Katalekte. Breyten Breytenbach
van die hoogste roep van waarookal
mits dese wou sy vir ons sê
dis haar maat wat dood op die snelweg lê
die mense ry verby en kyk
vir ’n droommoment by aanskoue van die lyk
terug in ’n tyd van ruimte waar nou
die nikswees ’n verlede vryheid oorvou
die kolgans het geen ritme vir sêplek meer
die kolgans laat val ’n laaste veer
sy en haar soort wis uit teen die grens
van verlore naburigheid tussen voël en mens
mits dese wou sy dalk nog sê
hoe diep het ons liefde vir die lewe gelê
dig
miskien is dit wat ons sin noem
slegs die struktuurmaak van waansin –
die wilde vrees van verskietende sterre
en van larwes wat uit dadels broei
omgebuig in die ritme van reëls
die gedig is tog woordeliks ’n verdigsel
’n dig-maak van die gate
sodat die niet die omskrywing
van ’n gesig mag kry
miskien is die bestemming
om ’n skil te skryf
vir die stil kreet –
wit krytlyne in die grond
waar die lyk gelê het
16 september 2010
Uit ’n diep droom het ek ontwaak en sweer
Die wêreld is diep,
Dieper as wat ek ooit kon weet.
– Nietzsche, “Zarathustra se lied”
wat het geword van ons somers?
waar is die lang en lui agtermiddae
toe lig ’n goëlaar was om uit die skittering van moue
’n wind so rats soos ’n aap te pluk
of ’n kasteel wolke regop staan te maak?
o ons het geweet dis oëverblindery
maar die son was popelend kosbaar
’n koggelmander in die hand
en hitte ’n flikkerende tongetjie
wat het geword van die bosduif
se skiet in die hemel
so stil soos ’n fluit uit die donker bos
om baie later eers in die gedig te kom fladder?
o ons het geweet dis oëverblindery
maar in die oggende was die veertjie
so lig soos ’n vergeetgedagte op die kussing
wat het geword van die someraande
toe ons so ryk was dat ons met kwaste goud en bloed
die sonsondergange kon verkwis
want daar sou mos altyd méér wees oor dakke
oor die see oor ruisende heuwels van verre landskappe?
en later die donker geritsel van nagtaalnagtegale
sodat ons verhale vir mekaar kon vertel
van vestings en engele met boomsingertjies in snuifblikkies
van paddakonings in die vlei
en die hartklop van ewige liefde ’n lint in die duister
en baie later die taanmaan ’n versadigde man
wat lui op die rug sy pyp lê en rook
terwyl vuurtoringsterre ’n geheue aan metmekaarpraat
flits en vervaag in ’n waas van lig
wat het geword van die man in die maan?
iewers breek die dag nog en ’n tuinier hou dop
hoe spreeus waaierend swiep om die hemel
soos ’n lyklaken uit te lê vir bleik
net duskant duskant grense van die stilte
van ons gekweste planeet wat rillend rol deur die niet
iewers word ’n vaalblou boerpampoen geslag
met ’n lem wat die skil se stilte sal kraak
om sonskyn oranje uit die vlees te laat straal
wat verorber gaan word wanneer die suidoosluggie
van onder af deur die populierbos blink
iemand maak musiek in ’n agterkamer iewers
gee ’n kind ’n eerste tree
kyk ’n vakman met trots na die produk
van sy hande se beweging
sterf ’n vriend met ’n grap op die lippe
o baie sterf te laat en ’n paar te vroeg
wanneer die koraalboom koggelmandertongetjies bloei
iewers trek ’n ou minnepaar die hortjies dig
dat die gloed van skoonheid nog oor hulle mag streel
wanneer hulle liefde pleeg
soos ’n voël wat leer vlieg
maar wat het geword van ons dood
toe dit nog met die lewe as pen
orgasmiese swart vlekke ink
in kladpapier was?
en wie is die swerwer wat soos ’n kind
daarmee wou speel
as verbeelde skryfding van die pyn
toe dit leeg weggesmyt is
ná die somer?
o ons het geweet dis oëverblindery
sing sing my vergete droomboom
sing weer fluisterende groen woorde oor my
sing soet hande op my nek
want wat het geword van ons somers?
wat het geword van die blou bord vol vye?
wat het geword van jou en van my?
waterbrief
in die nag is hy dikwels ’n koevert
hy skryf die dokumente van geboorte
nietnotas, belydenisfragmente soos skrifsels
wat aan moet dui waar ’n fuik
in die donker neergelaat is
om môre se witvleis te vang
hy weet hy plak die koevert toe
en pos dit in die gleuf tussen lakens
die bus waar bewuste gedagtes verdwyn
langs onbekende weë
na ’n verseëlde aankoms
en glip dan weg in geraasslaap
wanneer die dag oopgeskeur word
soos ’n koevert uit die vreemde
soek hy in die lig wat om alles en elk