Amber maan, oker son en ander verhale. Elize Parker
te kort.” Hy trek sonder seremonie sy hemp uit.
“Ek ry môre Lissabon toe,” sê sy, maar dit is asof hy haar nie hoor nie. Dieselfde harde armhare wat haar in die trok van Benguela af gekrap het, vryf teen haar borsdeining. Die erotiese reuk van dag oue sweet gemeng met skerp seep kleef aan sy bolyf. Sy druk haar neus teen hierdie neuterige aroma. “Ek het jou die eerste dag oor jou rug begeer. Elke goddelike sentimeter van jou.”
Liefdesloom neem hy sy tyd om haar dors vir hom te maak. “Jy is ’n droom,” sê hy en buig sy hande om haar heuprondings. Met elke aanraking weet sy liefde, hoe kortstondig dan ook al, is die enigste uitkomkans in hierdie wêreld op pad na selfvernietiging. Vanaand kies sy die kortpad na geluk.
“Jy is my reddingsboei,” bely sy en verstaan skielik verhale oor bemindes in die Tweede Wêreldoorlog en hul dringendheid om met hulle liggame aan mekaar te behoort. In enige oorlog is die grootste genade om nog ’n lewensdag saam met jou beminde in liefde te gedenk.
Dan lê hulle naak langs mekaar, verwonderd oor die ligte sweetdruppels tussen hulle, al suis die reën koud en stormagtig neer. ’n Muur water hou die wêreld van hulle weg. Sy vingers rus tergend op al haar polse van begeerte – hemelse hartkloppies.
Om die syerige ligbruin rosies van haar bolyf mandjie sy hande. Sy vryf sy nekspiere totdat hy sy oë toemaak en rustigheid oor hom spoel. “Moenie ophou nie,” smeek hy.
Slap sak sy kop teen haar borsbeen. Golwend gly sy tong oor haar bolyf. Haar hande glip af na sy rugkruis en druk hom teen haar aan. Sy voel vreemd veilig, geborge en toevertrou aan hom. In hierdie genadelose wêreld is die band tussen hulle die enigste eerbied vir menslike lewe. Sy het geen waarborg die Yanks gaan terugkom nie. Waar sy vantevore sou aarsel omdat sy te veel gee en te min neem, is daar ’n ongelooflike vrede in haar.
“Wat nou?” fluister hy, ingestel op elke stemming van haar geil liggaam. Sy skud haar kop asof dit nie saak maak nie, maar hy weet. “Môre het sy eie ongekende wonderwerke,” sê hy en sluit haar liggaam se grense oop. Sy leer geleidelik sy lyf se geborge geheime en raak bekend met sy driftige dieptes. Met gevoelige geduld ontdek hy haar lyf se verskuilde sonne totdat nuwe daerade stralend in haar breek. Vir ’n paar oomblikke ken hulle ’n onsterflike liefde se unieke geborgenheid: wanneer siel, liggaam en hart mekaar ontmoet en waarlik vry is.
Hy trek die bank se gehekelde kombers oor hulle. ’n Fyn speseryerige reuk kleef aan hul velle. Buite val vlaag op vlaag reën. Sy voel ’n onomkeerbare stroom liefde vir Gerard. Dit is nie tiener-kalwerliefde nie of warmbloedige, onversadigbare wellus nie. Ook nie die diep, besitlike liefde van getroudes nie. Eerder ’n onvervangbare, onaantasbare brug wat tyd, plek en afstand oorspan.
Sy hoor hom nie vroegoggend opstaan nie. Hy trek teer die tjalie oor haar en vee ’n paar los krulle uit haar gesig. Daarna stap hy uit sonder om om te kyk – te bang hierdie knus liefdesnessie trek hom weer in. Sy lyk onweerstaanbaar mooi.
Esperanza skrik ’n uur of wat later wakker en sien verbaas die lug het oopgetrek. ’n Vliegtuig dreun laag oor tante Helena se huisie. Vanaand twaalfuur kry Angola sy onafhanklikheid. Vandag vlieg buitelandse afvaardigings in.
Die gehekelde kombers tjalie haar naakte liggaam gesellig. Hunkerend lig sy dit om die speseryreuke daaraan te koester. Dit was ’n nag van geure: reën, rosekranse en vervulling. Sy wens sy was wakker toe hy geloop het. Daar is soveel dinge wat sy hom nog wou vra. Eenvoudige dinge wat minnaars van mekaar moet weet, soos ’n adres in Frankryk of selfs net ’n telefoonnommer.
Dit is seker veels te veel om te verwag dat hierdie groot liefde langer as haar Luanda-besoek moet duur. Sy sal haar daarop moet instel, anders sal die teleurstelling soveel groter wees wanneer sy die werklikhede in Johannesburg in die oë moet kyk.
Dalk was dit vir hom net nog ’n oorlogsavontuur. ’n Kantaantekening in sy dagboek langs die feite van die oorlog. Dié dat hy sonder om haar behoorlik te groet adresloos verdwyn het.
Sal hy maklik die klein kerkie van ’n kamer kan vergeet? Sy sal nie kan nie. Vir die res van haar lewe sal ’n muskaataroma haar terugneem na ’n afgeslote huisie in ’n beleërde stad, waar sy die eerste keer volmaak gees- en lyfgenoot was.
Die radio druis voort – hulle moet dit aan vergeet het. Vandag seil die Portugese garnisoene weg. Dit is die koloniale oorlog se einde, maar lank nog nie die einde van Angola se stryd nie. Môre begin die burgeroorlog en sielkundig die Koue Oorlog.
Veel later stop ’n sedanmotor voor die huis. Dieselfde twee nonchalante Amerikaners met hul donkerbrille, styfgetrekte gholfhemde en te nou denims het nie besware teen haar tas nie. Hulle is saaklik en formeel. Tante Helena se huisie staan afgeleef en eensaam toe hulle wegry. Sy wonder wat daarvan sal word. Op pad sien sy Portugese helde se standbeelde word weggery. Doelbewus hou sy haar oë op die lughawepad. Sy kyk nie om nie, want sy weet na haar stad van verlore liefde gaan sy droewig verlang. Sy neem van veel meer as Luanda afskeid.
Die lughawegebou is vuil en ruik na die skare vlugtelinge wat soms weke daar op vervoer gesit en wag het. Die saal is byna leeg. Enkele passasiers van die afvaardiging wat pas geland het, maak nog hul bagasie bymekaar. Eenkant staan ’n vliegtuig gereed om te vertrek.
Die Yanks stap oor die aanloopbaan asof dit aan hulle behoort en help haar aan boord. “Julle vertrek oor ’n halfuur. Jou hotelbespreking in Lissabon is deur UNA gedoen. Alle voorspoed.” Sy weet gerugte doen die ronde dat die lughawe vandag uit Zaïre gesaboteer kan word: alles geskied met spoed.
Terwyl die donker wolke donderend die son verdof, neem sy afskeid. Nog ’n oker uur breek vir Angola aan, nog ’n seisoen van skemers.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.