Ena Murray Omnibus 37. Ena Murray
in haar oë gesien en vir haar geglimlag. Albei het die dag onthou toe die jong seun na sy ma gekom en gesê het hy wil balletklasse loop. Sy het haar toestemming gegee en sonder dat dit ooit geopper is, het albei geweet dit sou ’n geheim tussen moeder en seun bly. Albert Meissner moes nooit daarvan uitvind nie. “Ek loop nou nog deeltyds klas, Ma. Ek voel dis wat ek wil doen.” Sy stem was pleitend.
Die moeder het geknik, gerusstellend oor sy hand gestreel. “Dan gaan doen jy dit, my seun.”
Maar hy moes eers by sy pa verbykom . . .
“Jy wil gaan dáns?” Daar was soveel onuitspreeklike verstomming in die vraag dat Fritz nie dadelik kon antwoord nie. Toe het die volle besef van wat sy seun hom aan die vertel was, getref. “Jy wil vir die res van jou lewe op jou toontjies gaan rondtrippel en stywe houtpoppe in die lug rondgooi? Jý? Mý seun?”
“Pa . . .”
“Dis jou ma se invloed hierdie! En daardie nooi wat jy hier aangebring het! Beeldende kunste!” Albert Meissner het hardop gesnork. Veragting en minagting het uit hom gestraal. “Jy is Fritz Meissner: Die toekomstige hoof en eienaar van die Meissner-kliniek! Dis wat jy gaan wees en niks anders nie! Jy gaan ’n skalpel hanteer, nie halfkaal vroumense in die lug ronddra nie! Jy gaan in die kliniek se gange rondhardloop om lewens te red, nie soos ’n verwyfde ding op verhoë rondtrippel nie! Jy gaan nie weer daardie Marlene-vroumens sien nie en ek wil . . .”
“Dis my lewe, Pa . . . en ek gaan daarmee maak wat ek wil, nie wat Pa sê nie. En ek gaan nie van Marlene afstand doen nie. Ek gaan met haar trou. Sy verwag reeds my kind.” Sy pa het soos ’n kolos van graniet voor Fritz gestaan. “Pa . . . Ek is jammer, Pa! Verstaan tog . . .”
“Stil!” ’n Vinger het na die deur gewys. “Trap! Jy is nie meer ’n Meissner nie! Ek het nie meer ’n seun nie! Jou naam word vandag uit die geslagsregister van die Meissners geskrap. Trap!”
Marlene sluit haar oë teen die geweld van die emosies wat hierdie herinneringe bring. Moeilike jare het gevolg. Fritz het ’n paar keer probeer om telefonies met sy pa te praat, maar tevergeefs. Albert Meissner het net geweier om na die telefoon te kom. Sy moeder is ’n rukkie later oorlede en hy het na die begrafnis gegaan. Weer het Albert Meissner sorg gedra dat daar geen toenadering was nie. Intussen moes hy vir homself en ’n verwagtende vrou sorg. Alle finansiële hulp was afgesny. Marlene moes haar kursus staak en het met illustrasies vir tydskrifte en uitgewers die pot op ’n manier aan die kook gehou, maar dit het bars gegaan. Al troos wat daar was, was hul liefde vir mekaar, hul dogtertjie wat later gebore is en die feit dat Fritz tog besonder vinnig opgang begin maak het en reeds redelik bekend was in die balletwêreld. Maar geld was maar weinig.
Marlene sug nou saggies by haarself en die herinneringe wek ’n weemoedige verlange na daardie swaarkryjare. Dit was eintlik wonderlike jare. Dit was nie alles net swaarkry nie. Daar was genoeg lekkerkry tussendeur geweef, wat dit alles die moeite werd gemaak het.
En toe gebeur die tragedie. Fritz gly tydens ’n balletopvoering op die verhoog en val met sy kop teen ’n pilaar wat deel van die dekor was. Bloeding op die brein, weke se bewusteloosheid en uiteindelik die dood. ’n Jong, belowende ster aan die ballethorison het verskyn, geskyn . . . en net so vinnig weer verdwyn. Moeder en dogter het agtergebly om alleen verder die mas op te kom.
Net deur bitter harde werk en deursettingsvermoë het Marlene Meissner vir haarself ’n plek in die kunswêreld oopgebeur. Sy het al gewilder geword as illustreerder en dit het finansieel begin makliker gaan. Maar daar moes steeds opgeoffer, afgeknyp en baie spaarsamig met geld gewerk word, want haar dogter het van jongs af ’n droom gehad: sy wou dokter word. Niks anders nie.
Gelukkig was Elke ’n baie intelligente kind en het goed gepresteer en met behulp van beurse en met wat haar ma kon vermag – hoe, sou net sy alleen weet – kon Elke haar studie voltooi. Maar dit was nie genoeg vir die klein, fyn Meissner nie. Sy moes spesialiseer sodat haar oupa haar net nie die deur kan wys wanneer sy die dag voor hom gaan staan en haar regmatige plek in die Meissner-kliniek opeis nie.
Ten einde raad is trots en verbittering in die sak gesteek en ’n smeekbrief aan Albert Meissner geskryf – waarop hy hom nie eens verwerdig het om te antwoord nie. Die enigste alternatief was om Joachim du Plessis se huweliksaanbod te aanvaar. Elke het as kinderarts gekwalifiseer soos sy wou en Joachim is oorlede en hier sit ma en dogter nou weer voor dooiemansdeur.
Marlene bring haar gedagtes terug na die hede toe haar dogter die motor voor die bekende en byna wêreldberoemde kliniek tot stilstand bring.
Hulle sit dit in stilte en beskou. ’n Mens sal eerder dink dis ’n luukse en baie eksklusiewe privaat hotel wat hier tussen die malse natuurskoon van die Boland nestel. Net soos by die eienaar se privaat woning lê ook hier nie ’n klip uit sy plek nie. Albert Meissner is ’n perfeksionis en alles wat syne is, is so na aan perfeksie as wat dit op hierdie aarde moontlik is. En hy verwag ook perfeksie van die personeel wat tussen hierdie mure werk.
Marlene kyk haar kind bekommerd aan. Ag, sal die liewe Here tog nie gee dat Elke liewer nou omdraai en vergeet van hierdie plek nie! Maar haar opregte gebed gaan nie beantwoord word nie, vertel die blink oë haar. Daar straal ’n trots en besitlikheid uit die blou oë wat die moeder amper skok. Haar kind is totaal begogel!
“Ek gaan hier inkom. Ek gaan hier inkom, Mamma! Dis waar ek hoort!” Sy sluk om haar emosies onder beheer te kry. “En geen witgesig ou heks of koppige ou man gaan my hier uithou nie!” Haar blik dwaal liefkosend oor alles, haar stem is laag: “Ek het van hierdie plek gedroom. Vandat ek die eerste keer gehoor het Albert Meissner is my oupa, het hierdie plek deel van my geword. En vandat ek dit die eerste keer gesien het, was dit vir my asof dit reeds aan my behoort.” Sy kyk nou glimlaggend na haar ma. “Onthou Mamma nog daardie dag? Dit was ’n laatherfsmiddag toe ek jou eindelik kon oorreed om my die Meissner-kliniek te kom wys.”
“Ja, ek onthou.” En ek was nog nooit spyter oor iets wat ek gedoen het nie, dink sy stil.
“Die prentjie het daardie dag in my wese ingesink. Dit was altyd by my. Veral wanneer dit bars gegaan het. Ook in my eksamentyd het ek hierdie prentjie voor my opgeroep en vir myself gesê: Jy kan! Jy is ’n Meissner en jy gaan eendag in die Meissner-kliniek werk. Jy kan! En dan, op ’n wonderlike wyse, het die regte antwoorde by my opgekom!”
Marlene maak die deur oop. Niks wat sy verder kan sê, sal haar kind van haar plan laat afsien nie. Sy kan maar liewer kopgee. “Kom ons gaan drink ’n koppie tee in die restaurant. Ek is nou dors.”
Dis ’n ruim restaurant wat hulle oomblikke later binnestap. Hoewel dit onder private bestuur is, voldoen dit getrou aan die hoë standaarde wat hier gestel word. Dis nie bloot net ’n restaurant nie. Dis ook ’n soort wagkamer vir familie en vriende wat siekes kom besoek. Dis ook ’n gesellige rusplek waar ’n koppie tee gedrink kan word terwyl personeel oor die een of ander geval besin. Dit is dus nie snaaks om heelwat witgeklede persone by die tafeltjies te sien nie. Daar is verpleegsters in hul smetlose wit uniforms – Albert Meissner is nog van die ou soort wat glo ’n verpleegster dra wit en niks anders nie – en dokters met hul doktersjasse aan. En dan is daar besoekers met bekommerde oë oor ’n geliefde wat êrens in hierdie gebou veg om te bly lewe.
Elke soek ’n hoektafel vir hulle uit sodat sy almal en alles goed kan waarneem. ’n Besonder aantreklike meisie in ’n wit doktersjas oorkant haar en ’n man, ook in ’n doktersjas, trek Elke se aandag.
“Kyk daardie meisie daar oorkant, Mamma. Sy trek dadelik die oog, nè? Dis nou hoe ’n dokter moet lyk.”
Die ma glimlag. Haar kort gestalte en haar dogtertjiegesig het Elke al bitter swaar laat kry en bly ’n steen des aanstoots. Dwarsdeur haar universiteitsjare het haar medestudente haar “Baba” genoem, natuurlik tot groot ergernis van die wipneus. En dit het al dikwels gebeur dat mense wat hulle ontmoet, net nie wil glo dat sy werklik ’n volwaardige dokter is nie. “Ag nooit! Julle terg nou! Sy lyk soos ’n eerstejaartjie,” is al onomwonde gesê, sodat Elke eendag boosaardig laat hoor het: “Ek sal van nou af met al my grade en sertifikate om my nek rondloop!”
Marlene kyk in die rigting waarheen Elke beduie en stem saam. “Ja.