Die bruid van Blouberg. Susanna M. Lingua
’n sentimeter van Blouberg mag verkoop nie. Die plaas mag nooit verkoop word nie. As jy na ’n jaar hier op Blouberg nog voel dat jy nooit hier sal aard nie, mag ek jou deel koop – maar nie voordat ’n volle jaar verstryk het nie. Intussen moet ek jou iets van die boerdery leer, en tant Elsa moet jou leer om ’n uitmuntende boervrou te wees. Dan is daar nog ’n klousule in die testament wat jou ook raak . . .”
“Wat, nóg ’n klousule?” Lecia stik byna van ergernis, maar sy ruk haar gou reg. “Maar verduiwels, uit hoeveel volumes bestaan daardie ou satanskind se ellendige testament? Ek glo glad nie hy was by sy volle verstand nie. Maar gaan voort, Wouter, ek kan maar net sowel nou die ergste hoor. Ek voel al klaar of ek kan slange vang, moet dus nie probeer om my gevoelens te spaar nie.”
Wouter kyk haar geamuseer aan en lag saggies. Dis hoe hy die Branks van Blouberg ken – kortgebaker en uitgesproke. Ja, as hulle eers kwaad is, stuit hulle nie vir die duiwel nie, en elkeen wat in die gedrang kom, moet dit ontgeld.
“Ek vrees jy gaan nou voel of jy slange, tiers en leeus kan vang, meisietjie,” sê hy met ’n glimlag. “Want oom Isak het my nie net as eksekuteur van die boedel aangestel nie; hy het my ook aangestel om ’n oog oor jou liefdesake te hou. Solank jy op Blouberg woon, mag jy nie met ’n man trou wat nie my goedkeuring wegdra nie. Dit is nou om jou erfenis teen fortuinsoekers te beskerm.”
Hierdie aankondiging van Wouter laat die trotse en selfstandige Lecia byna ’n oorval kry. Nog nooit, sedert sy mondig geword het, het iemand sy neus in haar sake gesteek nie. Waar kom Wouter vandaan om dit te wil doen?
Sy kyk hom grimmig aan.
“Jý vir my ’n lewensmaat kies! Jy kan na jou peetjie vlieg met oom Isak en sy simpel testament en al. Wie en wat presies dink julle is ek? Dink julle ek is onnosel of vertraag? Ek het nog nooit in my lewe van so ’n sotlike affêre gehoor nie. Ek is vier en twintig, en nou het ek ewe skielik hulp nodig om vir my ’n lewensmaat te kies. Nou ja, laat ek jou dit vertel, Wouter: ek het nie jou of enigiemand anders se hulp nodig om vir my ’n lewensmaat te kies nie. Verstaan jy? Ek laat my ook nie deur jou of enigiemand anders regeer nie. Julle kan almal na die duiwel gaan met Blouberg en al. Daardie ou satanskind van ’n oom Isak is natuurlik dood van al sy bemoeisiekheid. Hy kon destyds nie sy sin met my pa kry nie, toe dink hy dit sal maklik wees om sy sin met my te kry. Maar laat ek jou sommer nou reghelp: oom Isak gaan glad nie sy sin met my kry nie – nie nou nie, ook nie môre nie . . .nooit nie. Julle kan elkeen met ’n enkelkaartjie maan toe vlieg. Net môre gaan ek terug Johannesburg toe.”
“Jy kan dit nie doen nie –” begin Wouter bedaard, maar Lecia gee hom nie kans om meer te sê nie.
“Kan ek nie?” val sy hom woedend in die rede. Haar oë blits soos twee groen vlamme. “Wie gaan my belet? Jy?” Sy bekyk hom grimmig van kop tot tone. “Jy is net so agterbaks en skynheilig soos wat daardie skelm oom Isak was. ’n Mens kan sommer sien hy het jou grootgemaak.”
“Waarom sê jy ek is skynheilig en agterbaks, Lecia?” vra Wouter kalm terwyl sy blik ondersoekend op haar rus.
“Jy vra nog!” sê sy bitter. “As jy nie skynheilig en agterbaks was nie, sou jy die prokureur in Johannesburg opdrag gegee het om my vooraf van al hierdie sotlike klousules in oom Isak se testament te verwittig, maar jy het dit opsetlik verswyg. Jy het gewag totdat ek eers hier is, en nou vertel jy my dit.”
“Jy het gelyk,” antwoord hy kalm, “ek het dit opsetlik verswyg omdat ek dit persoonlik vir jou wou sê. Dis ’n persoonlike saak, Lecia, maar dis darem jou eie skuld ook dat jy nie eerder daaroor ingelig is nie, weet jy? As jy vir die prokureur gevra het om die testament vir jou te lees, sou hy dit gedoen het. Oom Isak was ook nie skynheilig en agterbaks nie, meisietjie. Hy was ’n trotse en ’n baie reguit man, skatryk en gewild in ons gemeenskap. Almal het hoë agting vir hom gehad.”
“En dit het hom natuurlik verwaand gemaak,” kap sy onthuts terug. “Daarom dat hy hom die reg kon toe-eien om my lewe te wil regeer. Maar ek laat my van niemand voorskryf nie, Wouter. Ek is nie ryk nie, maar sonder Blouberg se opbrengs sal ek ook nie van honger omkom nie. My verdienste as musiekonderwyseres voorsien in al my behoeftes . . .”
Toe die huishulp met twee koppies koffie inkom, staak hulle voorlopig die gesprek. Katrien verkyk haar behoorlik aan die moderne stadsjuffrou in die deftige, liggroen pakkie wat nou die vrou van Blouberg is.
Die ou huishulp het haar bedenkinge oor Lecia se vaardigheid as boervrou, maar sy sê beleef: “Die oumevrou sê die juffrou kan maar kom eet sodra die juffrou klaar koffie gedrink het. Arrie het die juffrou se tasse kamer toe gevat. Moet ek dit vir die juffrou gaan uitpak?”
“Dankie, maar dit sal nie nodig wees nie,” antwoord Lecia terwyl sy haar koffie roer.
“Jy kan maar die juffrou se klere uitpak en in haar kas hang,” tree Wouter onverwags tussenbeide. “Die juffrou is moeg, sy het baie ver gery.”
Lecia werp hom ’n onthutste blik toe. Dis op die punt van haar tong om vir hom te sê hy moet hom by sy eie sake bepaal, maar Katrien se teenwoordigheid laat haar voorlopig swyg.
Sy wag egter net totdat die huishulp die vertrek verlaat het, toe draai sy na hom en sê openlik vererg: “Jy matig jou gans te veel aan, Wouter. Wat gee jou die reg om die huishulp aan te sê om my tasse uit te pak? Ek het jou gesê ek gaan môre terug Johannesburg toe, en ek het dit bedoel.”
“As jy môre teruggaan, sal jy die eerste lafhartige Brank wees wat nog ooit ’n voet op Blouberg gesit het,” antwoord hy onverstoord. “En nog ’n ding: as jy môre teruggaan Johannesburg toe, verbeur jy jou erfenis, maar as jy ’n jaar lank op Blouberg vertoef en jou aan die testamentêre bepalings onderwerp, moet ek jou voor jou vertrek ’n groot bedrag as koopsom vir jou deel van Blouberg betaal. Daarna sal jy vry wees om te doen wat jy wil en te trou met wie jy wil. As jy reeds verloof is . . .”
“Moenie laf wees nie,” snou sy hom vererg toe. “Jy kan mos sien ek dra nie ’n verloofring nie. Blykbaar weet jy nie dat ek twee jaar lank oorsee was en eers nege maande gelede teruggekom het nie. Daar was nog geen tyd om ’n verloofde aan te skaf nie . . . nie dat ek weet wat ek met ’n man moet maak nie. My tant Emma sê die goed is net ’n ergernis en ’n oorlas, en ’n vrou is baie beter daaraan toe sonder ’n man. En laat ek jou dit vertel – ek is geneig om met haar saam te stem.”
Lecia voel nog steeds die hoenders in vir Wouter. Dit is vir haar nou baie duidelik dat hy net so vermetel en heerssugtig is soos wyle oom Isak, maar as hy dink hy gaan op haar kop sit, misgis hy hom. Sy laat nie mense toe om op haar kop te sit nie, net vir tant Emma . . . soms.
Wouter verras haar egter toe hy ewe ongeërg sê: “Ek en oom Isak het darem gereeld koerant gelees. Ons het geweet dat jou pa ’n gevierde advokaat was en dat jy twee jaar in Rome musiek gestudeer het. Trouens, ons het elke saak gevolg waarin jou pa opgetree het, dus het ons ook geweet dat hy nooit ’n saak verloor het nie. Omdat julle in hoë kringe beweeg het, was daar dikwels ’n foto of ’n berig in die koerant oor jul doen en late. Gevolglik was ons altyd op die hoogte van jul bewegings.”
“Ek het nie geweet julle mense lees ook koerant nie,” sê sy snipperig. Sy kyk minagtend na sy groot, uitgetrapte velskoene. Wouter se blik volg die sydelingse beweging van haar oë. Hy glimlag stilweg en stoot sy voete opsetlik ’n bietjie vorentoe.
“Ja, ons lees die koerant nogal gereeld,” glimlag hy geamuseer. “Ek kan jou selfs sê wat jou woorde in die hof was nadat jy daardie motorfietsryer raak gery het. ‘Edelagbare,’ het jy gesê, ‘ek laat nie ’n ellendige motorfietsryer my uitdaag nie. En as hy nog boonop so onnosel is om beheer oor sy motorfiets te verloor, is dit net sy eie skuld dat hy met ’n gebreekte been in die hospitaal beland het.’ Jou pa het jou boete betaal, en oom Isak het daar en dan besluit dat jy ’n Brank so na sy hart is. Want soos al die Branks van Blouberg is jy nie ’n lafaard nie. Jy is nie bang vir ’n uitdaging nie.”
Lecia gluur hom net aan en reageer nie op die openlike kompliment nie.
“Maar as jy jou koffie klaar gedrink het, kan jy gerus eers gaan eet,” vervolg Wouter doodluiters. “Ons sal weer later gesels. Kom, ek