Deur ruite van die reis. Melanie Grobler
deur ruite van die reis
melanie grobler
Human & Rousseau
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van deur ruite van die reis mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
as die weerligvoëls my jaag
Dis waar die landskap kom om te sterf
waar die verlate wind aanhoudend kla
in die broeiende bloekombos
dis waar die koue maan snags versteen
aan die koue horison van oerdrome hang
in die vooroorgeboë en halsstarrige stilte
van die nag hoor ons die kastraat se hoë stem
deur die voorvaderlike begraafplaas swerf
nagvalkies bewe in die versadigde lig
van die melkweg en swartkraaie tuimel
deur die donker lading sterre
verby die punt van middernag
maar hier in my middeljare neem lomp
weerligvoëls my na die donker bronne
onder die denke, na gate in die grond
na grotte vol swerms geheime
ek die donkeroog-kartograaf
van familieverjaardae en doodsdae en doopdae
kom by die deur wat langsaam oopmaak
dan trap ek diep in die opdrifsels van sneeu
die soutwater van lang wintersmaande.
die slaaplopers
Die woestyne van die aarde tuimel deur die hemelruim
nag na nag verpleeg hul die gedigte
die geslaapte weergawe van die werklikheid
donker gedaantes bevolk die hoeke van hul oë
hulle haal hulself oor om by die mond van die rivier te gaan sit
en kyk hoe die nag om ’n skeefgetrekte aarde sirkel
die slaaplopers dra die smeulende winter agter hul ooglede
hul tonge breek die koue klippe en die verhemelte
word die vlak waaroor hulle dun fluitgange stuur
die slaaplopers se lywe is ’n ark wat sal sink en van waar
geen duif sal vlieg om terug te keer met ’n palmtakkie nie
hul gedigte groei uit die stof en bloed en sneeu en berigte
wanneer die aarde soos ’n plaag om hul vou en hul vingers
soos ’n tong in ’n rokerige mond na betekenis soek
is die gedig by sy einde, ’n sweer wat soos ’n ryp vy
uit die mik van ’n boom val. die gedig is die geskarrel
van hoenders in die hok, die plek bewerk deur erdwurms
wat ons leer om die toekoms agteruit in te gaan.
ses kwatryne
Die draaijakkals is gebore om agter
die geluid van larwes aan te grawe
om ná die somerreën onder die blou
van die hemelboog in die rondte te tol.
Met pote soos dié van ’n kameel sit sy
soos ’n hond op haar skraal agterstewe
van ouds af maak sy haar kleintjies groot
op die melk van ander singende diere.
’n Somber dier soos verbeel deur Kafka
lyk op ’n afstand soos ’n tweekopslang
met hierdie vers vlug die reptielpaar
deur die tweespalt van hul gedagtes.
Die diere wat ek vertroetel en name gee
brul onbeskaamd in my binneste
leeu en tier en wildekat
met spoeg wat uit hul bekke spat.
Sonder enige begrip hang ons aan die heelal
soos verstrooide beendere roep ons na mekaar
geteister deur honderd klokke
gee ons vorm aan ons eensame gedagtes.
Asof in ’n dans, van die apeks tot sykant
ontvou die heliks soos ’n tydlose gedagte
ver weg van die intellektuele woede
slaap die kouri op die seebodem.
argitek
Soos koraal, half vlees, half klip, staan die skiphuis
in sy hart – maer en lenig, altyd in vervoering
soos die dag toe hy uit die vlamme van sy verbeelding tree
om met swaaiende arms al langs die duine te draf
die intensiteit van sy gedagtes, sy gemoed
gevul met skadulyne en terreine en volumes
wat herinner aan oorlogskepe
draakkoppe wat vlamme spu aan die boë
wyd uitgestrek die louwarm baai
waar die skip om die bog vaar
uit die vuur en drang
klim hy die trap na die tekenkamer
om sy skiphuis op die soutwater van verganklikheid
te teken. dan volg die waansin van die transformasie
as hy, albatros, eers die huis, dan die louwarm baai omsingel
stilte as die seevoël op die draak se kop gaan sit.
pied-à-terre
Ons versamel bleekwit skulpoortrekte visbene
vir die blou bak op die geskropte tafel
ons kalk mure, bak brood, stowe lamsboud
versorg die tuin en plant tiemie
die klamte van die middag, koeltes
van die olyfboom, droë reuk van gras
gebare en glimlagte van eilanders se gesigte
rusteloos soos dié van voëls
ons leef in ’n witgekalkte heuwelhuis
met wolke in die agterplaas
ons haal asem en ons asemhaling is
soos die sugte van die wind rondom ons
vir oulaas wil ons die oorblyfsels van ’n uitsig
die blou, die see en die lug, beleef
saam soek ons na reste van die dag
in warm akkers van oker en die roesbruin van klippe
ons wag en wag vir die nag en die as van die vuur
of die gitswart van rotslawa in die maanlig
ons lewe verheerlik en eer die grootsheid
en