Kaptein Casanova. Ettie Bierman

Kaptein Casanova - Ettie Bierman


Скачать книгу
Ons ry nóú. Almal aan boord!”

      “Gaan JA nul-een-drie vertrek?”

      “Enige oomblik van nou af.”

      Die pers verloor belangstelling, sprei in ’n ander rigting en die kameras verdwyn.

      Petri het gehoop haar bevelvoerder het na die 747 verwys. Maar dit is na die passasiersbus, nie die vliegtuig waarheen hulle moet gaan nie.

      Buite begin dit reën. Nog ’n ry busse met portiers daag by die vertrekeindpunt op, met sekuriteitsbeamptes in reënjasse.

      Johan de Villiers kyk om hom rond. “Wie is hier vir hotelreëlings? Net jy, juffrou Pretorius? Doen ’n aankondiging en sien asseblief toe dat passasiers oor nagstopfasiliteite ingelig word.”

      Petri aarsel. Sy weet nie hoe en oor watter mikrofoon nie. ’n Aankondiging, met watter bewoording?

      Op pad terug na die laaiblad let Johan de Villiers die amandelvormige oë op. Donkerbruin. Amper swart, met ’n sagtheid daarin wat ’n mens aan fluweel herinner.

      Hy bly ’n oomblik staan. “Wat is fout, bloeisel?”

      Petri huiwer, druk dan moedig deur. “Mag ek Burgerlike Lugvaart se geriewe gebruik, kaptein? Moet ek ’n standaard-noodaankondiging doen?”

      Johan kyk ’n tweede keer, merk dan die onsekerheid en senuwees. “Is jy ’n nuwe skeepskat?”

      Petri knik. “Nog in sellofaan toegedraai.”

      Hy het tyd vir onderstebo glimlag. “Jammer, bloeiseltjie, dinge buite is chaoties. Waar is Jennie?”

      Blykbaar Janine Oberholzer. Petri het gehoor hulle is glo verloof. “Elders besig, kaptein.”

      Johan onthou hy het haar by die assuransietoonbank gesien, waar ook probleme ontstaan het. Eerder as om die sku groentjie verder te verskrik of Janine te laat roep, tel hy self die mikrofoon op.

      “Dames en here, kaptein De Villiers van vlug JA nul-een-drie. My spyt weer eens oor die vertraging deur veiligheidsmaatreëls genoodsaak – maatreëls wat ook noodsaak dat u hier oornag, waartydens verblyf en bykomende uitgawes op die lugdiens se onkoste sal wees.”

      Hy hou die mikrofoon vas. “Wat nog? Vervoer en moontlike vertrektyd?”

      Hy is nie net aantreklik nie, maar nog vriendelik en bekwaam daarby. In teenstelling daarmee voel Petri meer junior as haar twee maande ondervinding op oorsese roetes.

      “As kaptein nie omgee nie ...”

      Johan wens hy het die klassieke skoonheid onder meer positiewe omstandighede ontmoet. Hy het vyftien minute, waarvan tien reeds gebruik is ... Maar die oë wat die kameraman in ekstase gehad het, bekoor hom ook. Hy druk weer die knoppie aan die mikrofoon. “Dames en here, vervoer is vanaf die vertreksaal na ’n nabygeleë hotel gereed. U word versoek om alle handbagasie met u saam te neem. Verdere aankondigings sal later gedoen word om u ten opsigte van die beoogde vertrektyd op die hoogte te hou. Namens die hotelgroep asook Jakaranda Lugdiens wens ek u ’n aangename nagrus en ’n voorspoedige reis môre toe.”

      Johan kyk verskonend na Petri. “Impromptu. Reg so?”

      “Perfek. Dankie, kaptein.” Sy kan nie help om op te let hoe bruingebrand hy is nie; manliker, langer en leniger as Nico, met die mees romantiese mond en glimlag wat sy nog gesien het. Sy wonder of hy en Janine binnekort gaan trou? Wat maak dit saak? wonder sy ergerlik. Hy is verloof, en sy binnekort ook. Sy is onbillik teenoor arme Nico, wat die gaafste vriend is wat enige meisie kan verlang.

      ’n Donderslag klink op en die reën val harder. Tussen die reënjasse en sambrele deur pyl ’n man in ’n verslete hemp en broek op haar af. “Hoe gaan die stormweer die vliegtyd beïnvloed?” eis hy.

      “Die reën sal moontlik môre opklaar,” antwoord sy.

      “Ek probeer die meteorologiese buro kontak, maar hulle is doof en dood.”

      “Die kantoor sluit vyfuur smiddae, meneer.”

      Dit lyk asof hy nie registreer wat sy sê nie. “Altocumulus op twaalfduisend-driehonderd en ’n kopwind van vier-komma-ses. Agtuur, sewe-en-veertig minute?”

      Hy weet meer as Petri en sy skatting klink akkuraat.

      “Omtrent nege-uur,” stem sy saam.

      “Omtrent ...? Passasiers is geregtig om presies te weet!”

      Nie eers die stuurkajuit se bemanning kan die vlugduur tot op ’n minuut bepaal nie. “Agtuur, vyftig minute,” gee sy toe, meer om die eksentrieke man gelukkig te hou.

      “Sewe-en-veertig.” Met ’n laaste kyk na haar verdwyn hy met sy ewe gehawende kajuitsak in die naaste kleedkamer.

      Janine daag op. “Haai! Petronella J.C. Pretorius? Jy lyk te lig vir so ’n swaar handvatsel. Wat noem ek jou?”

      “Petri, as jy wil.”

      “Ek wil. Enigiets is beter as Petronella Johanna Catharina. Jammer, Petri, dat ons jou in die front-line gelos het. Ek was by Avion Life. ’n Ou wou ’n polis vir tweemiljoen uitneem. Kan jy dit glo?”

      “’n Versekeringspolis?”

      “Lewenspolis. Die maksimum hier by die agentskap is honderdduisend. Selfs dié se premie kon hy skaars bybring. Die laaste rand moes hy met silwer en sente bymekaarskraap. Die man is getik as jy my vra. Hoe gaan dit hier?”

      “Goed, onder omstandighede. As gevolg waarvan is die vertraging?”

      “Nugter weet. Ek wou in Londen lakens en handdoeke koop; nou sal ek nie tyd hê nie.”

      “Enjinprobleme?”

      “Nee. Waar is die res van die mense? Selma-hulle en Ronnie?”

      “Ek weet nie. Al wie ek gesien het, was die kaptein en nou jy.”

      Een na die ander volgelaaide bus vertrek, elk met ’n lid van die bemanning aan boord om na die insittendes om te sien.

      By die hotel is vyfsterdiens gereël. Telekse, faksmasjiene, rekenaars, skoonmaak. Luukse suites met telefone en televisie. Saunas, etes, drankies.

      “Honderd-drie-en-dertig plus twee babas,” kontroleer die hotelbestuurder, dankbaar dit is die 747-Combi, wat meer vrag as sitplekke het. Die 747 Super-B met driehonderd-vyf-en-tagtig passasiers sou ’n krisis veroorsaak het.

      “Honderd-twee-en-dertig,” rapporteer die onderbestuurder. “Een kort.”

      Janine en die hoofkelner vergelyk die kamersleutels met die passasierslys. Hulle kom tot dieselfde slotsom: iemand het op die lughawe agtergebly.

      “Daardie ou met die voorliefde vir draaie loop,” raai ’n kelner. “Ek het hom nie hier gesien nie. Maak seker of die luidsprekers in die kleedkamers werk.”

      Die busbestuurder is hulpvaardig. “Ek moet in elk geval teruggaan vir ’n laaste klompie goed. Ek sal hom soek en hierheen bring.”

      Janine hanteer die aansluitingskonneksies, die senior waardinne die telekse en boodskappe, en Petri en die ander juniors die minder dringende probleme – bababottels en kamerdiens.

      Toe dit rustiger gaan en daar ’n verposing is, stel Nico voor: “Koffie by my? Of twee by jou?”

      Petri is dors en sou graag wou, net om ’n paar oomblikke te ontspan. “Jammer, Niek, miskien later,” maak sy verskoning. “Die kaptein het gevra dat ons ’n paar minute moet vergader. Dit sal seker nie lank duur nie. Sien jou nou-nou.”

      Kaptein De Villiers is nie op reëls en regulasies ingestel nie. Netnou was hy sonder sy pet, nou is sy das losgeknoop. Hy lyk moeg en gespanne. In sy kamer wag hy totdat hy almal se aandag het. Dan praat hy in ’n saaklike stemtoon: “Ek hoef dit nie uit te spel nie – julle weet teen hierdie tyd seker almal dat dit nie suiker in die brandstof was nie.”

      Die eerste offisier en derde vlieënier lyk geamuseer.


Скачать книгу