Ena Murray Omnibus 37. Ena Murray
Omnibus 37
Die Meissner-kliniek
Dokter Julene
Die ongebore uur
Jasmyn
Die Meissner-kliniek
1
“Ek wens jy wil liewer afsien hiervan, Elke. Ag, my kind, maak dit werklik soveel saak waar jy gaan praktiseer? Jy is nou so goed gekwalifiseer, elke kliniek sal jou met oop arms ontvang. Jy kan en sal ’n goeie dokter wees – enige plek op aarde. Hoekom moet dit nou juis die Meissner-kliniek wees?”
Voordat sy nog die laaste vraag gestel het, ken die moeder egter die antwoord so goed soos haar dogter. Haar dogter het jare lank gestudeer en in ’n spesifieke rigting gespesialiseer om een einddoel te bereik: die Meissner-kliniek. Om volwaardig lid te word van die Meissner-mafia, soos die res van die mediese wêreld spottend na die span dokters van die kliniek verwys.
Sielsbekommerd kyk die ouer vrou na haar dogter; haar dogter met die egte Meissner-koppigheid. Sy is vas van voorneme om haar lidmaatskap van die Meissner-mafia te ontvang, buig of bars. Sy het pas afgestudeer in die pediatrie en sy is oortuig dat sy die volste reg het om nou haar plek langs die beroemde en bekwame dokters in die kliniek in te neem. Net . . .
“Mamma, ek is jammer.” Haar dogter val haar somber gedagtegang met verskonende stem en oë in die rede. “Dit was met een doel voor oë dat ek al die jare so hard gewerk het, en Mamma het dit tog geweet. Ek het moeite gedoen om met ompaaie uit te vind in watter rigting die kliniek ’n tekort aan personeel het, en ek was baie gelukkig dat dit in die rigting was waarin ek belanggestel het.”
Haar ma sug gelate. “Al het hulle ook in watter rigting personeel gekort, sou jy daarin gaan spesialiseer het, want jy is behep met die Meissner-kliniek. Ek het nog altyd gehoop dat jy intussen tot nugterheid sou kom, Elke. Ek bedoel dit nie as ’n verwyt nie – ek is trots op jou en op wat jy bereik het – maar as dit alles net om die Meissner-kliniek gegaan het, weet ek nie of al die opoffering die moeite werd was nie. Miskien was dit dalk selfs tevergeefs, want ek het ’n gevoel jy is die een dokter wat nie in die Meissner-kliniek ’n plek gaan vind nie.” Dis nou haar beurt om haar dogter verskonend aan te kyk. “Ek is jammer, my kind. Ek wil nie ’n demper op jou toekomsdrome plaas nie, maar ek wil ook nie sien dat jy jou aan onnodige seerkry gaan blootstel nie. Jou oupa het jou pa se naam uit die geslagsregister van die Meissners geskrap. Jou pa en sy nageslag bestaan nie meer vir Albert Meissner nie. Hy gaan jou nie aanvaar nie, Elke!”
“Mamma . . .” Elke neem vinnig langs haar ma plaas, kyk haar dringend aan. “Wil Mamma werklik vir my sê dat Oupa ná byna dertig jaar nog so bitter is dat hy sy eie kleindogter die deur sal wys? Sy kleindogter wat ’n volwaardige kinderarts is? As ek vandag voor hom kan gaan staan en vir hom sê: ‘Oupa, my pa het jou teleurgestel, maar hier is ek nou, jou eie kleindogter, en ek het in jou voetspore gevolg.’ Ek kan nie glo dat hy my summier die deur sal wys nie! Ek is immers ’n Meissner, vlees van sy vlees en bloed van sy bloed. Trouens, ek is sy naaste bloedverwant, nader as al die ander wat in die kliniek werk.”
Haar ma knik, ’n bitter trek om haar mondhoeke. “Ja, my kind, maar in daardie bloed waarna jy verwys, is meer as fanatieke familietrots. In daardie bloedstroom loop ’n dik stroom verbittering en onvergewensgesindheid. Nee, hy voel nog net so sterk oor wat destyds gebeur het asof dit gister was.”
Elke frons skerp. “Hoe weet Mamma?”
Sy is verplig om te bieg. “Ek het, toe jy verder wou gaan studeer, my trots in my sak gesteek en vir jou oupa geskryf en gevra of hy jou nie finansieel kan help nie.” Sy sien die skok in haar dogter se oë en skud haar kop. “Jy wou so bitter graag gaan spesialiseer en ons het nie die geld gehad nie! Moenie vir my kwaad wees nie, asseblief!”
Elke laat haar ooglede ’n oomblik sak. Arme Mamma! Om vandag as ’n volwaardige spesialis voor Albert Meissner te kan gaan staan, het baie opoffering geverg, en nie net van haarself nie. Ook van haar ma . . .
“Wat . . . het hy geantwoord?” vra sy gedemp.
“Hy het nie geantwoord nie.” Hul oë ontmoet. “Hy het hom nie eens verwerdig om te antwoord nie.”
Skielik lê die trane in Elke se blou oë. “Nou verstaan ek eers regtig . . .”
“Wat verstaan jy?”
“Hoekom Mamma toe met daardie ou man gaan trou het. Dit was om geld in die hande te kry om vir my studie te kan betaal! O, Mamma!” Sy sien die erkenning in haar ma se oë en haar hart krimp saam van liefde en hartseer en skaamte. “Jy het dit net vir my gedoen! Ek . . . ek is sonder woorde . . .”
Maar albei onthou daar was daardie tyd baie woorde. Woorde van woede en teleurstelling wat uit die jong mond gespat het. “Wat wil Ma met so ’n ou man maak?” is brutaal gevra. “Sy een voet is klaar in die graf!” Haar ma se flou verskoning dat sy bang is vir die eensaamheid, het die dogter summier verwerp. “Watter geselskap kan so ’n ou man vir Ma wees? En moenie vir my kom vertel Ma is lief vir hom nie. Dis twak!”
Sy het stil geantwoord: “Daar is meer dinge as liefde op die aarde, Elke. Liefde is die grootste, sal altyd wees. Maar tussen my en Joachim lê daar ook mooi dinge – dinge soos kameraadskap, respek, waardering. Ons het mekaar nie lief soos wat twee mense wat gaan trou mekaar behoort lief te hê nie, maar daar is baie ander maniere van liefhê. Die gevoel wat uit respek en waardering gebore word, is in hierdie jare van ons lewens veel meer werd.”
“Mamma is nie in dieselfde ouderdomsgroep as hy nie! Hy is minstens dertig jaar ouer as Ma . . .”
“Vyf-en-twintig,” het sy gekorrigeer. “Ek is jammer jy voel so daaroor, Elke, want ek gaan met hom trou. Jy sal dit net moet aanvaar.” Sy het haar dogter met versluierde oë aangekyk. “As jy enige ander rede behalwe ouderdomsverskil kan opper hoekom ek nie met Joachim du Plessis moet trou nie, sal ek luister. Anders . . .”
“Mamma, jy weet mos ek kan nie. Oom Joachim is ’n gawe man, ’n heer. Dis ten minste gerusstellend. Maar . . .Ag, Ma, los dit, asseblief! Jy is nog pragtig, nog jonk . . . Miskien kom daar iemand op die toneel en dan is jy gebind aan ’n ou man wat reeds halfpad dood is!” Sy het haar ma vraend aangekyk. “Dit laat my dink . . . Was daar nooit iemand in al hierdie jare met wie Mamma die pad kon saamstap nie?”
Haar ma het net stil geglimlag. “Ek was te besig vir sulke dinge!”
En Elke het geweet dis die waarheid. Te besig om ’n dogter met ’n droom te finansier om tyd te hê vir haarself en haar eie behoeftes. Dierbare, wonderlike, onselfsugtige Mamma!
Hóé onselfsugtig besef sy vandag eers. “Ek het reg, nè, Mamma? Dis ter wille van my dat jy met oom Joachim gaan trou het.”
Die moeder sug, erken: “Ja, my kind. Ons was baie eerlik met mekaar. Ek het geld nodig gehad om jou te help en Joachim het iemand nodig gehad om hom te versorg op die laaste skof. Maar ek was nooit spyt dat ek met hom getrou het nie, Elke. Hy was altyd ’n heer en ek is dankbaar dat ek aan sy sy kon wees tot op die end. In die paar jaar wat ek sy vrou was, het daar ’n baie mooi verhouding tussen ons ontwikkel. Ek kon werklik opregte trane oor hom ween toe hy dood is. Ek het ’n dierbare, wonderlike vriend verloor. Hy het sy deel van die ooreenkoms nagekom. Hy het jou studie betaal en genoeg vir my nagelaat sodat ek rustig verder kan lewe,” glimlag sy. “Al wat ek nog graag wil hê en vra, is dat jy nou jou plekkie in die son vind, my kind.”
“En dis nie in die Meissner-kliniek nie?”
“Nee. Ek dink nie so nie.”
Dis lank stil. Elke se stem is pleitend toe sy die stilte verbreek: “Mamma, hierdie droom is al soveel jare deel van my. Ek kan dit nie nou sommer net prysgee nie! Asseblief, verstaan dit! Maar baie dankie, Mamma. Baie dankie vir . . . alles . . . en dit sluit die volle span van my leeftyd in. Daar is baie wat ek nie raakgesien het nie, baie waarvan ek nie eens weet nie. Maar daar is ook baie wat ek wel raakgesien het. En vandag weet ek van die heel grootste opoffering. Ek kan maar net sê: Albert Meissner self sou nie ’n beter vrou vir sy seun en ’n beter moeder vir sy kleinkind kon kies nie.”