Eerste gedigte. Antjie Krog
hande,
hoe hulle soms nog na my soek;
net sodat ek daelank oor jou
loop en wonder.
AFSKEID
Die aand kom stil oor die veld geloop
nugter en alleen –
die maan klim teen die bloekoms uit
en versplinter alles om ons heen.
jou blou hempie roer in die wind
jou hare krul deur my vingers
sag en blond soos dié van ’n kind,
ons staan stil bymekaar
ons oë rou
ons wange huil
ons palms wentel om mekaar
want jy gaan weg armie toe
Heidelberg toe vir ’n jaar.
jy moet altyd so bly soos nou
moenie dat baie nagte se water
slote kerf in jou gesig,
moenie dat baie dae se ligte
sterre breek in jou oë
vou saans jou hande
en bid soet woorde teen my bors.
KIEWIETJIE
My flenterhartjie is gestelt
op rooi dun kiewietbeentjies in die veld
wat aaklig roep en soek na liefde
as ek in die prik-prik
van die dubbeltjies verstrik.
STASIE
Op watter stasie, my liefling, het jy my gelos
in watter gebreekte koelte
onder watter brandsiek bos
teen watter sipres het jy my gekruisig
met spykers uit jou mond
in watter lendekleed – doek
struikel my hartseer rond
in watter kerkhof mag ek rou
oor jy my nooit weer vas sal hou?
AGTER DIE ENGELSE KERK
Agter die Engelse kerk
lê ’n grys uil
dood
(reg onder die klok)
In die bos by Heuningspruit
huil ’n kiewiet in die gras
en teen die koppie
lê ’n groot klip
gebars.
By die rivier spoel ’n pienk bloes
en by die spruit het ’n wilgerboom gebreek
oor die krom wind hom vertel het:
Ons het mekaar vergeet.
WAT HET DAAR OORGEBLY?
Wat het daar oorgebly van ons saamwees?
Wat is daar om te wys vir hierdie skraal wind
vir hierdie bleek dag?
Wil julle weet van ons hardloop oor die nat straat
oor die skewe brug?
Wil julle hoor van sy bruin hare
sy bruin trui
die bruin rivier, die riete
die wilgers met hulle
bruin swepe in die water?
Of dalk wil julle weet van die grys middag
met die vyfde simfonie,
toe ons begin het om met passers te gooi.
En nou, wat het daar oorgebly van
alles wat mooi was?
’n hopie briewe, ’n poskaart
’n foto êrens in my kas?
Nee, net ’n rouplek
waar ons twee aan mekaar vas was.
JY RAAK MY NIE MEER
Jy raak my nie meer
die haartjies op jou wange
die bitterwit huisies van jou mond
die warm holte van jou hand
die soet lepel van jou tong
die droë distel van jou liefde
roer my nie meer
jy het glansloos geword soos dié om jou.
En nou eers na al die baie stil dae
kan ek sonder hartseer
aan jou dink
en bly wees oor jy nie weet
hoe my lekhart leegbloei
in my oë.
ONDERWYSER
Jy staan voor ons in die klas
by jou tafel, by jou moedertaal
by jou boeke, jou hoedjie en jou tas
Jy staan voor ons soos ’n klein Jericho
en al het jy mure om jou gebou
dra jy tande van silwer en goud
en al het jy wagters in al jou torings
bly daar ’n Ragab in jou
Tog bly jy sterk,
al trek ons elke dag óm jou
met die ark van die jeug op ons skouers,
met trompette van ligsinnigheid voor ons monde
Tog bly jy werk,
al krummel jou mure op die sewende dag
al val jy vooroor op die aarde
jy sal nie kla oor jou lot
want Malherbe is jou here en
Totius jou god.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.