.
HELENE DE KOCK
Omnibus 9
Man van gister • ’n Bruid vir vier seisoene Huwelik in die herfs • Uur van die Sewester
Human & Rousseau
1
Peet staan voor sy koshuisvenster en uitkyk op die welige jakarandaboom wat pers bloeisels drup-drup in die soel middaglug. Hier en daar kruip die teergroen van lower reeds deur die wasagtige blommetjies. Die blomtyd sal oor ’n ruk verby wees. Nog ’n paar weke en die somer se warm greep sal die bloeisels smoor, en die boom sal rypgroen blare spruit. Dis ’n patroon wat homself al vyf jaar lank hier voor sy venster kom herhaal. Dit op sigself was nog altyd ’n belewenis, te meer omdat dit altyd gepaardgegaan het met die trauma van die eksamen. Hier het hy deur sy eerste graad in die regte geworstel en met lof daarin geslaag. Daarna het hy die stekelrige sweetpad met ietwat meer gemak geloop, en sy LL.B. was ’n akademiese sege. Oor ’n jaar, so is die plan, vertrek hy na die Rijksuniversiteit van Leiden …
Maar eers is daar die vakansie op Damplaas. En ten laaste, dink hy ’n klein bietjie wrang, is daar óók die vakansie op Damplaas. Om Damplaas wentel sy lewe, al lyk dit nie elke dag so nie. Damplaas is die afgelope twee jaar al ’n versinnebeelding van hulle vier, want diep in die kern van elke vakansie is dié samesyn – hy en Eugene en Maryn en Elsje … Of liewer, hy en Maryn, en Eugene en Elsje. Hy en Maryn, dit is wat belangrik is. Dan, ná die vakansie, ná die heerlike soel Desember van die oestyd op Damplaas, begin die nuwe jaar hier, wat reeds so pragtig vir hom uitgespel is deur prof. De Beer: “Kom help ons doseer vir ’n jaar voordat jy aan Leiden begin dink. Ons kan ’n student soos jy nie sommer maar net laat gaan nie – en ons het jou nodig noudat Van der Spuy weg is. Dit sal jou ook goed doen …”
Dus: ’n hele jaar se speling voordat hy hoef te dink aan Leiden. Hy gaan tog nie alléén soontoe nie. Vra maar vir Chris, wat maande lank alleen daar was, hoe dit voel: heeltyd keer die winter jou in ’n klam hoekie vas en die Sondag wat dit somer is, waai die wind splete deur jou! Nee wat, hy en Maryn sal wel sáám die ding doen.
Sonder Maryn, weet hy net, durf hy nie gaan nie. Sy sal wel regkom. Miskien kan sy die dae dat hy pal in die biblioteek gaan wees, self ’n bietjie rondtoer en inkopies doen. Pa Frederik sal sorg dat sy dit kan doen. Peet dink dit sonder enige venyn of sinisme; dit is bloot die waarheid. Pa Frederik sal seker maak dat Maryn en ook hy nie ’n enkele gulden hoef om te draai nie. ’n Sug wel in Peet op. Nou ja, daaraan hoef hy in der waarheid eers oor ’n jaar ernstig te dink. Nog drie honderd vyf en sestig dae se grasie. En vandag tel ook nog, soos Eugene dikwels sê. Vandag gaan hy en Maryn en Eugene en Elsje huis toe – na Damplaas. Met dié sit hy Leiden en alles wat daarmee saamgaan uit sy kop. Baie tyd daarvoor, baie tyd …
Hy begin vinnig en sekuur sy klere in die koffer pak. Hy het min klere, maar alles is met die grootste sorg uitgesoek en pas smaakvol bymekaar. Klaar daarmee, kry hy die paar goedjies wat nog rondlê, reg en spoedig is geen kopspeld uit sy plek nie. Hy kan nou maar vertrek. Alles is in orde. Sy baie boeke is in kartonne gepak wat hy verlede week al by ’n klasmaat se huis laat berg het. Al wat hy saamneem Damplaas toe is sy twee tasse en ’n rugsak. ’n Oomblik talm hy nog, tik dan uit gewoonte op sy hempsak met sy vingers om te voel of sy bril nog daar is en sit dit op.
“Peet!” skreeu iemand onder sy venster. “Haai, Peet!”
“Ja?” vra hy met sy diep, welluidende stem en stap venster toe. Hy kan egter niemand sien nie, want die pers bloeisels, trillend in die ligte briesie, versper sy uitsig heeltemal. Hy luister net fyn.
“Farrah Fawcett-Majors om jou te sien, ou maat!”
Peet verstil. Elsje dus … Dis net na Elsje dat ’n leepoogstudent as Farrah Fawcett-Majors sal verwys. Dus het Elsje hom kom oplaai …
“Wel,” sê hy luid van agter sy bloeisel-skans, “sê vir haar by my moet sy vir ’n oudisie kom; sy kan nie maar net kontrak teken nie. Hier is die keuring streng!” Toe die verspotte woorde uit is en hy die gelag van onder hoor, klik hy spytig vir homself met die tong. Wat makeer hom tog nou weer?
Teen die tyd dat Peet op die stoep uitkom met sy pakkasie, het die bril al weer afgeskuif op sy neus, maar hy loop lustig fluitende met die swaar tasse. Toe hy om die hoek geloop kom met sy vrag, gewaar hy Elsje waar sy by Eugene se sportmotor staan met ’n kring bewonderaars om haar. ’n Oomblik ervaar hy ’n emosie wat soos ’n seer spasma deur hom trek. Hy beny Eugene. Hy het Eugene lief soos ’n broer, maar ai, daardie motor! Duits en ingevoer en baie eksklusief. Soos Elsje … Hy skud sy kop vinnig sodat sy bril wip, en frons vererg. Net, hy sal beter na só ’n spogding kyk. Geen modderspatsels of papiertjies wat binne rondlê nie. Maar, nou ja, dit help ook nie om te beplan as jy gedoem is tot wensdenkery nie. Dis die een ding wat hy oom Frederik geweier het – hy het hom bedank omdat hy hom kosteloos laat leer het, sy diepe waardering uitgespreek omdat hy hom as ’t ware grootgemaak het, selfs ’n duur fiets as geskenk aanvaar toe hy sy B. Juris gecum het … Maar net daar het hy sy voet dwars gesit. Géén motor nie, nie dié motor wat oom Frederik hom uit die goedheid van sy hart en sy bodemlose beursie wou gee nie. Iewers moet ’n man, ’n wáre man, die streep trek. Daar is genoeg plekke waar hy dit om vredeswille nie kan trek nie.
Toe Peet ewe luiters om die motor loop en sy hand na Elsje uithou vir die sleutels om die kattebak oop te sluit, begroet uitgerekte wolwefluite hom. Sonder om hom direk in die oë te kyk, skud Elsje haar blonde maanhaar uit haar gesig en oorhandig die sleutels onder groot gejil.
“Jy waag baie, ou Peet!” skreeu iemand.
“Sê maar as jy ’n sekondant wil hê, ou maat!” voeg ’n ander by.
“Sê vir ou Eugene hier is ’n paar lekker stomp spiese van die veldnommers in die pakkamer, as dit nou op stuk van sake kom!” roep ’n derde.
“Sê vir hom hy kan kies tussen dit en een van sy karatekappe,” skreeu ’n mediese student, “ek sal ou Peetman weer vir hom fieks!”
Peet laai sy bagasie in die kattebak sonder om ’n spier in sy gesig te verroer. Toe hy klaar is, stoot hy sy bril reg en staar miopies deur die dik lense na die verspotte klomp ouens.
“Skoert,” sê hy sag, maar met die vae flikkering van ’n lag om sy vol mond. En die manne maak so. Hulle ken mos vir Peet al vyf jaar lank – met én sonder grappies. Peet Baumann is die gaafste ou onder die son, hy word jou vriend en hy bly jou vriend, maar ook jou eerlikste kritikus. Een ding van Peet darem: hy het geen venyn nie. En as hy reken jy moet skoert, dan skoert jy.
Sonder om hom in die minste verder aan die laggende studente te steur, groet hy Elsje vriendelik asof hulle alleen is, en hou die linkerdeur vir haar oop sodat sy kan inklim. Dan skuif hy self agter die stuurwiel in, want dis vanselfsprekend dat hy sal bestuur as Eugene om die een of ander rede nie by is nie.
“Waar is Eugene dan?” vra hy net toe hy wegtrek. Hy bestuur glad en met die strelende aanvoeling van iemand wat motors verstaan.
Elsje lig haar groot blou oë van sy hande op die stuur af, en beskou hom sydelings – die bos swart krulhare en dik grootraambril wat hom onvermydelik geniaal laat vertoon, en dan, die onverwags sensuele mond.
“Hy het my gestuur om jou te kom haal,” sê sy in die eerste plek ter verduideliking, want soos altyd slaag hy daarin om haar effens skuldig te laat voel. Of dalk verbeel sy haar dit maar net. Sy voeg vinnig by: “Ek het vir hom by die eksamenlokaal gewag – hy het mos vandag Genetika geskryf, onthou? Nou ja, ek het gewag en gewag en toe kom hy later uit en sê ek moet solank vir jou en Maryn gaan haal, en hom dan by Olienhout kry. Hy gesels glo eers met die prof oor ’n vraag wat hy blykbaar misverstaan het, of so dink hy …”
“Tsk, tsk, tsk, dis nou ’n flater om met die prof te gaan gesels en so te sê oor jou onbegrip te gaan bieg! Pleks dat hy eenvoudig maak asof dit die onnadenkende prof is wat die vraag verkeerd opgestel het!”
Elsje bars uit van die lag, en die effense spanning vloei uit haar weg. Sy lag dat haar pragtige stel wit tande almal wys en haar wange gloei. Peet se oë swiep oor haar vrolike gelaat en skraal liggaam in die wit broekpak, en sy rare glimlag kom ook te voorskyn.
“Ja,” sê Elsje