Katalekte. Breyten Breytenbach
betekenis van die brief
die palimpses as testament:
hoe ’n ontwrigte weegskaal se gewig
die versreëls in bewieging bring
sodat woorde nog kruip
en segment vir segment sing
soos die knypers van ’n kreef
wat die onnoembare lyk gevreet het
23 september 2010
(vir Ounooi)
ek lees dat die gedig
die ompad is van hier na hier
en die paradyspaadjie waarlangs taal
al vertalende taal blootlê:
wat sigbaar is sal sterwe
en in die ewening van dag en nag
met maan weer in die klipbuik purper put
in ondergrondse soet herinnering
skyn die byna vergete ontmoeting
van verwondering en pyn
is jou verjaarde gesig weer ’n wysie
met die verrimpelende gewig van afbeelding
wanneer wind die watermaan roer:
ek is vlees van jou vlees moeder:
wat sigbaar is sal verniet
die lewe is ’n gedagte ver
die 14de Oktober, dit was ’n gedagte,
om wes teen die draai van die aarde
te vlieg, hierdie land, hierdie planeet,
hierdie lewe benede, bewerkte landerye,
en dan rivierlope, spatsels water
wat mere mag wees so blou
soos spieëls die ewigheid weerkaats,
kaal granietspitse, woestyne van vergetelheid,
strepe, bakens, patrone, klossies
mensgeboude nedersettings, en skeure
in die kors van die nag, dit was ’n gedagte,
die lewe my lewe ’n legkaart waarvan
nog slegs die sluitstuk van herkenning makeer,
dat dit ’n gedagte is wat nooit
bedoel was om tot begrip te prent
op hoë berge vergeet soos sneeu in die somer,
dat dit ’n gedagte is ewig vlugtig
op vlug na iewers waar dit altyd dag is
op hoë berge vergeet soos sneeu in die somer
hierdie 14de Oktober.
oupa
Toe ons nog klein was, B en ek, het ons in eenderse huise gebly met net ’n draadheining om ons werwe te skei. By elkeen van ons het ’n grootvader in die stoepkamer gewoon. Van kleins af, ek weet nie hoe dit begin het nie, wanneer B en ek stry gekry het, het die oupas mekaar getakel. Mettertyd het ons dit aspris gedoen, gemaak of ons ’n huilende uitval het net om te sien hoe die twee oumense bolle rol, vuisslaan en skop en soms stoei in die stof. Hulle het goed opgeweeg teen mekaar, was dieselfde ouderdom en portuur, eers veel later het ons geweet hulle is ’n tweeling, en beide van hulle was ewe verknog aan ons, B en ek hulle kleinkinders, en sou ons met hand en tand verdedig. Behalwe vir die gevegte het hulle nooit enige kontak gehad of selfs met mekaar gepraat nie. Vir B en ek was hulle die versigbaring van ons grootword. Op maanskynnagte het een van ons deur die draad geklim om voor die ander se huis te gaan staan en roep soos ’n naguiltjie totdat ’n lig aangaan in een van die kamers, en dan sou die een wat buite is ’n belediging skree en die ander sou begin huil, “Oupa! Oupa!” net om te sien hoe die twee oues soos steunende skimme baklei op die donker grasperk.
En ons het groter geword, skool toe gegaan, saam begin werk, verhoudings gehad, vrou gevat en laat staan. Met die wegval van ons onderskeie ouers en familie het ons elk sy oupa geërf. Hulle was soortgelyk vol knoppe en rowe, ewe taai, en het ’n fenomenale kennis opgedoen van messe, kneukelysters en knuppels. Soms was die situasie ongemaklik. Op laerskool al het die twee oues partykeer geduldig in die reën buite die skoolterrein moes wag, kiertsregop sy aan sy sonder om ooit ’n dooie woord te wissel, tot wanneer die klok lui vir speeltyd en ons, B en ek, stry kon kry en die twee aanhits om mekaar te pak. En in later jare was dit omslagtig om te reis want ons moes altyd plekke bespreek vir vier mense saam op treine en in vliegtuie.
Nou is ons albei oud en der dae sat, B en ek. Ons het in dieselfde ouetehuis beland, Herfsvreugde, en gevra dat ons oupas saam met ons opgeneem word want wie sou omsien daarna dat hulle nie verwaarloos en vereensaam nie? Dikwels sit ons saam op die agterstoep om die laatmiddagson te koester. En dan sal ons oudergewoonte begin kibbel, B en ek, ou-ou griewe opdiep, hier kiep-kiep en daar kiep-kiep totdat een van ons skree:
“Jou oupa is die skelmste oupa in die wêreld!”
En die ander antwoord:
“Issie! Issie! Jou oupa is skelmer as myne. Jou oupa se poes!”
Net om te sien hoe die twee ou here verbete maar byna statig nou
met hygende asems mekaar te lyf gaan in die naderende skemer.
Dit gebeur soms dat B en ek ongesiens ’n sakdoek deel om ons trane af te vee.
onderweg
somewhere halfway from here
there are half-empty boxes”
nou is elke nag ’n reis
deur onbekende landskappe
van lig en van skaduwee
oor barre vlaktes
of skielik in klowe
met druipende eksotiese bome
daar is soms ’n dooie dorp
’n modderblink hond
met gesperde kake blind vasgekolk
in die kopligte
maar nooit ’n lewende siel
en elke nag is die bestuurder langs my
’n dooie vriend lankal vergeet
’n dooie broer van wie ek niks weet
nou is elke nag ’n bitter argument
want waarheen is ons op pad?
ek wil die stories nie hoor nie
nou klim ek elke oggend uit in die dag
met ’n keel seer van stof en van skrywe
’n bietjie betekenis
“To celebrate beauty we must swallow
all of death” – Milosz
’n bietjie betekenis? sê jy
leiding? rigting? doel?
maar ek is die digter, sê ek
ek skryf in die kantlyn
(kantelwerk: om die lyne te laat kantel)
ek kan nie in die hoofstroom
waar geskiedenis en ordonnansies gestalte kry
beweeg nie
my woorde het geen hoofletters
soos aas aan die hoeke om die leser wat swem na sin
te fop nie
ek is die opligter