Bloedfamilie. MS Burger
>
Titelblad
Bloedfamilie
MS Burger
HUMAN & ROUSSEAU
I
I
’n Verraaier in ons midde
’n Verraaier in ons midde
Ek hou in die oprit voor hulle huis stil en wag dat die veiligheidshek oopgaan. Ná al die jare kan ek steeds nie die kode onthou nie. Langs die voordeur sien ek hoe yl die asaleas groei. Hulle kry te veel son, het ek destyds gewaarsku, en werk ’n paar teesakkies in die grond in. Maar my pa weet mos altyd van beter. Verwoerdburg, noem hy die voorstad waar hy en my stiefma bly.
Ek parkeer ’n ent weg van die ander motors, sodat ek nie vasgeparkeer word nie. Ek wil ry wanneer ek wil. Sulke familiebyeenkomste, met al die gekarring oor my huweliklose, bar lewe en patetiese loopbaan, het lankal vir my in suur affêres ontaard. Waar ek kon, het ek dit vermy. Vandag egter, is my pa se sewentigste verjaardag, en ter wille van die vieringe is ek vriendelik verplig om die familie te trotseer.
Hier is heelwat mense, selfs my Jesus-bedonnerde ooms en tantes van Burgersdorp, sien ek, waarskynlik lankal met ’n doppie in die hand en ’n pepermentjie in die kies – waar daar kos en drank verniet beskikbaar is, daar sal hulle wees. Ek en hierdie kerklike malles is nooit te gerus in mekaar se geselskap nie.
Dit is in Burgersdorp waar my pa se koloniale geskiedenis van sy ma se kant af sy onderbou het, en sentraal tot die familiesage is dié dorp se witgepleisterde Dopperkerk. ’n Klomp kerkgangers van hierdie omgewing het vroeg in die agtienhonderds begin mor omdat hulle gewetensbesware teen die sing van gesange gedurende kerkdienste gehad het. Gesange is nie as Skrifgetrou genoeg beskou nie en hulle wou slegs psalms, wat direk uit hul God se Woord berym is, sing. Hulle het so oproerig daaroor geraak dat die Graaff-Reinetse ring in 1842 aan hulle geskryf het: Zult gij de harten van Christus’ lichaam door uw vooroordeel en stijfhoofdigheid langer kunnen doorbooren en verscheuren door te weigeren om tot Zijnen lof en tot aller stichting te zingen?
Die klomp stijfhoofdiges bedank toe uit die Nederduitse Gereformeerde Kerk en stig die Gereformeerde Kerk, in die volksmond as die Dopperkerk bekend. Geskikte predikante is vanaf Nederland beroep om Donker Afrika uit die kloue van gesange te kom red en een van hierdie beroepe is deur my stamvader, dominee Posthumus, aanvaar. Ná ’n lang seereis het hy in 1869 met sy vrou en drie kinders op ’n ossewa in Burgersdorp aangekom, waar hy vir vyftig jaar gedien het. Gedurende die geboorte van hul vyfde kind is sy vrou oorlede. Oud maar selde koud, het hy sy volgende twee eggenote ook oorleef, en altesaam ’n kroos van twaalf verwek. ’n Regte mannetjieskat. Sy derde en laaste vrou was sestien jaar oud toe hy met haar getrou het. “Dit is maar hoe die ou mense was,” het my pa gesê toe hy my die storie vertel.
Vyf van dominee Posthumus se seuns het predikante geword, almal behalwe oom Dirkie wat klassieke musiek gespeel en later as kelner op ’n trein gewerk het. Vier van dominee Posthumus se dogters is met predikante getroud. ’n Trotse, godvrugtige nageslag, almal van hulle uitverkore (behalwe oom Dirkie) en die meeste van hulle met kerkbleek gesigte en lekker dik lewers (insluitende oom Dirkie). Regte Doppers. Stamvader Posthumus se oudste seun, my oupagrootjie, het by hom as predikant in Burgersdorp oorgeneem. My ouma is daar gebore.
My pa druk my teen hom vas toe ek hom gelukwens met sy verjaardag. Ek draai my wang toe hy my soen. Ek het vir hom ’n bottel Glenfiddich-whisky gekoop, wat hy dadelik oopmaak.
“’n Mens moet deesdae niks bêre nie,” sê hy terwyl hy vir hom skink. “Die hotnots steel mos alles. Sal nog eendag die goud uit jou tande ook steel.”
Nadat hy as onderwyser afgetree het, het sy baard lank en grys geword, sy wenkbroue ’n donderstorm, sy hande grof, sy vingernaels swart gevlek van pyptabak, en het hy soms vir dae aaneen dieselfde klere gedra. Sy lewensfilosofie het hy vereenvoudig tot die Here se wil, televisie kyk en ’n paar laataanddrankies. Gereeld wanneer hy met my praat, klink dit asof sy stem in die middel van ’n sug is. Dan bly ons albei maar net stil.
Ek skink vir my ook whisky en gaan groet die familie.
“My jinne, kyk nou net wie’s hier!”
“Wanneer laas het ons jou gesien?”
“Hoe gaan dit, kinta!”
“Lekker spekvet en gesond, nè!”
Ek glimlag dat my lippe later bewe, hou asem op terwyl ek een snor ná die ander soen en myself probeer red uit ’n paar omhelsings. Dit is natuurlik dieselfde selfvoldane spul wat my so graag agter my rug in hul dun twak- en slymstemme ’n kafferboetie noem.
“Ag, en wie is jy nou weer?” vra my semiseniele tannie Magriet.
“Dis Johan se dogter, Tannie.”
“Maar is sy nie nou die dag dood nie? So jonk, en wat dan nou van haar arme kindertjies?”
My neef lag en my pa stap buitentoe. “Ek gaan gou die vuur aansteek,” sê my pa. Ek wonder of hy skaam kry.
“Wil jy nie koffie hê nie, Magriet?” vra my stiefma en neem haar aan die arm.
“En ’n geseënde Kersfees vir julle ook,” sê tannie Magriet.
“Whê-whê-whê,” kerm ’n baba en trek genadiglik almal se aandag van my en tannie Magriet se gedisoriënteerde gesprek af.
“Hoor nou net,” sê my tannie, haar rooi gekleurde hare in ’n art nouveau-styl opgepof. “Sy wil ook hallo sê, wil sy nie? Wil sy nie . . .?”
Toe ek omkyk, is my neef se vrou besig om haar blou-geaarde bors uit te haal. “Whêêê-hê-hê-hê!” Toe raak dit stil soos die klein papbek sluk. Tshlik-tshlik-tshlik.
“Is sy nie pragtig nie? Is my baba nie die mooiste ding in die hele wêreld nie? Ja, Mamma, ja, Mamma . . .” Almal kir en brabbel saam.
Versigtig loer ek na die suigende dingetjie met die byna deurskynende ballonkoppie. Tshlik-tshlik-tshlik-tshlik, asof sy haar ma gaan leeg suig.
“Wil jy haar ’n bietjie vashou?” vra my neef se vrou terwyl sy haar bors terugdruk. “Kyk, sy lyk nes jou neef. Daar’sy, daar’sy . . .” En sy gee die kriewel-en-poep vir my aan.
Ek neem die baba by haar. “Ek is nie goed met kinders nie. Regtig nie.”
“Wag maar tot jy jou eie het, dan sal ons sien. Weet jy, twee vloere boontoe en twee vloere ondertoe het hulle my hoor skree toe dié kind kom. Die narkotiseur was mos nie betyds om my ’n epiduraal te gee nie. En vier drukke, vier drukke, toe’s die kind daar. Ek het nie lus gehad om heelaand in die koue kraamsaal te lê nie. Hulle het my sommer net so toegewerk, sonder verdowing, ’n mens voel nie eens die steke nie.”
Ek het hierdie storie al dikwels gehoor, en onthou ek het destyds vir haar ’n vaas donkeroranje rose kraaminrigting toe geneem. Ek was teleurgesteld dat die rose geen geur gehad het nie – tot vandag toe is ek nie seker waarom ek dit onthou nie.
Die kind se ogies pop stadig soos nagblommetjies oop.
“Oe, kyk hoe trek sy daai gesiggie.” Ek is nie seker of hulle van my of die baba praat nie.
“Uhm, ek dink sy’t gepoefie,” sê ek.
“Ag, dis jou bolip wat jy ruik, man,” sê my neef.
Die bekkie begin teen my hemp na ’n bors soek, maar ek help haar vinnig reg en lig haar koppie teen my skouer, waar sy vir ’n oomblik dobber voordat sy ’n straal dik gemors teen my rug af spoeg.
“Whê-hê-hê,” begin die kind huil nadat sy van haar suur lading ontslae geraak het. Seker haar oorlewingsinstink wat haar uiteindelik waarsku dat sy in my onbeholpe arms in lewensgevaar verkeer. “Whaaaaa!”
“Wil jy haar nie bad nie? Partykeer glimlag sy as sy bad.”
“Dalk nie nou nie.” Ek gee die ontstelde bondeltjie geluide aan haar ma terug.