Deur ruite van die reis. Melanie Grobler
man tussen die riete van agterdog
Sit die groenteskrapertjie eenkant, trek my voorskoot uit –
die geskilde komkommers en appels bly lê op die kombuistafel
en die lig weifel tussen stoel en deur. ek loop
die nuwe pad na die melkbos, skuins agter hom aan
deur die fluitjiesriet om opdrifsel woorde te versamel
– net ’n rukkie langer dan sien jy lig kaats naby die rand van die water –
hy sing hoog, sing laag
sing soos een wat van vriende afskeid neem
ou man wat dun en regop tussen rugwerwels
van die middelwater sink, verder insink
die digter met die troebel oë, ’n kus waarop
woorde dryf
ek merk die plek en die gety – ou man tussen die riete van agterdog.
strandhuis
As die maan wydoog oor die oggendsee sak
vou die oggendlig om die melkhoutbos
sterk en geweldig die weivelde van die nag wat nou rus
teen die berghange. waar ek skuil tussen ’n paar groot rotse
skryf ek ’n reël aan jou
dan neem ek die kronkelpaadjie huis toe
oorval deur blosende wolke pluk ek slanke riete
lang ure sit ek op die kaartstoel tot die ruimte
oorgeneem word deur die ritseling van die siel
vanoggend sidder ’n hoë wind bokant die strandhuis.
Voor ek my linkerhand uitsteek
om die oggendson nader te wink
omhels die kring van jou afwesigheid my.
Is dít alleenheid
hierdie oopbloei van gedagtes?
seeskulp
Lig hierdie skulp na jou oor en jou bloed sal suis met asemlose
helderheid. daardie galmende afgronde waar basstemme
gedy in die dieptes van ’n soutgety. elke klank word die eggo
van die buitenag. ek hoor jou stem soos op straat
die galmende klokke van Krakow, dan in ’n moskee in Córdoba
jou stem tussen gedempte dreunsang
frase vir frase lig die Goldbergvariasies hul in die konsertsaal
jou voetstappe, die beweging van jou stem en die durende roep
van die dikkop. aan die naat van bewussyn, soos ’n droom in die newel
torring gedagtes van verlies aan my hart. hoe lank gaan jy nog
ronddwaal in vreemde stede op soek na slaapplek of betekenis
of dwaal oor heuwels om ons liefde met sneeu te vergelyk?
nêrens is daar ’n vaste huis of tuiste. die lewe gaan heen
met veranderinge. ook die hartklop van die seehuis verander
in die leë jare. die nag praat al hoe sagter.
lamentasie
Ek is die sug wat klou aan die hartseer donker sipres
daar is diegene wat vir niemand rou nie, daarom het God die maan gemaak
Grigor Narekatsi (951–1003 n.C.) Die boek van lamentasies
lemoenbloeisels
Ek dag mirakels bestaan nie meer nie, maar nee sê die vigslyer
met ’n kleurryke vlieër. ’n skoot gaan deur die hart
nooit sal hy weer lemoenbloeisels ruik nie. ekstaties hoog
word hy op skouers deur modderige stegies gedra
vroue huil en die wit duif vee die hemel met sy vlerke
hoër en hoër die wit geskilde lemoen van sy vlerke, die vlerke
van vrede wat vlieg. in die middag as die slapelose digters
om die graf vergader sal die wit duif slaap.
* * *
Die bloeisels is die dodemis van sneeu
maar die politikus skil die lemoen en sê dis die son.
* * *
Asof daar uit gewelddadige linies getree word
val die grys gefluister op die grond
die vonnis staan op die magistraat se bef geskryf
en alles verander in ’n grommende gerug
hierdie niks, hierdie vormlose angs wat ons
snags bedreig. god hurk oor die huis van my kinderdae
en ek bid ’n falsetto gebed, bewe soos ’n hond
in die duisternis van ’n laat naggedig.
* * *
Koringbrood van moord en mielies van geweld
roglande van die dood. dwarsoor die dorsland
van transformasie loop mans na fabrieke en mynskagte
tussen geweerskote en sonsondergang buk werkers
agterdogtig. die land is hoog en die land is laag
nou is die vers die pad van rewolusie wat lei
na beddings gevul met blomme
en versteende plakkershuisies.
* * *
Waar Christus se varkblom blom
hang die verwonde maan oor die plakkerstad
by die kruispad van verbeelding is my hande
twee duiwe wat spartel. brand weer saam met my
my lief, as jy Afrika aanvaar kan jy hier sterwe.
* * *
Dwalend van Genesis tot die apokalips, langs lyne
en sirkels na die diepte van die labirint
die ou vrou, beskerm deur die waansinnige skadu
van ’n sambreel, struikel in die straat. as die wit duif
sy oë knip sien sy die mars van die werkers
o gebalde vuiste wat glimmer in die gewelddadige
middagson. kyk, twee duiwe wat spartel in my hande.
* * *
[reeds met die afsluiting van hierdie gedig begin die volgende siklus
hoekom is geweld so maklik om te verbeel maar liefde bly opgesluit in woorde?]
Medea se rok van vuur
My hare hang laag oor die uitgedroogte lyf
skerp dryf die siel die lyf op die skaapvel rond
bang? vra hy. nee, antwoord ek as hy die nagrok lig
die bedsere, die gekneusde boude
deur swere
leer ons die etter van drome verstaan
weet jy, sê hy, hulle het vir jou ’n rok van vuur gemaak
onthou