Uit die binneland. Dana Snyman
van Potties s’n. Hy’t hom nou die aand naby die Floyd Hotel teen ’n boom ge-smash.”
Dit was ’n droomwêreld, ja. Maar jy sou dit nie gesê het as jy die aand daar was toe The Champ gewys het nie. Jon Voight wat die hoofrol vertolk het, was ’n bokser wat sy laaste geveg moes wen om sy seuntjie, gespeel deur Ricky Schroder, te behou. En toe verloor hy dit.
Nee erger, ou Jon word doodgeslaan, met Ricky wat nader hardloop en aan hom ruk en skreeu: “Champ, wake up! Please, wake up! Champ! Wake up!” My ma en ouma het ’n boks Gary Player-sneesdoekies opgehuil. My pa, ook duidelik aangedaan, het weggery met die luidspreker nog in die venster vasgeklem, ondanks oom Thys se herhaaldelike waarskuwings.
“Wake up, Champ! Please, wake up! Champ, wake up!”
Ek glo ook steeds Jamie Uys se Dirkie sou nie vir my so ’n uitmergelende, Freudiaanse ervaring gewees het as ek dit nie in die inry gesien het nie. Daardie hiënas wat vir Dirkie wou vang en die skerpioene wat hom wou steek … Dit was net soveel te meer realisties daar in die veld met die sterre hier bokant jou.
“My pa het my lief, hy sal my nie vergeet nie. My pa het … ” het Dirkie oor en oor gesê terwyl hy kringe in die Namib stap – ’n toneel wat tydens die Grensoorlog vir baie Suid-Afrikaanse seuns die eerste kennismaking met totale, absolute eensaamheid was. Hier is jy stoksielheeltemalalleen in die Namib, vaderloos, moederloos en Valiant-loos.
Maar daar was nie net terroriste en trane in die Bosveld-inry nie. Inteendeel.
Hoe het ons nie gelag vir Don Leonard en Tobie Cronjé nie! En die Carry On-flieks. Hoe het ons ons nie verwonder aan Bruce Lee se spronge en skoppe terwyl hy manalleen ’n hele garnisoen Chinese karatevegters in Enter the Dragon uitwis nie (net omdat een van hulle die vorige dag ’n bord of iets in Bruce se oom se restaurant gebreek het).
En jy onthou Clint Eastwood se onsterflike woorde in Dirty Harry beter as enige ander woorde in enige ander fliek. Want tydens die vertoning het dit begin reën en is die drama verhoog deur die aanhoudende “ka-tjir-tjir” van die Valiant se ruitveërs oor die windskerm: “Go (ka-tjir) ahead, (ka-tjir) make my (ka-tjir) day.”
En wat van die keer toe jou ma haar klein Fiat 128 vir jou geleen het om Ronél Smit inry toe te neem? Jy weet nie meer wat gewys het nie. Jy weet wel Ronél het Charlie-parfuum aangehad en terwyl die ruite rondom julle toegewasem het, het jy ontdek ’n Fiat 128 se kajuit is eintlik heel ruim.
Toe, in 1975, begin die eerste TV-uitsending.
Meteens wou almal net TV kyk: World at War, Little House on the Prairie en die verveligste natuurprogramme, totdat die vlaggie saans laat wapper en “Die Stem” begin speel.
Oom Thys het hard probeer. Hy het twee vertonings vir die prys van een in die Bosveld-inry aangebied. Hy het hot dogs se prys afgebring. Hy het selfs een aand vir Don Leonard gekry om handtekeninge voor die kafeteria te kom uitdeel.
Vergeefs. TV het op die ou end gewen.
Nou lê die groot skerm daar in die lang gras, voos geroes.
“Wake up, Champ! Please, wake up! Champ, wake up!”
Ek het nou die dag ’n klip in die Bosveld se oopte opgetel en huis toe gebring. Die lewe is verandering. En mens bly op soek na wie jy eenmaal was.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.