Maar wie snoei die rose in die nag?. Abraham H. de Vries
nie; ons was toe al in die kooi, vas aan die slaap, vra maar vir die vrou.” Tant Sarie het haar voorkop vol plooie getrek en gesê natuurlik is dit so. Sy sou wakker geword het as hy uit hul bed uit opgestaan het. “En hy loop nie in sy slaap nie; die wind het laas nag die honde se bakke almal van die stoep afgewaai en nou foeter julle met wie hóé geslaap het.” Izak het dae daarna nog gewonder hoe sy oom so maklik kon vergeet.
Vir my het Izak die storie vertel toe ons drie weke later van oom Matthewis se begrafnis af terugry huis toe. Seker tog maar in sy slaap ’n luggie gaan soek, wat anders? het hy gedink en toe gesê: “Maar iets is nie lekker nie. Kerneels het hom Maandag onder die wilg daar op die koel landjie gekry en dis waar ons daardie nag staan en gesels het. Dokter Uys-hulle het vasgestel dit was ’n kwaai hartaanval, hy het van die uur van sy dood niks geweet nie.”
Nie daardie uur nie, maar wat van drie weke eerder? Waarvan wou oom Matthewis gaan seker maak die aand daar op die sagte landjie?
Dis waaraan ek daardie aand ná die jaarvergadering met ’n skrik gedink het toe Basie vir my vra of ek geweet het van dié vrees wat oom Matthewis sy lewe lank gehad het. Vir val. Afval van iets af, of om te val as iets hom pootjie. Dis dié wat hy so snaaks op ’n perd gesit het, nes asof hy gedurig aan die vasklou was. Het hy daardie nag in sy slaap geloop, of in ’n voorgevoel dat die sagte landjie nodig sou word?
Ja, o ja, ek ken dié klipdroë wêreld waarvan al die kontoere, heuwels en dale, berge en klowe duisende jare gelede gevorm is deur water. Maar my aangebore nuuskierigheid lei my telkens weer in ’n landskap in vol geheime, met mense vol raaisels.
Dié swerwer wat die nag by Sarel Marais-hulle op hul plaas oorgebly het, soos vele voor hom. Sarel-hulle was Christenmense in doen en late en het die man aandete en ’n slaapplek aangebied. Maar dié vreemdeling was anders: Sy klere was vuil, sy skoene afgeloop, maar hy’t ’n manier van dinge sê gehad wat Sarel en Meisie, sy vrou, laat dink het hy is aan beter gewoond.
Die volgende oggend nadat hy gegroet het en weg is, het Meisie in die swerwer se kamer ’n silwerhartjie opgetel, ’n gelukbringertjie wat oopvou, maar sonder sy kettinkie. Weerskante ’n klein foto’tjie van ’n donkerkopmeisie met net so ’n hangertjie om haar nek.
Boet, Sarel en Meisie se seun wat in die Kaap werk, het haar herken van foto’s in die koerant. Dis sy, het hy vertel toe hy die hartjie die eerste keer sien, wat op ’n trein was noorde toe. Die kondukteur het net anderkant De Aar aan haar kompartement se deur geklop, niemand het geantwoord nie, hy het later weer gaan kyk en toe die deur met sy loper oopgemaak. Sy was dood. Daar was ook nog ’n storie van dié man wat in die Paarl opgeklim het en wat by haar in die kompartement gesien is, maar dit kon nie bevestig word nie. Sarel het gesê, nee, onsin, die vreemdelinge voor ons poorte is miskien anders as ons, maar hulle is darem seker nie moordenaars nie. Ons het nie geweet wat om te glo nie. So het die hele storie stadig weggeskuif in die vergetelheid in. Sonder ’n slot.
“Nie hier nie. My seun, Erik, hy’s in Bellville al vier maal gemug en gerob. Oordag. Laas somer nog weer. Maar hier op ons dorp, hie’s dit veilig, meneer. Net wárm, sjoe! Ek staan nou sommer en gesels tot mevrou uit die winkel uitkom. Kry meneer nie warm in die kar nie? Dit help nie om oor die weer te lieg nie. Dis nes honger en dors. Ma het altyd as dit so warm is, gesê hou op met kerm en kla, waarvan moet die druiwe ryp word, of wil julle hê die boere moet wyn maak van grasgroen korrels? En die appelkose en die vye? Wat maak appelkose so soet? Meester ken mos vir David Kramer wat so sing van Montagu se muskadel. Hy kom kuier partymaal hier. Dan loop hy en sy vrou op en af in die straat proppers nes al die ander mense. Almal herken hom. Ek het ook al bietjie met hom getjommel. Had sy rooi vellies aan en daardie swart Jorehoedjie op sy kop. Vrygewig verby. Korter as wat ek nou met meester gesels, toe haal hy sy beursie uit daardie pofbroek van hom se sak uit. Nee, maak nie saak hoeveel nie, ek wil niemand voorsê nie. Hy sê toe hy ken my. Jou soort manne, sê hy, ek ken julle. Ek dog: nogal! Belowe my meneer gee vir die skollies wat hier bedel niks. As-se-blief. Hulle is luigatte. En bang. As hulle die poliese sien, is dit vinniger as daardie toorman op televisie; kul jou hier, kul jou daar, weg: klere, soetkys, kamera, als.
“Middag, mevrou. Mevrou het gou klaar gekoop.
“Dan sê ek maar tot siens.”
Voor ons weggetrek het, het ek in sy oë gekyk. Ek kon sién wat hy dink.
Hoe kan ’n mens so wees, jirre, hóé, sê vir my. Luister almal uit. Oop ore. Maar hoor niks. Nóg donners suiniger as die boere. Hou jou geld. Hou jou als. Ek het net gevertel. Ek het jou niks gevrá nie. Niks.
Ek het nog my respekte.
Bo, hoog teen die Klein-Swartberg waar die hoogste waterval tussen die loodregte kranse uitwaaier tot ’n fyn misreën wat ’n mens se gesig en arms en hande klam maak en koud op die warmste dag, is Waterkloof op sy mooiste. Laer af, aan die bokant van Blougat, stuif die misreën neer op die helder stroom. Hier en daar kan die son nie met sy warm strale onder ’n bakkrans invoel nie.
Hulle het die hele dag geswem en in die son op die rotse rondgeklouter, mekaar gesoen, en vir mekaar weggekruip. Die plante is welig. As hy ’n deuntjie fluit, het die klank teen die rotse vasgeslaan en geklink asof dit met eggo’s in die skeur afbons tot doer vêr waar die lae bossies van die vlakte begin. As sy op haar hande klap, een maal, twee maal, het duiwe bo van die kranse afgetuimel en op die bergwind afgesweef tot oor hul koppe. In die bome kwetter die voëls van daglumier tot aandskemering.
Voor hulle in die lang skaduwees teruggeloop het dorp toe, het hy ’n silwerlepeltjie uit sy broeksak gehaal. “Dit het daar by die huis gelê en ek het dit vir jou saamgebring, ek het nie geweet hoekom nie, maar nou weet ek!” het hy gebieg. Toe stap hy onder ’n beskermende bakkrans in en begrawe die lepeltjie onder ’n groot klip wat selfs stormwater nie sou kon wegspoel nie. Sy haal ’n stringetjie rooi krale van haar pols af en sy sê vir hom: “Begrawe dit saam.”
“Hoekom?” vra hy.
“So lank as wat ons lief is vir mekaar, moet dit daar bly. Net ons weet dit is daar. Net ons weet wat dit beteken. Kom ons belowe mekaar dat die een van ons wat ontrou raak, dit moet kom uithaal, want dan hoort dit nie meer bymekaar nie.”
Hy het later in Engeland gaan studeer en daar bly werk in ’n groot uitgewery. Sy het eers medies gestudeer en toe, ná ’n paar jaar in ’n hospitaal vir tuberkulose-pasiënte, gaan spesialiseer in borskwale by kinders. Albei is getroud met eggenotes wat die Swartberge en die Blougat nooit gesien het nie; nie een van die twee het ooit, soos dit hoort in ’n liefdesverhaal, die lepeltjie en die krale daar gaan uitgrawe nie.
In berge en op vlaktes, in woude en op rûens, selfs in woestyne lê baie sulke vergete beloftes. Want baie is, soos hierdie een, nie ’n storie nie.
Uit Hongarye het dié man kort voor die Tweede Wêreldoorlog Suid-Afrika toe gekom en hom op ’n dorpie in die Klein-Karoo gevestig. Hy was in Boedapest ’n leerlingapteker en hy het aandklasse geloop by ’n kunsskool voor dit flenters gebombardeer is. In die Karoo het hy ’n winkel oopgemaak, nie ’n apteek nie. Hy het later sonder enige aksent Afrikaans gepraat, maar nooit ’n woord gerep oor sy familie nie. Hy is getroud en sy seuns het die winkel oorgeneem. Min mense in die dorp het geweet hy kom uit Hongarye. Toe hy dood is, het hulle ’n hele versameling tuinkabouters wat hy gemaak het, gekry in ’n agterkamer van ’n buitegebou waar niemand meer gekom het nie. ’n Verre familielid het in die sestigerjare Suid-Afrika en die familie besoek en hy kon in al die kabouters mense eien wat hy in Boedapest op hul familiefoto’s gesien het. Nie al ons voorgeslagte hang in ovaal rame teen die gangmure nie.
Tussen Barrydale en Lemoenshoek, aan die regterkant van die pad, staan ’n huis wat eintlik twee aan mekaar geboude huise is. Die regterhuis is skoon, geverf en al die jare goed versorg; die linkerhuis het tot ’n murasie verval. Die regterwerf se plante kry gereeld water as dit reën, die linkerwerf is ’n woestyn. Van die twee gesinne – hulle was glo familie – leef niemand meer nie.
Maar wie snoei die rose in die nag?
Net soveel passe as die maande voor geboorte lei die besoeker oor die berge in die Klein-Karoo in.
Ons was nog nie tevore hier nie.