Lot se vrou. Joan Hambidge
Lot se vrou
Joan Hambidge
Human & Rousseau
Vir Libbet
I really can’t stand the cantatas of J.S. Bach,
The distribution of sounds and silence is too perfect
I need yelling, a corrosive magma, an aggressive approach
Ripping to bits the silence of the night.
– Michel Houellebecq
Lot se vrou
Snags keer hulle terug,
die verlore geliefdes
in my troebel drome.
My eerste groot geliefde,
’n Medusa, lag grys en bitter
oor my donker woorde.
Kriptomnesia, skel sy:
alles wat jy skryf reeds elders op-
geteken. In drome word jy
ge-Delmore Schwartz, ge-Delmore Schwartz.
O ek is Lot se vrou,
Lot se vrou,
wat terugkyk na die hart wat brand.
Die ander onwillige muse
hou glo ruggespraak oor ons,
verklap aan almal hoe slordig
aanmekaar gestik is my gedigte.
O ek is Lot se vrou,
Lot se vrou,
wat luister hoe my woorde smeul.
Die ander een
ja, sy die donker skikgodin,
het my in die openbaar verguis,
my woorde, liefdeswoorde verpand
om haar nie-aandadigheid te bewys.
Oor haar droom ek nooit.
O ek is Lot se vrou,
Lot se vrou.
Reünie
’n Onverwagse oproep
vir ’n samekoms: “ons matriekklas
se reünie …” vra hoeveel onse in u pond?
Ek stof die kiekies in my geheue af,
vind geen kleurfoto, net die donker grein
van onwillig, onbegrip, ongenooid …
die Skeinat-onnie met sy ongebreidelde snor
bliksem ’n matriekseun met ’n bordpasser tot in trane,
die Biologie-juffrou bloos oor die geslagsontwikkeling
van die den (en pouse is dit Nuwe verse en Eybers
in die donker biblioteek met ’n Dewey-sisteem),
wyl Die Afrikaanse Onderwyser humor wurg
uit Die Burgemeester van Slaplaagte en Van Wyk Louw
one-two-cha-cha op die politiek van die dag gooi
soos wors en tjops op ’n helse braaivleisvuur.
Maandag open Die Skoolhoof met skriflesing en verwyt
oor twee prefekte se gevryery op die rugbyveld
(ja, die maan het lósgekom), wyl ’n vriendin tjank
in die Duitse klas oor dít wat nie staan
in die skooluitgawe van Raka.
Gemuurblom kyk ek toe: die two-step op “Pretty Belinda”
met die hoofseun (nie met my), maar met háár wat later
wegskuif toe ons Waterloo dek tot in die iteratief-duratief
van hierdie morsige gedig.
Uit die wat van onse hemel, dreunsing ons …
Op Kelly’s Heroes voetstamp ons in die saal.
Quid est? krap ek voor in die TOD se Latyn-handboek.
’n Klasparty van ’n ryk boer se dogter
nooi almal wat vermoeid is en kan ontlas
– behalwe die Onderdorpers en Buitebaners –
en die matriekafskeid eerder in die vergeetboek geberg.
Daar blou die swembad, groen die gras immer en altoos.
Die atletiekveld laat steeds sy skote knal:
in die geheue se rekordboek bly alles opgeteken.
My goue matriekmedalje vir Beste Leerling geskaai.
Liebe Dein Symptom wie Dich Selbst!
En vermy reünies soos die pes.
II
Ars poeticas
There’s always a city, and traces of poets
Who have met their destiny within its walls,
Water is leaking, and memory whispers
Names of cities, people, holes in your head.
– Michel Houellebecq (“A long farewell to the sounds of poets”)
Rembrandt: Twee intellektuele in dispuut, 1628
Waaroor sou hierdie grysaards praat?
Die een druk ’n vinger op ’n passasie
en as dit Petrus was, in gesprek met Paulus,
soos kunshistorici meen, het ons hier
Paulus na regs, wat die draaipunt sal verdedig,
teenoor die twyfelende, weifelende Petrus.
Daar word groot gewag gemaak van die chiaroscuro,
die ritmiese visuele harmonie, die dramatiese intensiteit
van die meester se uitsonderlike periode in Leiden.
Die besonderhede van boeke, doek en kerslig.
Of is dit skilder self in tweegesprek, ego en alterego?
Kunstenaar én mens? Twyfelaar én gelowig?
En, en; eerder as of, of? Wie sou hierop lig
kon werp? Die ewige spel tussen skilder en dig?
Die intieme aard van die digkuns
Hoe weet ek, vra jy my,
’n argument in ’n vers werk of nie?
Jy soek ’n reël, eis jy dringend; die juris
vra vir uitsluitsel, anders blote snuifsels van die gode.
Ek kyk na al die handleidings vir dié stil bedryf,
blaai verwonderd deur Ottone M. Riccio se boek,
ontdek ’n kaart van Praag: Hotel Jalta,
110 00 Praha 1, tel.no. 265541.
Nóg my naam nóg aankoms en vertrek
hier aangestip. Maar in my verbeelding
is ek weer op soek na Franz Kafka se huis
met die klein plattegrond in my hand