Schalkie van Wyk Keur 10. Schalkie van Wyk
het niks met Wilhelm of sy grond te doen nie, Kallie,” antwoord Karen wat ’n tree van hom af staan en oor die voortuin uitkyk. “Ek het net gesê ek gaan nie môre saam met jou uit nie, want ek en Amalia gaan perdry.”
“Die hele Saterdag, van sonop tot sononder? En as dit reën? Wat maak jy dan?” vra hy nydig.
“Dit reën nooit die hele dag nie en ’n bietjie reën skrik my in elk geval nie af nie. Ek sal natter word op jou motorfiets as op ’n perd se rug. Maar ek het klaar gesê: ek gaan nie saam Kaapstad toe nie . . . nie op jou motorfiets nie,” antwoord Karen beslis.
“O, nou moet die barones ’n motor en ’n chauffeur hê? Waarom het u nie eerder gevra nie, U Hoogheid? Ek is tot u diens, Barones,” spot hy en maak ’n diep buiging voor haar.
Erika sien ’n gloed van drif oor Erika se gesig stoot, sien haar omswaai en haar hand lig asof sy Kallie wil klap, en sy storm nader.
“Nee, Karen!” roep sy en weer die klap betyds af deur Karen se hand vas te gryp. “As Kallie dan so graag wil glo jy is van die adelstand, wys hom dat dit waar is,” sê sy paaiend en kyk met onverbloemde minagting na hom. “Ek sou sê jy het jou lank genoeg aan Karen opgedring, Kallie. Sy is nie môre beskikbaar nie en solank sy ’n skooldogter is, sal Wilhelm nie weer toelaat dat sy saam met jou op jou motorfiets rondry nie. Kom ons laat dit maar daar.”
“ ’n Mens kan sommer hoor jy is ’n onderwyseres,” sê hy neerhalend en betrag haar tydsaam van kop tot tone. “Maar jy is nogal ’n oulike dingetjie. Hoe lyk dit: kom jý nie saam met my nie? Die ou grondbaron is veels te oud vir jou.”
“Tot siens, Kallie,” groet Erika met ’n vriendelike glimlag, vat Karen aan die arm en stap saam met haar die huis binne.
Hulle hoor die motorfiets wegdreun toe Erika die voordeur agter hulle toemaak.
“Dankie.” Karen lyk ongemaklik. “Riaan is studeerkamer toe. Hy het gevra waar jy is.”
“Ek was op soek na hom toe ek jou en Kallie hoor twis het.” Erika kyk Karen vraend aan. “Dan stel jy nie meer in Kallie belang nie?” vra sy verwonderd.
“E . . . ek het werklik ’n afspraak om te gaan perdry,” antwoord sy ontwykend en stap vinnig deur die voorportaal weg na die gang.
Erika volg haar tydsaam, sien die studeerkamerdeur oopstaan en stoot dit wyer oop. Sy stap binne en trek haar asem skerp in toe sy Riaan en Amalia in mekaar se arms sien staan terwyl hulle mekaar met volle oorgawe soen.
7
Riaan lig sy kop op toe Erika ongemerk by die studeerkamer probeer uitglip. Hy lyk net ’n oomblik lank van stryk gebring en stoot Amalia dan haastig weg van hom.
“Erika! Kom binne, my liefste! Waar was jy die hele dag? Weet jy hoe het ek na jou verlang?” vra hy verwytend en loop met uitgestrekte arms op haar af.
Hoe bring sy die kloutjie by die oor? wonder Erika. Sy wil omdraai en hom en Amalia alleen laat, maar sy gipsbedekte hande staan soos ’n teregwysing voor haar.
“Ons het sowaar jou meisie ontstel met ’n onskuldige soentjie,” sê Amalia en lag meerderwaardig, maar haar laggie klink onoortuigend in Erika se ore. “Ek het net ’n baie ou vriend gegroet, my liewe Erika. Ek en Riaan is sedert ons kleuterdae maats.”
“Presies,” beaam Riaan, sy glimlag sinies. “Die fraai rooikoppie is hier om op die ou grondbaron jag te maak, want sy jag net grootwild . . . en verkieslik ’n miljoenêr.”
“Jaloers, Riaan?” vra Amalia koggelend en druk ’n soen op Riaan se wang terwyl sy nader kom en by hom inhaak, haar kop rustend in sy nek. “Jy is oulik arm en ’n meisie moet aan haar bankrekening dink.”
“Dink jy aan enigiets anders behalwe perde?” vra hy geniepsig.
“Ou jaloersie,” terg sy en tik hom op die neus met haar wysvinger. “Ek moet sorg dat my perde gereeld oefening kry, maar ek is mos nou hier.”
Wat soek sy eintlik hier? wonder Erika terwyl sy die twee rooikoppe langs mekaar dophou. Riaan het wel aan Wilhelm gesê hy wil aan haar verloof raak, maar op die oomblik tree hy soos ’n jaloerse minnaar teenoor Amalia op.
“Ry jy nie ook perd nie, Erika?” vra Amalia en keer terug na haar gemakstoel voor die oop vuurherd.
“Al sou sy, sal ek haar nie toelaat om my ook te verlaat nie,” sê Riaan vinnig, slaan ’n besitlike arm om Erika en staar fronsend na sy wit gipshand. “Ek voel soos iets uit ’n wetenskapsfiksierolprent met my toegeplakte hande wat van my ’n idiotiese baba maak,” voeg hy selfveragtend by.
“Dis net tydelik, Riaan, en jy weet dit,” sê Erika prakties en loop saam met hom na die rusbank voor die vuurherd. “Hoe sou jy daarvan gehou het om soos klein Jackie met ’n masker oor jou kop rond te loop?”
“Heerlik!” skaterlag Amalia. “Erika is net die regte medisyne vir jou, Riaan, want sy sal jou nie kans gee om jouself te bejammer nie. Maar van perdry gepraat, Erika: Wilhelm het drie ryperde van ons stalle af na Drie Eike toe laat bring. Hulle staan nou hier op stal en as jy lus voel vir perdry, kan jy net vir jou ’n perd laat opsaal.”
“Ek hou van perdry, dankie,” sê Erika, neem op die rusbank saam met Riaan plaas, maar voel nog oorbodig.
Sy kan die vibrasies tussen Riaan en Amalia aanvoel, byna asof hulle mekaar terselfdertyd aantrek en afstoot; daarom twis hulle voortdurend, maar soek tog mekaar se geselskap op.
“Luister net na Amalia se woordkeuse: óns stalle,” spot Riaan. “Sy probeer so hard om soos Minette du Toit te klink, seker maar om broer Wilhelm te beïndruk. Grond is die sleutelwoord, liewe Amalia. Minette besit La Rochelle, maar jou pa is net ’n besonder bekwame plaasbestuurder.”
“Voel jy nou beter, Riaan?” vra Amalia met engelagtige onskuld, maar ’n warm blos op haar wange verraai haar ergernis oor Riaan se woorde. Sy kyk na Erika en verduidelik: “Dis Riaan se grootste frustrasie: dat hý nie die grondbaron is nie. Daarom probeer hy almal om hom aftakel tot sy eie lae vlak van plattelandse prokureurtjie.”
“Gelukkig staan ek klaar op die onderste sport, daarom hoef hy my nie af te takel nie,” sê Erika, half jammer vir Riaan wat met ’n man soos Wilhelm moet kompeteer. “Het jy baie pyn in jou hande, Riaan?” vra sy simpatiek.
“Die pyn kwel my nie, want ek het genoeg pynpille met my ontslag uit die hospitaal gekry.” Hy lig sy gipsbedekte hande op en gluur hulle aan asof hulle sy vyand is. “Dis wat ónder die gips skuil wat my nagmerries besorg. Hoe gaan my hande lyk? Het ek darem nog al my vingers? Sal ek weer my hande kan gebruik?” vra hy, ’n dun klank van paniek in sy stem.
“Ja, toe nou maar, ou diertjie,” praat Sophia uit die deur agter hulle en kom die vertrek binne, ’n skinkbord met koek en tee in haar hande, en Wilhelm op haar hakke. “Ek sê jou nog elke dag: hou op wonder, eet jou kos en word gesond. Wilhelm, los nou die skinkbord. Ek het jou mos gesê ek is oud en lelik genoeg om dit self te dra. Toe, toe, gaan sit jou sit sodat ek vir julle kinders tee kan bring. Ja, jy ook, Erika, sit net!”
“Dankie, Tannie,” sê Erika en neem ’n koppie tee en ’n bordjie koek by Sophia voordat sy weer op die rusbank langs Riaan plaasneem.
“Ek sal niks drink nie, dankie,” sê Riaan bot en staar onvergenoeg in die vlamme wat op die maat van onhoorbare musiek ritmies oor die houtstompe dans.
“Hallo, Wilhelm,” groet Amalia asemrig en stap op hom af asof sy van voorneme is om hom te soengroet.
“Dè, Amalia, vat en gaan sit. Dit maak my dronk in my kop as julle so voor my oë wriemel . . . so asof daar te veel is van julle,” blaf Sophia en prop ’n koppie tee en ’n bordjie koek in Amalia se hande voordat sy Wilhelm bereik.
“Ek haat sjokoladekoek,” snou Amalia, maar die verpletterende blik wat Sophia op haar rig, laat haar in haar spore omdraai en terugkeer na haar stoel voor die vuurherd.
“Ek help