Om joune te wees. Schalkie van Wyk
’n gemors,” merk Briand langs haar op.
Sy ruk haar kop op en sien hom langs haar staan, sy hande ook teen die ruit om binne-in die motor te kan sien. “En jy huil oor ’n simpel fietswiel! Besef jy hoeveel kos sestig dosyn eiers?” vra sy boos.
“ ’n Wavrag geld?” raai hy.
“Ja! En meneer Baumann was my en Sunette se heel eerste kliënt. Wat gaan hy vir sy sakevriende sê as ek nie oor” – sy kyk vinnig op haar polshorlosie en vervolg bitter – “oor ’n kwartier die eiers by hom aflewer nie? As jy nie so simpel was om voor my in te ry en te verongeluk nie, was ek nou ’n suksesvolle sakevrou. Ek hoop jy besef … Haai, waar is jy? Briand … ?” Sy kyk verwilderd om haar rond en sien hom aangedraf kom, ’n paar koerante onder sy arm. “Is jy stapelgek, Briand? Jy het ’n nuwe fietswiel nodig, nie die jongste nuus nie!” Sy is bang om teenoor haarself te erken hoe bly sy is omdat hy nog by haar is. Hy dra sy valhelm in sy een hand en Kayla kyk vlugtig na sy koringblonde hare, laat sak haar blik en bewonder sy sterk beenspiere wat duidelik sigbaar is onder die knielengte-fietsrybroek.
“Ek het my flenter fiets aan die straatlamp vasgeketting en die koerantjoggie ’n fooitjie beloof as hy ’n ogie daarop hou,” antwoord hy, draf om haar motor, bring haar motorsleutels te voorskyn en roep: “Vang!”
Sy steek haar hande instinktief uit en vang haar motorsleutels toe hy dit oor die motordak gooi.
“Sluit oop en red wat te redde is. Ek glo nie die skade is te groot nie. Ek sal die koerante op die agterste sitplek pak sodat jy daar kan sit sonder om soos ’n omelet te lyk. Ek sal bestuur,” sê hy en buig oor die rugleuning om die koerante op die agterste sitplek oop te sprei.
“Dis my motor en ek bestuur,” sê sy koppig, dankbaar om te sien dat die skade nie werklik so groot is nie. Ta Trynie noem haar gereeld ’n morsjors omdat sy boeke, skoene, truie en sweetpakbaadjies voor die passasiersitplek in haar motortjie laat lê, maar al haar onnodige bagasie het verhoed dat te veel van die kartonhouers beskadig word.
“Ek kan nie agter sit nie – my bene sal knoop as ek my soos ’n knipmes moet opvou in daardie klein spasietjie. Kom nou, Kayla, klim in en laat ons ry. Meneer Baumann wag!” beveel hy, klim agter die stuurwiel in, skuif die sitplek agtertoe en hou sy hand gebiedend uit na haar. “Die sleutels, asseblief, my minsame meisie.”
“Jy’s ’n gebore flirt, nes my beste vriendin. Onthou dat ek jou aan Sunette voorstel,” sê sy misnoeg, laat val die sleutels in sy hand en wurm haar deur die smal opening na die agterste sitplek voordat sy die deur agter haar toetrek.
“Ek was galant, maar as jy ’n emosielose robot verkies … Links, regs of reguit aan by die volgende verkeerslig … bie-biep?” vra hy met ’n monotone stem.
“Reguit aan, asseblief,” versoek sy en slaag nie daarin om die glimlag in haar stem te verberg nie. ’n Dosyn of wat gebreekte eiers is ’n goedkoop prys om te betaal vir die genot om Briand Olivier te leer ken, dink sy ingenome en gaan voort met haar rol van navigator.
Kayla sug dankbaar toe hulle die laaste kartonne eiers by die kombuis van die restaurant indra en terugkeer na haar motor.
“Baie dankie vir die ekstra eiers wat jy by die slaghuis gaan koop het, Briand,” sê sy toe sy langs hom in haar motor sit. “Jy’t my gered. Ek was net ’n paar minute laat en meneer Baumann was reg om rusie te maak. As ek boonop nie die volle sestig dosyn eiers afgelewer het nie, sou hy sy bestelling by ons gekanselleer het.”
“Ek verstaan nie,” sê hy en kyk vlugtig na haar, sy uitdrukking onseker. “Dalk klink ek ongeskik, maar dit maak nie sin nie: julle besit die grootste erf en die grootste herehuis in die buurt, maar jy bestuur ’n stokou motortjie en jy verkoop eiers terwyl ander mense nog slaap. Het jou ouers finansiële probleme? Of is ek nou te persoonlik?”
Kayla lag spontaan. “Ek het nog nie so daaraan gedink nie, maar dit lyk seker snaaks vir mense wat ons nie ken nie,” erken sy en sien hom verlig glimlag. “My ouers boer al byna twintig jaar op hulle beesplaas naby São Paulo, in die provinsie met dieselfde naam, in Brasilië.”
“As hulle so lank al in Brasilië woon, waarom is jy nie ook daar nie?”
Kayla byt op haar onderlip en skud haar kop. “Dis nou maar net hoe dinge uitgewerk het. Toe dit tyd word vir my om skool toe te gaan, kon my ouers nie besluit of hulle wil aanbly in Brasilië en of hulle wil terugkom Suid-Afrika toe nie. Dit het destyds gelyk asof hulle sou terugkom, toe besluit hulle ek moet maar liewer my skoolloopbaan in Suid-Afrika begin. Ek het by my tannie Annelize, my pa se enigste suster, kom woon. My tannie is ses-en-veertig, ongetroud en ’n professor in ekonomie aan ons universiteit. En vakansies gaan kuier ek by my ma se ouers. Op ’n manier werk dit eintlik goed uit dat ek by tannie Annelize woon: sy het geen ander naby familie nie, want my oupa en ouma Joubert was albei enigste kinders, en hulle is voor my geboorte reeds dood.”
“Ek weet nog nie waarom jy eiers op jou nugter maag moet verkoop nie,” mor hy.
“Omdat ek gister my finale eksamenvraestel as student geskryf het en van vandag af amptelik ’n werklose persoon is. Totdat ek ’n pos by ’n advertensieagentskap kan kry, sal ek strate vee as dit nie anders kan nie, want as ek by my ouers wil gaan kuier, sal ek self vir my vliegkaartjie moet betaal.”
“Maar dit kos duisende. Sal jou suinige tante jou nie finansieel help nie?” vra hy onthuts.
“Tannie Annelize gee vir my geld vir my verjaarsdae en Kersfees, en dis die begin en die einde van haar groothartigheid. Sy sê as ek nie van jongs af leer wat die waarde van geld is nie, sal ek nie eendag my erfenis kan waardeer nie. Liewe land, wie dink nou aan erf? Ek hoop nie een van my mense gaan ooit dood nie.”
“Maar totdat jy erf, sal jy eiers moet verkoop,” korswel hy. “Waarom wil jy by ’n advertensieagentskap gaan werk?”
“Ek hou van prentjies teken,” spot sy en verduidelik: “Ek kry binnekort my graad in grafiese kuns. Kry ek werk by ’n advertensieagentskap, sorg ek en ’n hele span vir die visuele en verbale elemente van ’n advertensie. My vriendin, Sunette, het ’n graad in joernalistiek en sy wil ’n kopieskrywer word. Ek en sy het al saam plakkate en biljette vir ’n paar besighede ontwerp terwyl ons studente was en goeie betaling gekry.”
“Maar julle verkoop nog eiers?” vra hy kamtig ernstig, lag dansend in sy oë.
“Weet jy hoe skaars is werk vir onervare studente?” vra sy gegrief en kyk hom opsommend aan. “As ek eendag stokoud is soos jy, sal ek nie vir werklose jong mense lag nie.”
“Stokoud?” vra hy beledig. “Meisiekind, as ons met my motor gery het, het ek jou net hier uitgesmyt! Jy is agttien en ek is agt-en-twintig – reg?”
“Ek is reeds mondig,” korrigeer sy hom met ’n trotse lig van haar ken.
“Gaaf. Ek is nege-en-twintig … e … amper dertig,” erken hy, sy glimlag vonkelend. “Is jy so honger en dors soos ek? ’n Koppie koffie en ’n bord spek en eiers sal nou vorentoe smaak. Waar kry ons ’n restaurant wat voor sesuur in die oggend oop is?”
“Nêrens nie. Ken jy nie die stad nie?”
“Ek is nie dikwels hier nie,” antwoord hy en vervolg tergend: “Net soos jou slim ouers, woon en werk ek ter wille van my finansies in Brasilië.”
“In São Paulo?” vra sy verras.
“In al die stede waar daar werk is. Dis die voordeel van my hoë ouderdom: ek kry maklik werk en ek kan Portugees praat. As jy Portugees magtig is, vat ek jou saam met my as ek weer Brasilië toe gaan.”
“Ek ken genoeg Portugees om oor die weg te kom, maar …” Sy kreukel haar neus en gaan met sekerheid voort: “Ek hou van ons land en al sy mense. Ek is gelukkig hier en my tannie Annelize en ta Trynie het my nodig.”
“En jou pa en ma?”
“Ons gesels gereeld op Skype, en elke twee jaar kom kuier hulle by my ma se ouers en tannie Annelize. Tot dusver het