulle buite die begraafplaas, al langs die draadheining en sipresse: die karre en die nuuskieriges. Beduie met die vinger na die doenigheid tussen die grafte, wonder wat presies aangaan, fluister onderlangs, want die oopgrou van ’n ou graf verdien respek.
Onder die afdak word, ook met gedempte stemme, beraadslaag oor die volgende stap. Die opsigter skiet die droesem uit sy beker anderkant toe, vryf met ’n duim oor die stoppels aan sy ken. Hy staan effe eenkant, nie deel van die gesprek nie. Sy werk is om gate te grou en weer toe te gooi. Wel, toe te sien dat sy arbeiders dit doen. Vir sy werk hoef hy hom nie elke oggend te skeer nie, miskien op ’n Maandagoggend, en dalk weer Vrydag, voor die naweek. In sy wendyhuis by die ingang van die begraafplaas ontvang hy selde besoekers; hy meng nie met die treurendes wat hulle afgestorwenes ter ruste kom lê of kom besoek nie.
Hy skroef die termos se beker terug, beloer die skraal figuur wat eenkant staan, half onder die seil uit. Asof sy onbewus is van die motreën, of dalk gee sy net nie om nie. Kort, nat hare, druppels wat blink oor haar wange afgly, langs haar neus, teen haar keel en nek af.
Hy