Êrens is daar liefde. Schalkie van Wyk

Êrens is daar liefde - Schalkie van Wyk


Скачать книгу
>

      

      Êrens is daar liefde

      Schalkie van Wyk

      Melodie

      Lara Wiese stamp die voordeur met haar heup agter haar toe, gooi haar handsak met ’n sierlike boog deur die lug en glimlag selftevrede toe dit netjies langs die blommerangskikking op die blad van die antieke kapstokkas land.

      “Kind …!” kom dit berispend van Phoebe Wiese, wat met haar oë styf toegeknyp in die oop dubbeldeur van die sitkamer staan.

      “Haal asem, my liewe professor Phoebe,” terg Lara laggend. Sy soen haar tante speels op die wang. “Het jy vergeet ek was die beste krieketbouler in ons straat?”

      Phoebe maak ’n ongeduldige handgebaar. “So vertel jy my graag, maar totdat Heilie die koperblompot begin gebruik het, moes ek elke maand ’n halfdosyn nuwe blompotte koop.” Sy beduie na die eetkamer. “Kom ons gaan eet – koue vleis en slaaie vir so ’n warm dag. En probeer om ’n klein bietjie simpatie met jou middeljarige tante se oorspanne senuwees te hê, Lara. Ek is dertig jaar ouer as jy, maar soms voel dit soos sestig!”

      “Dertig jaar,” herhaal Lara kamma beïndruk terwyl sy aan die eetkamertafel plaasneem, maar haar oë vonkellag in dié van Phoebe. “Op drie-en-vyftig is jy eintlik al ’n antikwiteit, Phoebe, maar gelukkig lyk jy nog … e … jongerig. Jy is te blond om grys te wees, en blou oë lyk altyd vars, soos kropslaai. En jy is mooi, want jy het gelukkig my fyn gelaatstrekke geërf, anders sou ek nooit my vriendinne kon oortuig jy het uit vrye wil ’n oujongnooi geword nie.”

      “Ongeskik én verwaand,” sê Phoebe verpletterend, maar ’n glimlag huiwer om haar mondhoeke. Sy kyk met liefdevolle bewondering na Lara se skraal gesiggie: haar swartbruin oë met uitsonderlike lang, digte wimpers en fyn gevormde wenkbroue, die delikate skadu’s onder haar hoë wangbene, en haar vol, ekspressiewe lippe wat gedetermineerd en terselfdertyd weerloos lyk. Haar digte, blouswart hare val met sagte krulle oor haar skouers, en enkele krulle omraam haar gesig en verleen ’n kinderlike onskuld aan haar. Lara het ’n ingebore statigheid en grasie wat ’n treffende kwaliteit aan haar skoonheid gee, dink sy goedkeurend.

      “Wat kyk jy so na my, Phoebe? Ek het in oom Ryno se stoorkamer tussen die stowwerige lêers rondgekrap. Het ek ’n vuil streep oor my neus?” vra Lara toe sy bewus raak van Phoebe se ondersoekende blik.

      “Jy het die afgelope jaar te veel gewig verloor – eet ’n bietjie aartappelslaai. Ek aanvaar ons is albei beeldskoon, aangesien ons dieselfde fyn gelaatstrekke het, maar met jou donker hare en donkerbruin oë lyk jy soos ’n koringkriek as jy te maer is.”

      “Ek sal kaas eet. Aartappelslaai lyk soos skaapharsings,” mompel Lara misnoeg en ril. Sy peusel aan ’n stukkie rou wortel, kyk fronsend hoe Phoebe smaaklik eet, en laat dan haar vurk kletterend op haar bord val.

      “Kind …!” roep Phoebe snakkend na haar asem uit. Sy sit oomblikke lank roerloos met haar oë styf toegeknyp en kyk dan ergerlik na haar niggie. “Jy doen dit opsetlik, Lara: plaas verdere spanning op my uitgerafelde senuwees. My studente sorg dat ek ’n wrak is aan die einde van elke akademiese jaar, en jy doen alles in jou vermoë om my toestand te vererger!”

      “Jy soek daarna, Phoebe: jy het gesê ek lyk soos ’n koringkriek.” Lara byt op haar onderlip, twyfel kolkend in haar oë. “Maritsa sê blonde meisies is meer gewild, want mans verkies blondines. Maar ek het nog altyd gehoop … e …”

      Phoebe glimlag kopskuddend. “Jy is ’n gekwalifiseerde apteker, met jou jaar gemeenskapsdiens reeds agter die rug. Het jy sowaar nie genoeg intelligensie om self te kan sien jy is ’n pragtige meisie nie?”

      “Dis onmoontlik om jouself objektief te beoordeel, Phoebe. As ek die dag gelukkig is, voel ek mooi, maar as iemand my afkraak … Wel, ek vóél soos ’n koringkriek as jy sê ek lyk soos een. En ek is doodbang ek gaan ’n oujongnooi soos jy word, want ek kan nie verlief raak op ’n man nie, selfs nie eens as ek dronk is nie!” erken Lara moedeloos.

      “Het jy gereeld dronk geword toe jy op Helderbron jou gemeenskapsdiens gedoen het?” vra Phoebe ingehoue en staar met gedwonge konsentrasie na die koue ham op haar bord.

      “Jy klink soos ’n agterdogtige ma, Phoebe,” antwoord Lara vies. Sy sug verwese voordat sy vervolg: “Jy weet ek vergryp my nooit aan drank as ons wyn saam met ons etes drink nie, maar as ek op ’n partytjie is … Ná een glasie wyn is ek doodbang om te praat, net ingeval ek iets doms sê, daarom drink ek liewer koeldrank. En boonop: as ek die dag verlief raak op ’n man, wil ek in volle beheer van al my sintuie wees. Ek wil nie die volgende oggend wakker word en skielik besef ek was die vorige aand net dronk, nie verlief nie.”

      “My arme Lara …” Phoebe glimlag gerusstellend. “Ons het meer as net ons gelaatstrekke van ons Wiese-voorgeslag geërf. Jou pa, en selfs jou oupa Wiese, het net een maal liefgekry, maar dit het nie verhoed dat jou pa talle meisies uitgeneem het voordat hy en jou ma getroud is nie. Jy het tog ook dikwels gedurende jou studentedae saam met mansvriende uitgegaan?”

      “Nie te dikwels nie, want ek moes dag en nag swot om my graad te kry – aptekerswese is nie maklik nie. Maar selfs al het ek uitgegaan, het ek nooit ’n man ontmoet wat my voete onder my uitgeslaan het nie. Jy het my en Karl grootgemaak vandat ek ’n pap baba was, en my ouboet se vriende was altyd my vriende. Ek het nog altyd talle mansvriende gehad, maar daar was nog nooit iemand spesiaals nie.” Lara swyg en vra dan huiwerig: “En jy, Phoebe? Het jy ooit ’n man liefgehad?”

      Phoebe lag spontaan. “Ek wag sedert jou tienerjare dat jy my oor my liefdeslewe sal uitvra. Hoekom het jy tot vandag toe gewag?”

      “Ek wou vandat ek tien jaar oud was, maar Karl het my gedwing om hom met my hand op my hart te beloof dat ek nooit so iets sal doen nie. Hy het gesê persoonlike vrae is ’n groter sonde as om mense deur ’n sleutelgat af te loer of privaat gesprekke af te luister. Ouer broers is bullebakke, veral as hulle vyf jaar ouer as jy is.”

      “Maar met Karl veilig in Londen is jy vry om jou belofte te verbreek?” vra Phoebe skertsend.

      Lara maak ’n afwerende handgebaar. “Ek het lankal van die belofte vergeet, maar ek is drie-en-twintig en ek het raad nodig. Ek het net begin wonder of dit in ons gene is om nie lief te kry nie. Ek bedoel, jy lyk so gelukkig, Phoebe. Enigiemand kan sien jy het nie ’n man in jou lewe nodig om jou gelukkig te maak nie. Maar toe jy jonk was … het jy nie ook gewens, gehoop dat … Êrens is daar liefde, Phoebe, maar hoekom het jy dit nooit gevind nie?”

      Phoebe glimlag stadig, haar oë starend in die verte van tyd. “Êrens is daar liefde,” herhaal sy mymerend. Sy kyk na Lara en glimlag warm. “Ek was heelwat jonger as jy toe ek die verkeerde man liefgekry het. Nee, hy was nie getroud nie, maar hy was nie bereid om met my te trou nie. Moontlik het hy geglo ek was te jonk vir liefde en te onervare om tussen liefde en verliefdheid te kan onderskei. Maar ek was nie. Dalk het ek hom nog altyd lief, of dalk het sy verwerping my immuun gemaak teen die liefde. Ek wonder nie daaroor nie en ek wil ook nie weet nie.”

      “Dis so hartseer,” sê Lara simpatiek.

      “Geensins! Getroude vroue is dikwels …” Phoebe breek haar sin af en vra skerp: “Waarom werk jy nie vanmiddag nie? Dis Donderdag. Is Ryno se prokureurspraktyk nou so suksesvol dat hy kan bekostig om Woensdae én Donderdag gholf te speel?”

      Lara lees die agterdog in Phoebe se oë en lag haar goedig uit. “Nou lyk jy weer nes my ou tant Phoebe wat vermoed ek het nie al my huiswerk gedoen nie!” koggel sy. Sy sien Phoebe bekommerd frons en vervolg gerusstellend: “Oom Ryno moet die hele dag in die hof wees en hy het gesê ek kan ons kantoor om eenuur sluit en huis toe gaan. Sy ander sekretaresse, Elna, werk in elk geval net soggens. Ek draai darem nie stokkies nie, Phoebe! Ek speel net ontvangsdame vir oom Ryno totdat sy nuwe ontvangsdame vroeg in Januarie by hom begin werk. Ek sukkel in elk geval nog om ’n permanente pos as apteker te kry.”

      Phoebe trek onsigbare strepies met haar wysvingernael op die tafeldoek, kyk eindelik op en vra hoorbaar onwillig: “Noem jy Ryno nog ‘oom’ vandat julle saam werk?”

      “Wat anders? Hy is ’n stokou oom van agt-en-veertig. Of verwag jy dat ek hom ewe formeel as meneer Marx op kantoor moet aanspreek?” vra Lara onthuts.

      “Nee … nee, maar ek is vyf jaar ouer as


Скачать книгу