Rugbyballe en bikini’s. Janie Oosthuysen

Rugbyballe en bikini’s - Janie Oosthuysen


Скачать книгу
rol my oë. Klein boeties is net só not cool. En ma’s is erger.

      Eindelik ry ons Duinebaai se karavaanpark binne. Ek sms vir Jana om by hulle tent te wees as sy haar lewe liefhet. Daarna bestudeer ek die talent. Hopelik is hier ’n paar oulike ouens en nie net ’n spul gomme nie. So vinnig lyk dit nie te sleg nie.

      Ma lyk of sy tennis kyk soos haar kop heen en weer draai terwyl ons na ons staanplek ry. “Lyk lekker,” sê sy. “Mooi groot koeltebome en oorgenoeg gras waarop Lauren kan speel. Aa, daar’s die badkamers, ek neem aan die wassery is ook daar.”

      Pa stoot die Cruiser se neus onder ’n melkbos in en die afpakkery begin. Jana kom aangehuppel en slaan haar arms om my. Haar pa kom bier in die hand nader en terwyl die mans besluit presies waar die tent moet staan, ruil ek en Jana nuus uit.

      “Lindi-hulle is ook al hier,” sê sy. “Jy sal baie van haar hou. Hulle kom elke jaar van Bellville af. Haar pa’t ’n rubber duck en hy laat ons altyd ski. Kom ons gaan sê gou vir haar hallo.”

      Net toe ons wil wegspring, wink Ma my nader. “Anelle, gaan stap asseblief tog net ’n ent met Lauren. Sy’s moeilik ná die dag se ry; ek is besig om mal te raak.”

      Ek wil flou val. “Ma-ha!” keer ek. “Hoekom soos in altyd ek? Wat van Arno? Dis darem seker ’n slag sý beurt – anders is dit seksisties!”

      Ek voeg die laaste stukkie aspris by, want Ma werk haar graag op oor dinge soos seksisme en ekologie, en wat nog. Maar my uitgeslape kleinboet het reeds met ’n sak tentpenne in die hand om die kant van die karavaan verdwyn.

      Asof.

      Jana beduie sy sal saamstap, maar haar ma roep uit hulle karavaan dat sy aartappels moet kom skil. “Flippen vrot idee,” fluister sy, “ons tente so langs mekaar. Ons sal ’n ander uithangplek moet kry, anders gaan die oumense ons heeltyd rondshunt.”

      “Neutrale terrein,” beaam ek. “Ver van die slawedrywers af.”

      Jana giggel en draf weg. Ek lig Lauren uit die stootwa met die groot waskomwiele en plak haar op my heup. Ma moet mal wees as sy dink ek gaan met hierdie ou antique in die openbaar verskyn. Sy het die ding by ’n oudhedewinkel gekoop en dis vieslik.

      Ek skuif Lauren reg en stap na die badkamers wat ’n hele ent van ons kampeerplek af is. Ek kan net sowel gaan kyk waar alles is noudat ek geen keuse het nie – dis darem iets om te doen. En dalk kry ek ’n paar punte by Ma as ek met ’n goeie verslag by die karavaan opdaag.

      Daar aangekom, stoot ek die dames se badkamerdeur oop en kyk rond. Die baddens en die storthokkies is netjies en skoon. Ma sal daarvan hou. Ek stap uit en soek die kombuis. Daar’s stowe en ketels en yskaste. Ma sal baie daarvan hou.

      Met ’n lied in my hart soek ek die waskamer. Ek sien dadelik dis ’n probleem. Daar is ses staal wasbakke en drie strykplanke. Daar is selfs strykysters. En ’n spul wasgoeddrade.

      Maar geen wasmasjien.

      Ek soek oral. Tot agter die deur. Ek raak wanhopig. Dit kan nie wees nie. Hoe agter die brug kan ’n plek wees? Dis die een-en-twintigste eeu, flippit! Ma gaan die dinges in wees. Veral nadat sy oor en oor gevra het of daar ’n wasmasjien is.

      Wat gaan ek vir haar sê? Ek byt op my onderlip. Dan skud ek dit van my af. Dis nie ’n vyfsterhotel nie, dis ’n kampeerplek, Ma kan nie alles wil hê nie, die lewe werk nie so nie. En in elk geval, hoekom koop sy nie weggooidoeke nie? Dis net só vorige eeu om nog met lapdoeke te sukkel.

      Met Lauren op my ander heup stap ek uit. Dis erg hoe swaar so ’n baba kan word. ’n Ent verder staan ’n grasdakgebou onder die grootste bloekomboom wat ek nog ooit gesien het. Die harde musiek en stemme wat daaruit kom, verklap dat dit die klubhuis is.

      Die skuifdeure staan oop en ek stap in. ’n Paar ooms met boepense sit by ’n kroegtoonbank. ’n Klompie kleintjies eet slap tjips voor ’n televisieskerm. ’n Groep ouens staan en stry oor wie se beurt dit is om tafeltennis te speel. Hulle lyk gommerig en ek besluit om liewer te loop, maar ’n spottende uitroep laat my aarsel.

      “Wel, hal-lo … e … Mammie!”

      ’n Vent met ’n vaal kuif en ’n plat wipneus staar na my, sy voete uitdagend wyd geplant, sy hande gestut op die tafelblad agter hom. Hy grinnik en pomp die ou langs hom in die ribbes met sy elmboog. Dié vieslike ding het sproete en ’n rooi Mohawk. Dis net só laerskool.

      “Bietjie gou begin, hè?” Die vaalkop grinnik. “Bietjie jonk vir ’n mammie, hè?”

      Die Mohawk giggel tanderig. “Los die kind uit, Johan,” sê hy. “Jy kan mos sien sy speel nog pop.”

      Die ander seuns brul van die lag.

      Lauren steek haar hele hand in haar mond. Sy moet net nie nou kots of begin skree nie. Ek kan nie vinnig genoeg buite kom nie.

      Dis ook net my geluk. Ek het skaars my neus by ons tent uitgesteek of ek loop my vas in Vlakvark en sy vriend Hoender. Dis beslis nie ’n goeie begin vir ’n vakansie nie.

      Nie ’n goeie begin nie?

      As ek geweet het wat nog alles met my gaan gebeur, het ek dalk die hele vakansie in ons tent weggekruip, glo my.

      hart3.jpg

      Ek bewe nog toe ek by die karavaan kom. Wie dink die urk is hy? En vir wat noem hy my “Mammie”? Wie gee hom die reg?

      Ek sit Lauren in haar stootwa en gee Mr Potato Man en ’n natgekoude Lalaloopsy-lappop, wat ek nog vir haar gemaak het, vir haar aan. Toe glip ek na Jana-hulle se kampeerplek en loer om die tentflap.

      “Is jy klaar?” fluister ek, bang haar ma hoor my.

      Jana staan by ’n opslaantafel met ’n suur glimlag op haar gesig en ’n aartappelskil in haar hare. “Kom ons gaan stap net,” sê sy. “Dat ons kan praat.”

      Ons haak in en kies koers oor die grasperk.

      “Wat weet jy van ’n nerd-gesig met die naam Johan?” vra ek, toe ons ’n veilige ent weg is en Arno met sy lang ore ons nie kan hoor nie.

      Sy loer na my. “Bedoel jy Johan Bekker?”

      Ek gooi my hande op.

      “Hoe moet ek weet? Vaal hare, varkneus en ’n Mohawk-pel.”

      Jana bars uit van die lag. “Definitief Johan Bekker!” Sy kyk skeef na my. “Snaaks dat jy in hom belangstel, ek het nie gedink hy’s jou tipe nie.”

      “Ug! Sies! Hou op, jy maak my naar. Hy was in die klubhuis saam met sy pelle. Hy’s creepy, ek sê jou. Sê vir my ‘mammie’ en sulke goed.”

      Jana giggel. “Tipies Johan. Hulle kom elke jaar. Dink hy’s wie oor sy pa glo geld het.” Sy swaai haar hand asof sy ’n brommer wegwaai. “Vergeet van hom. Nie dat jy veel van hom sal sien nie. Hulle meng nie juis met die kampeerders nie. Bly altyd daar teen die berg in ’n chalet.” Sy rol haar oë.

      “Dis goeie nuus,” sê ek.

      “Kom ons gaan kyk wat maak Lindi. Daar’s hulle tente. Dan reël ons sommer om môre saam see toe te gaan. Lindi!” Sy klap teen ’n pers tweemanstent. “Kom sê hallo!”

      Lindi het ondeunde grys oë en ’n verbasend harde stem vir so ’n kort mensie. “Oe, lekker,” sê sy terwyl sy my van kop tot tone bekyk. “Nuwe mense. Móói mense! Het jy ’n broer?”

      “Tegnies ja, maar hy tel nie, hy’s nege.”

      “Ug. En susters?”

      “Een. Sy’s sewe maande.”

      “Jeez.” Lindi staar na my. “Ek sal my ma vermoor.”

      “Ek het amper,” erken ek. “Maar nou’s ek al so gewoond daaraan, dit sal nogal snaaks wees sonder haar.”

      Sy


Скачать книгу