Bloedfamilie. MS Burger
hier, my kind! Ja, ja, kom hier.”
Die oudste dogter sit in die sitkamer en blaai deur ’n Huisgenoot. Die jongste dogter het pas met Piz Buin Faktor 2 en ’n handdoek by die agterdeur uit verdwyn. Aan die wasgoedlyn hang die ma se sykouse soos spookbeentjies.
“Kom, Ma se liefste kind. Kom na Mammie toe.”
Die ma buk, tel die woelende malteserpoedel op en druk haar gesig in die hond se moplyfie. Minnie blaf en lek haar gesig. Die ma lag.
Van waar die oudste dogter sit, kan sy tot buite op die grasperk sien. Teen die sitkamermuur, half agter die voordeur, hang ’n poskaartgrootte prent van ’n biddende Madonna in ’n raam van goue blare. Sy het ’n stomp voorkop, bultende oë en ’n besonder lang kakebeen. Toe die dogter en haar suster albei op laerskool was, het hulle dit een Kersfees vir die ma gegee.
“Ag, hoor hoe praat sy met haar ma, hoor net!”
En Minnie praat te heerlik – jip-jip, grrrrrjip. Die dogter kyk gesteurd van haar Huisgenoot af op en sug.
Die ma buk, Minnie soos ’n nat trui oor haar arm, en vryf die swart steekbaard wat om haar voete begin kerm en spring. “Kyk hoe jaloers is dié een nou. Kyk nou net! Toe nou, Maxi, bedaar tog, ou jaloersie,” paai sy.
Die ma, met Minnie steeds onder die arm, gaan sit op haar pastelgroen sitkamerstoel en Maxi wip op haar skoot. Sy kreun onder die spartelende gewig van albei honde, maar lag steeds. “My liefste en soetste kinders. Ja, ja, wag nou. Stadig!”
“Fokken fur balls,” mompel die dogter, maar maak seker die ma kan haar nie hoor nie.
Elke oggend gaan stap die ma met haar twee honde langs die see tot by die akwarium.
“Wil jy nie met jou sussies gaan stap nie?” vra sy gereeld vir die oudste dogter. “Hulle loop tog so soet aan hulle leibandjies, jy weet. Jy kan sommer een van my ou sweetpakbroeke leen; dit behoort jou darem te pas.”
“Nee.”
“Toe nou, die oefening sal jou goed doen. Jy en jou suster is dieselfde. Ewe lui. Sit ook net heeldag.”
Tot hier was dit glad nie vir my nodig om iets te versin nie – ek kan ’n verhandeling oor my ma se emosionele verknogtheid aan haar honde skryf.
“Hulle is altyd bly om my te sien en vergewe altyd alles,” sou sy sê terwyl sy hulle optel, op hul snoete soen en toelaat dat hulle haar in die gesig lek. Dit was nou die vrou vir wie ons piksoentjies moes gee om nie haar lipstiffie te smeer nie, wat so nou en dan vlugtig, asof sy skaam was, aan my hare sou raak en my hand sou los sodra ons aan die anderkant van die straat was.
Uiteindelik, en dit is die waarheid, het ek ’n allergie vir hondehare ontwikkel, wat ek pligsgetrou ’n paar paragrawe later by my verhaal ingewerk het.
Die oudste dogter se oë krap en jeuk en word rooi, haar gesig plomp asof sy baie gehuil het.
Die ma is uiters moerig hieroor en hou vol dat die allergiese reaksie veroorsaak is deur die dogter se slierterige hare wat in haar oë hang.
“Sny tog net jou hare, dan sal jy ook sommer beter lyk en voel,” is die ma se raad.
Die volgende deel van die verhaal was grotendeels ’n verdigsel. Minnie klim op die steekbaardteef se rug en begin met toe ogies teen haar pomp. My ma gooi hulle van die oopplankombuis af met ’n glas water.
“Nee, nee,” skree die ma. “Hou op!”
Glas kletter oor die teëlvloer, druppels spat.
“Wat is dit?” vra die oudste dogter, lam geskrik. “Wat het gebeur?”
Die honde wurm tjou-tjou onder die sitkamerbank in, en die ma boender woes met ’n besem agter hulle aan. “Hou op, hou nou op!”
Die oudste dogter besef sy moet iets doen voor die ma ernstige skade met haar besem aanrig.
“Dis nie so erg nie,” mompel die dogter gemoedelik. “Toe maar, dis nie so erg nie.”
“Bly stil, bly jy net stil!” huil die ma, sak op haar knieë en loer onder die bank in.
Vir Maxi is die groot, kwaai oë net te veel en sy skarrel onder die bank uit, gly-gly om die hoek in die agterdeur se rigting. Die jongste dogter gil toe die hond oor haar kaal rug hardloop.
Toe die ma verder vorentoe leun en haar hand paaiend na Minnie toe uitsteek, skuif haar bril oor haar neus en val. Een van die lense klik oor die vloer. Haar oë word kleiner.
“Dit ook nog,” snik die ma.
Die dag daarna skeer die oudste dogter haar hare borselkop.
“Was dit nou regtig nodig?” vra die ma en praat vir die res van die vakansie skaars met haar.
A, daardie grimmige stiltes van haar wat ek gereeld moes deurleef. Niemand kon stilbly soos my ma nie.
Die verhaal het egter gaan staan toe Minnie, maer soos ’n geknoopte bol wol, aan kanker gevrek het.
“Maxi soek heeltyd na haar, heeltyd,” het my ma destyds oor die telefoon gehuil. “Sy is so verlore, ek weet nie wanneer sy ooit weer mens gaan word nie.”
Ek maak die venster op ’n skreef oop en skakel die lamp aan. Nadat ek nog ’n glas wyn geskink het, lees ek weer deur my verhaal. Nie sleg nie, glad nie sleg nie, dink ek, effens trots. Dalk ’n bietjie lomp en debuutagtig, maar ek is seker dit kan reggestel word. En daar en dan, moedig of moedswillig, dalk al effens dronk, besluit ek om nog een allerlaaste keer ’n verhaal oor my ma te probeer skryf.
Ja, ja, al my vorige pogings het tot vervelige, terapeutiese relase verwater, dit weet ek. Maar ek moet nog een maal probeer, sommer nóú alle verhale en aantekeninge oor my ma soek en deurkyk vir iets wat met ’n paar los herinneringe gekombineer kan word vir ’n laaste herskryf. Daarna sal ek dit laat rus.
In die slaapkamer maak ek my kasdeure oop. ’n Paar kouse val uit, ’n trui en ’n rugsak. (“Hier sal ’n kat nie eens haar kleintjies kry nie.”) Terwyl ek delf in my laai waarin ek my korrespondensie bêre, onthou ek hoe ek in ’n oomblik van bedonnerdheid, voordat ek vir ’n paar jaar oorsee gedros het, al my ma se briewe aan my verbrand het. Dit was vir my eie beswil, het ek destyds geredeneer, ’n lekker groot vuur gemaak en sommer briewe van ou geliefdes en skoolvriende bygeneuk, asook ’n Kimberley-skouprogram van 1982 wat deur P.W. Botha geteken is. Ek is nou spyt oor die verlore briewe, en P.W. se handtekening kon dalk iets werd gewees het. Al korrespondensie van my ma wat behoue gebly het, is ’n paar verjaardagkaartjies wat sy by die DBV gekoop het, elkeen versigtig onderteken met “Liefde, Ma”. Niks meer nie. Ek wonder wanneer ek opgehou het om haar Mamma te noem.
Ek versaak my klerekas en soek verder. Gelukkig lewer my lessenaar gou ’n verrassing op, ’n verhaal sonder titel, in pen en in ’n duidelike en stadige handskrif geskryf.
“Eet tog nou vir ’n slag ordentlik, my kind, nou-nou is jy weer so maer soos ’n kraai,” por my ma reeds aan my suster nog voordat ons behoorlik aansit vir ete.
“Julle eet mos van alles, nè? Ek ken julle kinders ook nie aldag nie. So vol fiemies as julle lus het. Sal een van julle asseblief vir ons die sjampanje oopmaak? En moenie dat die prop skiet nie; dit mors net.”
Die liggies aan die plastiekgroen Kersboom in die hoek van die sitkamer werk lankal nie meer nie. Dis die idee wat tel, sê my ma gewoonlik terwyl sy die boompie versier. Vir Kersfees het ek vir my ma ’n kasset van Dean Martin gegee en vir my suster Quality Street-sjokolade, wat sy nie oopgemaak het nie. My ma het vir ons elkeen vyftig rand gegee en vir my ’n foto van Dean Martin in die Huisgenoot gewys soos hy aan die einde van sy lewe gelyk het. Van die drank, het sy opgemerk. Die bottel sug toe ek die prop met my duime uitwerk.
“Oppas dat jy nie mors nie,” sê my ma terwyl ek die drie glase vol skink. “En versigtig nou, dis my beste glase. Toe nou, Sussie, gee vir my jou bord dat ek vir jou kan skep.” Ek merk hoe die vel om my ma se boarms verlep toe sy my suster se bord neem, en ek kyk weg.
Die